Onttroon SA ‘konings’ voor dit te laat is

konings-skaak

Foto: Klimkin/Pixabay.com

Deur Edward Blight

In die afgelope twee weke het ons weereens gesien hoe bereidwillig ons hooggeplaaste politici is om ten gunste van hul eie magspeletjies die land op die spel te plaas. Met die verwydering van min. Pravin Gordhan moes die land toekyk hoe ons geldeenheid drasties verswak en toe heelwat daal soos die eerste kredietagentskap ons na rommelstatus toe stuur.

Wat rêrig tragies is van die verlies van ons geldeenheid se waarde en ons land se geloofwaardigheid as ʼn bestemming vir belegging is die mense wat geraak word. Dit is nie ons hooggeplaaste politici nie, maar die res van Suid-Afrika. Die redes daarvoor kan soos volg opgesom word.

Sodra die geldeenheid begin waarde verloor, word invoer duurder. Die ratio van die waarde van die rand teenoor die waarde van buitelandse produkte daal. Die uitwerking is dat die prys van goedere styg.  Oor die algemeen is dit nie ʼn slegte verskynsel nie – ʼn swak rand veroorsaak dat uitvoer goedkoper is en gevolglik stimuleer dit ʼn toename in uitvoer.

Die probleem in hierdie geval is dat die ekonomie so sleg bestuur word dat uitvoer eenvoudig nie genoeg kan toeneem nie. Die effek: duurder invoer en bitter min bykomende uitvoer.

Dit is slegs een van die gevolge wat weens ʼn kredietafgradering kop uitsteek. Daar is verskeie hindernisse wat op lang termyn ʼn uitwerking het op die regering se vermoë om dit self te finansier. Met ʼn afgradering moet staatseffekte se rentekoerse opgestoot word, omrede die risiko aansienlik hoër word.

Wat beteken dit vir ʼn toekomstige begroting? Rente is vinnig besig om die grootste lynitem in ʼn begroting te word. Hierdie koste sal nie deur die hooggeplaaste politici gedra word nie, maar deur die belastingbetalers. Dit plaas druk op die algemene verbruiker – ʼn druk wat reeds enorm is. Daarbenewens is daar ook die sukkelende beleggings van die samelewing weens die plaag van politieke onstabiliteit.

Die huidige omstandighede in Suid-Afrika herinner ʼn mens aan die speletjies wat die konings in die Middeleeue, ten koste van die gemeenskap, gespeel het. Die konings kon sonder enige rekenskap teenoor die samelewing regeer het. In Suid-Afrika gaan biljoene uit die stelsel verdwyn vir die politiese spel van ons “konings” wat maak en breek soos hulle wil.

Geskiedenis moet nooit geïgnoreer word nie. Die eertydse Europese koningshuise het byna geen meriete meer nie. Weinig van hierdie families het nog enige invloedryke magte in die wêreld en hulle word gewoonlik net gebruik as ornamente wat toerisme na hulle lande trek. Die konings is nou vervang met verantwoordelike regerings, wat vinnig verwyder word wanneer hulle te groot vir hulle skoene raak en nie die samelewing in ag neem nie.

Die effek van ʼn verantwoordelike regering moenie onderskat word nie. Dit is straks een van die redes waarom die Westerse wêreld se ekonomiese vooruitgang verseker is. Dit is ook ʼn rede hoekom ekonomiese welvaart nog nooit daadwerklik kon posvat op ons kontinent nie.

Die vraag ontstaan weens die afgradering: Is dit nie nou tyd dat ons dieselfde begin doen met ons konings nie? Is die oplossing nie om te herbesin oor die rol van die staat in ons samelewing nie?

Verskeie individue in die Suid-Afrikaanse samelewing het menige kere bewys dat hulle die potensiaal het om welvaart te verseker. Hierdie individue word voortdurend om verskeie redes deur politici belemmer. Dus moet ons die elemente wat die belemmering veroorsaak, verminder. Hoe kleiner die invloed van ons regering, hoe skraler die kans dat daar skade aan die res van die samelewing verrig kan word.

Daar is ʼn groot mate van idealisme in hierdie voorstel en die politieke wilskrag om so ʼn taak te verrig is nie noodwendig teenwoordig nie. Maar dit is nie die eerste keer dat Suid-Afrika benadeel word deur wanbestuur nie. Solank die staat ʼn groot rol in die samelewing speel, gaan ons altyd soortgelyke risiko’s loop.

Deur ontslae te raak van die koningsmentaliteit en ʼn milieu van ʼn verantwoordelike staat met minimale invloed te skep, sal die risiko van ooreenstemmende gebeure verminder word. Ons sal ook kan bou aan die ekonomiese welvaart wat ons land benodig. Ons konings is meer as welkom om aan te bly, as ornamente, waarin die samelewing homself kan bestuur. Al vraagstuk dan is of ons ons konings sal kan gebruik vir die doeleindes van toerisme soos wat die Europeërs doen.

  • Edward Blight is ʼn dosent in ekonomie by Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Die redenasie is ook gevolg voor die Russiese revolusie. Om die konings te laat tuimel sonder iets in plek is is net so gevaarlik want die konings was juis konings omdat mense se ondernemingsgees onderdruk is en ‘n ideologie gevestig geraak het. Kyk bv hoe gaan dit nou in Libie na Ghadafi se val.

Nico K ·

Ons het iets in plek. Demokrasie. Maar dit lyk nie of dit so maklik is om dit in plek te hou nie. Ek weet nie hoe keer ‘n mens ‘n demokraties verkose leier om ‘n diktator te word nie. Selfs Hitler is demokraties verkies. Al Afrika se diktators is demokraties verkies, maar weier om te gaan en plaas hul ondersteuners in magsposisies. Veral hoof van die weermag en polisie. En daardie persone sal die diktator verdedig want hy beskerm weer hul posisies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.