Ontwapening help niks teen geweldsmisdaad

  • Die publiek is weerloos teen misdadigers wat gewapen is. (Foto: Tumisu, Pixabay)

    Deur Jonathan Deal, nasionale koördineerder van SafeCitizen

Moord en geweld in Suid-Afrika sal nie bekamp word deur wetsgehoorsame burgers te ontwapen nie.

Suid-Afrika vloei uit en bestaan ​​in ʼn kontinuum van politieke uiterstes. Wanneer regerings uiterste standpunte huldig en uiterste maatreëls toepas, is die burgers wat hulle verkies het die verloorders.

Daar is nie plek in Suid-Afrika vir bykomende uiterstes nie.

Gun Free South Africa en sy jongste kampvegter, Jeremy Vearey, beklee so ʼn uiterste posisie. Volgens hierdie organisasie behoort Suid-Afrika heeltemal sonder wapens te wees.

Ons kan almal saamstem dat dié standpunt heeltemal uit voeling is met die werklikheid, gegewe die aantal persone wat daagliks weens geweld in Suid-Afrika sterf.

Stel jou voor as Safe Citizen die ekstreme siening gepropageer het dat almal gewapen móét wees?

Trouens, ons glo dat daar persone in Suid-Afrika is wat nooit met die wettige besit van ʼn vuurwapen toevertrou moet word nie. Wat ons wel glo – en dit word gerugsteun deur die feit dat meer as ʼn miljoen Suid-Afrikaners wettig ʼn vuurwapen vir selfverdediging besit – is dat bevoegde, wetsgehoorsame burgers die reg het om vir enige wettige doel, aansoek te doen vir ʼn lisensie om ʼn vuurwapen te besit.

Dit is maklik om te dink dat geweld uit mense gereguleer kan word, maar die geskiedenis bewys hierdie siening verkeerd – mense sál mekaar doodmaak indien hulle dit wil doen. Dit word bewys uit  ʼn insident 10 000 jaar gelede, toe 27 lede van ʼn stam in Kenia wreed afgemaai en doodgekap is, tot in Frankryk, waar Lahouaiej-Bouhlel op Bastilledag in 2016 toegang tot ʼn geweer geweier is en bloot ʼn 19-ton verkoelingstrok gehuur het en tussen ʼn skare vakansiegangers ingery het. Dit het tot die dood van 86 mense en 458 beseerdes gelei.

Statisties is die werklike moordwapen van keuse vir Suid-Afrikaners ʼn mes. Hierdie inligting is uit die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC) se jongste nasionale opname oor beseringsverwante sterftes verkry, wat in September 2021 gepubliseer is. Dit toon dat wapens soos messe, oftewel “skerp krag” verantwoordelik vir 41% van moorde in Suid-Afrika is, terwyl vuurwapens vir 32% verantwoordelik is.

In ʼn storie wat rojaal gepeper is met ontoepaslike inligting oor sy politieke aktivisme, aanhouding op Robbeneiland, ervaring in die polisie en sy huidige werkloosheidsituasie, dra Vearey min by tot die afgesaagde refrein van Gun Free South Africa, vir wie hy nou as ʼn aktivis steun werf.

Hy het blykbaar vergeet dat dit die besit van ʼn vuurwapen was, of ten minste die respek wat hy met een kon afdwing, wat sy gesag as ʼn hooggeplaaste polisiebeampte ondersteun het. Daarbenewens kon duisende polisiebeamptes onder sy hand hul werk met ʼn mate van beskerming doen – vir hulself en vir die publiek wat van die polisie verwag het om hulle te beskerm.

Vearey beweer dat ʼn vuurwapen die eerste keuse van verdediging vir middelklasmense is wat dit kan bekostig om een aan te skaf. Dit klink vir my baie dieselfde as om te beweer dat ʼn gewapende reaksie, wat met die druk van ʼn knoppie geaktiveer word, die eerste uitweg van ʼn bedorwe middelklas is wat dit kan bekostig om veilig agter elektriese heinings en hoë mure te woon.

Miljoene Suid-Afrikaners sal dit nooit kan bekostig om in ʼn omheinde gemeenskap agter elektriese heinings te woon, met gewapende (ja, gewapende) reaksie tot hul diens nie. Daardie mense het dus geen ander keuse as om na hul eie verdediging om te sien terwyl hulle wag vir ʼn polisievoertuig wat dalk binne 30 minute sal opdaag, of nooit opdaag nie.

Selfs voor verlede jaar se Julie-onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng was Suid-Afrikaners nie lus om te hoor dat hulle ontwapen gaan word nie. As daar ooit ʼn bewys was van die polisie se onvermoë om die publiek te beskerm, was dit dié onluste. Dit was die publiek, die wettig gewapende publiek wat die polisie uit sy penarie gehelp het, terwyl dié staatsdiens sonder leierskap, organisering of ammunisie voortgeploeter het.

In teenstelling met Vearey se siening wil ek die idee dat ʼn vuurwapen ʼn noodsaaklike en wesenlike deel van ʼn beskaafde nasie is, bevorder. Ministers, bates, bekendes en besoekende hooggeplaastes word met gewere beskerm; ons gebruik gewere wettig vir jag en mededingende sportskiet en ons maak staat op ons vuurwapens vir selfverdediging teen ʼn lewensbedreigende aanval.

Of ons daarvan hou of nie, ʼn beskawing steun swaar op sy vuurwapens.

ʼn Vuurwapen verwyder die verskil in fisieke krag, grootte of getalle tussen ʼn aanvaller en ʼn verdediger en is realisties die enigste wapen wat ʼn vrou van 60 kg op gelyke voet met ʼn aanvaller van 120 kg kan plaas.

Waarom moet die publiek, wat aan die genade van onbeheerde misdaad oorgelewer is, misdadigers met leë hande in die gesig staar terwyl die politieke elite in staatsgewaarborgde veiligheid leef?

Is dit nie dalk tyd dat Gun Free South Africa wegbeweeg van ʼn uiterste standpunt, wat hulle ontoepaslik maak nie? Kan hulle nie dalk hervorm met ʼn nuwe naam, soos Misdaadvry Suid-Afrika en saam met burgers werk om Suid-Afrika ʼn ongemaklike plek vir misdadigers te maak nie?

Dit maak geensins sin om wetsgehoorsame vuurwapeneienaars te straf terwyl misdadigers vry rondloop nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Hulle soek óf aandag of is die klits totaal kwyt. Pleks beywer hulle hulle eerder vir ‘n ANC-Free Suid-Afrika. Met hulle uit die pad sal daar baie minder geweld wees. Boonop sal die land floreer en sal ons wetsgehoorsame burgers weer die land kan opbou. Hulle mors nou hul tyd. NIEMAND gaan hul wapens afstaan nie. Nie in hierdie wettelose hool wat die ANC Regering geskep het nie.

Trotse Boervrou ·

Jy is “absoluut” reg. Natuurlik die spul ook!

marius ·

Sal ‘n slingervel vir jou aanvaarbaar wees vearey ? Of wat van ‘n pool noedel?

Manie ·

Dankie Jonathan, jy is heeltemal reg met wat jy hier sê. Behalwe vir jag en sport, is wettig gewapende landsburgers ook diegene wat ‘n land se demokrasie onderhou. Wettig gewapende landsburgers is boonop ‘n land se 2de linie van verdediging, na sy magte. Indien landsburgers ontwapen word, is hulle blootgestel en uitgelewer aan verskeie vorme van vergrype.

AndrewL ·

Vearey was ‘n kamma polisieman wat die senior pos gekry het as gevolg van sy politieke konneksies. Hy kon nie sy werk doen nie en is oneervol ontslaan.

Nou beweer die man hy weet alles.

Gunfree South Africa kan nie vertrou word nie. Hul gebruik verdraaide inligting om mense en veral die regering te probeer oorreed om wettige vuurwapen eienaarskap af te skaf. Hierdie feit is al oor en oor bewys.

Hul beweer dit sal lewens spaar. Terselfdertyd is hul grootste skenker George Sorros wat ook die grootste bydraer ter wêreld is om aborsies te wettig en daardeur miljoene babas te vermoor.

Hoe bring mens nou die kloutjie by die oor?

SomeOne ·

sal die lede van vuurwapen vry sa of vearey dan maar hul plek kom volstaan en my kom oppas 24/7,
nee hul sal dit nie doen nie want hul is te bang, pap broekig om dit te doen

Perdeby ·

Waar ‘n vuurwapen betrokke was, moet dit net dood eenvoudig die doodstraf wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.