Ontwapeningsvoorstelle ontketen burgerregteoorlog

(Foto: pixabay)

Asof burgerregteorganisasies nie reeds op verskeie fronte genoeg vure het om dood te slaan nie, beoog die ANC nou wysigings aan die Wet op Beheer van Vuurwapens waarvolgens selfverdediging nie meer ’n geldige rede vir ’n vuurwapenlisensie gaan wees nie.

Dit is verregaande dat die ANC wetsgehoorsame burgers wil ontwapen deur hulle van regte en vryhede te ontneem, nie weens hul eie gedrag nie, maar weens die gedrag van wettelose misdadigers. Hoe op aarde kan die regering van ’n land wat bekend is as die verkragtingsepisentrum van die wêreld – en met boonop een van die hoogste moordsyfers ter wêreld – sy landsburgers so gewetenloos vir die misdaadwolwe gooi?

Sommige van ons wat al dekades lank onder die ANC-regering oorleef, sien egter al hoe meer onheilspellende tendense raak in sulke waansinnige voorstelle vir wetswysiging. Die ANC, onder leiding van president Cyril Ramaphosa en met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) styf aan sy sy, vermors nie ’n enkele geleentheid om te verkondig dat die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) hul utopiese eindbestemming is nie. Die NDR behels niks minder nie as die totale sentralisering van alle mag in die hande van die regering.

Peter Hitchens waarsku: “The problem of utopia is that it can only be approached across a sea of blood, and you never arrive.”

As dit egter by die ANC kom, lyk dit al hoe minder na ’n party wat naïef onbewus is van die bloedige see, en al hoe meer na een wat ’n verskoning soek om in die boot te klim en te begin seil.

Die besit van ’n vuurwapen vir selfverdediging maak jou in ’n klein, maar merkwaardige mate staatsbestand. Jou en jou gesin se veiligheid en lewens is dan nie meer net afhanklik daarvan of die polisiestasie se telefoon beantwoord word en of daar ’n polisievoertuig beskikbaar is nie. Jy word in werklikheid jou eie gewapende reaksie-eenheid, wat weerstand kan bied teen gewapende misdadigers wat minder waarde heg aan jou en jou gesin se lewens as aan jou selfoon.

Deur hierdie ooglopende strategie van ontwapening slaag die ANC daarin om burgers meer, en beslis nie minder nie, afhanklik te maak van staatsorgane. Sodoende word nog meer mag in die regering se hande gesentraliseer, presies net soos die NDR vereis.

Dus is die stryd vir die reg om ’n vuurwapen vir selfverdedigingsdoeleindes te besit, een van die grootste burgerregtestryde van 2021. Dit is werklik bemoedigend om te sien hoeveel burgers en burgerlike samelewingsorganisasies reeds dapper tot die arena toegetree het.

Die ANC werk met ’n duidelike agenda. Hul beheptheid daarmee om die Grondwet te wysig sodat onteiening sonder vergoeding ons voorland is, gee vir ons ’n paar leidrade oor hul toekomsvisie. Die geskiedenis leer ons dat misdadigers, afknouers en magsgrypers beslis weerlose slagoffers verkies.

Die regte tyd om aktief betrokke te raak in hierdie deurslaggewende burgerregtestryd was reeds gister, maar vandag gaan steeds beter wees as later. Staan vas, hou moed en hou koers. Daar is ’n edelheid verbonde daaraan om te veg vir ’n regverdige saak. Soos I.D. du Plessis geskryf het, “Soet is die stryd vir die stryer”!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Dit gaan nie gebeur nie hoed! Jy en jou mense kan en wil ons nie beskerm nie! Julle soek ons grond en alles wat saam dit gaan en dan wat? Nou dink julle ons is stupid om wapens te vat sodat ons nie kan baklei nie? Moet nie ons intelligensie onderskat nie ons is nie vlak in die dak nie!!!

JN ·

Miskien is ek maar wat jy sou noem n kritieke teoretkis.”Conspiracy theorist” maar dit verg nie veel breinselle om te sien wat die anc probeer doen nie..
Die anc weet presies dat baie blankes wettiglik wapens besit so dit is so eenvoudig soos ontwapen alle blankes sodat hul nie hulself kan verdedig nie…Glo dit en beveg dit mense!
In n land wat grens aan Mosambiek sal wapens vir die kriminele vrylik instroom.
Sal ons nie eens praat van gangster hoedman wat nie eens hul eie polisie stasies kan beskerm nie en wapens verloor of verkoop” korrupsie”… En dan is daar malema..
Al wie sonder wapens gelaat word om hulself wettiglik te beskerm is heel ironies die einste burger wat alles reg en wettiglik doen …
Die anc is daar vir versoening nie blankes….Maak oop jul bot toe ogies asb…
Die pot word al hoe warmer vir ons blankes soos die einste ramapokker gese het dit sal…
Draai die tempratuur so stadig op sodat die wit paddatjie in die pot nie sal agter kom dat dit warm raak nie…

Persheks Adri ·

Stem saam Koos. Ons móét dit eenvoudig veg, want soos my kommentaar ook sê hulle soek ons goed en ons gaan nie wapens hê nie! Hulle dink ons is vlak in die dak…

Domeritus Danie ·

Tien-uit-tien vir Ernst van Zyl se deurtastende en wel bewoorde artikel oor nog ‘n drakoniese wysigingswetsontwerp re die ontwapening van wetsgehoorsame burgers! Pleks die vrotsige en verlamde ANC-regering die onwettige wapenhandelaars en- verspreiders, die boewe en bende-organisasies en hul leiers in die Kaapse Vlakte vastrek en aan die man bring!
‘n Boer moet ‘n roer besit. In die hande van ‘n onkundige en onvolwasse persoon is ‘n vuurwapen egter ‘n moordwapen. Meer mense het en is al besweer, gewond of gedood met hul eie vuurwapens as wat die besit daarvan hulle beskerm het! Ik hebt gesegd!

quartus ·

As jy nie meer selfverdediging kan gebruik as n rede waarom jy n vuurwapenlisesie benodig nie, beteken dit eenvoudig jy kan nie lisensie kry nie want daar is geen ander rede wat jy kan gebruik nie Behalwe sport soos skyfskiet ( miskien is dit n blink plan?)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.