Onverdraagsaamheid, die vlymskerp wapen

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Een van die belangrikste pilare wat die bouwerk van die liberale demokrasie orent hou, is verdraagsaamheid. Hiermee word bedoel die reg van mense om vryelik – maar binne die perke van die Wet – afwykende menings te hê, sonder dat jy deur hetsy die staat of jou medeburgers vervolg word.

’n Paar lande was die afgelope tyd in die nuus, waar dié pilaar onder buitengewone druk was. Hulle sluit in Frankryk, Amerika en Suid-Afrika. Kom ons kyk kortliks na wat daar gebeur en wat ons daaruit kan leer.

Die land wat dalk die beste voorbeeld van almal is, is Frankryk.

Daar het ’n Paryse onderwyser, Samuel Paty, onlangs spotprente oor die profeet Mohammed as illustrasiemateriaal vir ’n lesing oor meningsvryheid aangewend. Daarvoor is hy deur ’n jong fanatieke ortodokse Moslem met ’n vlymskerp mes onthoof. Die terroris is deur die polisie doodgeskiet.

Dit was die onmiddellike aanleiding vir die moord op drie kerkgangers in Nice, ook in Frankryk, eweneens deur ’n Moslem-fundamentalis. En dit hou heel waarskynlik verband met die terreuraanslag in Wene, Oostenryk, Dinsdagoggend, toe vier mense deur een of meer Moslem-terroriste doodgeskiet is.

Hier is sprake van ’n onversoenbare botsing tussen die ortodokse Islam se wêreldbeskouing en dié van die liberale Weste.

In die Weste is daar ’n fundamentele skeiding tussen kerk en staat, tussen godsdiens en politiek. Dit staan die individu binne die perke van die Wet vry om te aanbid soos hy wil (of dit nié te doen nie), sonder dat die staat op enige manier daarby inmeng.

Elke politikus mag sy politieke benadering op die Christelike geloof (of enige ander denkwyse) baseer, maar uiteindelik is dit die sekulêre reg wat deurslaggewend is, nie die Bybel (of enige ander geskrif) nie.

Foto: REUTERS/Eric Gaillard

In Frankryk is dié benadering, bekend as laïcité (sekularisme), die verste deurgevoer. Die wortels strek terug tot die 14de eeu, maar dit het sedert die Franse Revolusie einde 18de eeu ’n onverbiddelike staatkundige beginsel in die land geword.

In die Islam word dié onderskeid nie erken nie. Omdat die Koran volgens dié godsdiens letterlik, woord vir woord, deur God aan die profeet Mohammed geopenbaar is, is die Koran die rigsnoer wat gehoorsaam moet word, nie enige sekulêre regstelsel nie. Spotprente oor die profeet is beledigend en godslasterlik, en dus verdien enigeen wat dit gebruik, die doodstraf.

Dis hoekom die redaksie van die links-satiriese tydskrif Charlie Hebdo in 2015 deur twee Islamitiese terroriste aangeval is. Altesame 12 mense is in die aangeval gedood.

Dit was dieselfde spotprente wat deur Paty in sy lesing gebruik is. Dus moes hy ook sterf.

Twee nuanses is hier nodig. Ten eerste, tot enkele eeue gelede het soortgelyke dinge ook tussen Rooms-Katolieke en Protestantse Christene in Europa gebeur. In die tweede plek is slegs ’n klein minderheid van die Moslems in Europa só onverdraagsaam; verreweg die meeste erken die gesag van die Wet.

Polisielede sper ‘n gedeelte van die Oostensrykse hoofstad Wene na die terreuraanval af. (Foto: Radovan Stoklasa/Reuters)

Die voorvalle in Frankryk en Oostenryk is ekstreme voorbeelde van politiek-religieuse onverdraagsaamheid. Maar in Amerika is politieke onverdraagsaamheid ook aan die groei.

Die afgelope tyd het die kiesers in dié land gaan stem om, onder meer, ’n president te kies. Dat Amerika (soos ander liberale demokrasieë) veral in verkiesingstyd ’n verhoogde polarisering beleef, is natuurlik.

Sedert die miljoenêr Donald Trump (tans president) in 2015 sy toetrede tot die politiek aangekondig het, het die polarisering en onverdraagsaamheid in Amerika egter dramaties toegeneem. Dis deels te wyte aan Trump se intolerante politieke styl, maar die Demokrate – veral hul linkervleuel – staan ook nie ver vir hom terug nie.

Wie ook al die meeste skuld dra, is nie nou ter sake nie. Wat wel belangrik is, is dat Amerika in twee blokke uiteengeval het wat mekaar skaars kan verdra.

Talle Republikeine beskou die Demokrate as die voorlopers van sosialisme en kommunisme, as onpatrioties, as mense wat hul eie land te gronde wil rig. Baie Demokrate beskou die Republikeine as outoritêr, ondemokraties, en agterlik.

Die twee groepe draai elk in hul eie, veilige eggokamer rond waar hulle slegs gekonfronteer word met menings wat met hul eie ooreenstem. ’n Mens veralgemeen nie te erg as jy sê die Demokrate kyk net na CNN en lees slegs publikasies soos The Washington Post en The New York Times nie. Of dat die Republikeine slegs na Fox News en OANN kyk.

Dis waarom Trump die Demokrate as “verraaiers” en liberale media as “vyande van die volk” kan uitskel. En die linkervleuel van die Demokrate die Republikeine as “fasciste” en “rassiste”.

Dis waarom die twee partye elk tot die uiterste gaan om die ander by die stembus te verslaan, selfs met gebruikmaking van ondemokratiese middele as dit nodig is. Dis waarom Trump weier om vooraf die versekering te gee dat hy die mag in die geval van sy nederlaag vreedsaam aan die Demokratiese kandidaat, Joe Biden, sal oordra, en waarom geweld en bloedvergieting ná die verkiesing gevrees word.

’n Derde land waar onverdraagsaamheid in sekere kringe botvier, is Suid-Afrika. Aan die uiterstes van die politieke spektrum bekyk die mense mekaar met ongelooflike wantroue, haat en minagting.

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Aan die een kant is daar Julius Malema se EFF, wat geen geheim maak van sy afsku van wit mense of van sy begeerte om die alleenmag in die land te verwerf nie. Die regerende ANC hang amptelik nierassigheid aan, maar daar is sterk elemente in die party wat moeilik van die EFF onderskei kan word.

Andersyds, as ’n mens die sosiale media dophou, is dit ewe waar dat talle wit mense – dalk deels in reaksie – eweneens rassistiese neigings openbaar. Ook húlle is uiters onverdraagsaam teenoor menings wat van hulle s’n afwyk, en hulle is geneig om liberale denke totaal te verketter.

Die geskiedenis van die Weimar-republiek in Duitsland (1918-’33) wys dat ’n demokrasie weens só ’n polarisering kan sterf. Frankryk, waar die boosdoeners maar ’n klein minderheid is, het die beste kans op die oorlewing van sy demokrasie. Ook in Amerika, met sy sterk demokratiese institusies, sal die demokrasie nie maklik sterf nie.

Suid-Afrika se demokratiese wortels lê nog maar vlak, en ’n demokratiese kultuur en tradisie het by ons eintlik nooit regtig bestaan nie. Nietemin, gesien die alternatief – dié van ’n rassistiese diktatuur á la Robert Mugabe of Idi Amin – is dit die moeite werd om met elke vesel in jou liggaam en gees vir die oorlewing van die liberale veelparty-demokrasie te veg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Liberale demokrasie is niks anders as die Open Society van Soros nie; daai einde van die rolprent waar almal wit, swart, groen, pers, wesens selfs van Mars, mekaar ophels en saamsing terwyl die helde wegvlieg, al wuiwende. Snik. Die EU van Merkel, die heilige fakkeldraer, glo almal wat burgerskap in die wonderwèreld wat Europeèrs geskep het kry, sal ewig dankbaar en onderdanig bly. Die Moslems was al die baas van die Europese plaas van oos na wes en noord na suid. Hulle sal weer wees.

Dries ·

Dankie Annie.. Ja liberalisme is n kanker wat wanneer jy geinfesteer word daarmee jy tot die dood toe sal veg teen alles wat behoudend en reg is

Marthinus W ·

Die Moslems is Semiete, nes die Jode. En nes die Moslems mag niemand iets skeef van die Jode sê nie. Alle kritiek word as anti-Semitisme beskou, en daardie persoon word vervolg tot in lengte van dae. Selfs Jode, soos Noam Chomsky, Stephan F Cohen (wat onlangs oorlede is, sonder enige erkenning), Norman Finkelstein en William Blum, wat kritiek lewer, word uitgekryt as “self-hating Jews”. Omdat die media in Amerika en Europe grotendeels in Joodse besit is, tesame met smerige organisasies soos die Anti-Defamation League (ADL), word verdraagsaamheid in die media al hoe meer beperk. In Amerika is daar `n groeiende weerstand daarteen.

Vrijburger ·

Jou onderrok hang weer uit. Die oorsprong van die onverdraagsaamheid is wel ter sprake.

“A report released by the Cato Institute earlier this year which found that 62% of Americans hold political views they are afraid to share. According to Cato’s data, 52% of Democrats but 77% of Republicans agreed that ‘the political climate these days prevents me from saying things I believe because others might find them offensive’.”

Reeeeeeeee! “Intolerante”?!

Therese ·

Onverdraagsaamheid is inderdaad ‘n vlymskerp wapen.
Die “haat, wantroue en minagting” vanuit politieke- en mediakringe wêreldwyd teenoor ‘n individu wat die gevestigde ‘elite’ uit hul globale selfvoldaanheid wou skud, is ‘n sprekende voorbeeld.
Lees meer oor dié heksejag in die puik Nuuskommentaar deur Monica Mynhardt.

Andrew ·

Leopold. Nee wat, jou Trump haat bly nog sterk. Jy kan maar verwys na die BLM beweging en Antiva se intoleransie teenoor enige iets behalwe hulle denke, en hoe vergelyk die brand en breek nou met die van BLM gedurende die Obama tyd? Of het Trump hulle toe ook kwaad gemaak? Trump se intolerante manier is in direkte teenstand op jou geliefde demokrate (sosialistiese liberale) se taktiek en die enigste manier hoe die globilstiese denkwyses, wat jy ook najaag, teen gestaan kan word. As ek nie meer mag besluit wat om te dink, glo of met wie om te trou nie gaan ek begin terug druk.

Johannes ·

Baie kommentators se uitlatings oor Donald Trump dui op die uiterste onverdraagsaamheid. Dinge word graag aan Trump toegedig wat nooit vir Barack Obama te beurt geval het nie.

Human ·

Don the Con Tantrum Trump bye bye jou tyd in die Withuis is amper om, nou moet Amerika duim vashou, dat hy dit uit vrye wil doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.