Onverdraagsaamheid sal SA vernietig

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Suid-Afrika is op ’n mespunt. Hoeveel individue het nie al die een of ander tyd hierdie stelling gemaak nie?

Dit wil egter voorkom asof Suid-Afrika hom die afgelope maand veral hiér bevind en asof die verdeeldheid en onverdraagsaamheid onder mense in die algemeen, maar veral tussen rassegroepe, met rasseskrede aan die toeneem is.

’n Mens hoef maar net te kyk na die misplaaste reaksie en kritiek op Kallie Kriel en Ernst Roets van AfriForum se besoek aan die VSA. Terwyl Kriel en Roets die VSA besoek het suiwer met die bedoeling om die internasionale wêreld omtrent die krisis rakende plaasmoorde en die gevare van die ANC-beleid van onteiening sonder vergoeding in te lig, is hulle met hul terugkoms verguis. Die narratief van beskuldiging en beswaddering wat ’n groep linkse akademici, joernaliste en kommentators teen organisasies soos AfriForum probeer bevorder, is egter nie volhoubaar nie.

In plaas daarvan dat gesonde diskoers, debatvoering en openhartige gesprekke deur diesulkes aangemoedig word, ten einde groter samehorigheid en verdraagsaamheid in die land te bevorder, word etikette om mense se nekke gehang wat hulle nie verdien nie.

Dieselfde geld die hantering van die Ashwin Willemse-debakel. Nick Mallett en Naas Botha is as’t ware in die openbaar verhoor en skuldig bevind voordat enige redelike prosesse gevolg of ondersoeke gedoen is. Toko Xaza, minister van sport en ontspanning, wou hê Mallett en Botha moet sommer summier geskors word, terwyl Mmusi Maimane, DA-leier, sonder om enige feite tot sy beskikking te hê, ook op die twitter-veroordelingswa gespring het.

SuperSport het op die oog af darem kopgehou en aangedui dat daar eers agter die kap van Willemse se tiradebyl gekom sal word voordat enige afleidings gemaak of besluite geneem word.

Gewone landsburgers raak toenemend bewus van die menseverhoudinge-krisis waarop Suid-Afrika afstuur. As daar nie spoedig leierskap na vore gaan tree om gemoedere te kalmeer, en wat billikheid en regverdigheid na alle kante van die spektrum gaan bevorder nie, lê daar ongetwyfeld tye van intense rassespanning voor wat niks goed vir die land en ál sy mense inhou nie.

Suid-Afrika dra, soos meeste ander lande ter wêreld, swaar aan ’n verlede. ’n Verlede waar foute gemaak is, mense te na gekom is en mense gely het. Suid-Afrika het egter nie die tyd of die luukse om in die verlede vasgevang te bly nie en vir groepe om mekaar aanhoudend in ’n staat van beskuldiging te plaas of om te eis dat een groep tot in lengte van dae as onderdrukkers gebrandmerk moet bly, gaan niemand tot voordeel wees nie.

As Suid-Afrikaners nie baie vinnig ’n middelgrond vind om saam die enorme uitdagings en probleme te pak nie, sal die geskiedenisboeke eendag die verhaal van verspeelde kanse, mislukkings en ’n samelewing wat nie oor homself kon kom nie, vertel.

In die woorde van Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is dit dan vandag meer waar as ooit dat wedersydse vertroue hernuwe moet word. Daar sal verandering moet kom. En dit sal net kan gebeur as Suid-Afrikaners begin fokus op dít waaroor hulle saamstem, en nie toelaat dat dit waaroor hulle verskil, hulle só verdeel dat hulle mekaar deurentyd beveg en in die proses vernietig nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Eish ·

Uit en uit n leierskapsprobleem waar politieke opportuniste ter wille van gedienstige stemvee, populistiese agendas dryf ten einde inhirente tekortkominge te kamofleer.
Dit is n wêreldwye verskynsel met nie n enkele land wat integrasie soos deur artikel vermeld, met positiewe uitkomste kan bestuur nie.
Die enigste verskil is dat in dié helhool, is moord, tweedeklas burgerskap, ge BEE en gebloktheid kenmerkend van optrede teen die minderhede. Erge diskriminasie dus.

Jerry ·

Versoening en verdraagsaamheid loop hand aan hand. Die middelgrond wat gevind moet word is versoening en hoe gouer dit bewerkstellig word tussen die VF en CR, hoe gouer kan daar sekerheid wees oor al die belangrikste belange kwessies. Dit sal ook onmiddellik die wind uit die seile haal van die EFF, ANC anargiste en ander opponente.

Paul ·

Versoening en verdraagsaamheid, die Bybel prekdik ook dit, maar nie ‘n elke paragraaf nie, by tye slaan daar die realistiese deur en dan word die karwats ook maar goed uitgehaal. In gevalle was Die Vader ook maar kwaad vir die mens. In sekere gevalle was daar oorlog nodig om mense tot hul sinne te bring.

Dankie vir Solidariteit en Afriform vir hul nugtere boodskap wat hulle vir ons het, maar die oë altyd wyd oop en met die beste raad om ons die toekoms in te neem.

Liberaal ·

Liberale waardes bepaal dat almal hulle eie kulturele identiteit, geloof en taal moet prysgee om dit wat voorgeskryf word deur die globale elite wat die massamedia beheer, aan te neem. Minderhede sal verkleineer word deur populere massamedia, want liberales wil alle minderhede nou finaal uitskuif.

Ou Nou Gou Vlakvark van Visiefontein ·

Dankie Me. Rademeyer.
Hoe kan ek verwag dat my Skepper my moet vergewe indien ek nie my naaste vergewe nie? Mens moet alle mense liefhê maar dit beteken nie jy moet van hulle hou nie of dat jy met hulle moet dans nie.
Tweedens, menigde Suid-Afrikaners beleef volhoubare werkloosheid sonder hoop op ‘n beter toekoms. Die mens is geskape om te werk om die kopinhoud gesond te hou. Sonder werk soek die kopinhoud ‘n sondebok vir die voortvloeiende ellende.
My vraag aan alle Suid-Afrikaners: “Wat is ons nasionale visie wat ons saam kan nastreef tot selfaktualiserig? “Geen leierskap, geen visie, geen strategie”.
Sjina se visie is om die wêreld se fabriek te wees. Waarin wil ons as nasie presteer? NOU is die tyd om te besluit. NOU! Pres. Ramaphosa, wees ‘n ware leier en staatsman!

thinus ·

Dis nie so eenvoudig nie, dit gaan nie net oor spanning tussen konserwatiewe blankes en die regering / ANC / CR, of die taalstryd tussen Afrikaans en die res, of oor grondonteiening nie.
Ja dit gaan oor konflik tussen burger en immigrant, rasse en etniese groepe, tale, skole werk, politiese mag – daar is wrywing in die ANC, van grondvlak tot president. Die stryd tussen wet en orde/misdaad, korrupsie / fluittjieblasers, godsdiens/goddeloses.
Om die Afrikaner blanke te verwyder uit SA sal nie SA se probleme oplos nie – kyk wat het gebeur in Zimbabwe nadat feitlik alle blanke plase onteien is.
Die groot oorsaak van die wrywing in die gemeenskap is dat mense ongelyk is, maar daar word voorgehou almal is gelyk en almal hoort saam. daar is nerens gelyktheid in enige land nie. Sonder reels en grense kan daar nie orde wees nie, orde = stabiliteit = vrede.
Die reenboog is weg so vinnig as wat dit na die reen verdwyn, al wat oor is, is die drukpot – en hy begin nou bietjie fluit.

John ·

Ons hoop en vertrou dat Visiefontein as voorbeeld sal dien vir die nuutste grondhervormings-cum-handevat-en-gee-varkie-in-die-son-op-sy-strandhuis-se-stoep se soet drome vir sy verste-naaste. Wat brand so aan in die kombuis vrou, is dit alweer die pot paddas van buurman wie se eskommetjie alweer leeg is… die hoeveelste keer…. en bring sommer nog ‘n soetekie… Kyk net hoe blou is die see vanoggend… en dood…. stil….

Ou Ystervark van Strategiehoogte ·

John, jy is ‘n doring, ‘n memeer van menere. So bly jy geniet en waardeer Ou Nou Gou Vlakvark van Visieforntein se humor en diepe insae in landsake en die toekoms. Ons liewe Suid-Afrikaners moet hulself bevry van slawerny van denke oor die verlede.

Frans C ·

Die vraag is eenvoudig.Is daar enige sg vryheidsbeweging in die wêreld wat ‘n ware demokratiese bestel bewerkstellig het in ‘n volkeverskeidenheid? As daar een is,noem dit want dan kan ‘n mens dit wat daar plaasgevind het bestudeer en navolg.

As daar nie is pluk ons eenvoudig die vrugte van ‘n mislukte onderhandeling tussen politieke partye en nie ‘n ooreenkoms tussen die bevolkingsgroepe van die land nie,
waarin die belange van minder groepe eenvoudig in die slag bly terwille van die groter
ideaal vervat in die Vryheidsmanifes,waarin die mens se belange eerste gestel word en nie ‘n Godgegewe volkeverskeidenheid nie.

As dit ‘n verkeerde afleiding is, hou dan op die volgende te sing:
Al julle volke klap julle hande
Juig tot eer van God
Verhef julle stem en roem Sy naam
In elke stad op aarde
Sing en sing en sing dan saam
Loof en prys Sy grote naam
Hy is Koning ewig
In die hemel en op aarde
Sing en sing en sing dan saam
Loof en prys Sy grote naam
Die Hemelkoning skenk ons Sy genade
Hy is Koning ewig
Ons gaan in Sy tempel in
Hy roep almal saam
Die skare juig en horings blaas
Ons almal roem Sy naam

Moet dit nie sing nie,want net soos ‘n mens ‘n oordeel oor jou kan bring deur die verkeerde eet en drink van die Heilige nagmaal,kan jy ‘n oordeel oor jou sing,as jy nie glo in dit wat jy sing nie.

Chris ·

Onverdraagsaamheid is ‘n natuurlike uitvloeisel van botsende standaarde. Nou wat as ek nie my standaard wil aanpas nie – is ek dan verkeerd?! Of is die groep met die ander standaarde verkeerd? Ons altwee is reg – afsonderlik, maar hou ons net uit mekaar se hare uit; dis mos mooi logies en dit staan selfs in die bybel.
In die NSA word ‘n vierkantige pen heeltyd in ‘n ronde gat ingeforseer – natuurlik gaan jy ongelukkigheid kry.

Gerhard ·

Ek kry die idee sommiges het ‘n misplaaste siening oor wat die laaste 25 jaar plaasgevind het en nog besig is om plaas te vind. Die ANC het nog nooit belange gestel in wedersydse vertroue en samewerking nie. C.R. het self gesê dat die blankes soos ‘n padda stadig in ‘n pot kook. Klink dit soos iets wat iemand wat belangstel in wedersydse vertroue sal sê? Ek hoop eerlik daar is ‘n plan F vir wanneer dit WEEREENS duidelik word dat die mense nie belang stel in onderhandel en wedersydse vertroue nie.

thinus ·

Ek vra nederig omverskoning omdat ek met my vorige plasing die spanning in SPORT vergeet het!

Sw ·

Hierdie onverdraagsaamheid is die produk van Zuma wat hy gekweek het deur wit monopolie kapitaal en dis hartseer dat sy nalatenskap voortleef terwyl alle rasse verheug was oor sy uitskop.

realis ·

Suid Afrika is klaar vernietig. Eers wanneer dit so ten gronde gegaanhet dat niks gered kan word nie – sal iets positiefs gebeur – maar tot dan sal ons alles gade slaan soos dit teen die afgrond afrol…..

Salomé Malherbe ·

Ons gaan oop oë hierdie storm in.
Ons harte is swaar, daagliks meer benoud selfs bang maar danksy ons geskiedenis is daar n mate van bekendheid aan hierdie scenario né. Die Boere oorlog was werklik, waar en verskriklik… hoe gaan ons hierdie nagmerrie oorleef vra ek myself af.
Mag God ons genadig wees en ons mense bo alle verwagting met Sy engele bewaar.

Ouma Hoop Vertroue Liefde Katarina Toekomsvark ·

Geagte Salomé, Volg die “Goue Reël van Naasteliefde”: Doen aan andere wat jy verlang hulle aan jou moet doen.
Gebruik jou talente om sout vir die mensdom te wees en ‘n helder lig ter bevordering van reg en geregtigheid.
Suid-Afrika en Suid-Afrikaners is besonders. Ons moet saam fokus op ‘n nasievisie ter selfaktualisering by alle Suid-Afrikaners. Ons is mos almal skepsels van dieselfde Skepper. En daar is net een ewige hemel in die hiernamaals. Moet nie mismoedg raak nie.

Ekke ·

Baie Bybelseverwarring …

Die enigste konflik tussen nasies wat volgens die Skrif versoenbaar was, is tussen die Tienstammeryk en die Tweestammeryk. Nêrens is opdrag om met buite volke te versoen nie, maar om apart van hul te lewe en hul selfs met die banvloek te tref waar voorgeskryf. As ons tot daardie wette terugkeer, het ons g’n leier nodig nie, maar sal ons as teokratiese volk funksioneer. Maar wat maak ons verwarde, leuen-volgepropte mense? Ons hang die leer van Bileam en die Nikolaïete aan. Jul moet ook bedink wie ons naaste is, want ons het ook verstes.

:-( ·

Baie Bybelseverwarring …

Die enigste konflik tussen nasies wat volgens die Skrif versoenbaar was, is tussen die Tienstammeryk en die Tweestammeryk. Nêrens is opdrag om met buite volke te versoen nie, maar om apart van hul te lewe en hul selfs met die banvloek te tref waar voorgeskryf. As ons tot daardie wette terugkeer, het ons g’n leier nodig nie, maar sal ons as teokratiese volk funksioneer. Maar wat maak ons verwarde, leuen-volgepropte mense? Ons hang die leer van Bileam en die Nikolaïete aan. Jul moet ook bedink wie ons naaste is, want ons het ook verstes.

Jerry ·

Hoe langer Afrikaner organisasies boetedoening en versoening uitstel en CR intensies ondermyn hoe erger raak die onverdraagsaamheid teenoor ons. Ons betree as gevolg daarvan nou die fase waar dit nie meer daaroor gaan dat jy wit is nie of dat jy deel was van apartheid se witbevoorregting nie, alhoewel dit nog steeds die middel tot die doel is. Dit gaan nou daaroor begin gaan dat jy nie swart is nie. As jy nie swart is nie kry jy nie die werk nie, as jy nie swart is nie kan jy nie in die span speel nie, as jy nie swart is nie is jy nie regtig deel van die nuwe SA nie en word jy nie gehelp nie, as jy nie swart is nie help die wetstoepassers jou nie, as jy nie swart is nie is jy n Afrikaner rassis, as jy nie swart is nie soek ons jou nie hier nie, as jou naam Bop is wat na apartheid gebore is en jy is nie swart nie dan verdien jy die onreg teen jou en so kan ek aangaan. Swartbemagtiging gaan nou momentum opbou en onverdraagsaamheid gaan begin toeneem teen die ondermynende Afrikaner organisasies en hulle lede en vir een of ander duistere rede is dit presies waarvoor sekere Afrikaner organisasies gehoop het. Hoe op dees aarde hulle reken hulle opponente speel so in hulle hande in, sal net hulle weet! Wie weet, dalk gaan hulle nog meer geld in hulle sakke so prop!

Napoleon ·

En jy dink regtig die onverdraagsaamheid word veroorsaak deur Afrikanerorganisasies? Eerder deur papbroeke wat net wil gaan le en toelaat dat daar oor ons volk geloop word, in die naam van versoening.

Pietsepan ·

Die een kla oor die verlede die ander oor die hede. Solank die gedrag in die hede voortgaan soos dit tans is, gaan daar nooit versoening kom nie. Ek praat van gedrag nie bekpraatjies nie.

Jerry ·

Onversoenende, skoorsoekende en ondermynende gedrag = onverdraagsaamheid. Doen dit aan ander en raai wat gebeur met jou?

Hendrik ·

‘n Goeie heining maak goeie buurmanskap. Die zoeloes baklei hard vir hul staat maar meeste van die werkende zoeloes werk/bly in die stede/dorpe. Die werklike oplossing in S.A is ‘n federale staat oplossing en dit is baie baie ooglopend en logies. Die stam erkening word al hoe meer onder die swart bevolking en vakansies en langnaweke beweeg almal terug huis toe om te gaan kuier. Daar gaan nie verdraagdsaamheid wees sonder grense en sesessie is die oplossing a.g.v die algemene oormag oor die Afrikaner minderheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.