Onversoenlike verwyte

Sonstraal op die senotaaf in die Voortrekkermonument. Foto: Commons.wikimedia.org.

Deur dr. Christo Pretorius

Twee geleenthede kenmerk Saterdag 16 Desember 2017.

Op dié dag vier Afrikaners die ontstaan en gang van die Groot Trek en die aflê van die Gelofte op 16 Desember 1838 en van staatsweë vind die viering van Versoeningsdag plaas.

Tradisioneel word Geloftedag ingeklee met ʼn erediens en ʼn vertelling van die verlede en met die gebruiklike voorlees van die Gelofte bevestig Afrikaners dat hulle hieraan verbind is.

Hierdie verbintenis is nie ʼn hunkering na die verlede of ʼn verafgoding van die Voortrekkers nie. Dit is ook nie ʼn daad van rebellie of weerstand teen die strewe na vrede en versoening nie.

Dit is hoe die viering van Geloftedag kwaadwilliglik vertolk word en Afrikaners word meermale van onversoenlikheid beskuldig.

Die verwyt van onversoenlikheid word geuiter teen die agtergrond van ʼn oproep tot ʼn groter, ruimer Suid-Afrikaanse gemeenskaplikheid.

Die viering van Versoeningsdag dien so as simboliese toetrede tot die nuwe bestel van gelykheid en geregtigheid en die afskeid neem van ʼn uitgediende rassemeerderwaardige verlede.

Van Afrikaners word geëis om afskeid te neem van hulle volk wees; van dit wat die volkswese voed en kenmerk.

Geloftedag herinner Afrikaners egter aan dít wat grondliggend aan volk wees is en grondliggend hieraan is verootmoediging voor die lewende God.

Dit is die erkenning van nietigheid en afhanklikheid en die ontdekking dat God as beskikker oor volke en tye ook oor hierdie volk en sy tyd beskik.

Daarmee word nie ontken dat dit ook die wesensgrond van ander volke en gemeenskappe is nie. Afrikaners kan egter nie instaan vir ander se erkenning of nie-erkenning hiervan nie.

Afrikaners is, soos ander volke, self verantwoordelik en sal van hulle doen en late aan die drie-enige God verantwoording doen. En ook dit is die wesensgrond van die Gelofte, dat die eer, ten spyte van eie gebrokenheid, alleen aan dié Heer gegee word en voor Hom alleen gebuig word.

Moet Afrikaners dít prysgee?

Beteken Versoeningsdag dat Afrikaners die geloofsgronde waarin hulle volkswese geanker is, moet verruil vir ʼn “ruimer” ideologie?

Kan daar sprake van versoening wees as die verloëning van die geloofsgrond van volk wees die voorwaarde is?

Dit is nie die Gelofte wat ter wille van “versoening” opsy geskuif moet nie.

Inteendeel, Geloftedag herinner Afrikaners aan hulle nietigheid en afhanklikheid; dit roep op tot verootmoediging en die erkenning van God se trou; dit spoor aan tot vertroue in dié Here wat oor hierdie volk, oor alle volke, beskik. Daarom word die eer aan Hom gegee … ook vir die versoening wat Hy deur Jesus Christus vir doodsondige mense bewerk het.

Hiervoor mag Afrikaners nie geblameer of verwyt word nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Ada ·

Vir my sal dit altyd Geloftedag bly. Dit is my geskiedenis waarop ek geweldig trots is. Ek is trots Afrikaans en wit en niemand kan dit van my wegneem nie.

kendall ·

Ons voorouers het ‘n gelofte (belofte) aan God gemaak. Jy MAG dit nie breek nie! Die meeste mense steur hulle nie daaraan nie en wonder hoekom die blankes so afgemaai word!

Haan ·

Ek herinner U graag aan die ander twee geloftes van ons volk, naamlik:
– gelofte van Jan van Riebeeck
– gelofte van Paardekraal

Vermeende ·

Die geleerdes kan 16 Des ontleed net soos hulle wil, die een afleiding kan n die ander gemaak word, wat die ontleders en die wetmakers nie besef nie. 16 Des vier ons nie die boer se oorwinning nie, minder wil ons braai en kilture uitryl en verskoning vra nie.
Ons wil net ons gelofte betaal in rus en vrede, ons wil ons veroontmoedig voor ons God en al die eer van daai oorwinning aan Hom gee, die wonderwerk van bloedrivier was n wonderwerk wat ons erken en weet.
Wanneer n Boer op sy knie is dan los jy hom uit, julle kan 17 Des met ons kom versoen of selfs vandag maar nie more nie, more wei ons aan ons God in n fees.

kat ·

Ek het geen verwyte nie. My grootouers en ouers het ook geen verwyte gehad nie.

Faan Ries ·

Christo jy vat die gedagte van Geloftedag korrek vas. Niks minder niks meer. Die wat in Geloftedag iets meer wil sien of lees is geregtig tot sy/haar mening. My mening oor sulke sake is “kyk in jou eie bord wat jy ingeskep het en eet dit, los my bord uit”

Eish ·

Na 23 jaar van uiterste blootstelling aan liberales, konserwatiewes, staatskapers,hensoppers, verraaiers, misdadigers en moordenaars in die helhool, het ek agtergekom dat jou eerste instink gewoonlik die korrekte is.
Instinktief née gestem in die referendum desondanks n kolonel wat ons as kandidaatoffisiere kom toespreek het oor die belangrikheid van verandering tydens offisierskursus.
Dieselfde instink oortuig my ook om geloftedag eerder dan die plastiek vakansiedag van die regeerders te vier.
Ek, het ongelukkig alle vertroue in die Afrika regering verloor afgesien of die chef wat die padda stadig kook aan bewind kom as leier van die leierlose kleptokrasie, of die mikrogolf weergawe.
Ek is danksy die afgelope 23 jaar, onversetlik onversoenbaar in my oortuigings aangesien daar geen gemene deler tussen lig en duisternis kan wees nie. Ek sal slegs die ander wang draai, maar saam in dieselfde juk trek? Nimmer as te nooit!
Nêrens in die geskiedenis van die blou planeet, kon integrasie suksesvol bestuur word nie.
Ek het eenvoudig nie die krag oor om te mors op die versoeningspeletjie of wat ookal na die Afrikaansprekende Kaukasiërs gegooi word nie.
Ek wil my eie ding doen tussen my eie mense.

Jerry ·

Ek wil my eie ding doen tussen mense wat nie ander blameer en verwyt vir die gemors waarin ons onsself bevind. Ons as Afrikaner is te blameer want ons het dit toegelaat en slegs ons gehoorsaamheid in geloof kan dit reg stel. As die skoen Dr. Pretorius pas, dan moet hy hom aantrek.

Nouja ·

Volgens my army peloton pêlle van die Transvaal het my voorouers hul ossewa bestuurslisensie gedop toe hul uitvind ek is en was nog altyd ‘n Kaapenaar. Ek moes hoor dat ek nooit myself ‘n Boer kan noem nie al het ek destyds KP gestem. Oor die verloop van daardie 2 jaar se diensplig het ek geleidelik tot die besef gekom dat ek nie daar bo hoort nie en dat my naiewe kinderbewondering vir die Voortrekkers en Boere heldedade eintlik misplaas was, want dit vorm nie deel van my eie persoonlike geskiedenis nie. Ek het respek vir diegene vir wie Gelofte dag ‘n groot betekenis inhou en veral vir diegene wat dit daadwerklik ondersteun en verdedig. Ongelukkig kan ek nie daardie entoesiasme deel nie. Wat in die 1800’s in Natal, Tvl en die OVS gebeur het staan my nie aan nie. Die bord geskiedenis kos wat vir my in geskep is lyk en proe anders as andere sin. Kom ons respekteer eerder die onderliggende verskille wat daar onder Afrikaanssprekende Kaukasieêrs bestaan . Moet asb nie voorgee dat daar nie verskille is nie en dan sommer ook sodanige afvalliges gebonde maak aan ‘n gelofte wat slegs op ‘n bepaalde groep van toepassing is.

Vermeende ·

Nouja, gelofte dag is al vir baie jare n vakansiedag, het jy al ooit gese nee dankie vir die gratis vakansiedag of was jy soos baie ander te dankbaar vir die onverdiende pasella. Jy sien, die dag is juis n vakansiedag gewees om jou gelofte na te kom en nie om te gaan inle nie. As jy die vrug van die dag aangruip (vakansie) dan onderwerp jy jou mos aan die gelofte ook, niks is mos verniet nie

Boerseun ·

Jy is reg, jy sal nooit n Boer wees nie. Die Gelofte is nie deur Afrikaners gemaak nie en Boere oorloe ook nie deur die Afrikaaner geveg nie. En Ek stem ons is nie dieselfde nie

Nouja ·

Vermeende. Jy het of nie my kommentaar gelees nie of jy het per abuis na iemand anders verwys met joune. Ek het glad nie oor die onderwerp van openbare vakansiedae geskryf nie. Om na ‘n Geloftedag as ‘n vakansiedag te verwys klink in elk geval vir my na ‘n teenstrydigheid of hoe?

Jerry ·

Die Skrif se dat slegs God kan n verbond sluit, n belofte maak, nie die mens nie, want die mens kan nie n belofte nakom nie. Die dag wat die Afrikaner toegelaat het dat n ooreenkoms geteken is met die wat jaloers is op die Afrikaner en sy God, op daardie dag het die Afrikaner nageslag hulle voorvaders se gelofte gebreek. Daardie ongehoorsaamheid is besig om die Afrikaner te straf en dit sal voortduur totdat die Afrikaner in erkentlikheid en in skaamte voor sy God gaan staan en om genade pleit. Die Skrif se in geen onduidelike terme wat die Afrikaner in tye soos hierdie te doen staan, maar duidellik ignoreer die meningsvormers, predikante en selfs oom Angus daardie terme wat dit ten doel het om die koring van die kaf te skei. Daarvoor sal die Afrikaner ook gestraf word. Jy kan nie net halwe waarhede predik nie, predik vir n slag alle terme wat nou aan die Afrikaner gestel word deur die Skrif, want tot nou toe het niemand dit gedoen nie.

alwyn burger ·

Om ñ Versoeningsdag te vier in ñ land waar daar geen versoening is nie word deur sekere filosowe beskryf as Absurd. Met wie wil Zuma versoen met sy masjiengeweer en sy vingerwysing na Jan van Riebeeck?

HPV ·

Jerry, God straf nie meer mense nie, mense straf hulself. Alles wat die mens oorkom is deur sy eie toedoen, nie God s’n nie. Indien ons keuses en planne skeefloop is ons geneig om dit af te maak as God se wil. Dit is snert! Ons moet liewer God om vergifnis vra vir ons verkeerde besluite. Die huidige landsleiers asook die in die verlede is deur die mens verkies, nie deur God daar geplaas nie. God het die mens vrye keuses gegee. Staan pa vir jou eie besluite.

Wilna ·

Ek is n afrikaner en ek is hier in 2017.Dit is vir my genoeg rede om geloftedag te vier.Daar is n kontrak opgestel en ek is hier, so ek moet my deel nakom.Dis nie uit trots nie, dis uit dankbaarheid.Ek deel soveel soos ek weet van die geskiedenis met my nageslag, die goeie en die slegte, en ook die gelofte.

alwyn burger ·

HPV Hallo,
Volgens Albert Camus se tipering is jy ñ klipharde Eksistensialis. Mooi so Meneer!. Suid-Afrika kort ñ paar miljoen van jou soort.

Frans C ·

Ek dink mense besef nie die gevolge as die Voortrekkers die stryd by Bloedrivier verloor het nie.
Baie wat nou kommentaar lewer sou dalk nie in die posisie gewees het nie want hul voorouers sou nie bestaan het nie.

In die slag van Isandlwana het baie ‘n groter en beter gewapende Britse mag,vir die eerste keer ‘n geveg teen inheemse mense verloor.Die mag verloor 1300 troepe teenoor ‘n 1000 Zoeloes.

Dink net die verwoesting wat die Zoeloe impis sou gesaai het as die Voortrekkers verloor het.
Al glo jy dan nie in geloftedag nie,behoort jy nogtans dankbaar te wees vir die Voortrekkers se oorwinning,want die geskiedenis van die Afrikaners sou heel anders gelyk het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.