Onwaarskynlik dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verkoop het

Deur dr. Guy Lamb, Stellenbosch Universiteit 

‘n Lugfoto van die vlootbasis in Simonstad (Foto: Neil Overy/Robert Harding via AFP)

Op 11 Mei 2023 het die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben Brigety, beweer Suid-Afrika het in Desember 2022 wapens in die geheim na Rusland uitgevoer. Dié aankondiging is vinnig in verband gebring met die gewilde narratief dat Suid-Afrika hom toenemend by Rusland skaar betreffende Moskou se aggressiewe oorlog in die Oekraïne.

Brigety se stellings het beide Suid-Afrikaanse en internasionale nuusopskrifte gehaal, insluitend die Wall Street Journal, CNN en die Financial Times. Hy het aangevoer dat, gegrond op Amerikaanse intelligensieverslae, ammunisie en/of wapens heimlik op ʼn Russiese vragskip, die Lady R, by Suid-Afrika se vlootbasis in Simonstad gelaai is. Die Amerikaanse regering het vroeër sanksies teen dié vaartuig ingestel.

In reaksie hierop het die Suid-Afrikaanse presidensie ontken dat die regering ʼn permit toegestaan het dat sulke wapens of ammunisie na Rusland uitgevoer kan word. Asook dat geen permitgoedkeuring vir Russiese wapenuitvoer in Suid-Afrika se Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee (NCACC) se onlangse wapenuitvoerverslae verskyn nie, buiten vir elektroniese waarnemingstoerusting.

President Cyril Ramaphosa is nietemin besig om ʼn ondersoekkommissie na die voorval in die lewe te roep.

Ek het vir meer as 20 jaar navorsing onderneem en saam met regerings gewerk oor die wapenhandel en wapenbeheer in Afrika, en het ook as ʼn wapensmokkelondersoeker vir die Verenigde Nasies se sanksiestak gedien.

Ek is van mening dat so ʼn wapentransaksie ʼn aantal ontwikkelings sou vereis wat nie waarskynlik lyk nie. Dit sluit in die minagting van verkrygingsprosedures, die omseil van sleutelministers, asook omkopery op groot en gesofistikeerde skaal. Verder, soos gedemonstreer in die VN-register van konvensionele wapensdatabasis, het Rusland selde in die verlede Suid-Afrikaanse wapens ingevoer.

Die scenario, soos deur die Amerikaanse ambassadeur uiteengesit, lyk dus hoogs onwaarskynlik. Laat ek verduidelik hoekom.

In- en uitvoere

Die Suid-Afrikaanse minister van verdediging, Thandi Modise, het verklaar die Lady R het in Desember 2022 in Simonstad vasgemeer om ʼn besending ammunisie vir die Suid-Afrikaanse nasionale weermag se spesiale magteregiment af te lewer wat reeds voor Rusland se inval in die Oekraïne bestel is.

Inderdaad dui die wapenbeheerkomitee se 2019-wapeninvoerverslag die permitgoedkeuring vir die invoer van vyf miljoen rondtes Russiese ammunisie na Suid-Afrika aan. Rusland is wêreldwyd die tweede grootste uitvoerder van wapens. Sy grootste kliënte is Indië, China en Egipte. Oor die jare heen het selfs die VSA en die VK wapens uit Rusland ingevoer volgens die VN-register van konvensionele wapens.

Berigte dui daarop dat houers in die Simonstadhawe afgelaai is en daarna na veilige plekke onder streng sekuriteit vervoer is. Sulke maatreëls is in ooreenstemming met die nasionale wet op konvensionele wapenbeheer en was moontlik ʼn vereiste van die eindgebruikersertifikaat.

Boonop is sulke sekuriteit waarskynlik genoodsaak deur die diefstal van ʼn groot hoeveelheid ammunisie uit die Durbanse hawe tydens die Julie 2021-onluste. Daar was ook berigte van wapendiefstal vanaf die Simonstad-vlootbasis in 2016.

ʼn Anonieme bron binne die Suid-Afrikaanse vloot het aan News24 bevestig dat die vloot tydens die laai en aflaai van die Lady R deur die weermag op die kantlyn geplaas is. Dit was heel waarskynlik die gevolg van die weermag wat beter toegerus en meer ervare is om so ʼn vrag te beskerm.

Amerikaanse beskuldigings van Suid-Afrikaanse wapens aan Rusland

Brigety het beweer die Amerikaanse regering het intelligensieverslae wat aandui dat voor die Lady R uit Simonstad vertrek het, Suid-Afrikaanse ammunisie en moontlik wapens op die vaartuig gelaai en daarna na Rusland vervoer is.

Die verslae is egter nie openbaar gemaak nie. Dit is dus nie moontlik om hierdie inligting onafhanklik te bevestig nie. Daar was ook nog geen openbare kommentaar oor die aangeleentheid nie.

Hierdie is uiters belangrik aangesien intelligensieverslae nie altyd akkuraat is nie. Die feit is getoon deur die gebrekkige intelligensie wat gelei het tot die Amerikaanse inval in Irak in 2003. Boonop verskil verskeie ooggetuieverslae of enigiets betekenisvol wel op die Lady R gelaai is.

Dit is ook nie duidelik of die houers wat gelaai is bloot leë vraghouers was, of vragte ingesluit het wat by ander hawens afgelewer sou word nie. Daar is byvoorbeeld berig dat die vaartuig op sy terugreis na Rusland in Mosambiek en Soedan vasgemeer het.

Boonop, waarom sal die Russiese regering miljoene rondtes ammunisie na Suid-Afrika vervoer en dan ʼn groot hoeveelheid ammunisie koop vanaf dié land, wat ʼn relatief klein wapenvervaardigingsbedryf het?

Suid-Afrika het een van die mees omvattende wapenuitvoerwette in Afrika, waarvan die hoekstene deursigtigheid en menseregteoorwegings is. Volgens artikel 15 van die nasionale wet op die beheer van konvensionele wapens moet besluite deur die NCACC met betrekking tot die goedkeuring of weiering van wapenuitvoerlisensieaansoeke verseker dat Suid-Afrika se nasionale belange, en dié van sy bondgenote, beskerm word.

Tradisioneel kon Rusland as ʼn Suid-Afrikaanse bondgenoot beskou word as gevolg van die BRICS-reëling. Berigte van Russiese menseregteskendings in die Oekraïne sal egter heel waarskynlik ander oorwegings ten opsigte van Suid-Afrika se wapenuitvoeroorwegings oorskadu.

Daarbenewens moet sulke besluite nie bydra nie tot:

  • interne onderdrukking,
  • die sistematiese skending of onderdrukking van menseregte en fundamentele vryhede,
  • terrorisme en misdaad,
  • die eskalasie van plaaslike militêre konflikte, of
  • die bedreiging van vrede.

Alle wapenuitvoeraansoeke deur wapenuitvoerders word noukeurig deur ʼn ondersoekkomitee en daarna deur die NCACC oorweeg, wat bestaan uit ʼn breë spektrum van kabinetsministers.

Gevolglik neem besluite wat verband hou met uitvoerpermitaansoeke dikwels buitensporig lank. Die jaarlikse wapenuitvoerverslae toon dat Suid-Afrika oor die algemeen aan die artikel 15-kriteria voldoen, maar het al verdedigingsverwante toerusting uitgevoer na state wat nié aan hierdie kriteria voldoen nie waaronder Mianmar en Saoedi-Arabië.

As die wapenbeheerkomitee ʼn aansoek oorweeg het om wapens en/ of ammunisie na Rusland uit te voer, sou konsensus onder kabinetsministers nodig wees. Dit is onwaarskynlik aangesien ministers verantwoordelik vir handel, nywerheid en finansies sou aandui dat wapenuitvoer na Rusland verskriklike gevolge sou inhou vir Suid-Afrika se handelsbetrekkinge met die VSA, wat Suid-Afrika se tweede grootste uitvoermark naas China is.

Boonop sal die hele verdedigingsektor in Suid-Afrika onder negatiewe gevolge ly en dalk selfs deur sanksies van ander regerings deurloop.

Die klein jakkalsies

Daar is steeds ʼn moontlikheid dat ammunisie en/ of wapens onwettig op die Lady R gelaai kon word. Maar so ʼn poging sou die betaling van groot omkoopgeld aan amptenare op die dokke, asook die vervaardiging van bedrieglike uitvoerdokumentasie, vereis.

Boonop vind groter onwettige wapentransaksies tipies plaas deur houerhawens waar dit makliker versteek kan word.

Die kruks van die wapen-tot-Rusland-bewerings hou verband met die inhoud van die Amerikaanse intelligensieverslae. Dit is dus noodsaaklik dat dit gedeklassifiseer word en aan die kommissie van ondersoek verskaf word sodra werksaamhede begin, wat ook openbaar gemaak moet word.

Oorspronklik gepubliseer deur The Conversation The Conversation

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.