Ook Slowenië gee verkiesingsoorwinning aan anti-immigrasie party

slowenie-vlag-uitsig

Foto: Sleepwright/Pixabay.co

Slowenië het die soveelste Europese land geword om in ’n redelike kort tyd ’n oorwinning aan ’n anti-immigrasie regse party by die stembus te gee.

Tydens Sondag se verkiesing het die Sloweense Demokratiese Party van die voormalige Eerste Minister Janez Jansa met ’n sterk boodskap teen immigrasie uit Afrika en die Midde-Ooste eerste geëindig in dié klein landjie, met sy tweemiljoen inwoners, se parlementêre verkiesing.

Slowenië is ’n lid van die Europese Unie en Navo en gebruik sedert 2007 ook die euro as geldeenheid. Sedert die einde van kommunistiese beheer oor die land het Slowenië meestal redelik konserwatiewe regerings gehad, hoewel die land ook sterk ten gunste van die Europese Unie was.

Net soos in sy buurlande, was dit egter die afgelope drie jaar se migrasiekrisis wat kiesers ernstige vrae oor die Europese Unie laat vra het. Met buurlande soos Italië en Oostenryk wat reeds oor die afgelope paar maande populistiese anti-emmigrasie-regerings verkies het, was dit sekerlik net ’n kwessie van tyd totdat Slowenië sou volg.

Geografies is daar tans ’n groterwordende blok Europese lande in die sentrale en oostelike dele van Europa wat almal uitgesproke regse regerings aan bewind het. Pole, Tsjeggië, Oostenryk, Slowenië en Italië vorm ’n soort ongekoördineerde oosfront teen die liberale beleid uit die Europese hoofstad Brussel. Aangrensend hierdie lande is Duitsland se grootste en mees konserwatiewe deelstaat, Beiere, waar peilings daarop dui dat die regse Alternatief vir Duitsland later vanjaar in die streeksverkiesing baie goed gaan presteer.

Die spanning die afgelope twee weke in Italië wat byna op ’n konstitusionele krisis afgestuur het, hou ook verband met die verhouding tussen die Europese Unie en sy lidlande. Die leierskap van die Europese Unie hoop blykbaar dat hulle vanuit Brussel vir kiesers in lidlande kan voorskryf hoe om hul stemreg uit te oefen. Toe Italië se grootliks seremoniële president eers ’n nuwe regering geweier het, blykbaar omdat burokrate in Brussel nie tevrede was met die nuwe koalisieregering se benoeming vir Minister van Finansies nie, het die wrewel onder gewone kiesers teenoor die politieke elite in Brussel duidelik openbaar geword.

Die leiers van die Italiaanse koalisievennote, die Vyfsterbeweging (M5S) en die Liga, het vinnig Brussel die skuld gegee. Die Italiaanse president is uiteindelik met geen ander keuse gelaat as om ’n nuwe kabinet deur dieselfde koalisievennote, wel met ’n ander minister van finansies, te aanvaar nie.

Die rede vir die verkiesingsoorwinnings van regse, meer populistiese partye in talle Europese lande hou almal verband met die arrogansie van Europese burokrate. Dit beteken nie dat burgers van Europese lande teen groter samewerking op die kontinent gekant is nie. ’n Mens sou kon sê dat Europeërs pro-Europa, maar toenemend skepties teenoor die Europese Unie staan.

Dit skep ’n groot uitdaging vir leiers soos Angela Merkel van Duitsland en Emmanuel Macron van Frankryk. Merkel het oor die naweek haar nuwe visie vir die EU bekend gestel. Sy wil steeds meer integrasie sien. Die probleem van Merkel is dat al hoe meer Europese leiers en gewone kiesers haar met agterdog bejeën en dat daar nou ook leiers soos, onder andere, dié van Italië, Oostenryk en Hongarye is wat bereid is om haar teen te spreek.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Liberaal ·

Maar as hierdie lande al minder deel van die EU wil wees, wat dan van ons liberales se droom van om een wereld, een taal en geen geloof waar alle minderhede gedwing word om ons liberale waardes en taal aan te neem?

Charles ·

Ek is mal oor jou skerp sarkasme Liberaal, he he !!! Oulik :)

Die eerste goeie nuus vir die naweek !!! Hou so voort Oos-Europa, hou so voort !! (sien ons Afrikaners se saak begin nou ook aandag te geniet in Pole, yay!!!)

Liberaal ·

Ek is nie sarkasties nie, ek is net baie bekommerd oor die welstand van ons globale supperrykes wie se markte gaan krimp as hulle weer van voor af oor landsgrense bekommerd moet wees. Ons globale meesters is mal oor groot markte want dan is dit maklik om die klein besighede uit te druk.

Rupert Ashford ·

Meeste van hierdie lande was onder kommunistiese beheer ( onderdrukking?) en vir hulle voel die huidige sentiment uit Brussel alteveel na daardie tydperk en hulle probeer dit teenstaan voor hulle weer hulle vryheid verloor. Ironies genoeg is Merkel wat in Oos Duitsland grootgeword het en ook beter behoort te weet een van die grootste voorstanders van die EU se burokratiese bestuur terwyl Wes Europeers nie die gevaar ligte sien flikker nie.

Pietman ·

Mag die ander lande wakker skrik voor hul koffie koud is. Behalwe Swede, mag hul die vrugte van hul verligtheid pluk.

Rupert Ashford ·

Dit is reeds laat in die nag vir Swede (en die VK) Pietman. Die pers hou dit net uit die nuus uit.

Eish ·

Integrasie, steeds n pypdroom wat deur geen land ooit in die geskiedenis suksesvol bestuur kon word nie.
Tot die twaalf stamme van Israel het elk sy eie grondgebied in Kanaän ontvang, uitgesluit die Leviete.

Adriaan ·

Hoekom word regse / konserwatiewe politieke partye as populisties ge-etikeer? Dis n etiket wat beter by lingse / liberale partye pas, wat kiesers se guns probeer wen met beloftes van sosiale en ekonomiese inmenging.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.