Oop gesprek of alleenspraak?

donald-trump-01

Donald Trump. Foto: Commons.wikimedia.org

Deur Johann Holzapfel

Die Woordfees op Stellenbosch het weer veel stof tot nadenke opgelewer. Ook dié wat nie daar was nie, het die jaarlikse vrye lug van talle menings oor allerlei brandende kwessies in debatte en gesprekke op die internet, radio, televisie in koerante (gedruk en digitaal), Twitter en Facebook gevolg.

Heel gepas dat hierdie uitruil van standpunte aangebied word op dié universiteitsdorp waar Suid-Afrika se Sokrates, Johannes Degenaar, in die sestigerjare die oop gesprek (verkieslik bo debat) aangemoedig het om openhartigheid, eerlikheid en verdraagsaamheid as fondament van gesonde gesprekvoering te vestig.

Sy benadering tot daardie jare se ja-en-amen-geslag van jong mense, wat met vooropgestelde idees en dogmatiese aannames oor die lewe in sy klas beland het – pa, die skoolhoof en dominee se woord was wet! – was vir baie ʼn bevrydende Damaskus-belewenis: Moenie alles onkrities aanvaar nie. Dink vir jouself en vra vrae.

Baie van die Woordfees-gesprekke waaroor verslag gedoen is, mét prikkelende vrae uit die gehoor, het in die gees van toegeeflikheid geskied. Daar is mond uitgespoel oor kwellings, en daar was heftige onderonsies en soms verhelderende verduidelikings en antwoorde.

En dis soos dit hoort in ʼn demokrasie met ʼn Grondwet wat spraakvryheid waarborg en waar beskaafde gedrag gepredik word: “Ek verskil van jou, maar dis jou volste reg om jou mening te lug. Doen ek dit nie, verbeur ek ook my aanspraak op daardie reg.”

Só was dit tot Vrydag 10 Maart, toe gepraat is oor wat Suid-Afrika en die res van die wêreld kan verwag onder pres. Donald Trump van Amerika, as deel van die (Frederik) van Zyl Slabbert-gesprekreeks, genoem na nog ʼn oopkop-denker en produk van die kampus.

Die paneel van drie “kenners” het bestaan uit twee akademici, prof. John Stremlau, hoogleraar in internasionale betrekkinge by Wits en dr. Leon Schreiber, navorsingsgenoot aan die Universiteit van Princeton in die VSA, en Jan-Jan Joubert, adjunkredakteur van Sunday Times.

Dié wat self nie daar was, moes tot die volgende oggend wag vir die gedrukte koerant se uitvoerige verslag onder die opskrif “Malema SA se eie Trump” (in aanhalingstekens).

En daar baar die berg toe ʼn muis. Met al “aardskuddende” nuutjie by die nou al holruggeryde oues dat Trump se optrede ook ooreenstem met dié van nóg ʼn aartspopulis, Julius Malema van die EFF! Nadat die president reeds vergelyk is met Hitler, Stalin, PW Botha, Zuma en Mugabe.

O, en het hierdie drie ja-broers nie mooi eenstemmig saamgesing oor die ramp wat die wêreld getref het met die verkiesing van die volslae buiteperd Donald J. Trump tot president nie!

So op die wysie van Op my ou ramkiekie, met nog net een snaar is die ramp betreur wat die wêreld getref het. And so say all of us…

In die geheel gesien bloot ʼn voortsetting van ʼn universele tendens: Trump die ramp … die slaansak van die links-liberale hoofstroommedia, ook in Suid-Afrika. Met elkeen wat gereeld ʼn paar ekstra opstoppers probeer inkry.

Waar was die “ander” of alternatiewe stem? Net een van die gespreksgenote of iemand in die gehoor met vrae oor sekere stellings en aannames oor Trump en die toekoms?

As die drie “kenners” ewe eenstemmig pro-Trump was, sou dit ʼn ewe groot klug van die “oop gesprek” gemaak het.

Pleks van nuwe diepsinnige en deurdagte ontledings, perspektiewe en invalshoeke was dit ʼn onakademiese en subjektiewe herhaling – met die een wat die ander probeer oortref het my sy gevatheid en venyn – van presies dieselfde booshede waarmee die “vaandeldraers van ware demokratiese beginsels en waardes” (via die partydige hoofstroommedia) die hele wêreld al bombardeer sedert Trump hom op 16 Junie 2015 as presidentskandidaat beskikbaar gestel het.

Hy is die grap van die eeu. Net ʼn kwessie van tyd en dis koebaai. En dit hou nie op nie: patologiese leuenaar, vulgêre vroue-hater, kranksinnige varkdemoon, outoritêre dwaas, rassis, vreemdelinghater….

En daar skok hy die Hillary Clinton-juigkommando, insluitende die invloedryke hoofstroommedia en hul “gesaghebbende” meningspeilings, uit hul nate uit. Maar pleks van soos beskaafde Demokrate die uitslag aanvaar en selfondersoek instel, lawaai hulle nog harder: Tel die koppe! Sy het meer stemme gekry (ja, in veral Kalifornië, maar die Withuis is in Washington!), hy’s onwettig verkies en die stelsel is verouder “en werk nie”.

Het dit al behoorlik tot hierdie beswaardes deurgedring dat Trump ingevolge hierdie stelsel met sy beproefde wigte en teenwigte gewen het wat deelstate beskerm teen magsvergrype van die federale regering? En die president se magte beperk? Sou hulle die stelsel bevraagteken het as húlle kandidaat op dieselfde wyse as Trump gewen het?

En hulle stoom voort. Oor hoe “katastrofaal” hy ook vir Suid-Afrika en Afrika gaan wees … ʼn groen lig vir Afrika se despote dat hulle maar kan voortgaan om demokratiese waardes te ondermyn … ʼn vrypas aan die ultra-regses om rassisties te wees.

Ook is gewys op die kontras met Van Zyl Slabbert:

Trump is die “ongewildste en mees onbevoegde president in die geskiedenis van die VSA … karakterloos …  onoffervaardig … sonder welwillendheid of liefde … en ʼn man wat niks weet van regeer nie”.

Vergeefs is in die berig oor die gesprek gesoek na vaste spyse by die vervelige daaglikse anti-Trump-kitskos en -tirades. Nie eens in die enkele neutrale vraag uit die gehoor (die enigste waarna in die betrokke berig verwys is) of Trump in ʼn staat van beskuldiging gestel en by skuldigbevinding uit sy amp onthef kan word nie. En die antwoord: Ja, maar dan moet die Republikeine (die meerderheid in albei huise van die kongres!) saamwerk.

Met hierdie geweeklaag van die gekrenktes, wat blykbaar baie kieskeurig net demokratiese beginsels onderskryf as húlle aan die wenkant is, was die bydrae tot ʼn beter verstaan van Trump, hoekom hy gewen het en wat presies in die wêreld aan die gang is met die skeidslyn baie duideliker getrek tussen konserwatief en progressief met 20% op die draad, ʼn ronde nul.

Net so ʼn bietjie nederigheid van die kant van die rouklaers sal al ʼn stap in die regte rigting wees. Plus ʼn bietjie noukeurige omgaan met van sy gewraakte uitsprake oor die uitskop van “álle” Moslems en Mexikane, terwyl hy verwys het na onwettige immigrante en misdadigers. En stadiger met talle doemprofete se reaksie op nuwe gerugte oor Trump: “As dit waar is … sit hy op ʼn bom … hang daar ʼn donker wolk oor sy kop … en is daar messe in sy rug”.

Is Trump se doodsonde, behalwe sy voortvarende “boersheid”, nie straks dat hy nié ʼn politikus is nie? En dat hy, ook anders as die Washington-establishment en beroepspolitci, sy beloftes aan kiesers wat hom die mandaat besorg het, ondanks al die kritiek probeer uitvoer nie?

Ironies genoeg is die etiket van onverdraagsaamheid en verstoktheid wat die “verligtes” destyds die “verkramptes” om die nek gehang het, nommerpas vir die “ultralinkses” en beterweters in hul ivoortorings, wat neersien op die onnosel kiesers wat geen idee het wat hulle aangevang het deur die “ploert” Withuis toe te stuur nie.

Dalk sal dit goed wees as die organiseerders van die Woordfees in die vervolg benewens ja-broers oor ʼn belangrike onderwerp ook ʼn duiwelsadvokaat nooi. Net ter wille van ʼn bietjie balans. Wat van Rhoda Kadalie?

Vrydag s’n was g’n oop gesprek nie. Dit was ʼn alleenspraak. Woorde in die wind en praatjies vir die vaak. En daar kan met groot stelligheid gesê word dat Trump nie die “magtige dreuning” van verset op Stellenbosch gehoor het nie. Want Suid-Afrika is skaars ʼn “bliep” op Amerika se radarskerm.

Hierdie soort alleensprake is ʼn belediging vir die erflating van Van Zyl Slabbert. En Degenaar draai in sy graf om.

  • Holzapfel was in 1998 Nasionale Koerante, nou Media24, se korrespondent in Washington en het verslag gedoen oor die Milton Eisenhower Foundation se ondersoek en bevindinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Johann Holzapfel

‘n Vars briesie om die “geweeklaag van die gekrenktes” te verdoof! Skitterend, baie dankie!

Klink sowaar of die “Kenners” die vinger op die “Kernoorlog-Knoppie” en
“Katastrofe vir Klimaatsverandering” vergeet het :-)

Therese van Schalkwyk ·

Om by te voeg:

Oop gesprek is nie vir die “verligtes” hoegenaamd moontlik nie. Alleenspraak is waarin hulle uitblink.

Voorbeelde is legio; die DA-leier se onversetlike houding tans teenoor sy lojale mentor, in Nederland
die pas verkose Mark Rutte wat weier om die sterk party van Geert Wilders in sy koalisie te aanvaar.
ensovoorts.

DewaldS ·

Daai is beter, Maroela Media. Ons is al redelik vaak gepraat deur al die rubriekskrywers wat CNN se sotlikhede in Afrikaans vertaal en dan hier aanbied asof hulle dit self uitgedink het.

Dirk Breytenbach ·

Presies my mening, ons maak iemand anders se geveg ons s’n en toon geen respek en begrip vir feite nie. Linkse liberales van veral SA het ook geen respek vir demokratiese beginsels nie gesien in die lig van hul vermoe om te beledig en alles om te draai om hulle agenda te pas, en dan te plunder onder die dekmantel van vryheid om te kan betoog. Skielik werk demokrasie nie vir hulle nie en dit speel in die hande van die ANC wat naarstigtelik redes vir hul swak regeervermoe soek. Ons het nie spesialis politieke kommentators wat met gesag kan praat nie wat vryheid van die pers misbruik wanneer dit hulle pas. Die skewe verwysings en tirades oor Trump en die Republikeine moedig rassespanning aan in SA want wit mense word as immoreel gestereotipeer. ‘n Patetiese spul!

John ·

Die woord ‘mode’ het so ontstaan. En die Nazi’s het hierop voortgebou en kyk wat het gevolg. Die VSA se demokrate het die vrotsige CNN gebruik om die saadjie te saai en die gepeupel (hoewel die term verkeerd gebruik word), selfs hier by ons, laat die ongegronde ‘feite’ voorstu. Die vraag is: Wie baat uit hierdie ‘frenzy’ van verwoede aanvalle op Trump? Wat dryf dit? Joernaliste kry groot opskrifte vir ‘feite’ wat later ander se post-waarhede blyk te wees. Navo soek geld vir nog wapens gebou op leiers se post-waarhede vir eie gewin en die Demokrate sit en wag dat Trump ineenstort. Hillary geniet dit as leiers val… enigeen. En wie lag lekker? Sjina smeek vir globalisering anders brand sy land. Boeke verminder nie barbarisme nie. Die Woord en opvoeding wel, maar wat gebeur? Menseregte se slinkse wettelose kettings hou mense meer gevange as Trump se muur. Die mensdom wil weer bloed ruik, voor hulle bedaar.

JC ·

Dankie Johan, jou boodskap is presies uitgedruk, pragtig en kristalhelder. Jy weet nie hoe baie jou artikel beteken nie. Dankie dat jy nie wegskram van die WAARHEID nie. Laat my dink aan iets wat destyds gese is deur George Orwell: In times of universal deceit telling the truth becomes a revolutionary act”. Lank lewe die revolusie!! ten spyte van Geert Wilders se 2de plek in die Nederlandse verkiesing. Die Nederlanders gaan nog baie swaar moet kry voordat hulle gaan wakker skrik lyk dit my. Le Pen in Frankryk, ons sal maar moet sien wat gaan die Franse in die 2de rondte doen, of hulle ook hulle eie tou vir die galg vir verskaf?Wilders se Pary vir VRYHEID is oppad en SAL NIE opgee nie, die stryd om geregtigheid en afskaffing van die vernietigende wereld politiese korrektheid is nog lank nie verby nie! KONSERWATIEWES SAL NIE OPGEE OM DIE VERKRAMPTES TE BEVEG NIE. NOOIT NIE!!

Rupert Ashford ·

Hoop nie die Nederlanders het hulle ‘n kat in ‘n sak gekoop nie. Rutte se sg. “sterk” standpuntinname teen Turkye het heel moontlik ‘n klomp laat reken hulle hoef nie vir Wilders te stem nie en dat Rutte die fort vir hulle sal hou. Soos hulle se “You can fool some of the people all of the time…” As hulle dit verkeerd gehad het met hierdie verkiesing en Rutte keer terug na sy normale gedrag is Nederland se doppie geklink – die oormag sal net te groot wees volgende keer.

Rupert Ashford ·

Dankie tog vir jou Mnr Holzapfel!!! Welgedaan Maroela. Mens kon kortpad hier geneem het: Twee van die here ken ek nie maar die naam Jan-Jan Joubert? Hy het my laat ophou luister na “kommentaar” op RSG in die jaar toet en sedertdien tokkel hy op daai een ou snaartjie voort.

Gerhard ·

Dankie Johann,goed gestel. Dit is bitter selde indien ooit dat gesprekke of debatte in die hoofstroom media se stal beide kante se saak stel en dan Trump verguis.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê “Mis ek iets?”

Baie dankie vir jou navraag, die datum is nou reggestel.

Groetnis
Esté
namens Maroela Media

Henry ·

Wat ‘n plesier om skryfsels soos die van die heer Holzapfel op MM te lees. Skryfsels wat van objektiewe, oorspronklike en ingeligte denke getuig.
Nou wonder ek vir wat en vir hoekom ons nie meer van hierdie kommentator te lese kan kry nie.
Ek sal ook nie voor die versoeking struikel om na spoeg-en-plak temerasies van wie ookal te verwys nie. Hoop maar hierdie poging sien daglig…
:-)

Henry ·

Dankie vir ‘n uitstekende skryfsel Johan.
My eerste poging het in MM se snippermandjie beland.
Aquila non capit muscas…

Janie Monsieur ·

Dagsê Henry,

Dankie vir jou kommentaar. Maroela het geen ander kommentaar van jou op hierdie berig gekry nie, en ook nie afgevee nie. Jammer vir die ongerief, ons plaas nou hierdie een.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Henry ·

Jis beste Janie,

Vreemd. Ek het seker te min seëls op die koeverte geplak.
Wassie ongerieflikkie.

Dankie vir julle samewerking.
Henry.

Wern ·

Trump en regses is reeds die teenoorgestelde pool as populuste soos malema.

Daan ·

Dankie vir onverskrokke eerlikheid! Ja, die Kaap is laaaankal nie meer Hollands nie – arme ou Stellenbosch en sy reuse van die verlede. Beslis sou Kadalie balans aan die hensoppers se geteem gegee het. Dink net hoe sou ons Steve H. mincemeat gemaak het van die eenoogige.
klaerige JanJantjie … ek hoor al hoe rol daai kwaaiman-Afrikaans van sy tong af …

Sarie ·

Jan-Jan Joubert het ou Steve se skoene beledig en Dr. Mulder van die VF+ se mosterdkleurige gordyne in sy huis bespreek. Goed dat hy maar uitgewyk het om vir die Ingelse koerant te werk.

Stephan ·

Wonderlike perspektiewe om te onderskei tussen al die opinies op die wye marke van idees. Dankie.

DeonC ·

Uitstekende perspektief. Pres Trump het vir baie behoudendes wereldwyd hoop gebring. Die eenogige liberales kan dit nie vat nie. Dis gewoon dom om hom met persone soos Zuma of Malema te probeer’vergelyk’. Trump se invloed gaan n basis skep vir nuwe alliansies en dalk n nuwe wereldorde. Wie dit miskyk gaan die verloorders wees. Dalk kan dit uiteindelik ook minderhede in SA bevoordeel. Ons is dit intussen aan onsself verskuldig om die gif van die liberales en liberale pers uit ons huise en vriendekringe te hou.

Egbert ·

Die linkse akademiese Jan-Jans het die patetiese Nuwe Suid-Afrika gebaar! Dit is hulle CV. Wie hulle insigte wil glo sal dalk nooit bekeer word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.