Oop standpunte nodig in die oop gesprek

Die oop gesprek

“So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ʼn volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ʼn wisselwerking ontstaan…”

NP van Wyk Louw

Met hierdie bekende woorde van NP van Wyk Louw wil ek graag my eerste gesprek in Maroela se Groot Debat afskop. Want – soos hierdie groot intellektueel ook gesê het ‒ is die vrye meningswisseling die lug waarsonder ons nie kan lewe nie.

“Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.”

My droom vir die Groot Debat op Maroela word goed deur Louw saamgevat: “Daar is geen edeler plesier as die intellektuele omgang met mense wat totaal anders dink as jy nie ‒ wat ander dele van die eindelose rykdom van die waarheid tot hul besit gemaak het…”

Luister en dink

Maar praat is hoogstens maar net die helfte van ʼn werklike oop gesprek. Die ander, miskien belangriker deel is om te luister, werklik te luister, en nie net te hoor nie. En om nie te praat voordat jy gedink het nie. Denke, soos Louw tereg gesê het, “is om streng en omvattend te dink”. Kyk mens vandag na baie oppervlakkige, denklose rubrieke in ons koerante, én die heethoofdige kommentaar onderaan, dan wonder mens soms wanhopig of lees, dink en die tradisie van die oop gesprek sonder erfgename en testament uitgesterf het.

Gevare en voorwaardes vir ʼn oop gesprek

Daar is ʼn paar gevare vir ʼn gesonde oop gesprek, soos onverdraagsaamheid, ore toedruk vir ander standpunte, die regerende party se planne om die media te muilband, die Afrikaanse mediamonopolie en selfsensorskap. Maar die oorheersende liberale denkraamwerk wat ʼn vrye gesprek behoort te waarborg, is self ʼn gevaar daarvoor, want dit blok ander denkraamwerke en menings uit.

Daarom is die voorwaardes vir ʼn oop gesprek ʼn oop gemeenskap, oop denke en ʼn oop platform soos Maroela.

Soos Van Wyk Louw, gee ek nie voor om die gesprek onverbonde en gevoelloos van “buite” te voer nie. In hierdie tye veroorloof ek myself nie die luukse om standpuntloos te wees nie, want as jy staan vir enige iets, val jy ook vir enige iets. Buitendien het ek nog nooit ʼn “objektiewe waarnemer” ontmoet wat werklik onverbonde was nie. Die neutraliteit was meestal maar net ʼn rookskerm om te skiet sonder om teruggeskiet te kan word.

Saam met Louw sê ek: “Jy het jou een kort lewe aan hierdie volkie onherroeplik verbind, ja verknog”. Dit beteken nie dat ek doof en blind is vir ander standpunte of vir die Afrikaner se foute nie. Nee, soos Louw gesê het: “By ʼn volk vir wie ʼn mens werklik liefhet, sien jy sy vooroordele, sy kleinlikhede, sy geestelike agterstand”.

Om ʼn uitgangspunt of ʼn standpunt te hê, beteken dus nie geslote of eenrigting-debatvoering nie, maar om in die lig van die omstandighede van ons klein volkie “aan die Afrikaner en Afrikaans se kant” te wees ‒ sonder om teen ander kant te kies of in ʼn “ons-en-hulle”-stryd verstrik te raak. Demokratiese volwassenheid is immers ʼn onlosmaaklike bestanddeel van ʼn oop gesprek. Soos Van Wyk glo ek: “Daar is niks meer wat ons kan doen nie, daarom moet ons dink!”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Flip,

Die belangrikste aanhaling van NP van Wyk Louw het jy “vergeet”: “Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

Die vraag is natuurlik wat verstaan word onder protes en of mens die protes wat gepleeg word se doel verstaan.

So byvoorbeeld sal protes wat ten doel het om hierdie Afrikanervolk te bevry, vir my loofwaardig wees, maar vir hom wat die siek reenboog wil gesond maak, van geen waarde wees nie.

Daarteenoor het protes wat ten doel het om ‘n ou plekkie in die son (of is dit nou reenboog) vir die Afrikaner te skep, vir my geen waarde, aangesien dit bloot die kwade dag uitstel.

Sterkte met hierdie “oop gesprek” projek. Ek hoop dat daar eerlik gepraat sal word en dat die besprekingspunte relevant sal wees. Na my mening is daar net een gesprek wat nou relevant is: selfbeskiking.

Groete,

Ben Geldenhuys

Danie G van der Walt ·

Al die energie wat met protes , verset,
volkstaat en Afrikanervolk  verbrand en
vermors word kan eerder in konstruktiewe toekomsgerigte langtermyn  projekte 
gekanaliseer word.

Dit is net geldmors om propaganda te maak vir ‘n
Volkstaat en Afrikanervolk. Die afrikaner ( blanke/boer) was nooit  ‘n volk nie .

Om te dink dat mense soos die VVK iets soos ‘n
Afrikanervolk verteenwoordig is bloot wensdenkery. Die les kan geleer word in
die VF+ en die laaste verkiessing. Hierdie is uitgediende en verbeeldinglose
begrippe wat die meeste blanke Afrikaanssprekendes in elk geval onsmaaklik
vind.

Propatria ·

Flip, baie geluk met hierdie blad, dit lyk baie goed en jou inleidende gedagte, op gesprek se jy?

Ek dink indien dit werklik op die basis van jou stelling plaasvind gaan julle goed groei, die meeste van die gesels forums het n spesifieke agenda, en sou jy nie met hulle agenda saamstem nie raak hulle gou van jou ontslae. Jy het n goeie ‘track record’ van suksesse, ek stem nie met al julle planne saam nie, maar sal n leuenaar wees as ek nie toegee dat julle baie goeie werk ook doen nie.

Sterkte en voorspoed

Ja-maar ·

@Propatria, ek stem saam met die Oop Gesprek, maar ook dat hulle wel ‘n goeie oog oor die bydraes moet hou anders word dit net ‘n Toe Gesprek soos die meeste kommentare onder aan die e-koerante, en dan neem niemand dit meer ernstig op nie.

Anoniem ·

Dankie vir die geleentheid tot oop gesprek wat Maroela en die Solidariteit-beweging beskikbaar stel.

Die kwaliteit en uiteenlopendheid van die bydraes tot op hede wek die hoop dat die gesprek waarvoor Van Wyk Louw sy wens uitspreek, waarlik sal hervat.

Maar waarom het die oop gesprek stil geraak?

Is dit dalk omdat die oop gesprek as vereiste het, die veronderstelling dat die gesprek die potensiaal het om die werklikheid te verander?

Hoeveel potensiaal het hierdie Groot Debat om die werklikheid te verander?

Die tyd en deelname sal leer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.