Oor Afrikaans in ʼn tyd van krisis

Prof. Pieter Duvenage

* Hierdie is ʼn verwerkte weergawe van ʼn bydrae op ʼn paneelbespreking oor “Die behoud en uitbou van Afrikaans as wetenskap- en onderrigtaal”, by die jaarlikse simposium van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op 13 September 2019 in Pretoria.

Verskeie gebeure die afgelope tyd – onder meer Sol-Tech se sooispitseremonie en die konstitusionele hof se uitspraak oor Afrikaans op Stellenbosch – het weer die probleem, en selfs die krisis, waarin Afrikaans op die oomblik verkeer, op die spits gedryf.

In hierdie bydrae wil ek nie direk op die spore van die afgelope gebeure ingaan nie, maar meer histories en wyer oor die krisis van Afrikaans besin.

In die eerste twee derdes val die fokus op die geskiedenis van Afrikaans (en die sentrale argumente wat sedert 1994 oor Afrikaans as taal met hoër funksies gevoer is) en in die laaste derde, poog ek om ʼn argument vir Afrikaans te voer (die sogenaamde ontologiese argument versus die instrumentele een) wat nie altyd op die voorgrond staan nie.

  1. Die krisis van Afrikaans

Hier word kortliks verwys na die historiese konteks van Afrikaans en die magspolitieke verskuiwinge wat die taal – veral vanaf die 1960’s – ondergaan het. Tweedens, word verskillende argumente wat vanaf 1994 vir-en-teen Afrikaans aangebied is, uiters bondig gesistematiseer. Derdens word hierdie argumente in die rigting van die belangrike onderskeid tussen taal as instrument of taal as meer holisties of ontologies, verbreed.

Die debat oor Afrikaans het ʼn lang historiese trajek of gang. Hier kan mens verwys na die vestiging van Afrikaans uit Nederlands aan die Kaap, die stryd om Afrikaans ná die oorname van die Kaap deur die Engelse vanaf die 1820’s, die Eerste Taalbeweging in die Paarl en die Tweede Taalbeweging in Kaapstad en Pretoria wat tot die amptelike erkenning van Afrikaans in 1925 gelei het. Soos gestel, val die fokus hier op die jare 1902-1994 en daarna. Hierdie tydperk val myns insiens in drie fases:

Die eerste fase (1902-1948) was effektief ʼn stryd teen Anglo-kulturele imperialisme. Ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), is Engels as die taal van handel, industrie, en staatsadministrasie in ʼn Brits-beheerde Suid-Afrika afgedwing. Hierteen het ’n Afrikaner (nasionalistiese) elite gestry om Afrikaans as ʼn amptelike taal saam met Engels (1925); Afrikaanse skole en universiteite; en die beginsel van tweetaligheid in die staatsadministrasie te vestig.

Die tweede fase (1948-1990) behels ʼn vorm van nasiebou wat met apartheid verband hou. In hierdie tydperk het ʼn Afrikaner nasionalistiese elite (met behulp van die Nasionale Party) ʼn nasionalistiese staat sistematies gebou met die skeiding van taalgroepe (in hierdie geval Afrikaans en Engels), maar ook rasse.

In hierdie fase is tweetaligheid verskans: Afrikaans is aktief deur die staatsinstellings bevorder; ʼn sterk Afrikaanse boekebedryf het boeke aan Afrikaanse skole, kolleges en universiteite gelewer; die SA Akademie het hoëvlaknavorsing in Afrikaans gekoördineer; en ʼn sterk veeltalige media-infrastruktuur is gevestig met die uitsaai van 11 tale deur die SAUK.

Die derde fase (die jare ná apartheid, dus vanaf 1994) skep die konteks van die huidige debat oor Afrikaans en die krisis waarna hierbo verwys is. Dit is nou ʼn tyd waar die sterk steun van die owerheid vir Afrikaans gestaak word en Afrikaans uit die sentrum geskuif word – wat nou neerkom op ʼn Afro-nasionalistiese elite wat Engels as die taal van landsadministrasie verkies en afdwing.

Op hierdie punt sou mens ʼn lang treurmare kon begin. Eerstens is daar die konstitusionele gebeure waar die aanvanklike gees van versoening (die voorlopige Grondwet) na een van transformasie (die Grondwet van 1996) oorgeskuif het. Hiervolgens is die de jure (wetlike)-beginsel van 11 tale op die transformatiewe altaar van eentaligheid geoffer.

Teen hierdie agtergrond, van die transformatiewe lees van die Grondwet, volg dan die enorme krisis waarin Afrikaans gedompel is: Die afskaling van Afrikaans en veeltaligheid in die openbare lewe.

Die staatsadministrasie het bykans volledig na Engels oorgeskakel (byvoorbeeld die regstelsel en die SAUK-TV, en uiteindelik die staatsuniversiteite wat eers na tweetaligheid en toe na eentaligheid gedwing is).

Staatsliggame soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) en die Menseregtekommissie (MRK) wat veronderstel is hier ʼn waghond-rol te speel, het geblyk om tandeloos te wees en eerder die transformasie-agenda te bestuur. Verder het Afrikaans ook die kreeftegang in die private sfeer gevolg met die afname van beskrywing op produkte, advertering in die openbaar en Afrikaanse maatskappye wat hul name in akronieme weggesteek het.

  1. Argumente vir en teen Afrikaans sedert 1994

2.1. Teen die agtergrond van die krisis van Afrikaans het daar onder Afrikaanssprekers en Afrikaners (maar ook Suid-Afrikaners) ʼn hete debat ontstaan. Ek wil hier net baie bondig na twee opponerende argumente (vir en teen) en dan ʼn derde (meer onbekende argument) verwys, wat die eerste twee in ʼn ander lig plaas.

Wanneer dit kom oor argumente vir Afrikaans sedert 1994 is daar twee soorte – ʼn kwalitatiewe en pragmaties-instrumentele een.

Die kwalitatiewe argument fokus op die inherente gehalte-Afrikaans en sy kulturele produkte. Die volgende aspekte word beklemtoon: ’n uitgebreide woordeskat, die vermoë van die taal om nuwe woorde te skep, die prestasie van Afrikaanse literatuur (veral poësie) en die vermoë om hoër taalfunksies te vervul. Dan is daar ook Afrikaans se verwantskap met Nederlands en die breë Germaanse taalfamilie wat Duits met sy geweldige woordeskat insluit.

Hierdie kwalitatiewe argument word dan deur ʼn pragmaties-instrumentele een aangevul. Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika (demografies) en dit is die taal wat die meeste Suid-Afrikaners as tweede of derde taal verstaan. Dit is ook die enigste taal wat in al nege provinsies gepraat word (geografies).

Dan is daar die mark-argument. ʼn Syfer wat hier al aangehaal is dat 33% van die mark Afrikaans is. ʼn Variant van die argument is dat slegs die mark – en nie sentiment nie – Afrikaans se voortbestaan sal verseker. Afrikaans as cool moet dan eerder as goeie vermaak (en nie opvoedkundig nie) bemark word.

Die probleem egter met beide hierdie argumente vir Afrikaans is dat ʼn valse optimisme oor die toekoms bestendig. Die vraag bly: Sal die skepping van nuwe woorde, die floreer van Afrikaanse rockmusiek, die skerpheid van kopieskrywers in die advertensiewese, die diversiteit van Afrikaanse sprekers en die sukses van kunstefeeste genoeg wees om Afrikaans se voortbestaan te verseker?

2.2. Wanneer dit kom by kritiese argumente oor Afrikaans (veral vanuit eie kringe), is daar ook ʼn kwalitatiewe (moreel-politiese) en ʼn pragmatiese een.

Die kwalitatiewe of polities-morele argument kom op die volgende neer:

Afrikaans as die taal van die onderdrukker moet gestraf word (heel interessant omdat die idee van Engels as koloniale taal nie bevraagteken word nie)

Afrikaans is in die vorige bedeling onnodig bevoordeel. (Hoewel die argument waar kan wees ten opsigte van die swart tale, is dit nie op Engels van toepassing nie.)

Daar is meer belangrike kwessies as taal wat die aandag van Suid-Afrikaners verdien: armoede, vigs, misdaad en rassisme. (Die probleem met so ʼn lys van prioriteite is die vloeibaarheid daarvan en dat die klem eerder op die materiële as geestelik gelê word.)

Afrikaans word uitgebeeld as uitsluitend – veral in die geval van Afrikaanse skole en (tweetalige) universiteite. (Volgens hierdie argument, waar Engels nie-uitsluitend is nie, word die gegewe dermate so verwaarloos, dat die meerderheid Suid-Afrikaners sukkel om Engels op universiteitsvlak te hanteer. Dit is ook ‘n ope vraag of enige taal nie uitsluitend is nie.)

Hierdie uitsluitingsargument het Jakes Gerwel in die vroeë-2000’s verder geneem in ʼn debat oor die moontlikheid van ʼn nierassige taalliggaam: “Is een gevolg, of implikasie, of onuitgesproke wens van demokratiese postapartheid-Suid-Afrika dan nie dat ons alle vorme van taalgebonde of taalverwante identiteitskepping verbysteek en agterlaat nie? En dus, dat selfs pogings of bedoelings om progressiewe inhoud te gee aan taalgedefinieerde gemeenskappe, eintlik en uiteindelik neerkom op ʼn teruggryping, ʼn reaksionêre moment in ʼn moderniserende samelewing?”. ʼn Weergawe van die argument het Jonathan Jansen ook pas weer in die Stellenbosse konteks gemaak

By laasgenoemde argument sluit Antjie Krog met die volgende aanhaling: “Diegene wat oor die toekoms van Afrikaans moet besluit, moet diegene wees wat nooit mag gehad het nie – die meerderheid Afrikaanssprekendes en spesifiek die jonger geslag (bruin, wit en swart) wat binnekort werkers en professionele persone sal wees. Taalidentiteit moet dus die kwessies van diversiteit, mag en demokrasie insluit.

Die pragmatiese argument teen Afrikaans kom op die volgende neer.

Die probleem met Afrikaans is dat dit behoefte aan ʼn bindende lingua franca in die wiele ry. Engels word met die volgende argumente verdedig: Dit is meer koste-effektief, dit maak die speelveld gelyk, dit is die taal van internasionale kommunikasie, handel en politiek (selfs al bring dit ʼn afstand tussen die elite en die massa teweeg). Dit dien ook as taalvoertuig vir swart Suid-Afrikaners om die ekonomiese en politieke elite te betree. Vir baie wit Afrikaanssprekendes is Engels ‘n geleentheid om vanuit ʼn gestigmatiseerde taal te verdwyn al is daar nog ander beletsels soos regstellende aksie en transformasie.

  1. ʼn Derde (onbekende) argument

Op hierdie punt wil ek egter verby die argumente vir en teen Afrikaans (sedert 1994) beweeg, met behulp van die belangrike onderskeid tussen ʼn instrumentele en ʼn meer holistiese opvatting van taal (as derde onbekende argument). Wat word hiermee bedoel?

3.1  ʼn Instrumentele opvatting van taal sien taal bloot as ʼn instrument wat jou van punt A na B neem. Taal is hiervolgens ʼn “neutrale medium” waarmee jy projekte in die ontwikkelingstaat kan inisieer en tot uitvoering bring. In hierdie opsig kom denke, politieke mag, politieke handeling en beleidsingrype voor die inherente aspekte van taal.

So ʼn model van taal kom ook ooreen met die sogenaamde transmissiemodel in kommunikasie (sender-medium-ontvanger, SMO). As jy die nodige inligting as sender het, dan kan jy dit langs enige medium afstuur sodat dit die ontvanger helder en duidelik sonder enige geraas of belemmering bereik en volkome kommunikasie so laat geluk. ʼn Mens sou die instrumentele opvatting van taal ook in positivistiese terme kon beskryf.

Hiervolgens word taal op sterkte van die prestige van die natuurwetenskappe gesien as iets wat mens kan gebruik as ʼn middel tot ʼn doel net soos wat mens in ʼn natuurwetenskaplike eksperiment sekere dinge moet doen om tot ʼn resultaat te kom. Dit is die idee dat taal ʼn instrument is wat die mens na sy rasionele goeddunke kan gebruik soos hy of sy wil. Dit is die hubris van die almagtige moderne mens.

3.2 Die alternatief tot so ʼn opvatting van taal kan, volgens my, vanuit twee perspektiewe gestel word: Die hermeneutiese denke van Hans-Georg Gadamer en die taalfilosofie van twee Amerikaanse antropoloë (Sapir en Whorf).

Gadamer se filosofiese hermeneutiek, staan in ʼn Duitse tradisie van taal wat vanaf die 18de eeu via figure soos Hamann, Herder en Humboldt na die twintigste eeu loop. In dié tradisie word ’n instrumentele opvatting van taal grondiglik uitgedaag. Gadamer kontinueer hierdie denklyn met sy ontologiese opvatting van taal. Wat word hiermee bedoel?

Een manier om dit te verstaan is dat ʼn mens nie taal praat nie, maar taal praat jou. Net soos die historiese objek of gebeure nie deur die akte van interpretasie geobjektiveer kan word nie, so kan die talige wêreld ook nie deur die subjek geobjektiveer word nie. Vir Gadamer is taal die lokus waar subjek en objek, denke en wêreld ontmoet en saam tuis (zugehörig) is, voordat dit deur bewuste refleksie geskei word. Taal verskaf hierdie oorspronklike geheel. (In ons eie tyd het die groot Kanadese denker, Charles Taylor, hierdie argument van Gadamer verder geneem in sy boek The Language Animal (2016.)

Die verhouding tussen taal en denke staan voorop in die Sapir-Whorf-hipotese. Die sentrale vraagstuk hier is die volgende: dink ons eers en gebruik dan woorde om ons gedagtes uit te druk, of beïnvloed die woorde wat ons gebruik ook ons denke?

Sapir en Whorf se standpunt, kortliks, kom daarop neer dat taal voor denke kom. Taal is dus nie op ʼn instrumentele wyse iets neutraals nie, maar lewer ʼn bydrae tot denke. ʼn Uitvloeisel van die standpunt is dat verskillende kulture verskillende tale gebruik en dat die wêreld verskillend deur verskillende kulture waargeneem word.

Die manier waarop jy in Afrikaans dink is byvoorbeeld anders as in Engels (of enige ander taal) en dit moet gerespekteer word. Dit impliseer nie taalrelativisme nie, maar dit is eerder ʼn pleidooi vir meertaligheid en die wonderlike uitdaging om tussen tale te vertaal en te vertolk. Suid-Afrika is in hierdie opsig nie ʼn Engelse land nie, maar ʼn vertalende land.

Hierdie alternatief op ʼn instrumentele opvatting van taal, op die spoor van Gadamer en Sapir en Whorf, en die debat oor Afrikaans en meertaligheid, kan met die volgende gevallestudie afgesluit word:

Wat gebeur met die Venda- of Zoeloe-kind wat te vroeg in Engels op laerskool onderrig word? Is ʼn instrumentele of ʼn ontologiese opvatting van taal hier relevant? Ek is van mening dat daar kwalik ʼn beter voorbeeld van ʼn instrumentele opvatting van taal bestaan as die briljante, maar hulpelose Venda-kind wat in haar vroegste leerfase uit haar moedertaal (die horison van haar bestaan), gepluk word om in ʼn vreemde taal opgevoed te word.

ʼn Ontologiese opvatting van taal se normatiewe verwysingspunt, daarenteen, is om te sorg dat die kind se moedertaal eers goed gevestig moet word voordat die tweede taal geleidelik bygeleer kan word. Hierdie voorbeeld van die Venda-kind is natuurlik nie net ʼn taalmatige vraagstuk nie. Dit vra ook terug na die politieke magsbegrip wat ʼn skoolstelsel moontlik maak waarteen daar sulke ernstige vergrype teenoor ʼn weerlose kind gemaak word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Duvenage

Prof. Pieter Duvenage is die dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Feite ·

Goeie insiggewende skrywe prof Pieter. My beskeie opinie is dat jy nie afrikaans as moedertaal moet regverdig deur dit gelyk te stel aan ander moedertale wat vir twee of drie geslagte opgeoffer gaan word ten einde afrikaanse denke en afrikaans as moedertaal van die onderdrukker te vernietig nie. Jou poging en argument sal dus nie werk teen die aanslag teen afrikaans nie. Jy en jou instansies moet veg om afrikaans lewend te hou nie net by solidariteit nie, maar by alle onderrig instansies in die breer SA samelewing. Moet nie ook veg om afrikaans te laat uitsluit by skole soos afriforum gedoen het met afrikaans by universiteite om afrikaanse moedertaal by solidariteit se akademia te isoleer nie, want dan gaan julle regtig saam met die aanslag teen afrikaans, die afrikaanse moedertaal in n onherstelbare krisis dompel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.