Oor Bokke se foute en Rooi Draak se ontwaking

Daar sal sekerlik boekdele gespreek word oor die nederlaag van die Bokke en allerlei ontledings sal gedoen word. Om op te som: Die Bokke speel heeltemal weg van hulle sterkpunte deur die bal wyd te speel, wat vir David  Pocock ʼn ster maak, want dit pas hom soos ʼn handskoen – veral toe Heinrich Brüssow voortydig die veld verlaat het.

Ons sterkpunt is ons vaste vyf en spel binne strukture.

Dit is noodsaaklik dat jy balbeheer en gebiedsvoordeel moet omsit in punte. Daar is afgewyk van die tradisionele wenresep en die prys is betaal. Punte is nie aangeteken nie en die Bokke kom huis toe.

Daar kom die Hane toe weer vir ʼn slag na die veld toe en vee die sterk Rosepak met tipies Franse flair uit die pad uit. Wat ʼn belewenis om die Franse op vorm te sien. Hulle speel tydens elke Wêreldbeker éen groot wedstryd en ongelukkig was dit toe die Rose wat die Franse tydens dié wedstryd raakloop.

Ek verander egter nou my voorspelling dat die Franse na die eindstryd sal deurdring, want ʼn nuwe bedreiging, in die vorm van ʼn Rooi Draak, het sonder pretensie en grootpratery ook ʼn opskudding in die Wêreldbeker veroorsaak. Die Walliesers verdedig uitstekend, speel met toewyding en het  ʼn fiksheidsvlak wat byna aan die bonatuurlike grens.

My voorspelling vir die halfeindstryde is dat die All Blacks die Wallabies gaan uitskakel en die Walliesers die Franse. ʼn Noord-Suid-eindstryd is dus ons voorland. Die oomblik sal egter te groot wees vir die Rooi Drake in hulle eerste eindstryd en die All Blacks behoort hulle tweede toernooi 24 jaar te wen.

Graham Henry, afrigter van die All Blacks (Foto: Wikipedia)

As dit nie so uitwerk nie, weet ek dat Graham Henry onmiddellik asiel moet soek in enige land, want hy sal voëlvry verklaar word in die land van die Silwer Varing.

Argentinië is beslis nie verneder in die kwarteindstryd teen die All Blacks nie, maar laasgenoemde lyk nie meer so vreesaanjaend sonder Carter en ʼn mank Richie McCaw nie

Op die plaaslike vlak het die Bulle die groot fout gemaak om die Poubloues op Kimberly te onderskat. Die twee punte mag dalk nie genoeg wees om deur te dring na die uitspeelwedstryde toe nie.

Die Pumas is na my mening ongelukkig om nie hoër op die punteleer te eindig nie. Die manne het nie die helfte van die begroting van die groter unies nie en ook nie die diepte van spelers nie, maar Saterdag ná Saterdag word hulle lywe op die spel geplaas met ʼn toewyding wat somtyds ontbreek by die groter spanne.

Albei die kompetisies staan nou einde se kant toe, maar die Aussie-krieketspan het reeds hier opgedaag en dit kan ook ʼn opwindende sportgebeurtenis word.

Rugby groete tot volgende week.

Bloubul

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.