Oor die noodsaak van ’n post-verengelsde wêreldakademie

Foto: Becca Tapert, Unsplash

Deur dr. Hercules Boshoff

Met die wêreldwye aanslag op universiteite om hulle te wend tot die “nuwe Latyns”, naamlik Engels, kan gevra word wat word van diegene wat hulle hierteen verset? Is hulle bloot regs, populisties en daarom per se irrelevant? In sommige gevalle, ja. Maar diegene wat die vinger wys, is ook nie heeltemal onskuldig aan die opkoms van hierdie fenomeen nie, aangesien dit wat hulle voorstaan onder die titel “inklusiwiteit” niks anders blyk te wees as ’n nuwe eenvormige hegemonie nie.

Op die oppervlak is daar oneindige kleure, geure, geslagte en dies meer, maar daaronder skuil ’n diep weersin teen enigiets met ’n eiesoortige noodlot en verwikkeldheid (deel van die onderskeid tussen “anywheres and somewheres” wat David Goodheart tref).

Dit is ’n hegemonie van verstrooides, nee, van verstrooiing en sterilisering onder die naam van emansipering, van “ont-wikkeling”, die vername ekonomiese motief van die neoliberale bestel (en die gepaardgaande Lügenäther (liegpers) waaruit dit gemotiveer word – aldus filosoof Peter Sloterdijk). Agter die “argumente” lê veel eerder voorafbepaalde resultate geproduseer deur ’n logika van oneindige uitbreiding. Dieselfde kar, net in oneindig baie kleure.

Die meer belangrike vraag is hoe ons hierteen reageer.

Wie is die “ons” presies? Afrikaners, Afrikaanses, moedertaalsprekers in die algemeen? Namens wie praat ek? Hierdie vraag bring ons terug na Shakespeare se: “Wat is in ’n naam?”. ’n Naam is ’n talige uiting, wat ’n geskiedenis, ’n tradisie, en ’n kultuur bevat. Soms leen ouers uit die bloedlyn, kultuur of dikwels ook uit ’n ander kultuur ’n naam.

Naamgewing is trouens ook so ’n netelige kwessie in ons land.

In ’n naam lê egter nie alleen (noodwendig) ’n geskiedenis en tradisie nie, maar ook ’n toekomsverwagting, ’n hoop. By tradisies wat die kleindoop voorstaan, word jou naamgewing ook gekoppel aan die genade, wat vooraf aan jou bewys word. Die aanvaarding van jou geworpenheid gaan ook saam met die aanvaarding van die kwaad wat jy waarskynlik gaan aanvang, en juis hierdie naam, waarop jy deur God aangespreek word (dink maar aan Sameul wat deur God geroep is in sy slaap) is tegelyk kleed, jou reputasie wat jy opbou, maar ook jou naaktheid, waarmee jy aagespreek en berispe word.

Jou naam is waarmee jy belangrike kontrakte geldig maak. Dit maak jou deel van ’n verhaal, of van die kultuur waarin jy jou geografies bevind, of aan  ander met wie jou ouers assosieer. Dit beteken nie dat jy daaraan moet of gaan voldoen nie, dit sê bloot dat jou bestaan noodwendig in verhouding tot ‘n geskiedenis of verwagting verwikkeld is. Naam is versameling, ‘n rugsak waarin jy jou klere en jou kos pak. En so, vergun my dan die geleentheid om die naam Afrikaans op te roep as kind en spreker daarvan, en as versamelnaam waaronder ander hulle diepste self insgelyks aangeraak voel. Wanneer ek dus ‘namens’ iemand praat, praat ek as mede-ontvanger van die taal, as dit waarmee en waarin my denke geaktiveer word, maar ook as en een wat dit voortdra en noodwendig moet oorlewer aan die nageslagte.  So is die “namens” tegelyk ‘n refleksie op myself, op al die invloede waaruit my uitinge kan vloei, sowel as ‘n beroep op ander  mede-ontvangers (nie besitters nie). So doen ek ook beroep op hierdie mense om hierdie geskenk ‘n toekoms te gee.

Maar hoe hou hierdie relaas oor naam en naamgewing dan verband met die vraagstuk rondom die hedendaagse akademie? Die vraagstuk oor naamgewing is presies ook ter sprake in die akademie. Dit is die ruimte waarbinne ons name en terme vir dinge uitdink, waarbinne ons dinge identifiseer, wat ook beteken die wyse waarop ons onsself tot hierdie dinge in verhouding plaas. Dikwels gebeur dit so dat die wyse waarop naamgewings toegeken word, verwyderd is van die geleefde ervaring van die persone wat hierdie begrippe in hulle leefwêreld moet toepas. ’n Goeie voorbeeld van hierdie strydigheid is die Renaiscance. Dit word dikwels aangeneem dat hierdie beweging in Latyns gedryf is, wat net gedeeltelik waar is. In die ou Latyns was daar egter onvoldoende terminologie vir die rits nuwe uitvindings wat uit die geleefde, die alledaagse praktiese wêreld na vore getree het. Selfs in Italië, die hart van die Renaiscance, was daar dikwels die spot gedryf met die argaïse en elitistiese hoogdrawendheid van die skolastiek, waarvan toneelstukke soos Sperene Speroni se Dialogo della ingue, asook die digkuns van Ruzzante (waarvan Galileo ’n groot aanhanger was – Bron: E.J. Dijksterhuis se De mechanisering van het wereldbeeld) voorbeelde was. Dit is daarom ook nie blote toeval dat die vername ontwikkeling van moedertale in Europa direk op die Renaissance gevolg het nie.

Die punt is, leefwêreld en denke kan nie van mekaar geskei word nie. Deel van kennis is die vaardigheid om te “her-ken”, om iets wat reeds daar is op sy naam te noem. Dit is nie bloot iets wat in die verstand opgesluit lê as deel van ’n abstrakte raamwerk nie, maar beteken om dit te erken vir wat dit in sy wese is. Dit beteken ons staan in relasie tot dit wat ons aanspreek.

Erkenning vorm ’n belangrike deel van akademie en van omgewing. Dit is nodig om nie alleen dinge se name te ken nie, maar ook mense, wat dikwels ’n goeie kennis van tale vereis. Tale is dus nie bloot gereedskap nie, maar deel van die wese van kennis self. Verloor ons die rykdom van tale, verrineweer ons ingelyks ook die denke.

Die verantwoordelikheid van die denkers in ’n taal is dan juis om hierdie verbintenis tussen die geheel en die deel te bedink, om in relasie te tree, wat beteken om dit wat in die abstrakte terminologie lê, te vertaal vir diegene in jou konteks, maar so ook vanuit die konteks hierdie kennis te beproef, te verbeter en terug te vertaal na die terminologie sodat die algemene en die besondere altyd en voortdurend in skeppende gesprek bly.

  • Dr. Hercules Boshoff het pas sy PhD in filosofie voltooi.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jimmy ·

Baie ingewikkeld. Indien ek ‘n toets hieroor moet skryf gaan ek dop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.