Oor gemeenskap, gesprek en geskiedenis

Deur Nikke Strydom

“So noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die sirkulasie van gedagtes vir ‘n volk. Die sirkulasie van gedagtes; dis die vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander, sodat ‘n wisselwerking ontstaan.” NP van Wyk Louw

“Mense onderskat die waarde van gesprek” het iemand eenkeer vir my gesê en ek moes eers bietjie ouer word om dit te verstaan, te verstaan dat die toekoms van ‘n volk deur gesprek bepaal word, veral in ‘n wêreld waar die praktiese dikwels teen die intellektuele gesprek afgespeel word. Betekenisvolle gesprek bly egter een van die hoof bepalers van ons toekoms – al is dit indirek. Mens is op mekaar en die algemene sosiale netwerk en –konteks waarbinne hulle hulleself bevind aangewese vir hulle politieke sienings. Dit, sowel as die manier waarop mense op politieke gebeure reageer, bepaal hulle denke. Konteks en agtergrond word gereeld as onbelangrik afgemaak – alhoewel deur mense wat dit nie verstaan nie. Dit kom myns insiens op ‘n totale ontkenning van gemeenskap – en ophemeling van die individu – neer. Gemeenskap, gesprek en geskiedenis hou so nou met mekaar verband, dat dit moeilik is om enigeen betekenisvol sonder inagneming van die ander te bespreek. Verlies aan die een impliseer verlies aan die ander.

Ons lewe in ‘n wêreld sonder gemeenskap, sonder tuiste en tradisie. Ons lewe inderwaarheid in ‘n ons-lose wêreld, omdat ons in ‘n groot mate opgehou het om betekenisvol met mekaar te gesels. Dis dalk voor die handliggend – sonder gesprek is gemeenskap – in die klassieke sin van die woord – ondenkbaar, sonder gemeenskap is betekenisvolle gesprek moeilik. Alhoewel ek eintlik die plek wat geskiedenis in hierdie formule inneem wil beoordeel, wil ek eerstens ‘n bietjie oor Immanuel Kant se idee van gesprek en gemeenskap (alhoewel hy dit waarskynlik aanvanklik ietwat meer modernisties bedoel het, gaan ek dit gebruik om ‘n ietwat konserwatiewe gemeenskapsidee te regverdig). Kant verwys na die gevangeniskap van die mens in wat hy ‘n ‘self-opgelegde staat van onvolwassenheid’ noem. Hierdie onvolwassenheid (geestelik eerder as fisies) het tot gevolg dat niemand verder wil dink nie, dat almal bloot slaafs navolg wat almal doen.

Niemand bevraagteken, toets of redeneer oor bepaalde konsepte en idees nie – hulle aanvaar dit bloot. Kant redeneer dat hierdie onvolwassenheid self-opgelegd is – niemand hoef so te wees nie; dis bloot die maklikste en gemaklikste – lae-risiko. Niks om te verloor nie, niks om te wen nie, mense wat voel dat daar ‘n mate van sekuriteit in die algemene opgesluit lê en hulle dan minstens nie alleen sal staan as die keuse wel nie die regte een was nie. Volgens Kant is dit moontlik om uit hierdie toestand los te breek en die enigste voorwaarde hiervoor is die vryheid om jou idees in die openbaar te kan toets, en daaroor te kan redeneer. Dit is egter onmoontlik sonder gespreksgenote – mense wat jou idees óf aanhang, en daartoe ‘n bydrae lewer, óf mense wat dit dalk teenstaan – en jou die tekortkominge daarvan laat raaksien. Op hierdie wyse word denkers en filosowe gevorm. Mense wat nie bloot aanvaar nie, maar bevraagteken. Mense wat nie modes volg nie, en ook nie noodwendig dadelik skep nie (aangesien dit nie altyd vir die mens wat ‘n prokuk van massa-vervaardigde samelewing is verstsaanbaar is nie), maar mense wat die hoogste menslike potensiaal vervul, ten spyte van die feit dat dit baie onerkende toewyding verg.

Hoe pas gemeenskap in hierdie prentjie? Volgens Carel Boshoff is gemeenskap iets wat toenemend besig is om te verval: gemeenskap is vir individualistiese, moderne Afrikaners dikwels net ‘n outydse woord vir iets waaroor mens nie voor die kinders praat nie – of die kinders nie voor die grootmense nie… laat ek volstaan met die stelling dat ‘n sin vir gemeenskap een van die voorwaardes is om lewensvorme anderkant die hiper-moderne te ontsluit.

Prof. Danie Goosen omskryf gemeenskap aan die hand van Gadamer se hermeneutiese kontinuïteit: Hermeneutiese kontinuïteit verwys na die idee van dialogiese bemiddeling tussen die ander en die self (en na die analogie daarvan, ook die dialogiese bemiddeling tussen die teks en sy leser). En na die feit dat díe bemiddeling ‘n gemeenskap – ‘versmelting van horisonne’ – tussen hulle tot stand bring – “Understanding is always the fusion of these horizons supposedly existing by themselves.” As daar van iets soos die essensie van die wêreld sprake kan wees, lê dit opgesluit in die dialogiese ‘deelname’ tussen akteurs soos die self en die ander, teks en leser. Die wêreld bestaan nie buite-om díe deelname nie. Dit bestaan eerder as die dialogiese deelname self.

Die begrip Hermeneutiek kan na die Griekse selfstandige naamwoord ή έρμηνεια / το έρμηνευμα (vertolking, verduideliking, verheldering, verwoording, die krag van taal) en die werkwoord έρμηνευω / έρμηνευειν (om te vertolk, verduidelik, om te verhelder en te verwoord, om tot spreke te bring). Volgens Palmer en Robinson het die begrip van hierdie term drie dimensies:
1. Om te sê (uitdruk, beweer, handhaaf, verkondig, verklaar). Dit wys heen na Hermes se funksie van aankondiging as tussenganger tussen gode en mense;
2. Om te verduidelik (rasionaliseer, verhelder, verstaanbaar maak). Die kriptiese boodskappe van die orakel van Delfi was ʼn interpretasie van ʼn gegewe situasie, wat die situasie verhelder en verstaanbaar gemaak het; en
3. Om te vertaal (om verstaanbaar oor te vertel). Wanneer Hermes die boodskappe van die gode aan die mense bring, tree hy op as middelaar tussen een wêreld en ʼn ander wêreld. Hy bou ʼn brug tussen wêrelde en bemiddel ʼn versmelting van horisonne.

Volgens een van my uitstekende filosofie dosente, mnr. Marius Odendaal, alom bekend as Oudste, is die grondbetekenis van hierdie dimensies van die begrip hermeneutiek die toe-eiening van verstaan, die bemiddeling van verstaan. Hy brei uit: Gerhard Ebeling meen die Hermeneutiek is ʼn spraakmatige, geskiedmatige en tersaaklike begrip. Hans-Georg Gadamer (1975:290 – 291) en Paul Ricoeur (1981:182 – 197) verstaan die Hermeneutiek as ʼn verstaansproses (Gadamer) en ʼn vertolkingsproses (Ricoeur) met drie momente:
1. Die subtilitas intellegendi (verstaan, begryp);
2. Die subtilitas explicandi (verklaar, uitlê, verduidelik); en
3. Die subtilitas applicandi (aanwending, toepassing, toe-eiening).

Hermeneutiek speel myns insiens ‘n uiters belangrike rol in ‘n ware gemeenskapslewe – die kontinuïteit wat dit meebring is wat gemeenskap tussen verskeie geslagte laat voortbestaan. Dit speel by implikasie in politiek, politieke tradisie en politieke denke ‘n uiters groot rol. Prof. Koos Malan verwys in sy boek, Politokrasie, hierna: ook politieke deelname is van ‘n verbintens met gemeenskappe ahanklik. By politieke deelname bedoel ek die vermoë van ‘n persoon om saam met ander mense (burgers om presies te wees) oor openbare sake wat gemeenskaplik aan hulle is by wyse van inspraak daadwerklik ‘n impak te maak – daadwerklik die inhoud van besluite oor díe sake mede te bepaal. Soos hieronder verduidelik word, is dit eers met deelname en die maak van daadwerklike en die maak van daadwerklike impak dat mense werklik die amp van burgerskap opneem en as burgers handel. Enkeling en klein gemeenskappe kan, behalwe by hoogste uitsondering, nie ‘n impak maak op kwessies van globale omvang nie. Ten aansien van globale aangeleenthede verdwyn hulle in die niet en is hulle gewoonlik magteloos en gemarginaliseerd.

Die punt wat ek hierdeur wil maak is dat betekenisvolle politiek filosofiese denke, ook en veral op ‘n meta-politieke vlak onmoontlik sonder kritiese denke is, en dat kritiese denke onmoontlik is sonder gespreksgenote – sonder betekenisvolle gesprekke. Martinus Versfeldt sê: dit vereis wysheid om ‘n patriot te wees, en wysheid het met vlagswaaiery bedroef min te doen. Dit is maklik, byna te maklik om aktivistiese politiek te bedryf, om die media en massa-politieke spel te speel. Hierdie benadering maak net sin as dit deur ‘n dieper, politiek filosofiese basis onderlê word – en hieraan is daar in baie gevalle in ons moderne, nihilistiese, wêreld ‘n groot tekort. So ‘n benadering is soms op die korttermyn iets werd, maar die toets vir betekenisvolle politiek is volhoubaarheid – en aktivistiese politiek is nie volhoubaar sonder ‘n dieper ideele sin van wat aan die gebeur is en waarheen daar gemik word nie. Dit is moeilik om normatief teen empiriese argumente te veg (soos wat so dikwels gebeur in ‘n land waar ons, as die “minderheid” bloot ontken word, wanneer dit “onprakties” word om Afrikaner tradisies en Afrikaans onderrig te behou), maar dit word makliker as ‘n mens ‘n dieper insig in die groter prentjie het. Dit is onmoontlik om ‘n verkiesingsveldtog aan die hand van ‘n plakkaatspreuk te veg. Plakkaatspreuke het slegs sin as dit deur ‘n dieper denkraamwerk onderlê word – deur ‘n idee wat by iemand begin, in talle gesprekke getoets word, iets waaroor daar dalk ‘n boek geskryf word, en dan verdere gesprekke gevoer word. Indien dit dan op ‘n plakaat verskyn, is die betekenis daaraan verbond heel anders, en dalk ietwat sinvol. Die geskiedenis kan net deur betekenisvolle gesprek verander word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae