Oor grond: As jy twyfel oor die toekoms, plant!

dr-dirk-hermann-brief

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Solidariteit/Facebook.

Die Solidariteit Helpende Hand het pas hulle 2018-kongres gehad met die tema Saai. Hierdie artikel is ʼn verwerking van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se toespraak op die kongres.

Grond. Die groot debat van die dag. Die ANC en die EFF wil die Grondwet verander. Hulle wil karring aan die grond van die Wet en die Afrikaners is kwaad. Hulle wil nie hê daar moet aan hul grond gekarring word nie. Prof. Carel Boshoff het in sy wysheid gesê: “Die grondvraag in Suid-Afrika is die grondvraag”.

Slegs sowat 2% van die Afrikaners boer. Tog is bykans alle Afrikaners kwaad omdat daar aan grond getorring word.

Hulle boer nie self nie, maar veg kliphard vir die boer. Hulle vlieg na Amerika en Australië om op te staan teen die beleid dat grond gevat word.

Hulle bly nie op plase nie, maar hul harte huil oor boere wat vermoor word. Hulle is emosioneel oor grond, want hulle ís die grond. Daar is ʼn stukkie plaas in elke Afrikaner.

Baie Afrikaners bly in die stad, maar hulle is nie stedelinge nie. Hulle het aangepas in die gewoel van die verkeer en die eise van die moderne ekonomie, maar hulle hunker na die landelike.

Dr. Wikus Buys, teoloog en filosoof, wat pas ’n boek oor die Afrikaner, die stad en grond voltooi het, sê daar is ʼn rede hoekom Engelse ʼn “yard” en Afrikaners ʼn “agterplaas” het.

Appel sing: “Want boer loop hier deur my are, generasie-jare, ek sal dit skreeu tot jy my hoor. Op my knieë sal jy my vind voor ek saans gaan slaap. So laat ʼn nuwe dag kom, want boer loop deur my are.”

Maar Appel is nie ʼn boer nie.

Hy sing van die noorde en die suide, oor die grense van die plase. Hy sing eintlik van ʼn boer wat nie net plaas is nie, maar van plaas wat deel van hóm is.

Niel Somers sing: “Op hierdie grond is ʼn belofte gemaak, die prys is betaal, maar dis nie al nie, dis in ons bloed.”

Hy sing verder: “Ons kies om te bou, want dis al wat ons het.”

Dis waar, bou is al wat ons het, maar dis ʼn kragtige wapen.

Kom ons keer terug na grond. Afrikaners is lief vir die grond. Hulle sien grond nie as ʼn simbool van mag wat dan die oorwinning en inlywing van ander verg nie; nog minder as ʼn instrument om welvaart daaruit te suig soos wat ʼn mens ʼn lemoen uitsuig en die welvaart dan na jou koloniale land te neem nie.

Nee, Afrikaners bewoon en bewerk. Hulle plant en oes. Hulle werk en kry ʼn opbrengs. Plant – dis wat ons met grond moet doen. Plant is ʼn daad van vertroue. Jy plant vandag ʼn boom en vertrou dat dit skadu vir jou kinders gaan gee.

Lenie Retief, Piet Retief se vrou. Twee van haar seuns, skoonseuns en haar man word wreed deur Dingaan vermoor. Sy beleef van die grootste kindermoorde in Suid-Afrika by Bloukransrivier. Met haar aangenome kinders ingereken, het sy 15 kinders gehad waarvan tien dood is. Lenie Retief – ʼn ma in smart. Sy stort haar smart uit in ʼn brief aan haar broer: “Stuur vir my ʼn kissie vrugtebome, want ek wil plant in die nuwe land.”

Anna Steenkamp was Lenie se niggie. Sy trek uit die Kaap met ʼn sakkie akkers. Die akkers trek saam en beleef die ontberings van die Groot Trek, eers na Winburg, toe af na Natal. Die akkers hoor van die moorde op Retief se geselskap en beleef die moorde by Bloukransrivier en Weenen. Die akkers hoor van die oorwinning by Bloedrivier, van die Engelse wat Natal weer beset.

Die akkers trek saam met Anna Steenkamp kaalvoet oor die Drakensberg. Sy vestig haar in Lindley en sy plant die akkers.

Tot vandag toe word daar Geloftefees onder Anna Steenkamp se akkers gehou en uit ʼn stuk van die boom is ʼn tafel vir die kerk se konsistorie gebou.

Die Anglo-Boereoorlog was vernietigend: 33 000 vroue en kinders is dood in konsentrasiekampe; 30 000 bannelinge is weggestuur, 9 000 oorlogswesies is nagelaat en duisende plase en huise is afgebrand.

Ná die oorlog keer ʼn boervrou terug na haar afgebrande plaas, haar man nog in Ceylon, haar kinders waarskynlik dood in die kamp. Sy skryf:

Daar is nou vrede in die land, maar nie soos ons verwag het nie.

Die twee klein Republieke bestaan nie meer nie.

Almal van ons, het ons wapens afgegee.

Ons moes ʼn briefie onderteken waarin ons Koning Edward as ons wettige Soewerein erken.

Maar ons moenie treur soos een wat geen hoop het nie. Ons moet glo en hoop en vertrou.             

Ons besit op die oomblik vier perde, twee muile en ʼn paar skape.

Gister het ek ʼn emmer koring gesaai. Sodra ek kan, sal ek nog saai en plant.

As Pa van Ceylon af terugkom, sal ons spoedig weer ʼn boerdery op die been kan bring.

Sy het alle rede gehad om moedeloos te wees, om geen hoop te hê nie, maar sy plant. Sy plant haar korrel, doen wat sy moet doen en vertrou daar gaan ʼn oes op die land staan. ʼn Kinderlike vertroue op God se toekomsbelofte.

Nou is ons in 2018. Ons geskiedenis daag ons geslag uit. Gaan julle plant? Of gaan ons die eerste geslag wees wat hoop verloor?

Ons DNS is een wat plant. Die grond is in ons en ons plant. In wese is ons boere. Om te boer vloei deur ons are. Ons plant, want ons kan nie anders nie.

Binne die groter Solidariteit Beweging ploeg en plant ons. ʼn Wonderlike ding gebeur. Hoe meer jy plant, hoe groter word jou grond.

Twintig jaar gelede was ons 35 000 lede. Nou het ons 450 000 lede in die groter Solidariteit Beweging.

Ons plant ʼn nuwe, wêreldklas- Afrikaanse universiteit Akademia. Die universiteit het reeds 13 sentrums landwyd en ons beplan nou om ʼn volledige kampus met sportvelde, koshuise en ʼn vol studentelewe te bou.

Ons plant Sol-Tech, een van Suid-Afrika se topdrie- tegniese kolleges, en volgende jaar begin ons bou aan ʼn nuwe kampus vir Sol-Tech.

Ons plant ʼn studiefonds wat verlede jaar bykans R40 miljoen aan studiehulp uitbetaal het.

Ons plant die Skoleondersteuningsentrum wat ons skole op wêreldklasstandaard moet hou en ʼn nuwe wêreldklas- Afrikaanse onderwysalternatief moet ontwikkel.

Ons plant S-Leer wat verantwoordelikheid neem vir voortgesette opleiding.

Ons plant Maroela Media, die grootse Afrikaanse webwerf in Suid-Afrika, en ons plant ʼn rolprentmaatskappy, ForumFilms.

Ons plant AfriForum met ʼn landwye veiligheidsnetwerk en takke wat munisipaliteite op hul tone hou.

Deur die vakbond Solidariteit ploeg ons in die wêreld van werk om mense te help om goeie werk te hê. Ons plant die Solidariteit Wêreld wat ʼn kuberwêreld van werk is, en ons spit aan beroepsgildes wat tienduisende Afrikaanse beroepsmense saamtrek en beskerm.

Ons ploeg saam met die FAK en Kraal Uitgewers in die kultuurakker.

Ons plant saam met die Solidariteit Helpende Hand se duisende vrywilligers, soos julle, om mense deur gemeenskappe in staat te stel om selfstandig te wees.

Om te help is deel van die DNS van die Solidariteit Beweging se storie.

Die eerste briefhoof wat ek van die Helpende Hand kon kry, dateer uit 1954 en daarop staan: “Elkeen van ons gaan maar net een keer deur hierdie lewe. As ek dus enige weldaad kan bewys aan ʼn minderbevoorregte medewerker, laat ek dit nou doen.”

Só kry elkeen van julle koringkorrels en grond waarvoor jy nou verantwoordelik is.

Jy moet spit, plant, natlei en die plantjie waarvoor jy verantwoordelik is laat groei. Jy mag nie jou plant van jou afhanklik maak nie. Jy moet jou plant selfstandig maak. Jou plant moet ’n volwaardige plant word, sodat hy of sy ook saad kan skiet en verantwoordelikheid kan neem.

So kan ons, soos die Boerevrou ná die Anglo-Boereoorlog, plant en vertrou op God se toekomsbelofte hier waar hy ons roep. Ons het dus ʼn belofte hier in Suid-Afrika, en ons kan en moet dit glo.

Hoe meer jy doen wat jy moet doen, hoe groter word jou grondgebied en hoe sekerder raak jy van die toekoms.

So plant elkeen ʼn saadkorrel en as ons weer sien, staan daar ʼn oes op die land. Baie bietjies maak baie en baie maak ʼn toekoms.

Ons doen dit deur die gemeenskap. Om nie van die staat afhanklik te wees vir ʼn toekoms nie, is bevrydend. So neem jy beheer oor jou eie toekoms. Hoe minder staat, hoe meer vry.

As jy dus twyfel oor die toekoms, plant!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

RG ·

Is ons gemeenskap onafhanklik van die Staat terwyl ons bydra tot belasting en dan weereens bydra tot ons eie universiteite, skole, veiligheid, straatligte, Munisipale onderhoud ens, ens, ens? Of is ons dalk juis besig om Staats korrupsie daardeur aan te moedig en selfs te ondersteun.

Help ons dan om werklik afsonderlik te ontwikkel en onafhanklik te wees van hierdie korrupte Staat, waar ons reeds gegewe belasting gebruik kan word om te plant.

Anneli ·

As mens die berig hiebo lees dan kan mens jou kop in skaamte laat sak vir kritiek op Solidariteit wat uit ons eie geledere kom.
Die hoop dat kruipery ons in die regering se goeie boekies gaan bring is ‘n mishoop.
Ek verstaan dat mense tot voordeel van die hele land wil werk, maar wanneer ons en ons kinders se toekoms so ernstig bedreig word moet ons ons staal en begin om te saai en plant om ons toekoms te verseker.
Die twee ander alternatiewe is om die land te verlaat of om gaandeweg en met doelgerigtheid vernietig te word.
Baie dankie aan Solidariteit en ook Afriforum……. vir die werk wat julle doen, die bemoediging aan ons en die hoop vir ons toekoms.
Ja, as ons in die land van ons voorvaders wil bly, sal ons moet saai en plant voortsit, vir onsself, sodat ons toekoms nie versukkeld en ons vernietig word nie.

Jerry ·

Ek stem saam met alles behalwe oor waar ons moet plant. Ek is heilig oortuig daarvan dat ons moet plant daar waar ons welkom is en waar ons geplantery nie deur jaloesie en nyd ontwrig en geplunder kan word nie. Daar waar ons vrede het, daar sal ons voorspoed he en ons nageslagte n toekoms!

Eish ·

Ek kan met jou saamstem hieroor. Ek sou bittergraag territoriale selfbeskikking verkies vir die plantwerk.

Trojaanse Donkie ·

Moet ons nie die naam van die kamstige nuwe RSA soveel MOONTLIK in die buiteland So sleg as moontlik verkondig dat enige iemand nie eers sal oorweeg om sy voete hier te sit nie. Uiteraard sal die regering dan net ‘n bietjie meer moet doen om sy “demokrasie” te verdedig nie.

Jan Alleman ·

Wat ‘n mooi beskouing van wie ons is, waar ons vandaan kom en waar ons heengaan. Dit bemoedig mens en versterk jou vertroue vir die toekoms. Baie dankie Dirk.

Al ·

Dis briljant geskryf en vat die kern vas van Afrikaner wees. Dankie Herman vir jul ongelooflike sukses en met die Genade van Bo sal ons as wenners uittree.

John ·

Beautiful! Alles klink presies soos voor 1994. Die Afrikaners is op hul kniee agv sulke oppertunistiese dromers… maar betaal tog jul ledegeld. Ongelukkig bly ons nie in feetjieland nie. Vanmiddag is baie Afrikaners se harte gebreek en hulle moet die stukkies probeer optel. Ons gaan bloed sien vloei. Mens kan nie glo wat jy sien en hoor nie!

jaco ·

solidariteit doen en dink 99% NET SOOS die VF-Plus, maar hulle ledetal van 450 000 is BAIE meer as die 170 000 stemme vat die VF-Plus in 2014 se algemene verkiesing gekry het. Dis moeilik om te glo dat 280 000 Afrikaners wat lede is van Solidariteit, vir die DA stem. So iewers is 280 000 van ons EIE MENSE wat nie stem nie. Maar ons is o so gou om te kla oor alles wat skeefloop in Suid-Afrika

Andrea ·

Ek weet van baie, baie, baie mense wat nie stem nie. Mense sê dis sinneloos om te stem, ons is te min. Hul geniet darem die vakansiedag. Ek is geleer dat dit nie n voorreg is om te kan stem nie, dis jou plig!

Jakkie ·

Kan nie glo wat Trojaanse Donkie en John kwytraak nie. Dit is deur en as gevolg van sulke denke dat Solidariteit, Afriforum en Helpende Hand kritiek wat belaglik is, moet weerstaan. Dank vader vir daardie organisasies. As dit nie vir julle was nie dan was ons land saam met die Trojaanse Donkies en Johnne reeds in ons kanon. Aan daardie drie organisasies, my diepste dank vir wat julle doen.

John ·

Miskien kon ‘n paar meer Afrikaners tydens die referendum besin en plan gemaak het vir ‘n grondjie vir die ons, maar toe was julle vreeslik beindruk met die hogeres se planne en selfs saam gevergader, gekoffie, gekoeksuster en gehandevat en ons ander was die dwase. Nee, ons paartjies was toe reg. Doen nou maar die reksprong met die 25 jaar oue slap rek oor die Afrika-afgrond… Ons wil dit nie sien nie, dankie… koebaai!

RG ·

Jakkie, dis waar, hierdie organisasies werk baie hard. Kritiek moet egter nie sensitief benader word nie. Is jy bv. werklik ten gunste van die veldtogte deur Afriforum om met ledegeld te doen waarvoor ons reeds belasting betaal en dus ‘n tweede keer te betaal vir dit waarvoor ons almal reeds betaal het. Indien so, ondersteun dan ook maar korrupsie en staats kaping want dit is wat dit beteken. Dit druis regstreeks in teen my beginsels.

Andrea ·

Ek het nog nooit só n goeie, inspirerende stuk gelees nie. Met mense wat só n visie het, ons geskiedenis en ons sienswyses só kan vasvat, kan ek n pad mee loop. Dankie.

Christo van der Walt ·

Hoendervleis en waterigeoë die gee my moed en ek het lank laas moed gehad Dankie. Versprei dit wyd!

Out of Africa ·

Wat jy ookal in Afrika plant sal geplunder word. Dank Vader ons is verplant, mens groei beter op veilige grond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.