Oor Jode, Palestyne en Afrikaners

In die apartheidsera was Israel een van Suid-Afrika se min bondgenote. Een rede vir die noue betrekkinge was hul gemeenskaplike internasionale isolasie; in die wêreld se hoekie vir eensames was die keuses bra beperk. Sommige kritici het ook ‘n dieperliggende en meer sinistêre band bespeur: apartheid en Sionisme was ideologiese bedmaats omdat albei kwansuis op rassisme geskoei was.

Apartheid en internasionale afsondering is genadiglik nie meer deel van ons lot nie. Die ‘nuwe’ Suid-Afrika het ook geen erg aan Israel nie, maar vereenselwig hom openlik met die Palestyne se strewe om hulle van Israelse besetting te bevry. Dis nou die Palestyne van die Gasastrook en die Wesoewer, wat al lank vir ‘n eie Palestynse staat agiteer.

Omdat dit ‘n Afrikaner-regering was wat gemene saak met Israel gemaak het, kan met reg gevra word of Afrikaners hulle vandag steeds met Israel behoort te assosieer, of eerder vir die Palestynse kant te kies?

Hierdie vrae impliseer dat groepe soos die Afrikaners hul eie buitelandse vriendskappe kan aangaan, onafhanklik van die nasionale regering se voorkeure. En waarom nie? Dink maar hoe georganiseerde arbeid onder die vaandel van Cosatu sy eie “buitelandse beleid” bedryf – selfs in stryd met die ANC-regering se internasionale agenda.

Die ou stelreël dat state geen permanente vriende het nie maar net blywende belange, kan ewe goed op nie-staatsgroeperings (soos vakunies en kultuurgroepe) van toepassing gemaak word.

Sou dit dan gepas wees dat Afrikaners, by monde van verteenwoordigende kultuurorganisasies – en ooreenkomstig hul groepsbelange en politieke waardes – nuwe vriendskappe en lojaliteite spesifiek in die Midde-Ooste ontwikkel?

Die Palestyne se kollektiewe reg op selfbeskikking in die vorm van ‘n eie staat naas Israel is al sedert 1947 herhaaldelik deur die Verenigde Nasies bevestig. Daarin behoort Afrikaners die Palestyne openlik te ondersteun. Omgekeerd behoort ons ewe uitgesproke te wees in ons kritiek op Israelse optrede wat die verwesenliking van hierdie reg ondermyn. Tegelykertyd moet ons Israel se reg op voortbestaan binne veilige, wedersyds aanvaarbare grense erken en Palestyne (veral Hamas) se gebruik van terrorisme teen Israel veroordeel.

Benewens die Palestyne in die Gasastrook en Wesoewer – die kernareas van ‘n toekomstige Palestynse staat – moet ons deeglik kennis neem van die status van die 1,6-miljoen Israelse Palestyne wat in die Joodse staat woon. Hulle verteenwoordig ‘n minderheidsgroep wat op grond van taal, kultuur en godsdiens van die Joodse meerderheid onderskei kan word.

Hierdie Palestyne beskik oor Israelse burgerskap en het sedert die vroeë dae van die staat Israel ook stemreg. Hul lewensgehalte binne Israel is oor die algemeen baie beter as dié van hul volksgenote in die Palestynse gebiede. Tog beleef Israelse Palestynse sowel demokratiese as kulturele uitsluiting.

Politieke mag in Israel is in die hande van die Joodse meerderheid (75% van die 7,8-miljoen inwoners) gesetel en die Palestyne is (nog) te gering in getal om die situasie wesenlik te verander. Israel is steeds onbeskaamd ‘n Joodse staat; kyk maar na die eksklusief Joodse simbole van staatskap, naamlik die vlag, volkslied en nasionale embleem. Onthou verder dat die “reg op terugkeer” na Israel slegs vir Jode geld, nie ook Palestyne wat in die vorige eeu deur Jode uit hul woonplekke verdryf is nie. Israelse Palestyne word voorts in praktyk aan allerhande vorme van diskriminasie onderwerp en deur hul Joodse landgenote verdink van dislojaliteit teenoor Israel en as veiligheidsrisiko beskou. Dis dan verstaanbaar dat die Palestyne soos tweedeklasburgers in Israel voel.

Gegewe die ooglopende raakpunte met die status van Afrikaners in vandag se Suid-Afrika, kan ons gemeenskap bepaald empatie hê met die Palestynse minderheid in Israel. En dit openlik sê en wys.

Maar dit beteken nie dat Afrikaners nou vir Israel tot politieke melaatsheid moet verdoem nie. Gegewe ons apartheidsverlede, moet ons nie te hoogheilig wees oor die Jode se blatante skending van Palestynse regte in die vestiging van moderne Israel nie. Boonop is daar steeds baie wat Afrikaners by Israel kan leer om ons eie situasie in Suid-Afrika te verbeter.

Een daarvan is die Israelis se historiese sukses om “feite op die grond” te vestig en dan politieke strukture daaromheen te bou. Dit beteken nie dat ons nou ‘n Afrikaner-Israel hier te lande moet probeer skep nie; die omstandighede verskil hemelsbreed. Maar ons kan beslis by die Israelis kers opsteek in gemeenskapsbemagtiging te midde van ‘n onsimpatieke en dikwels onbeholpe staat.

Tweedens is die Israelis meesters in die uitbouing en benutting van die Joodse diaspora. Ons sit reeds met ‘n groot Afrikaner-diaspora. Baie van hulle is stellig vir Afrikanerdom verlore, maar talle ander kan op verskeie maniere by die bevordering van Afrikanerbelange betrek word.

In ‘n vorige rubriek is voorspraak gemaak vir die uitbouing van kulturele vryheid in Suid-Afrika – iets waarin Afrikaners die voortou behoort te neem. Die eksterne verlengstuk hiervan is kulturele diplomasie. Verhoudinge met Israel se Joodse en Palestynse burgers sowel as met inwoners van ‘n toekomstige Palestynse staat, asook met ons eie diaspora, behoort deel van kulturele diplomasie te vorm.

(Die skrywer het ‘n November 2011 ‘n navorsingsbesoek aan Bir Ilan Universiteit in Israel gebring.)

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deon Geldenhuys

Meer oor die skrywer: Deon Geldenhuys

Deon Geldenhuys is ‘n professor in Politiek aan die Universiteit van Johannesburg. Hy is betrokke by die stigting van die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

ebert ·

Deon, die gebalanseerde benadering tot die bevordering van betrekkinge met buitelandse groepe op grond van ons eie belange wat jy voorstel is ‘n baie belangrike tree op die pad om ons saak en ons toekoms op stewiger grond te plaas.

Die praktyk sal leer of ons geloofwaardig kan voorkom indien ons die sterkpunte en swakpunte van beide die Israeli’s en Palestyne uitlig. Te dikwels word politiek op die lae vlak van “as jy nie vir my is nie dan is jy teem my” gedryf. Die ou testamentiese siening van “‘n oog vir ‘n oog” wat die botoon voer in die konflik tussen Israel en Palestina laat ook nie veel ruimte vir volwassendheid nie.

Ek verskil egter van hierdie stelling van jou: “Dit beteken nie dat ons nou ‘n Afrikaner-Israel hier te lande moet probeer skep nie; die omstandighede verskil hemelsbreed.”

Waarom moet ons nie probeer om ‘n Afrikanerhartland te skep waar Afrikaners die meerderheid is en dus die politieke diskoers kan bepaal nie?

Ten spyte van die verskille in omstandighede kan ons slegs beter daaraan toe wees met ‘n hartland as daarsonder. ‘n Hartland is vir alle volke in diaspora die enjinkamer van hul gesamentlike ekonomiese, kulturele en intellektuele vordering.

Totdat Afrikaners oor ‘n hartland beskik waarin hulle die politieke duskoers (en dus die aanwending van belastinggeld) kan bepaal, sal ons status hier weinig verskil van die talle diaspora-bevolkings (wat ook stemreg het en private instellings kan bedryf) elders oor die wêreld heen.

ebert ·

Ek vra om verskoning vir die spelfoute. Ek het dalk ‘n rapsie te vinning die “publiseer” knoppie gedruk.

Dalk kan die redaksie oorweeg om ons toe te laat om ons kommentaarstukke te wysig nadat dit geplaas is?

Susan ·

Dankie Ebert – ons neem kennis en gaan beslis daaraan aandag gee. Dis ‘n baie goeie idee. Ek voeg dit by op ons lys ontwikkelings wat binne die eerste paar maande van 2012 op Maroela aandag moet kry.

Deon Opperman ·

Groete Deon,

Baie dankie vir hierdie deurdagte en insiggewende stuk skrywe. Rede tot nadenke.

Deon Opperman

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.