Oor Lulu, Calvyn, Oscar, Tim du Plessis en Alex Perry

Tim du Plessis

Net ’n opmerking oor Tim du Plessis, Alex Perry (Time), Oscar Pistorius en die Calvinisme-opmerking van die oningeligte minister.

1. Alex Perry skryf in Time dat Afrikaners steeds ’n laermentaliteit het. Ten grondslag van sy opmerkings lê ’n tipiese liberale opvatting van die mens en in die besonder ’n totale onbegrip vir die feit dat groepe – veral wanneer hulle bedreig voel – ‘grense’ rondom hulle trek.

(Liberales verstaan per definisie nie grense nie, alhoewel hulle tog nie skroom om hulle eie grense aan andere voor te skryf nie).

2. Alhoewel Tim du Plessis se reaksie oënskynlik die teenoorgestelde is, sluit hy ten diepste by Perry aan. Anders as Perry wil Tim in sy reaksie op Oscar en kie eintlik die Afrikaners (of kultuurgemeenskappe in die algemeen) in beskerming neem. In die proses sluit hy willens en wetens by Perry aan. Tim doen dit deur enige verband wat daar tussen Oscar se dinge en sy kulturele agtergrond (Boys High en die opvoeding wat hy daar gekry het, ensovoorts) sou kon bestaan, te ontken. Oscar en slegs Oscar as individu is vir sy dade verantwoordelik.

Perry val die Afrikaners aan; Tim verdedig hulle, by implikasie. Nogtans deel hulle dieselfde beeld op die mens, dieselfde antropologie: Sowel Perry as Tim sien die mens as iemand wat per definisie (of in ideale terme) bo- of anderkant sy groepsverbintenisse staan. By Perry slaag die Afrikaners egter nog nie daarin nie en gly hulle steeds in die laer terug. Maar hopelik, lui Perry se versweë verwagting, sal Afrikaners nog eendag daarin slaag.

By Tim daarenteen kan die individuele Afrikaner se dade (en wandade) reeds van hulle kulturele agtergrond losgemaak word. Enigeen wat anders wil voorgee, span eintlik die logika van apartheid in, sê Tim. As daar van ’n ‘remedie’ sprake is, moet dit by die individu self gesoek word.

3. ’n Ander manier om egter op die hele Oscar- en Calvinisme-opmerking te reageer, is een wat uit ’n nie-liberale en gemeenskapsgeoriënteerde raamwerk dink. Dit lui as volg:

Uiteraard is die individu in die finale sin van die woord verantwoordelik vir sy of haar dade. In hierdie sin is Tim en Alex Perry reg. Maar die individu se dade (en wandade) word ten diepste moontlik gemaak (of bemiddel) deur sy kulturele agtergrond, sy familieverbintenisse, sy groepsverbintenisse, ensovoorts. As die individu presteer, speel sy gemeenskapsagtergrond ’n belangrike rol hierin. (Sokrates is as uitnemende denker in die Westerse tradisie ten diepste moontlik gemaak deur die Athene van die 5de eeu).

Maar wat van die wandade van die individu? Is die gemeenskap ook daarvoor verantwoordelik? In die antwoord hierop tree die groot verskil met die liberale denke na vore. Gemeenskapsgerigte denke sê:

a) Dat die individu se wandade nie van sy kulturele agtergrond losgemaak kan word nie. (Historiese figure soos Hitler, Stalin en Mao Zedong is ’n direkte uitvloeisel van hulle onderskeie kulturele agtergronde), en
b) Dat wandade van individue die gevolg is van een of ander “krisis” in die eie gemeenskap. (Hitler, Stalin en Mao kom sonder uitsondering uit tradisionele gemeenskappe wat in ’n krisis verkeer), en
c) Dat kultuurgemeenskappe (meestal) oor die normatiewe vermoë beskik om die oortreders in eie midde te korrigeer, te veroordeel en aan ’n proses van remediëring te onderwerp,
d) Dat kultuurgemeenskappe dus nie ’n hindernis op weg na herstel is nie, maar juis ook self die remedie daarop verteenwoordig, en
e) Dat indien individuele wandade van die kulturele konteks geïsoleer word – soos wat in die liberale denke gebeur – kultuurgemeenskappe die vermoë ontneem word om ook krities na die ‘patologieë’ in sy midde te kyk en ’n antwoord daarop te gee (onder meer by wyse van ’n beroep op die insigte vanuit sy tradisie).

Kortom, wanneer daar wandade deur lede van gemeenskappe gepleeg word, is dit geensins nodig om die gemeenskap te beskuldig (Perry) of die gemeenskap daarvan te verskoon nie (Tim).

Wandade is inderdaad die gevolg van patologieë in gemeenskappe. Daaruit moet nie – soos in die liberale denke – afgelei word dat ons anderkant gemeenskappe moet tree om ’n antwoord daarop te gee nie. Gemeenskappe beskik self oor die vermoë om ’n antwoord daarop te bied. Wandade vanuit eie kringe word immers meestal as ’n afwyking van die normale beskou en daarom ook as iets wat reggestel moet word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae