Oor onteiening sonder vergoeding

Dr. Theuns Eloff (Foto: Skermskoot uit ‘n video)

Deur dr. Theuns Eloff

Die FW de Klerk-stigting is gestig om die Grondwet te beskerm en te bevorder. Dit doen ons deur die werk van twee sentrums: die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) en die Sentrum vir Eenheid in Diversiteit (SED). Vir 2017 en 2018 is die algemene tema van ons werk eiendomsregte en grondhervorming.

 Die keuse van die tema deur die stigting het die huidige debat oor onteiening sonder vergoeding voorafgegaan en getuig van die stigting se verbintenis tot grondhervorming en die verbreding van eiendomsregte vir alle Suid-Afrikaners. Ons glo dat die Grondwet voldoende maniere bied om grondhervorming binne die voorskrifte van artikel 25 te bewerkstellig, en ons bly daaraan verbind.

Artikel 25 en die voorgestelde hersiening daarvan

Artikel 25 van die Grondwet het twee dele. In subartikels (1) tot (4) word die beskerming teen die arbitrêre ontneming van eiendomsreg en die modaliteite van grondwetlike onteiening beskryf. In subartikels (5) tot (9) word die staat se verpligting om billike toegang tot grond, grondhervorming en regstelling te verseker, beskryf. Die FW de Klerk-stigting steun die letter en gees van artikel 25, en glo dat beide komponente van artikel 25 in werking gestel en gehandhaaf moet word om doeltreffende en volhoubare grondhervorming te verseker, wat sal lei tot ekonomiese groei en die aspirasies van baie Suid-Afrikaners.

Ons glo nie dat om die twee doelwitte van artikel 25 te bereik, daar enige grondwetlike wysigings nodig is nie. Die Grondwet is nie ʼn belemmering vir grondhervorming nie. Ons is oortuig dat artikel 25 tot dusver nie geïmplementeer is nie. Daar is voldoende bewyse vir hierdie siening. Die belangrikste hiervan is die verslag van die hoëvlakpaneel oor die beoordeling van belangrike wetgewing en die versnelling van fundamentele verandering (verslag van die hoëvlakpaneel), aangewys deur die parlement en gelei deur voormalige president Kgalema Motlanthe. Die verslag van die hoëvlakpaneel lê die skuld vir die gebrek aan vordering met grondhervorming ingevolge artikel 25, feitlik volledig voor die deur van die regering en dié se gebrek aan politieke wil en kapasiteit.

Die feit dat daar nie enige bewyse is dat artikel 25 ʼn belemmering vir grondhervorming en -herstel is nie, bevestig ons standpunt dat ʼn wysiging onnodig is. ʼn Wysiging sal ook nie help om die gebrek aan die politieke wil en staat se kapasiteit om artikel 25 toe te pas, te verbeter nie.  Die punt is: ‘n Wysiging van artikel 25 is nie korrek nie en sal nie die huidige gebrek aan vordering oplos nie.

Onteiening sonder vergoeding

Die parlementêre mosie oor onteiening sonder vergoeding weerspieël in wese die besluit wat die ANC tydens sy verkiesingskonferensie in Desember 2017 aanvaar het. Die twee voorwaardes vir onteiening sonder vergoeding word weer gestel: dit moet gebeur op ʼn manier wat landbouproduksie verhoog en voedselsekerheid verbeter”. Dit is wesenlik anders as die oorspronklike mosie van die EFF, dat die staat die bewaarder (“custodian”) van alle grond moet wees. Dit is egter beduidend dat die oorspronklike ANC-besluit bykomende voorwaardes het: onteiening sonder vergoeding moet nagestreef word sonder om die landbousektor te destabiliseer, sonder om voedselveiligheid in ons land in gevaar te stel en sonder om ekonomiese groei en werkskepping te ondermyn. Hier verskille is subtiel, maar dalk belangrik: die aspek van die ondermyning van die ekonomie verskyn nie in die parlementêre mosie nie. Dit sal fyn dopgehou moet word.

Die ANC-regering het self ‘n stel omvattende beleide en infrastruktuur vir grondhervorming in plek gestel, maar het dit nie doeltreffend geïmplementeer nie – soos die hoëvlakpaneel se verslag uitwys. Hierdie gebrek aan vordering is in die laaste paar maande deur die EFF aangegryp, veral in sy mosie voor die parlement in Februarie 2018. Terwyl die EFF-boodskap verleidelik is vir ontnugterde kiesers, is die risiko van die nasionalisering/staatsbewaring van alle grond, vir alle Suid-Afrikaners enorm. Dit sal neerkom op algemene bate beslaglegging en die implikasies vir die middelklas is duidelik. Die vraag is watter skade oor die lang termyn aan die demokratiese bestel berokken word as anargie toegelaat word. Vandag kan dit eiendomsregte wees, en môre kan dit oorspoel na ander sektore en ander grondwetlike beskermings. Die EFF se deursigtige poging om gemoedere op te jaag moet ontbloot word vir wat dit is. Die oordrag van alle grond na die staat vir “bewaring” is nie in die belang van enige Suid-Afrikaner nie, gegewe die bewese gebrek aan staatskapasiteit om grond vir grondhervormingsdoeleindes optimaal te administreer. Die ondermyning van eiendomsregte sal ewe veel impak op almal hê.

Ons glo dat die debat en moontlike oplossings op feite en bewyse gebaseer moet wees. Dit is dus noodsaaklik dat die feite oor wie watter grond besit en wat sedert 1994 gebeur het, op die tafel geplaas word. In hierdie verband is die regering se onlangse grondoudit, om die minste te sê, nie behulpsaam nie. Om, soos wat in die mosie herhaal is, te sê dat swart Suid-Afrikaners slegs 2% van landelike grond en 7% van stedelike grond besit, is duidelik baie ver van die waarheid. ʼn Ander grondoudit, wat deur AgriSA uitgevoer is, wys dat meer vordering gemaak is met die kommersiële oordrag van grond (op die ope mark), maar sommiges kan aanvoer dat hierdie oudit ʼn gebrek aan politieke legitimiteit het. ʼn Vergelyking van die twee grondoudits toon duidelike verskille en teenstrydighede. Daar is ʼn behoefte aan ʼn proses om oor die feite saam te stem.

Ons glo ook dat die verslag van die hoëvlakpaneel ‘n paar uitstekende voorstelle bevat, waarvan ons die meeste ondersteun, insluitende die noodsaaklikheid om onmiddellik te fokus op die uitbreiding van private eiendomsbesit aan swart Suid-Afrikaners, insluitend miljoene in stedelike gebiede en mense wat op kommunale grond woon. Die realiteit wêreldwyd – en Suid-Afrika is geen uitsondering nie – is dat verstedeliking steeds versnel en dat hierdie realiteit beleid moet bepaal. Vir mense wat wil boer en betrokke raak in die landbou-ekonomie, moet hulpbronne – insluitend finansies en infrastruktuur – beskikbaar gestel word om hulle suksesvol te maak.

Ons moet ook beklemtoon dat enige poging om die stelsel van eiendomsreg te vernietig, ʼn negatiewe uitwerking op diegene met onsekere verblyfreg sal hê, aangesien hulle die slagoffers sal wees van geen vergoeding nie wanneer hul van hulle grond afgesit word. Dit is herhaaldelik bewys dat afskaffing van private eienaarskap ʼn vernietiger van gelyke geleenthede is.

Dit word wel verwelkom dat die taak om artikel 25 te hersien, aan die Grondwetlike Hersieningskomitee gegee word. Dit sal ten minste verseker dat daar ʼn verskeidenheid van menings en feite na vore sal kom om die debat te verdiep. En hierdie komitee is verplig om die publiek ʼn geleentheid te gee om hulle menings te lug. In die debat moet bestaande grondwetlike en regsmaatreëls om verandering teweeg te bring oorweeg word – sonder om die grondslag van ons grondwetlike demokrasie en die ekonomie te bedreig. Onlangs gepubliseerde ekonomiese statistieke toon ʼn verbetering, wat grootliks (en ironies genoeg) deur die landbousektor gedryf word. Groei is in die belang van elke Suid-Afrikaner, en inklusiewe groei selfs meer.

 Die FW de Klerk-stigting sal voortgaan om enige wysiging van artikel 25 van die Grondwet teen te staan. Terselfdertyd sal ons voortgaan om kreatiewe en realistiese maniere te soek en voor te stel om die eienaarskap van grond vir alle Suid-Afrikaners verder uit te brei.

  • Eloff is die uitvoerende direkteur van die FW de Klerkstigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

M'Lady ·

Blah, blah, blah. Beter vir jou baas so gou as moontlik inlig dat sy wigte en teenwigte nou moet inskop.

Eish ·

“Hoëvlakpaneel, ons bly verbind, SGR, SED.”
Teen n meerderheidsregering wat n eie agenda bedryf, is dit n niksseggende oefening in futiliteit.
Woordgimnastiek wat geen uitkoms bied nie.
Koos Greef se artikel Wanderlust het vir my geweldig toepassing op hierdie futiele bekbepeinsings.
” Deesdae maak die mense mos groot stories van nonsens. Dis nou van viertrek met lae spoed oordragratkaste en ewenaarsluitstelsels uit Australië met hooglig domkragte uit Amerika en opligstelle vir beter grondvryhoogte – sommer net rykmansspeelgoed se twak.”
Jy kan nie onderhandel uit n posisie van swakheid nie, wie gaan na jou luister?
Integrasie is nog nooit in enige land suksesvol bestuur nie.
Niks wat die FW de Klerk stigting kan doen of sê gaan dit verander nie.
Ons is nou by ons Simson opsie. Rigters 16:28-30
Loods liewer n effektiewe buitelandse propaganda veldtog om die Kaukasiese minderheid se lot onder besluitnemers in die Weste se aandag te bring. Apartheid het nooit gesterf nie, dit was slegs halftyd. Die spelers het slegs kante geruil.

Jerry ·

Vreedsame en versoenende pogings om te verhoed dat die grondwet verander word en om grondeienaarskap en eiendomsreg aan alle Suid Afrikaners te bewerkstellig en te verseker word verwelkom en ondersteun deur miljoene Suid Afrikaners. Doen so voort met u goeie intensies!

Peet J ·

Die ANC regering is by magte om die Grondwet te wysig in belang van die land asook ooreenkomstig sy belofte om sy kiesers van grond te voorsien ( dink maar aan die struggle voor 1994).
Om met die regering te debatteer oor grondonteiening sonder vergoeding is water op die meul m.a.w. jy stem in ‘n mate saam dat onteiening wel moet plaasvind solank die landbou sektor, voorsiening van voedsel, nie daardeur geraak word nie .

Elizabeth ·

Ons woon in AFRIKA waar “ons maak soos ons wil” (Min. Sisulu). Afrika verstaan nie redelikheid of westerse argumenteringsbeginsels nie. “Sticks and stones will break their bones, but words will never harm them” – ons kan praat, hulle kan belowe, paai en sweer soos hulle wil, maar daar is geen bewys dat Afrika hulle aan woorde, beloftes, traktate, grondwette, ens. steur nie.

Paul ·

Dr Theuns, lees gerus wat skryf Herman Toerien vandag onder andere in sy artikel, “MRK het nie snars van ‘n idee wat menseregte is nie”, en ek haal aan; “Skend die FW de Klerk-stigting nie menseregte nie deur nié meer verklarings in Afrikaans ook uit te reik nie? Dit lyk of die BEE-verbintenis die stigting se vermoë om sy Afrikaanse ondersteuners in hul moedertaal te bedien nou benadeel nadat die stigting enkele jare gelede in ’n verbete stryd gewikkel was om Afrikaans te beredder.”

Dat ons hoop en vertrou julle gee aandag, weer die mense in Afrikaans sal bedien, dan sal die Afrikaanse voetvolk dalk ook nie meer so negatief teenoor FW wees nie.

leon ·

Beste Theuns

Lees asb. ook Flip se mening oor die afdraande pad wat die anc meerderheid ons trappie vir trappie gedwing het die laaste 24 jaar. Julle moet begin besef en verklaar dat die onderhandelde skikking nie die vreedsame bestaan vir die Afrikaner verseker het nie.

Die aanval van die wit minderheid op skool, universiteit, taal, kultuur en eienaarskap is gebaore uit ‘n diepe haat en misplaasde skuld vir alles wat skeef loop.

Die tyd het gekom dat jou stigting die selfbeskikking van die Afrikaner verklaar en ondersteun. Een fout kan mens nog verstaan maar moenie weer fouteer nie.

Faan ·

Dankie vir die goeie werk wat Dr Eloff by die De Klerk Stigting doen. Die internasionale geloofwaardigheid van die Stigting kan groot druk op die ANC sit vanweë hul invloed by buitelandse regerings. Kom ons los nou die gevegte oor die verlede en fokus op die toekoms.

Elizabeth ·

Kan die stigting nie dalk van fokus verander en konsentreer op wyses waarop Afrikaners hulle eiendomme teen markverwante pryse kan verkoop voordat dit weggeraap word sonder vergoeding nie? Red asseblief wat nou te redde is en vergeet van westerse redelikheid. Die regering wil witmense vernietig en sal dit doen, ongeag wigte en teenwigte, die Grondwet, beloftes en watookal.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.