Oor vandag se diaspora-politiek en selfopgelegde ballingskap

alida-kok

Alida Kok. Foto: Jurgens Burger.

Die mosie teen grondonteiening in Suid-Afrika wat verlede week deur die Nederlandse parlement aanvaar is en wat opdrag aan die Nederlandse regering gee om in die internasionale gemeenskap deur bilaterale verhoudings en op multilaterale platforms standpunt teen onteiening in Suid-Afrika in te neem, kondig ʼn nuwe tydperk in ons 25 jaar oue demokrasie aan.

Dit is die eerste keer sedert die verkiesings van 1994 wat ʼn parlement buite Suid-Afrika só ʼn mosie aanvaar. Hierdie verwikkeling wys dat rolspelers in die land wat optree ter ondersteuning van minderheid- en gemeenskapsbelange – wat in gedrang is weens oorgesentraliseerde regeringsmag, ʼn dominante partystelsel en die verval van infrastruktuur in veral die platteland – se skakeling met die buiteland ook amptelik begin vrugte afwerp.

ʼn Nuwe tydperk gekenmerk deur skakeling met die internasionale gemeenskap

Ons het oor ʼn drempel beweeg na ʼn tydperk waarin die speelvlak vir huidige minderheid- en gemeenskapsbelange nie net deur binnelandse politiek gevorm word nie, maar ook deur: (i) die internasionale gemeenskap en internasionale skakeling, en (ii) die idee van diaspora-politiek wat gepaard gaan met ʼn nuwe tipe Suid-Afrikaanse self-opgelegde ballingskap.

Die laaste politieke rolspeler in Suid-Afrika waarvoor hierdie twee kommunikasiekanale belangrik was in die bevordering van hul politieke ideaal, was die ANC in ballingskap tydens apartheid. Die suksesse wat die ANC se internasionale kommunikasieveldtog in die 1980’s behaal het, dien as voorbeeld vir die minderhede en belangegroepe wat tans poog om die besluite van die saamgesmelte uitvoerende en wetgewende gesag van die staat te beïnvloed deur die gewig van die internasionale gemeenskap toe te voeg in gemeenskapsake wat die welstand van minderhede bepaal.

Voorbeelde van sulke sake sluit in: die beplande wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te laat plaasvind, die toepassing van arbitrêre rassekwotas wanneer besigheid met die staat gedoen word, die vyandigheid teenoor Afrikaans as primêre, sekondêre en tersiêre opvoedingstaal, en die verval van veiligheid op die platteland.

Die uitslae van, byvoorbeeld, die onlange Europese verkiesings en die sogenaamde “Nuwe Europa” wat dit tot gevolg het, dui daarop dat die tyd juis ryp is vir minderhede en gemeenskappe om direk met regerings en politici in Europa te skakel.

Nispartye soos die “groenes” en “konserwatiewes” wat nader aan gemeenskappe is as “catch-all” politieke partye, het meer steun in die Europese verkiesings verwerf. Dit vergroot die spektrum van politieke verteenwoordiging in Europa en laat meer geleenthede vir politieke skakeling. Terselfdertyd het die rol van gemeenskap, plaaslike politiek en burgerlike samelewing ook weer in Europa vergroot wat toelaat dat gemeenskap-bilateralisme (die direkte skakeling tussen twee gemeenskappe wat in verskillende state gebaseer is) plaasvind.

Wat kan ʼn minderheidsgroep by die ANC van die 1980’s leer?

Die ANC in ballingskap kon hom juis van sy taak kwyt weens, onder meer, politieke skakeling met Europese regerings, politieke partye, vakbonde en belangegroepe. Die ANC bied natuurlik nie die enigste Suid-Afrikaanse voorbeeld in dié verband nie – leiers uit die twee Boererepublieke het ook in die 19de en 20ste eeu met politici en monarge in Europa geskakel om die belange van die Oranje Vrystaat en Transvaal te bevorder.

Wat wel die geval van die ANC in die 1980’s en huidige minderheidsbelange wat met Europa skakel anders maak, is die rol en potensiaal van diaspora-politiek en ʼn meer lewendige en kritiese beskouing van selfopgelegde ballingskap.

Diaspora-politiek en ʼn nuwe tipe Suid-Afrikaanse selfopgelegde ballingskap

ʼn Draaipunt vir die ANC in ballingskap, waartydens die organisasie veldtogte meer suksesvol begin aanpak het, was in 1969 toe die uitgebreide Suid-Afrikaanse politieke diaspora betrek is en lidmaatskap ook aan wit lede geopen is. Hierdie stap het ʼn klein deel gevorm van die kritieke massa wat die organisasie in die internasionale gemeenskap kon skep om – saam met ʼn reeks ander faktore – druk te kon toepas op die regering sodat regeringsmag oorgehandig is en verkiesings kon plaasvind.

Die Suid-Afrikaanse diaspora het nou wéér so ʼn politieke betekenis. Dit is veral die geval vir Afrikaanse- en Afrikanerbelange. Statistiek wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) in 2018 gepubliseer is – wat gebaseer is op statistiek van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) uit 2015 – dui aan dat 551 043 Suid-Afrikaans gebore emigrante nou in die Verenigde Koninkryk, Australië, Nieu-Seeland, die Verenigde State van Amerika en Kanada woon. Dit is onduidelik hoeveel van hierdie emigrante wit en Afrikaanssprekend is, maar soos verduidelik word in die 2018-verslag van die SNI-demografieprojek ken ampter elke wit Afrikaanssprekende in Suid-Afrika “iemand uit sy bevolkingsgroep wat wel geëmigreer het”. Nou, met die nadelige effek van die voormalige Zuma-administrasie, volgehoue staatskaping, die verval van infrastruktuur en politieke strukture op provinsiale en munisipale vlak, asook die landelike veiligheidskrisis, kan ʼn mens nie anders as om ʼn aanname te maak dat emigrasie in die afgelope tyd dalk verder toegeneem het nie.

Gaan ʼn Afrikaner-diaspora groter word?

Met die nuwe wetgewing vir belasting op buitelandse inkomste van Suid-Afrikaners wat in Maart 2020 in werking tree, is daar die verdere moontlikheid dat nóg meer wit Afrikaanssprekendes wat trekarbeiders geword het en internasionaal werk juis omdat daar nie vir hulle werkgeleenthede tuis is nie, ook sal emigreer of ten minste finansieel sal emigreer.

Finansiële emigrasie sal tot gevolg hê dat hierdie trekarbeiders ʼn permanente woonadres buite Suid-Afrika het. Emigrasie weens veiligheids- en finansiële redes kan gesien word as ʼn tipe selfopgelegde ballingskap, waardeur ʼn persoon of ʼn familie maklik bande met ʼn gemeenskap, taal en kultuur kwyt is.

Maar daar iets wat gebeur in die kollektiewe bewussyn van ʼn groep mense as die individue in daardie groep besef dat hulle in ballingskap is. Die verlies van die land en die kultuur wat jy ken is té groot om nie daarna terug te hunker nie. Dit beteken dat daar ʼn groeiende groep mense in die internasionale gemeenskap is wat ook Afrikaanse- en Afrikanerbelange op die hart dra en wat kan bydra tot internasionale skakeling om minderhede in Suid-Afrika te beskerm. Dit vereis van ʼn Afrikanerminderheid om dieper te reflekteer oor selfopgelegde ballingskap en diaspora-politiek.

In die apartheidsmuseum in Johannesburg is ʼn aanhaling van Salman Rushdie op ʼn bord in een van die museum se uitstalkamers: “Ballingskap is ʼn droom van ʼn glorieryke terugkeer. Dit is ʼn eindelose paradoks: om vorentoe te kyk deur altyd terug te kyk.”

Dit is ʼn onwaarskynlike plek om ʼn aanhaling te sien wat soveel betekenis vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes vandag het, maar dit weerklink met die nuwe tydperk waarin ons nou is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alida Kok

Alida Kok is ʼn dosent in politiek aan Akademia. Haar mening is nie noodwendig dié van haar werkgewer nie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Pickering ·

So die diaspora van duisende jongmense (deesdae selfs meer swart as wit..) is “selfopgelê”? En die oplossing moet by die oorsaak van die probleem gesoek word (terwyl ons dan die ANC in die 80’s se voorbeeld moet volg, moet ons dan sommer ons interne teenstanders “necklace”?). Lyk vir my eerder na ‘n stuk selfopgelegde masochisme

Kallie ·

Oor 20 jaar sal hier nie veel wees om na terug te keer nie. Twyfel of die hunkering na taal en kultuur sal help.

Jerry ·

Afrikaners wat die buiteland hul nuwe tuiste gemaak het is alles behalwe in ballingskap. Daar bestaan nie n hunkering om terug te keer na SA nie, maar n hunkering en strewe na iets nuuts, iets beter, iets lewensvatbaar, iets vir die nageslag sonder die bagasie van SA. Natuurlik is daar simpatie en empatie met diegene wat nie kan emigreer nie en hulle sal gehelp word waar daar gehelp moet word, maar wat mense moet besef is dat jy jou eie bed opmaak en dat dit jy is wat in daardie bed slaap, niemand anders nie. Wat die witmens in SA aanbetref is die realiteit die volgende “white man, you are on your own”! Dit gaan nie help om onrealistiese verwagtinge te koester by witmense mbt hulp vanuit die buiteland nie. Daar bestaan in die oe van die wereld n hemelsbree verskil tussen die onderdrukking van n meerderheid, teenoor die onderdrukking van n rassistiese wit minderheid en hoe gouer julle dit besef hoe beter is dit vir almal se gesondheid! Daarom is dit ook so belangrik dat mense soos Steve en sy hanteerders moet ophou om nog meer skade aan te rig aan die beeld van witmense in SA.

Andreas ·

Selfopgelegde ballingskap …. lees dan weer die artikel.

marco polo ·

Raakgevat, Alida. Ek is een van die bannelinge, al vir die afgelope sewe jaar. Ek wil nie en kannie emigreer nie, en ek bly n volbloed Afrikaner. Die probleem kom wanneer jy teruggaan na SA, soos wat ek gereeld doen. Jy sien hoe al die paddas al nog meer gekook is en die neerslagtigheid en pessimisme is om van te huil, om nie te praat van die verwoesting en doodslag wat jou elke keer begroet nie. Ek wil nie die res van my lewe in die buiteland bly nie, maar tensy daar iets drasties gaan gebeur en daar n staat kom vir beskaafde mense, raak dit al hoe moeiliker om myself te oortuig om terug te gaan…eendag.

Gideon ·

Briljante denke uit Akademia, ons eerste Afrikaanse privaatuniversiteit! Dankie! En so bly Maroela Media plaas dit! Behoudende Afrikaners volg nie meer Netwerk 24 nie. Hul denke kom nog uit die ou, muwwerige staatsuniversiteite.

John ·

Ongelukkig droom mense oor was-gewees-tye. Ons in Suid-Afrika ervaar dalk meer heimwee as mense elders want ons moet daagliks beweeg tussen die niks van nou en die geheue wat outomaties inskop. Selfs dit wat 15 tot 20 jaar gelede nog redelik beskaafd en ‘normaal’ gefunksioneer het, is verbuig, nee, vervonkfaai, tot ‘n stinkende hoop van onbeskryflike… Diegene wat van ver na RSG geluister het om die siel te sus, sug nou en soek eerder stilte, wat die dood is genadiger…

Deon ·

Die droom dat ons iets groots in Afrika kan doen is verby. Ons het ons deel gedoen. Nou moet ons aanbeweeg. Werk aan planne om ons in beskaafde lande te vestig. Met al die mooi stories word die lyding net uitgestel.

Francois F ·

Uitstekende artikel Alida. Ek is n besigheidsman en reis gereeld oorsee en het ook buitelandse beleggings. Eks baie optimisties oor die Afrikaner asook oor Afrika! Ons sal nie emmigreer nie. Ons land het groot probleme maar as jy jouself reg posisioneer wag daar massiewe geleenthede. Ek dink waar jy dalk effe verkeerd is, is om te noem dat weens minderheidsbelang is dat minderhede vasskop teen die regering. Die waarheid is, die ANC kon hul eie stryd nie self ordentlik voer nie, hul kon eintlik nog niks ordentlik deurvoer nie en het massiewe hulp van buite af gekry. Hul beleide was nog altyd sleg vir hul mense en eintlik is net n handjievol verryk. Enige teëstand teen die regering is eintlik goed vir amal. Dis waar die Afrispora (Afrikaners in diaspora) kan help.

Kobus ·

Indien jy wil lewe soos die destydse Hollandse setlaars in Java is ek met jou. Bou jou sakeryk op en geniet die lewe, maar moenie te veel terug verwag nie. Stuur jou kinders oorsee vir opleiding, waarna hulle terugkeer om verder aan die familie se sake belange in Afrika te bou. Dink op jou voete en wees die regeerders ‘n paar treë vooruit. Gebruik jou invloed om politici te beïnvloed, tot jou eie voordeel. Ongelukkig sal die meeste van jou volksgenote agterbly in die proses. Hulle sal nie werk kry nie, want almal is nie natuurlike entrepeneurs of sakemense nie. Vir hulle sal dit beter wees om te skuif om hul drome elders uit te lewe. Eventueel gaan jy wat bly maar redelik eensaam wees.

Expat ·

Terug keer? So simpel is ek darem nie. Daar is niks om na terug te keer nie, die land wat ek lief gehad het is nie meer daar nie.

Oom Doug ·

Expat,
Jy het die spyker op die kop geslaan.
Suid Afrika is nie en sal nooit wees wat hy was nie. Dis so sad.

Henry ·

Die ANC se kommunikasie veldtogte in die buiteland het vanaf die vyftiger jare, tot ‘n hoogtepunt in die negentiger jare, grootliks tot hul suksesvolle oorwinning in 1994 gelei.

In hierdie proses het hulle die kennis en ervaring van die hoogs bekwame en doeltreffende propaganda meesters van die destydse USSR, asook van die destydse Oos Duitsland (DDR) geniet.

Die resep was eenvoudig en onmiddelik suksesvol in ‘n wêreld waar nuwe vryhede van die historiese ‘onderdruktes’, voorrang geniet het. ‘n Algemene ‘skuldgevoel’ is destyds deur die ANC se Marxistiese meesters moeiteloos onder die voormalige Koloniale state se stemvee gekweek.

In hierdie proses het die ‘bose’ Apartheidsbeleid, die arme ‘vryheidsvegters’ soos Mandela en andere se gevangeneskap, betogende skoliere wat in Afrikaans onderrig, geskiet en onderdruk word, werkreservering, paswette, tuislande en nog ‘n jille boel ander verdoemende ‘vergrype’, het gratis en verniet oorgenoeg materiaal verskaf om die Apartheidstaat as die muishond van die wêreld te skep.

Tot tyd en wyl ons die verwoestende vergrype wat onder leiding van die huidige regime plaasvind en tot die finale vernietiging van hierdie staat lei, onder die aandag en uiteindelike besef van die buitewêreld bring, in die hoop dat hulle sal help om die land en sy regeerders tot hul sinne te bring, is dit koebaai meraai.

Is maar hoe dit is.

Jimmy ·

Die dag wanneer swart mense teen die ANC opstaan en verandering deur geweld eis, dan sal die buitewêreld kennis neem en reageer, veral as die bloed begin vloei. Verandering sal nie by die stembus gebeur nie, want in Afrika werk dit nie so nie. Afrikaners sal net toeskouers wees, en moet fyntrap om nie slagoffers te word nie.

Henry ·

Soos ons voorvaders wat die moed gehad het om na hierdie mees suidelike punt van ‘n donker, onbekende en agtergeblewe vasteland te verhuis, in die hoop dat hulle ‘n beter toekoms tegemoet gaan, is dit in ons bloed om dieselfde waagmoed en deursettingsvermoë te gebruik om na ‘n beter en meer aanvaarbare heimat te verskuif.

En niemand of ideologie sal ons keer nie!!!

Dirk ·

Die skrywer is nog te jonk om te weet dat in die meerderheid van egskeidings is dit finaal oor en verby. Mense wat tot daardie punt gevorder het om van SA te skei, is nie n uitsondering nie, hulle is eerder die reel, hulle skei en dit is finaal!

Fanie ·

As hierdie briljante artikel verteenwoordigend is van die vlak van akademiese denke by Akademia, is julle ver voor die openbare universiteite. Baie geluk!

Kuhgirl ·

Die alewige uitkryting van mense wat emigreer as “hensoppers” en “hanskakies” maak mens baie minder geneë om die breër Afrikanergemeenskap in SA se saak te ondersteun om nie eens te praat van aktiewe politiese steun te verleen in die buiteland nie. Daarom ondersteun ek my familie en vriende (wat nie hierdie houding inneem nie) sovêr ek kan, en vir die res, doen so voort en brand brûe met emigrante in die buiteland. En ja, almal is nie so nie maar daar is genoeg en die wat nie so is nie bly grootendeels stil wanneer sulke opmerkings gemaak word.

Chris ·

Nie nodig om te veralgemeen nie. Baie waardeer jul insette.

Müller ·

Die argument oor “self opgelegte ballingskap” is in werklikheid aanvegbare rhetoriek, dalk nuttige… maar tog aanvegbare rhetoriek in die geval waar daar nie bewys kan word dat die Afrikaner diaspora hulleself regtig as ballinge sien nie… Die verklaring dat Afrikanerskap te diep gewortel is om sommer net op te sê moet krities/onpartydig ondersoek word en gaan dalk nie geldig wees nie, as gevolg van vele volk vernietigende ander faktore. Ek hoop opreg dat die rhetoriese stellings het ‘n grondslag in die realiteit.

Stephan de S ·

Uitstekende artikel……sal nou met nuwe oë Alida se artikels in ander media volg. Dankie vir hoop en perspektief…….vir diè wat bly en diè wat gaan.

Kobus ·

Müller, jy het ‘n punt beet. Net behoorlike navorsing onder Afrikaner emigrante sal die begrip “self opgelegde ballingskap” definieer en vaspen. Ek ken hordes Afrikaners wat in in die buiteland woon. Almal voer aan hulle is daar vir professionele redes, kommer oor persoonlike veiligheid hier, en beter geleenthede vir hul kinders. Hulle kommer oor SA is beperk tot die fisiese welstand van familielede wat agterbly, niks meer nie. Hulle bou ‘n nuwe lewe en het aanbeweeg.

Piet Pompies ·

Net jammer vir die jongmense wat in die afgelope 25 jaar gebore en opgegroei het, het die abnormal die normaal geword. Swak of geen dienslewering, gesondheidsdienste , polisiering ens word nou as normaal beskou want ons weet nie van beter.

Vlakvark ·

Ons lewe kortstondig in ‘n aardse tent. Besluit waar, wanneer en hoe jy jou talente wil aanwend tot eer van jou Skepper. Is jy ‘n waardige handelsmerk van jou Skepper? Alle ander dinge in hierdie lewe is van minder belang, hetsy in Suid-Afrika of elders.

Afr!ka Gem#rs ·

Ons is op pad om te emigreer. Ons patriotisme vir SA is nul. Ons voel niks vir die mishoop nie en ons wil die hool en sy siek samelewing nooit weer sien nie.

Chris ·

Ek ken emigrante wat nie kan wag om terug te kom indien omstandighede verbeter het – (for better or for worse). Die gras is nie net groen aan die anderkant nie.

Kallie ·

Goed jy gebruik die frase “indien omstandighede verbeter het”, want dit is die kruks van die saak. Slegte nuus, dit gaan nie verander nie.

Jerry ·

Solidariteit/Afriforum/Steve moet nie Jimmy se kommentaar om maar lig te trap, te ligtelik opneem nie. Die verskillende Suid Afrikaanse volkere en faksies gaan mekaar tog uiteindelik met getalle, totale verval en vergelding verswelg, diegene wat in hulle pad kom ook!

Felix ·

Maar jy IS ‘n pessimis, veral as dit gaan oor die wat die veil vir die Afrikaner het. As jy kyk waar Solidariteit en Afriforum net 5 jaar gelede met hul projeke gestaan het, en jy kyk waar staan hulle vandag!

En veronderstel nou ‘n persoon met die van Visser, was aan die hoof van Solidariteit?

Müller ·

Ek dink die wêreld is tegnologies gesproke “klein genoeg” en vliegtuie kan gou daar kom…
So as ons nog suksesse soos die Nederlandse parlement se opdrag wil sien moet ons dit bestuur van uit die Suid-Afrikaanse geledere wat werklik ‘n onverruilbare belang by hulle plek hier het.
Die Afrikaner diaspora het klaar hulle grootste belange verruil en sit dalk met ‘n baie klein/krimpende emosionele nalatenskap wat vir nou onverruilbaar is.

Annie Webb ·

Kan nie oor algemene tendense praat nie, maar in my vriendekring lyk dit asof jou aanpassing anderkant grootliks afhang van of jy iets van persoonlike betekenis vir jouself agterlaat. Twee enkellopende vriendinne wat agter enigste kinders aan Aus en NZ toe is, kyk nie terug nie. Weduwee-vriendin wie se drie kinders almal ver is, is bitter eensaam hier met net nog een suster. Ander getroude vriendin met twee seuns suksesvol en gelukkig oorsee en een ouer en broers in Namibië hou haar opsies oop. Vir my lyk dit of bloedbande belangrikste is, nie taal of kultuur nie. En die kinders wat uitwyk, is uiters suksesvol en gelukkig, gewoonlik met ‘n gesin.

Kobus ·

Ek is 100% met jou. Familiebande is en bly die belangrikste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.