Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die Bybel hoor

Deur prof. Alwyn Swanepoel

bybel-lees-blaai-hand

Foto: Rod Long/Unsplash.com

Hoe praat die Woord van God oor God en hoe word Hy aangespreek? Veral die metafore behoort nagegaan te word, aangesien hulle wat God as vroulik wil aanspreek, beweer dat dit tog reeds in die Bybel voorkom of ten minste geïmpliseer word.

Wat die Woord leer oor metafore vir God

Prof. PJ de Bruyn se gewaardeerde werk, Die Tien Gebooie, help ons om beter sin te maak van die gebruik van metafore oor God. Dit is insiggewend dat prof. De Bruyn die bespreking van die metafore van God onder die tweede gebod laat val wat spesifiek oor eiewillige godsdiens handel.

De Bruyn wys daarop dat God homself in taal en woordbeelde openbaar. Dit verbaas ons dus nie dat die Woord van God deur “metaforiese veelsydigheid” gekenmerk word nie: “God is immers in alle opsigte so onuitspreeklik groot en verhewe dat daar nie anders as met simbole en vergelykings oor Hom gepraat kan word nie. Dit is egter geen probleem nie, as daar maar net altyd onthou word dat God nie identies met die simboolanalogie is nie en dat sy wese so uniek is dat dit uitstyg bo alle metafore …”

De Bruyn onderskei tussen menslike (manlik sowel as vroulik), dierlike en stoflike metafore: “Wat die manlike metafore betref, kom behalwe die beeld van die vader (vgl. Deut. 32:6; Jes. 64:8; Matt. 6:9, 32) ook die beeld van die herder (vgl. Ps. 23; Eseg. 43; Joh. 10:1; 1 Petr. 2:25; 5:4) en die beeld van die koning (vgl. Rigt. 8:23; 1 Sam. 8:7; Ps. 44:5, ens.) dikwels in die Skrif voor.

Wat die vroulike metafore betref, word daar dikwels in die Skrif na God verwys met die beeld van die moeder (vgl. Deut. 32:18; Jes. 42:14; 49:14-15; 66:13). In die Nuwe Testament word Hy in Lukas 15 nie net vergelyk met die herder wat sy skaap soek en die vader wat twee seuns het nie, maar ook met die vrou wat die muntstuk soek (vgl. Mt. 23:37). In die Bybel word verdere beelde uit die dierelewe (leeu, beer, arend, ensovoorts) en ook uit die stoflike wêreld (son, fontein, bergvesting, ensovoorts) gebruik en op God toegepas. ’n Bepaalde aspek van Christus se optrede, naamlik sy wederkoms, word selfs vergelyk met dié van ’n dief (Matt. 24:43; 1 Thess. 5:2; 1 Petr. 3:10).”

De Bruyn se gevolgtrekking is dat “nie ’n enkele metafoor in die Skrif ten doel [het] om alleen die volheid van God se deugde en die geheel van sy optrede te verduidelik nie. Die verskillende metafore sluit mekaar gevolglik nie uit nie, maar vul mekaar aan sodat God Homself terselfdertyd met behulp van al die metafore aan die mens openbaar… God is dus terselfdertyd vir die mens soos [eie beklemtoning] ’n vader, ’n moeder, ’n koning, ’n herder, ’n arend, die son, ’n fontein, ’n bergvesting, ensovoorts.”

In die lig van die huidige debat is daar egter ’n paar sake wat bygevoeg moet word. Dit is veral belangrik dat ons daarop sal let dat, hoewel God dikwels deur verskeie metafore en vergelykings in die Bybel beskryf word – die beeld van moederskap ingesluit (let wel: dikwels as vergelyking en nie as metafoor nie) – Hy nooit as Moeder aangeroep of so genoem word nie. Dit behoort ons tog definitief te laat nadink, aangesien God selfs “my bergvesting” genoem kan word (vgl. Ps. 91:2; 2 Sam. 22:2). Soos die Skrifopenbaring ontvou, waar God eintlik in die Ou Testament nog net sporadies Vader genoem word (ongeveer 20 keer), vermeerder (ongeveer 250 keer), verdiep en verinnig hierdie vaderbeeld in die Nuwe Testament tot selfs by die punt dat ons hoor dat die Heilige Gees ons “Abba Vader” laat roep (vgl. Gal. 4:6). Dit is duidelik dat daar hier ’n grens is wat nie oorgesteek word na “Moeder God” nie.

Wat is ons reaksie?

Wanneer die Here Jesus ons die “Onse Vader” leer bid (vgl. Matt. 6) en selfs kan verklaar dat Hy die Naam van die Vader aan sy dissipels bekendgemaak het (vgl. Joh. 17:1, 26) en self ook God as “Abba Vader” en “Vader” voor en aan die kruis aanroep (vgl. Mk. 14:36; Luk. 24:34), is daar eintlik net een vraag wat oorbly: Wat is ons reaksie op die Bybel as Woord van God? Tradisioneel bely ons dat die gesag van die Skrif direk en volstrek is. As die Bybel dus nie ’n bepaalde grens in die aanspreek en aanroep van God na vroulike aanspreekvorme oorsteek nie, dan behoort ons onsself daardeur te laat lei.

Hierteenoor is die enigste opstandige, dog vervelige, alternatief om te probeer om die beelde van die Skrif op een of ander wyse te relativeer. ’n Kenmerkende skuif is om te beweer dat die konteks (wat deur mans oorheers word) waarin die Bybelse teks ontstaan het, aangepas moet word by die hedendaagse lewe. Hiervolgens is die beelde van die Bybel dan net woorde oor God in ’n bepaalde tyd en kenmerkend van ’n patriargale kultuur. Aangesien ons hedendaagse leefwêreld en kultuur anders is, behoort ons daarom op dieselfde manier nuwe name te kan bywerk wat by ons tyd pas. Die probleem hiermee is egter dat so ’n verklaarder tipiese moderne vooroordele openbaar. Die gesag van die Skrif teenoor die gesag van die eie tyd, die geheel van die Skrif asook Skrif-trajekte, Skrif-patrone en kerkworstelinge van die verlede, word byvoorbeeld nie in ag neem nie. So word eintlik dan begin om presies dit te doen wat die tweede gebod verbied: Om God na eie goeddunke aan die hand van eiewillige kultuur-gekondisioneerde oortuigings te aanbid.

’n Basiese uitgangspunt in eiewillige godsdiens is dat godsdiens eintlik maar grootliks ’n funksie van kultuur is, maar die teenoorgestelde is eerder waar: Kultuur is die funksie van godsdiens. Die probleem ontstaan daarom juis wanneer kulture een of ander afgod of afgode in die sentrum reflekteer en die kerk van Christus daarin wil insuig.

Die gevolge van ons keuse

Diegene wat bly vashou aan die gesag van die Skrif, vind vinnig twee gevolge wat dit vir hulle duidelik maak waarom dit belangrik is om aan die grense van die Bybel te hou wanneer ons na God verwys en Hom aanroep.

Eerstens wys selfs ’n liberale godsdienshistorikus soos Elaine Pagels daarop dat die opsigtelike afwesigheid van sentrale vroulike simboliek oor God in Judaïsme en die Christendom opmerklik is, selfs te midde van omringende kulture soos Egipte, Babilonië, Griekeland, Rome en Afrika. Sy vind die teendeel juis in die gnostici wat in reaksie gekom het teen Christene se algemene denkbeelde.[1] Pagels wil daarom eerder na die gnostiese tradisie wat deur die kerk afgewys is, gaan kyk. Dit is presies die geval in dit wat die sogenaamde Nuwe Hervorming onlangs in ons land openlik begin doen het. Om dit nou net in ’n ligter vorm voort te sit, is nie die oplossing nie. Daar is ’n grens is wat nie oorgesteek word in die Bybel self wanneer direk na God verwys word of wanneer Hy aangeroep is nie. Dit staan juis teenoor heidengodsdienste wat sentrale vroulike simboliek vir God betref.

Bybelse beelde en metafore is dikwels van mekaar afhanklik of bou op mekaar. As God nou ook as moeder benoem en aangeroep word, wat doen ons met die sentrale beeld van bruidegom en bruid in die Skrif wat hierby aansluit? Deur hierdie sentrale beelde maak God juis bekend hoe ons Hom moet aanroep, en wat ons moet respekteer. Dink maar weer aan die “Onse Vader” en aan 2 Korintiërs 6:18: “… en Ek sal vir julle ʼn Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”

Juis daarom is dit so belangrik om raak te sien dat die Bybel, in onderskeid van die heidengodsdienste, juis nie sekere grense oorsteek nie. Dit behoort ons weer diep te laat nadink oor wat die klassieke belydenis oor die Woord van God vandag nog vir ons inhou: dat dit gesag dra, duidelik, genoegsaam en noodsaaklik is.

  • Hierdie is ’n verkorte weergawe van die oorspronklike artikel. Lees gerus die volledige artikel op die AP Kerk se webtuiste.

Lees gerus die eerste artikel in die reeks van vier, hier.

[1] Pagels, E.H. 1976. “What Became of God the Mother? Conflicting Images of God in Early Christianity”, in Signs, Vol. 2, No. 2 Gepubliseer deur The University of Chicago Press. p. 293-303.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Ag nee wat dominee, dis ou nuus. Was u by u see-gemeente op die strand besig toe die twak-storie gebreek het?

VaalDonkie

Mense hou hulle besig met twak. As Jesus vir ons leer om Hom “Vader” te noem wanneer ons bid, dan is dit klaar, oor en verby. Of God soos ‘n man lyk, weet ons nie. Maar ons spreek Hom aan as Vader want dit is hoe ons geleer is. En jy volg you eie dwaalleer as jy anders dink.

Zel

Kom ons gebruik ons gesonde verstand en dink vir onsself:
As God ‘n vrou was sou Hy self vir Jesus gebaar het en hom aarde toe gestuur het op ‘n wolk.

Anton

Is God soewerein of nie? Of sal ons vir God mooi vertel wie Hy regtig is! God het die mens geskape met twee geslagte – ‘n man en ‘n vrou. En dan het Hy, in Sy openbaring van Homself aan ons deur Sy Woord, Hom geopenbaar in die manlike aanspreek vorm. Paulus verduidelik dit as volg: die man is die beeld en die glorie van God en die vrou is die glorie van die mens (1 Kor. 11:7). Jou god is dalk ‘n vrou, maar dan is sy ook ‘n skyngod wat nie weet hoe haar skepping inskakel by en… Lees meer »

Drikus

Trotsheid is een van die hedendaagse grootste sondes. Ek hoop Prof. Kobus Kok wat verskonings soek vir ds. Melanie Thirion, en gou is om die skuld op gewone Christene te wil pak vir ons sogenaamde “projeksies” kan uit die bogenoemde stuk vermaning ervaar en nederig die knie voor God buig en erken hulle is skuldig en besig met ‘n eiewillige godsdiens.