Oor verwysings na God as vroulik: Wanneer ons die tydsgees hoor

Deur prof. Alwyn Swanepoel

Bybel

Argieffoto.

Daar is vandag twee groot maniere waarop geloofsvrae beantwoord en teologie beoefen word. Óf in kontinuïteit óf in diskontinuïteit met die Kerk van die eeue.

Diskontinuïteit met die tradisie

Daar is nou al ’n paar dekades lank sogenaamde teoloë in ons land wat skynbaar op die skouers van die Kerkgeskiedenis wil aftrap om heeltemal nuwe dinge te sê wat nog nooit gesê of gedoen is nie. Alles van die verlede moet bevraagteken word, behalwe natuurlik die ondervraer self. Dit lyk selfs of sekere leiers in die kerk vandag hul eie weergawe van die kanselleerkultuur het.

Dit hang ook saam met ’n bepaalde verstaan van wat reformasie nou eintlik beteken. Dit is dat die sogenaamde “nuwe” wat Christus bring, so totaal nuut is dat dit in die verlede onvoorstelbaar was. Om die Kerklike beslissings en uitsprake van die verlede eintlik in wese te kanselleer en met iets totaal nuut te vervang, verteenwoordig klaarblyklik vandag hierdie “onvoorspelbare” werking van die Gees. Dit is baie duidelik dat so ’n benadering ’n opvatting van diskontinuïteit met die verlede vertoon wat soms op Gnostiese wyse verdoesel word met woorde soos “oortreffing van die verlede” (transcending the past). Die feminisme is ’n goeie verteenwoordiger van hierdie benadering.

As beheersende idee, het die feminisme die grond voorberei vir die feit dat selfs die begrippe Vader, Seun en Heilige Gees nou as seksisties beskou word. Aangesien God mos Gees is, is daar volgens hierdie opinie nou ruimte om ou opvattings te “reformeer” as deel van die werk van die Gees wat totaal nuwe dinge doen. In hierdie gees van diskontinuïteit word daar dan ook graag gebruik gemaak van die gelykstelling (egalitarisme) en die relativering (postmodernisme) van ons tyd.

Dit is duidelik dat ’n volbloed feministiese benadering maklik in die teologie vandag ’n baie kritiese funksie teenoor die verlede sal inneem, tot op die vlak van die benaming van Vader, Seun en Heilige Gees. Gesonde kritiek is natuurlik ’n goeie ding, maar sluit tog in om ook op jouself en jou eie tyd krities te wees. Kritiek gebeur altyd aan die hand van een of ander bewuste of onbewuste standaard en aannames. Dit is egter wat ’n mens so besorg laat, aangesien dit toenemend blyk dat die New Age Beweging (NAB) die toon in standaarde aangee.

Hiervolgens is ons nou uit die vis-tydperk van die Christendom waar die manlike oorheersend was. In die waterdraer-tydperk tree die vrou nou volgens hierdie siening na vore en moet ons dit as die vroulike tydperk beskou. Prof. Paul de Bruyn, wat voorheen reeds genoem is, wys daarop dat die NAB teenoor die Christendom stelling inneem en beweer dat dit ’n manlike godsdiens is wat rondom God die Vader en God die Seun sentreer. Hierteenoor verkies die NAB ’n godsdiens waar “God die Moeder” en “God die Dogter” in die sentrum staan en waar alles “vroulik”, “sag” en “liefdevol” moet wees.[1] So word dit duidelik watter vaarwater bewus en onbewus betree word wanneer daar diskontinuïteit met die Christen-verlede is.

Die klassieke teologie daarenteen, ag die kontinuïteit met die verlede hoog. Eintlik is dit bloot ’n besondere toepassing van die vyfde gebod. Kontinuïteit met die tradisie beteken gewoon dat erken word dat Christus se heerskappy nie onttroon gaan word nie en dat die Gees reeds lankal kragtig werksaam is en met dankbaarheid kan voortgebou word op dit waarmee God besig is.

Kontinuïteit met die tradisie

Kontinuïteit beteken nie ’n klakkelose herhaling van die verlede nie. Dit beteken wel dat daar simpatiek-krities en dankbaar op die verlede voortgebou word, met inagneming van die permanente dinge wat ons vaders en moeders moontlik beter as ons ingesien het. Daar is by moderne mense die neiging tot chronologiese snobisme, soos wat CS Lewis dit by geleentheid uitgedruk het, en dit word nog altyd in die klassieke teologie afgewys.

As iemand wat kontinuïteit met die tradisie ernstig opneem, het Rebekah Merkle in 2016 ’n publikasie die lig laat sien met die titel: Eve in Exile and the Restoration of Femininity. Hierin wys sy daarop dat daar in die sogenaamde goeie orde van die 1950’s reeds probleme in konserwatiewe huise was. Merkle staan nie bloot ’n ontvlugting na die 1950’s voor nie. Sy propageer ook nie die oplossing van die sogenaamde status quo ante nie (opsoek van die vorige bekende status quo). Sy identifiseer eerder die vroeëre wortels van die feminisme tot vroeg in die 1800’s van die moderne era en let dan op die uitgroei daarvan.

Merkle is nie geneë met blote konserwatiewe waardes nie. Sy stel dat vroue in die 1950’s reeds verveeld met konserwatiewe waardes was en al toe reeds nie geleef het uit die volheid van die Skrif nie. Sy toon egter ook aan hoe die feminisme die probleme net vererger het en wys veral op die aborsieprobleem wat daardeur gestimuleer is. Sy blameer ook die feminisme vir die gay- en transgenderagenda. Sy sluit haar werk egter positief af deur riglyne daar te stel waarmee vroue vandag voluit kan leef. Deur egte reformasie kan vroue dinamies herontdek wat die implikasies is vir konsepte uit die Bybel soos medebeheersing van die aarde, vrugbaarheid in elke onderneming, helper in nood, en verheerliker van projekte.

Joyce Little, reeds in 1995 die skrywer van The Church and the Culture War, se gedagtes sluit op interessante wyse reeds hierby aan. Little wys onder meer, op die mag, outoriteit en politiek van taal. Die implikasie is dat heersende strome soos die taalwending en die feminisme ook in politieke en magsterme beskou moet word. Die bekende George Orwell van Animal Farm en 1984, het al gewys op die krag wat herdefiniëring speel. Om vandag te begin praat van ons “Moeder God” het definitiewe gevolge, ook in die uitoefening van mag oor ons Godsbeeld.

Little gaan ook spesifiek in op die heerlike waarheid van God as Vader. Op geheiligde wyse laat Little ’n mens besef wat gebeur met ons nadenke wanneer dit gebonde bly aan die Skrif en gesonde tradisie. Sy wys daarop dat die beeld van Vader suggereer dat Hy van buite af tot sy wêreld toetree. Juis daarom is die beeld van Moeder nie sentraal wanneer ons God aanroep nie, aangesien die moeder gedurende swangerskap biologies met die kind verenig is, terwyl vaders fisiek van buite af toetree tot die vader-kind-verhouding.

Wanneer daar saam met hierdie gedagtes van Little ook die sentrale beeld van bruidegom en bruid in oënskou geneem word, versterk dit ’n bepaalde Godsbeeld. Met betrekking tot God is alle gelowiges immers vroulik in dié sin dat hulle deel van die bruid van Christus is. Uit die Skrif en tradisie is dit duidelik dat God gelowiges se Vader en hul eggenoot is, eerder as ons moeder of eggenote. Die waarde van die kerk as moeder behoort hiermee saam ook herontdek te word. So het ons met definitiewe Godsbeelde tot op die vlak van aanroeping te make wat uit die Skrif verdedig kan word en wat teenoor baie heidengodsdienste staan.

Ten slotte

Dit is insiggewend om raak te sien dat daar in ons tyd ’n toename is van mense wat hulle geslagtelikheid as “vloeibaar” beskrywe. In so ’n geestesklimaat sal daar ook graag daarmee saamgegaan word om God ook so te beskrywe. Dit bevestig die feit dat dit belangrik is om by die grense van die Skrif te bly. As ons nie staan vir enigiets nie, val ons vir alles en dit is duidelik dat dit eerder die heilige tydsgees is wat sulke stellings oor “vloeibaarheid” begelei. Die konnotasie van vloeibaarheid met die postmodernisme is net te opmerklik. Daarom is dit belangrik dat die teologie baie bewus sal wees van die tydsgees waarin sy, let wel, haar getuienis lewer.

Die konsekwensies hiervan behoort ons diep te laat nadink oor wat die klassieke belydenis van die Woord van God vandag nog vir ons beteken: dat dit gesagvol, duidelik, genoegsaam en noodsaaklik is. Wanneer ons met nuwe veerkrag in ons tred daaraan gehoor gee, word ons nie aan bande gelê nie, maar eerder saam met die Kerk van die eeue in staat gestel om effektief teen die dwaalleringe standpunt in te neem. Ons word deel van die rivier wat definitiewe grense en walle het wat ons kanaliseer om die lewende waters deur droë laagtes te laat vloei.

Laat ons daarom nie bloot stry oor die verwysing na God as vroulik nie, maar laat ons leef uit die werklikheid dat die Seun die Naam van die Vader aan ons geopenbaar het (vgl. Joh. 17:1, 26).

  • Hierdie is ’n verkorte weergawe van die oorspronklike artikel. Lees gerus die volledige artikel op die AP Kerk se webtuiste.

Lees gerus die eerste drie artikels in die reeks van vier, hier.

[1] De Bruyn, P.J. 2013. Die Tien Gebooie. Potchefstroom: PTP, bl. 53.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
maria

Net soos die man die hoof van ‘n gesin is so is God ons Vader die hoof oor sy kinders. Daarom sal dit altyd bly Vader, Seun en Heilige Gees.
As Vader nou ewe skielik ‘n moeder word hoe kan ons dan bruid wees. Want as ons bruid vir ‘n moeder word, maak dit ons nie lesbies nie?
Vir my is en sal dit altyd bly God ons Vader, Seun en Heilige Gees. Sodat ek vir Hom ‘n bruid mag wees.

Phil

Dit strook met soveel ander dinge wat die duiwel in die kerk en in die wêreld probeer doen. God se orde word omgedop en Bybelse waardes word bevraagteken, as oudmodies afgekraak en geskrap. En dan, net om sout in die wonde te vryf, kry hy dit nog reg om miljoene (waarvan baie ewe militant, ewe gedwee of niksvermoedend sy werk doen) te oortuig dat hy nie bestaan nie.

Die tyd raak kort…

jayc

Dis baie belangerik om te onthou dat ons as mense nie ‘n hemelse figuur so groot en almagtig as die Here moet verkleineer met ‘n menslike konsep soos geslag nie. Dit is juis hoekom Hy God is. Selfs al verwys ons na Hom toe as manlik, Hy is nie manlik soos wat ons dit verstaan nie.