Oor Westerse strooipoppe en Islamitiese broedertwis

Rusland-en-Amerika-se-vlag

Argieffoto.

Dit is insiggewend dat die VSA en Rusland onlangs ooreengekom het om mekaar nie per ongeluk aan te val tydens hul onderskeie bomaanvalle op teikens in Sirië nie. Dié twee state kom tegnies teenoor mekaar te staan deur hul steun vir onderskeidelik die Siriese rebelle (VSA) en die regering van die Siriese president Bashar al-Assad (Rusland), maar is versigtig om nie in mekaar se spervuur te beland en ’n moontlike Russies-Amerikaanse konflik te ontketen nie.

Propaganda en die IS

Voordat ons verder kan kyk na die verskillende opponerende magte in die Siriese oorlog en die mag van die sogenaamde Islamitiese Staat van Irak en Sirië (ISIS, ook genoem ISIL, en kortweg bekend as IS), net eers ’n waarskuwing oor propaganda tydens hierdie oorlog. Die VSA het sedert die Arabiese Lente teen Al-Assad in 2011 begin het, verduidelik dat die sogenaamde Vrye Siriese Weermag, bestaande uit gemagtigde weermaglede en pro-Westerse vegters, teen Al-Assad veg. Sedert 2014 het dit duidelik geword dat die Al-Assad-magte se stryd hoofsaaklik teen die IS en ander radikale Moslemgroepe is. Onlangs het ’n senior Amerikaanse generaal, genl. Lloyd Austin, aangedui dat slegs “4 of 5” Siriese opposisievegters opgelei is om teen die IS te veg. Dit is ná $500 miljoen bestee is deur die VSA om sulke troepe op te lei. Die VSA se “gematigde” opposisie in Sirië het dus dramaties in duie gestort of nooit bestaan nie.

Dit wil dus voorkom of die VSA nie meer seker is teen wie hy baklei nie: Al-Assad se weermag, die IS of albei? Ten spyte hiervan het hy ’n koalisie saamgestel waarin heelwat Westerse state (bv. Brittanje en Frankryk) en ook Moslemstate (bv. Saoedi-Arabië, Jordanië, Turkye, Katar en Marokko) lugaanvalle van stapel stuur teen hierdie ongeïdentifiseerde vyand. Rusland, wat self op 30 September begin het met lugaanvalle, beweer op sy beurt dat hy aanvalle net teen die IS-vegters uitvoer en baie suksesvol is.

Van propaganda gepraat, dit is nie seker of die IS wel hierdie sterk opposisiegroep is soos deur regerings en die media beweer word nie. Die IS is blykbaar die nuwe Al-Kaïda, ontslape terroris Osama bin Laden se voormalige organisasie. Al-Kaïda was egter nie ’n gekoördineerde organisasie nie, maar eerder die benaming vir ’n anti-Westerse beweging. Dit is in soveel woorde erken deur die voormalige Britse Minister van Buitelandse Sake, Robin Cook. Cook het bedank uit Tony Blair se kabinet nadat die Britte besluit het om Irak aan te val in 2003. Kort voor sy dood in Augustus 2005 het Cook in ’n artikel in The Guardian geskryf dat Al-Kaïda ’n produk van Westerse Intelligensiedienste is:

Bin Laden was, though, a product of a monumental miscalculation by Western security agencies. Throughout the 80s he was armed by the CIA and funded by the Saudis to wage jihad against the Russian occupation of AfghanistanAl-Qaida, literally “the database”, was originally the computer file of the thousands of mujahideen who were recruited and trained with help from the CIA to defeat the Russians.

Nogtans het regerings wêreldwyd miljarde dollars bestee om teen Al-Kaïda op te tree. Enige terreuraanval is aan Al-Kaïda toegeskryf, van die 9/11-aanvalle in 2001 (wat wel deur Bin Laden goedgekeur is) tot terreuraanvalle in Londen, Spanje, Wes-Afrika en selfs plekke soos Somalië en Indonesië. Dat daar wel tans ’n sterk, erg radikale Islamitiese beweging is wat in Irak en Sirië bedrywig is, is gewis. Maar dat alle terreur wat tans ook in Nigerië, Libië, Frankryk of Australië plaasvind skielik aan die IS-terroriste toegeskryf kan word, is ongegrond. Het ons nie eerder weer te doen met ’n klomp anti-Westerse en pro-Islam-radikale wat min of geen koördinering het en as strooipop deur die Westerse Intelligensiedienste en -media as die nuwe duiwel opgedis word nie? Die punt is dat daar soveel waninligting is, dat die enigste waarheid is dat ons met onwaarhede gebombardeer word. Gaan kyk gerus na die mediaberigte deur verskillende nuusdienste soos CNN, BBC, Al-Jazeera en Russia Today om die vlak van verdagmaking en leuens waar te neem.

Die Soenni-Sjiiete-stryd

Terug by die oorlog in Sirië: hoewel dit nie heeltemal so eenvoudig is nie omdat daar soveel partye en splintergroepe betrokke is, kan die Siriese oorlog nogtans oorhoofs as ’n Soenni-Sjiiete-oorlog gesien word. Die Soenni en Sjiiete is die twee hoofstrome van Islam, dis amper soos Rooms-Katolieke en Protestante in die Christengeloof. Die Soenniete maak ongeveer 80% van die wêreld se Moslems uit en die Sjiiete 20%. Die grootste verskil is dat hulle nie saamstem oor wie die opvolger (die Kalief) van die profeet Mohammed sou wees nie. Die geskil het in die jaar 661, ongeveer 30 jaar ná Mohammed se dood ontstaan. Die twee Islamitiese strome het later self verder verdeel in kleiner splintergroepe. Elkeen het sy vertolking van die Moslems se heilige boek, die Koran. Hoewel die verskille tussen Soenniete en Sjiiete op die oog af klein en onbenullig is, is die twee strome haatdraend teenoor mekaar en dit lei al eeue tot konflik en oorlog, bv. die Iran-Irak-oorlog in die 1980’s.

Iran is die enigste groot Moslemland wat ten volle deur Sjiiete beheer word. Daar is egter ’n meerderheid Sjiiete in Irak, en groterige Sjiiete-minderhede in Sirië (Assad se regering is Sjiiet) en Libanon. Die grootste gedeelte van die chaos ná die Irak-oorlog in 2003 is toe te skryf aan Soenni-groepe wat nie ’n Sjiiete-meerderheidsregering in Irak wou aanvaar nie. Die IS is in hierdie chaos deur Soenni-radikale gestig in 2007.

Die Sjiiete-regering in Sirië word dus deur Iran en Hizbollah (’n Libanese Sjiiete-groep wat in die verlede heelwat terreur gepleeg het) ondersteun. Rusland het hom nou by hierdie Sjiiete-groepering aangesluit en veg nou teen die Soenni-opposisiegroepe in Sirië.

Op sy beurt word die Soenni-groepering, oftewel die Siriese opposisie, wat uit die IS en verskeie ander Islamitiese groepe bestaan, deur die VSA, Turkye, Saoedi-Arabië, Europese state en ander militêr ondersteun. Dis hier waar die probleem lê. Die VSA en sy bondgenote kan nie onderskei tussen “goeie” Moslemvegters en “slegte” Moslemvegters nie. Dit mag selfs beteken dat hulp aan IS-groeperings teen die Assad-regering verleen word, maar dat die VSA en ander self basisse van die IS-groeperings met lugaanvalle bestook!

Daar is nog ander belange en etniese groepe, soos die Koerde, ook betrokke om die onsekerheid en verwarring verder te voer.

In hierdie Siriese oorlog, waarin reeds ongeveer 250 000 mense gesterf het, weet niemand regtig wie is bondgenoot of vyand nie. Daarom word die chaos elke dag groter. Tans lyk dit of die pro-Sjiiete-groepering die botoon voer, veral met die militêre hulp van Rusland en Iran. Die Russiese president, Wladimir Poetin, sal die Sjiiete-regering so lank moontlik beskerm om te verseker dat een van hul bondgenote in die Midde-Ooste nie ook omvergewerp word nie. Aan die ander kant het die VSA se mantra van “regime-verandering” wat eers tot chaos in Irak gelei het en later tot die Arabiese Lente, in ’n nagmerrie ontaard. Soos vele kere in die verlede het die VSA se beheptheid om van diktators ontslae te raak en demokrasie in te stel net tot meer chaos en konflik gelei.

Poetin is besig met ’n strategiese skaakspel in die Midde-Ooste, terwyl die VSA die verkeerde perd opsaal. Poetin het ook ’n sterk vennoot verkry in die Soenni-beheerde Egipte, eens ’n belangrike VSA-vennoot voordat laasgenoemde die Islamiete ondersteun het tydens die Arabiese Lente. As gekyk word na die vernaamste kandidate vir die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2016, lyk dit nie baie belowend dat hierdie strategie binnekort gaan verander nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.