Ooreenkoms vir Universiteit van Pretoria (UP)

Een van Tuks se ikoniese geboue, "Die Skip" Foto: Mike Prins, Wikimedia

Een van Tuks se ikoniese geboue, “Die Skip” Foto: Mike Prins, Wikimedia

Mediaverklaring oor ooreenkoms tussen die volgende partye:

Gauteng provinsiale alliansie en prgressiewe jeugalliansie (PYA) soos volg verteenwoordig:

  1. ANC Gauteng
  2. SAKP Gauteng
  3. Cosatu Gauteng
  4. SSanco Gauteng
  5. ANC-jeugliga Gauteng
  6. Jong Kommunisteliga Gauteng
  7. Sasco Gauteng

 en

Die Solidariteit Beweging, soos volg verteenwoordig:

  1. AfriForum
  2. AfriForum Jeug
  3. Solidariteit

RE: Herstel van ‘n vreedsame, stabiele en volhoubare akademiese program aan die Universiteit van Pretoria (UP)

Ons, die bogenoemde partye, het op 24 Februarie 2016 ’n konstruktiewe, bilaterale vergadering in die Stad Tshwane gehou. Dié vergadering volg op ’n reeks van gewelddadige gebeure wat verlede week tot die betreurenswaardige sluiting van die UP gelei het.

Hoewel die partye bewus is van die feit dat hulle verskillende standpunte oor verskeie sake huldig, is die partye geïnspireer deur die gees van veelpartygesprekke en dialoogpraktyk wat insluitend, deursigtig en breedweg verteenwoordigend is van uiteenlopende denke. Hierdie veelpartygesprekke het ons land histories as beste praktyk gedien om komplekse sake van gemeenskaplike belang tussen verskeie belanghebbendes en partye op te los.

Die partye het daarom saamgestem dat sake van gemeenskaplike belang wat die bilaterale ontmoeting genoop het tot drie kritiese sake beperk kan word, en kom daarom soos volg ooreen:

  • Om intimidasie, ontwrigting, geweld en pogings om die universiteitsgemeenskap op grond van rassegrondslag te polariseer onvoorwaardelik te veroordeel

Die partye het die onlangse vlaag van geweldsaktiwiteite, roekelose en gevaarlike rassistiese retoriek en haat by die Universiteit van Pretoria (UP) opgemerk.

Die partye het opgemerk dat dié agterlike, betreurenswaardige praktyke ook gelei het tot optrede wat lewe en eiendom bedreig het. Dit was bewerkstellig deur opportuniste met geen bewese rekord het van geloofwaardige leierskap en werkbare oplossings waar dit wel vereis word nie.

Die partye het ooreengekom dat die situasie die potensiaal het om die universiteit op grond van rassegrondslag te polariseer en om diepgewortelde griewe te skep wat ’n ernstige gevaar vir die toekomstige stabiliteit en eenheid van die universiteit mag inhou – tensy besliste, strategiese leierskap deur partye op die universiteitskampus geopenbaar word.

Die partye het besluit dat, as deel van hul bydrae om ’n stabiele en veilige omgewing op kampus te skep, hulle alle vorme van intimidasie, ontwrigting en geweld in die openbaar moet veroordeel.

Partye het voorts ooreengekom om ’n omgewing te bevorder wat deur vrede, stabiliteit, ope dialoog en nierassigheid gekenmerk word en waarin alle studente, werkers en ander sektore van die universiteit langs mekaar kan leef sonder om aan enige vorm van lewensbedreiging, liggaamlike leed, rassebelediging, vooroordeel en dwepery blootgestel te word.

Partye het ooreengekom om saam te werk om te verseker dat die universiteit se kampusgemeenskap hierdie waardes en beginsels aangryp om ’n stabiele kampusomgewing vol te hou.

  • Transformasie van die universiteit en die taalbeleid

Die partye het ooreengekom om die breë voortdurende proses van verandering en algehele verbetering van die universiteit te ondersteun en om enige struikelblokke uit die weg te ruim wat toestande en gevoelens van vervreemding deur enige deel van die universiteitsgemeenskap skep.

Die partye het ook kennis geneem van die geskiedenis van ons land waar sommige tale bó ander tale verhoog en bevoorreg is as ’n verlede wat nie herhaal of op enige wyse volgehou mag word nie.

Die partye het ook ooreengekom dat die beste benadering tot die taalkwessie – veral daardie tale wat deur die land se Grondwet gewaarborg en beskerm word – is om op hul ontwikkeling te fokus eerder as om enige van dié tale aan te val of tot niet te probeer maak.

Partye het ooreengekom dat geen taal wat deur die Grondwet beskerm word enigsins bedreig mag word deur misleidende oproepe tot die vernietiging daarvan nie, of enigsins bó ander tale verhoog of bevoordeel mag word nie.

Die partye het ook ooreengekom dat enige proses wat enige taal wat deur die Grondwet erken word op enige wyse raak, geloofwaardig moet wees en gerugsteun deur basiese demokratiese beginsels soos inklusiwiteit, deursigtigheid, wedersydse respek en deeglike konsultasie om die standpunte en wense van alle belanghebbende partye aan te hoor.

Die partye het daarom ooreengekom dat gevoelens van wraak, vergelding en haat nie toegelaat mag word om enige rol te speel in sake wat hoër onderwysinstellings raak nie, veral in die geval van sensitiewe en emosionele aangeleenthede soos tale.

Partye het ook ooreengekom dat enige populistiese, demagogiese, eensydige en ondemokratiese oplossing van die taalkwessie wat intimidasie, ontwrigting en geweld gebruik, onvoorwaardelik verwerp moet word.

Dit is hierdie roekeloosheid en gebrek aan insig en sensitiwiteit wat die patrye se gemeenskaplike en ernstige kommer tot gevolg gehad het.

Die partye het daarom besluit om die UP-bestuur en -raad te versoek om dringend en met onmiddellike effek ’n demokratiese en inklusiewe Transformasieforum te skep as ’n spesiale meganisme om dringende vrae oor transformasie en die taalbeleid op te los.

Die uitkoms van só ’n proses moet die eenheid en diversiteit van die kampus weerspieël.

  • Heropening van die universiteit

Die partye het ooreengekom om te belowe en hulself daartoe te verbind om hul gesamentlike ondersteuning aan die heropening van die universiteit op Maandag, 29 Februarie 2016 te gee.

Die partye het ook ooreengekom om ’n beroep op die UP-bestuur en -raad te doen om hul pligte en verantwoordelikhede na te kom om menselewens en eiendom te beskerm, en om die regte van studente, werkers en ander sektore van die universiteit te waarborg om in ’n veilige omgewing te leer en werk.

Die partye het daarom ’n beroep op die universiteitsbestuur gedoen om die universiteit se reëls en dissiplinekodes af te dwing en hul volle gesag teen enige vorm van intimidasie, ontwrigting en geweld te laat geld.

In hierdie opsig het die partye ooreengekom dat die mag om lewe en eiendom te beskerm, volledig op die skouers van die UP-bestuur en -raad rus (ondersteun deur die Suid-Afrikaanse wetstoepassingsagentskappe).

Die partye het dit as betreurenswaardig en ongelukkig bestempel dat die UP-bestuur en -raad die universiteit gesluit het sonder om enige vorm van aksie te neem teen daardie mense wat dade van intimidasie, ontwrigting en geweld gepleeg het en sodoende die naam van die universiteit in oneer gebring het.

Die partye het ooreengekom om saam te werk om te verseker dat die UP, buiten in uitsonderlike gevalle, nie weer gesluit word nie.

Die partye het ’n beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om die oppergesag van die reg te beskerm en die regte en vryhede wat deur die Grondwet erken word, af te dwing.

Die partye het ook ooreengekom om alle organisasies op kampus te versoek om intimidasie, ontwrigting en geweld te veroordeel en hulself daartoe te verbind om hul pogings te rig om die voorgestelde Transformasieforum te ondersteun. Elkeen moet hulself verbind tot die vind van oplossings wat in die beste belang is van die universiteit, die land en menslike ontwikkeling.

Die partye het laastens ook ooreengekom om ten volle met die bogenoemde sake saam te werk om te verseker dat die Universiteit van Pretoria in diens van die land, die ekonomie en mense in hul diversiteit geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Stefan ·

Wat ‘n niksseggende aaneenvlansing van cliché’s! Lanklaas so n polities-korrekte klomp gemors op een plek gelees. Julle los absoluut geen probleem hiermee op nie.

Pieter ·

Stefan, jou onsmaaklike opmerkings en kritiek, sonder ‘n positiewe oplossing dien geen doel nie. Hierdie partye doen minstens iets aan die saak (al is dit in “Stad Tswane”, wat nie bestaan nie! Dis Pretoria!). Nogtans, baie dankie aan hulle! Indien jy ‘n beter oplossing het, Stefan, deel dit asb met ons onkundiges.

Henry ·

Pieter, die ou is een van ‘n alhoe kleinerwordende groepie wat hulself Afrikaners noem,.
In teenstelling met die suksesse wat Solidariteit en Afriforum reeds behaal het om Afrikanerbelange te beskerm, is sy groepie altoos besig om ander Afrikaner organisasies te beswadder, sonder dat hulleself enige positiewe aksies teen die vyande van Afrikaans loods.
Foeitog
Hulle sal ook altyd met ons wees.
:-)

Disselboom ·

Nugterheid moet behou word in die situasie: na alle kante toe: Stefan is reg oor die clichés; die verklaring is ‘n aaneenryging van wense wat ‘n forum van te veel organisasies met meer name as substansie in sommige gevalle, uitspreek maar waar hulle min mag het in die uitvoering daarvan.

Wat egter nie moet misgekyk word nie, is dat daar nou wel iets gedoen is, en as clichés dan vir die oomblik die middel is om iets van ‘n situasie te probeer beredder, laat dit so wees. Wat wel sorgwekkend is, is dat daar erkenning gegee word aan die valsheid van “eenheid in verskeidenheid” en ander clichés van ene dr Theuns Eloff waardeur die PUK gered sou word, en toe tog besig is om in die rewolusionêre hande te val.

Gideon Roos ·

Ek stem glad nie met jou saam nie, Disselboom. Die PUK kampus is een van die mees diverse kampusse in die land, en ook een van, as indein nie die, kalmste en saamstaande kampusse nie. Ons studente lewe vreedsaam saam en vind krag uit ons diversiteit. Ja, daar is ‘n klein groep mense wat wil moles maak, maar uit ses duisend en meer studente op die PUK, is minder as ‘n honderd deel van daardie groep.

Die maroelamedia berig vrydag oor die studente wat na die betogings spontaan saam begin opruim het, is bewys hiervan. Die verskil tussen om in diversiteit krag te vind, en in diversiteit te breek, is om op die gemeenskaplike te fokus en nie die verskil nie. Om by mekaar in ‘n omgewing en gees van vertroue respek en gelykheid te leer. Om mekaar se gebreke aan te vul en mekaar te versterk.

Dit is slegs wanneer een homself vasstaar in die verskille, en glo een is minderwaardig aan ‘n ander, dat diversiteit problematies raak.

Cecile Nieuwoudt ·

Wat het geword van: studente julle is bevoorreg om te kan studeer. Is hier om ‘n bydrae te maak en aanwins te wees vir instansie. Sou julle enigiets doen of se wat nie daarmee ooreenstem nie, sal jy die instansie verlaat en jou kans verbeur aan enige instansie om te kan studeer. Maklik, sal ons dan minder moeilikheid he en geldelike verliese met die vernietiging van instansies – barbarism soos ons dit nou sien.

Disselboom ·

Die “PU vir CHO” is weg. Geen toegewings kon dit keer nie. En dis naïef om te dink die rewolusie gaan nie nog verder toeslaan nie. Die doel is uitroeiing van Afrikaans en Afrikaner-erfenis op openbare kampusse.

Nota aan Cecile: dis nie soseer studente op Tuks wat die moeilikheid maak nie. Dis maar die ou probleem van ‘n propaganda-masjien agter aangeryde moeilikmakers. Nie dat geen studente betrokke is nie, maar dis outyds verby om te dink dis ‘n kwessie om net studente wat hulle wangedra te dissiplineer.

Adam ·

Ek sien die groot sondebok was nie deel van die vergadering nie.
Die EFF skitter in hulle afwesigheid.

En dan met die stelling: “In hierdie opsig het die partye ooreengekom dat die mag om lewe en eiendom te beskerm, volledig op die skouers van die UP-bestuur en -raad rus (ondersteun deur die Suid-Afrikaanse wetstoepassingsagentskappe).”
sê hulle dat blankes nie mag saamstaan en enige weerstand bied tot student wat afbreek en brand nie….eintlik moes dit gesê het student het die reg tot selfverdediging.

Asjas ·

Onthou Piet Rietief en Pienk Frikkie?
Waar het daardie ooreenkomste ons gekry?
Jy kan somige mense net eenvoudig nie vertrou om by hul woord te hou nie.

Disselboom ·

Daar is voorbehoude oor ge-cliché-de ooreenkomste, en waar die hoofkwaadstoker, die EFF, nie eens hulself laat inbind nie. Tog moet daar nie weggegooi word dat Solidariteit en die verskillende baadjies waarin hulle hulself verpak, in die chaos dalk ruimtes oopmaak dat daar gewerk kan word. Gegewe met wie hulle egter genoodsaak is om aan die ander kant van die tafel te praat, se gebrekkige betroubaarheidsrekord, moet mens egter nie dink alles is nou opgelos nie.

Henry ·

Jy kan dit as ‘n gegewe aanvaar dat Solidariteit/Afriforum se leiers nie enige illusies vertroetel dat daar nou ‘n blywende en finale oplossing/akkoord bereik is nie.
Trouens dit kan aanvaar word dat daar bittermin lede van beide organisasies is, wat sulke droombeelde vertroetel. Soos hulle, weet die meerderheid Afrikaners dat daar nog lang en moeilike paaie voorlê.
Gelukkig is daar vir die eerste keer ‘n deurbraak bewerkstellig.
Partye wat die oorgrote meerderheid – wit en swart – van studente by Tukkies verteenwoordig, gesels vir die eerste keer openlik met mekaar in ‘n soeke na oplossings. Almal weet tog teen hierdie tyd dat daar geen toekoms in voortgesette militante optredes is nie, behalwe ‘n volskaalse burgeroorlog.
In die proses het die aanstigters – de EFF – hulself geïsoleer, deur hul weiering om van geweldadige betogings af te sien.
Sal vorentoe moet sien hoe die verwagte voortgesette pogings van Malema en sy ondersteuners bekamp gaan word.

Dave ·

Was die DA nie deel van die onderhandeling nie al die belanghebendes was daar EFF, Koministe party, ANC , SASCOC , ens ens .

Andries Erwee ·

Baie geluk aan al die partye. Hierdie week word daar klas geloop en gewerk aan die toekoms. Dankie vir almal wat dit moontlik gemaak het. As julle jul ore aan die EFF en hul Afrikaanse geesgenote uit leen sal Tukkies vandag n oorlogsone gewees het met Mafikeng styl boere wat die swart “base” smeek om nie te skiet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.