Oorlog as die stigtingsmite van state

‘n Soldaat van Oekraïne stap deur die dorp Schastia, naby die stad Lugansk. (Foto: Aris Messinis/AFP)

ʼn Vriend van my vra my die anderdag na aanleiding van die Rusland-Oekraïne-oorlog die vraag oor hoe patrioties Oekraïne se mense is; of hulle ʼn eie volk is of eerder ʼn soort Russiese volk wat net in ʼn ander staat woon. Die vraag is belangrik en verwys ook na dit wat president Wladimir Poetin van Rusland in sy toespraak kort voor die aanval beweer het, naamlik dat Oekraïne geen historiese bestaansreg het nie en eintlik ʼn skepping van die Sowjetunie onder Wladimir Lenin was.

Patriotisme is inderdaad iets wat eers moet ontwikkel en wat baie met die aard van jou land te doen het. Lande wat ʼn lang geskiedenis het – waar land en volk saamgaan en wat ʼn rol in die wêreld speel – se mense is gewoonlik meer geneig om patrioties te wees as mense van lande wat relatief onlangs deur dekolonisasie geskep is, geen staatsvolk het nie, of internasionaal ’n geringe status het. Patriotisme ontstaan ook dikwels in die meting en vergelyking met jou buurlande. Gebeure wat jou land en volk voor die hele wêreld in die verleentheid gestel het, knou patriotisme. Duitsland met sy oorlogsmisdade is ʼn voorbeeld hiervan. Rusland se patriotisme (en die verlies daarvan) het baie met die land se oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog te doen, en sy gevolglike status as grootmoondheid. Om dié rede is president Poetin se buitelandse beleid ook op die herwinning van respek, en selfs vrees van die kant van die internasionale gemeenskap, gerig.

President Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

Poetin se geskiedkundige bewerings oor Oekraïne is in ʼn mate korrek: Oekraïne het nie ʼn lang geskiedenis as onafhanklike staat nie, die land bestaan uit verskeie volke en sy grense is kunsmatig en volg geen historiese voorbeeld nie. Die huidige Oekraïne het uit die oopbreek van die Sowjetunie in 1991 ontstaan waarvan dit een van die deelstate was. Sy geskiedenis as onafhanklike staat is dus maar 30 jaar oud, teenoor Rusland wat al vir meer as ʼn duisend jaar ʼn staat van sy eie is, wel nie in sy huidige grense nie. Eintlik was dit die gebied van die huidige Oekraïne waar Rusland oorspronklik ontstaan het, met Kiëf as sy eerste hoofstad. Russe, Oekraïners en Wit-Russe deel dus ʼn gemeenskaplike ontstaansgeskiedenis. Dit is seker nog ʼn rede hoekom Poetin Oekraïne as deel van Rusland beskou.

In sy vroeëre geskiedenis was Oekraïne geen staat op sy eie nie, allermins in die huidige grense. Dit was vir lang tye deel van Litoue en Pole, dele was onder beheer van die Habsburgse Ryk en natuurlik was dit vir die langste tyd deel van die Russiese Ryk onder die tsaar. Die naam Oekraïne beteken juis “grensgebied”, dus ʼn gebied wat dikwels van eienaar verwissel het en geen spesifieke onderskeibare volk gehad het nie. Die huidige Oekraïne het ook ʼn groot Russiessprekende bevolkingsdeel. Oekraïners is etnies en taalkundig verwant aan die Russe en Poetin praat van hulle as “broedervolk” (maar sy begrip van broederskap is blykbaar die van Kain teenoor Abel). Dan woon daar ook nog talle ander volke op die gebied van die huidige Oekraïne, soos Pole, Jode, Krim-burgers en selfs Duitsers.

Nogtans is Oekraïners geen Russe nie en was hulle dikwels slagoffers van hul magtige buurman. Na die kommunistiese magsoorname in 1917 het veral die onafhanklike boere in Oekraïne (bekend as koelakke) ʼn baie duur prys betaal. Hulle is uitgedryf en vermoor, omdat hulle in die pad van die waansinnige ideologie van kommunisme en spesifiek die van kollektivistiese landbou gestaan het. Toe Duitse troepe Rusland in 1941 binnegeval het, was ’n hele paar Oekraïners bly oor die vermeende bevryders van die Russiese juk, net om te ervaar dat die Duitse soldate onder Hitler selfs nog erger was. Nietemin het die Russiese kommuniste die mense ná die terugverowering van Oekraïne weer vir hulle verraad laat boet. Poetin se bewering dat hy Oekraïne van Nazi’s wil suiwer, kom moontlik uit daardie geskiedenisvertolking.

’n Beskadigde gebou in Koshytsastraat in Oekraïne se hoofstad, Kiev. (Foto: AFP)

Nietemin, al is of was Oekraïne se nasionale identiteit nie besonder sterk nie, en al is die land etnies verdeel, was daar in 1991 ’n duidelike stem vir onafhanklikheid. Die land het hom ook vinniger as Rusland of Wit-Rusland van die kommunistiese oorblyfsels gesuiwer. Die verdeeldheid tussen pro-Westerse en pro-Russiese kragte, ook in die vorm van wisselende presidente wat meer oos of meer wes geneig het, het die land egter innerlik verswak.

Poetin moes met die aanval gereken het dat meer as die helfte van die land graag deel van Rusland wil wees en die Russiese inval as bevryding van ʼn korrupte kliek Westerse agente, soos hy dit gestel het, sou verwelkom. Hy het hom erg misgis. Die oorlog het Oekraïnse patriotisme aangewakker soos geen ander gebeurtenis vantevore nie. Trouens, indien Oekraïne hierdie oorlog oorleef en sy onafhanklikheid behou, sal die oorlog in die geskiedenis as die stigtingsmite ingaan: Die gebeurtenis wat van ’n verdeelde en weifelende volk ware patriotte gemaak het, wat weet wat hulle aan hulle land het, en wat bereid was om daarvoor te veg en te sterf.

Die gees van offervaardigheid in ʼn oorlogsituasie, soms in die oorvertelling oordryf, is die stigtingsmite van menige state en verseker hulle voortgesette patriotisme en voortbestaan. Oekraïne mag dalk geen lang geskiedenis van onafhanklikheid hê nie, en dalk ook ʼn etnies gemengde volk wees, maar hulle eendragtige en dapper reaksie op die Russiese inval het hulle onder die volke geadel. As hulle geen volk was in die verlede nie, is hulle beslis nou een.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ABDP ·

Tjo nou maak alles net soveel meer sin. Ek kon nie verstaan waarom wil Poetin hulle suiwer van Nazisme as sy gedrag nazi gedrag weerspiëel nie.

Treurwilger ·

Die Oekraïense patriotisme is beslis iets om te aanskou en te bewonder.
Mag die vernietigende, voorkombare oorlog van korte duur wees.

Met Maroela se vergunning is dié September 2015 toespraak by Chicago University deur prof. John J. Mearsheimer sterk aan te beveel:
“The Causes and Consequences of the Ukraine Crisis”.

John Mearsheimer is die “R. Wendell Harrison Distinguished Service Professor in Political Science”.
Die toespraak is 45 minute lank, maar gee broodnodige agtergrond tot die huidige krisis wat, na alles wat in 2014 in die Krim gebeur het, stééds totaal dwaas hanteer word deur die Weste.

Treurwilger ·

Luister vanaf die 40 minute merk tot 45 minute na die afsluiting van die toespraak, waar die prof. die gebeure in Oekraïene reeds in 2015 uitspel.
Dis verstommende akkuraatheid.
(Dankie Maroela! vir spraakvryheid)

Autobahn ·

Hallo Treurwilger, dankie vir jou boodkap in ´n vorige kommentaar! Het nogal gedink die skryfstyl klink soos joune, maar dit was nog steeds ´n lekker verassing.
Dankie vir die wenk oor John Mearsheimer, weereens baie interessant. Wil nog nie res kyk, want min 39 – 45 was inderdaad baie insiggewend. Wat hy sê maak absoluut sin. Ek betwyfel dat die besluitnemers in die Weste sy raad sal volg. Ongelukkig! Uit my sig is vrede die laaste ding wat die besluitnemers (en veroorsakers, volgens my) wil hê.

Dit herinner my nogal aan die situasie in die tweede helfte van die dertiger jare waar Pole deur die „Gang“ in Washington aangehits is om Duitsland aanhoudend uit te lok (provoseer) en belowe was dat Amerika hulle (Pole) teen Duitsland sal beskerm. Geen beskerming teen Duitsland of Rusland het gekom nie en Pole was boonop onder Soviet beheer tot 1989. Dit was verraad. En dis hoe Washington altyd te werk gaan. Die mense in die Oekraïne is die laaste wat vir Washington saak maak.

Autobahn ·

* moet lui: besluitnemers in die Weste (en veroorsakers, volgens my) wil hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.