Oorregulering van arbeidsmark sal werknemers net benadeel

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Die nasionale minimumloon (NML) sal nadelig wees vir die arbeidsmark, waarsku die besigheidswaghond AfriSake. Dit is veral jong mense tussen 15 en 24 jaar oud vir wie dit die moeilikste sal wees om die arbeidsmark in Suid-Afrika te betree.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het die ooreenkoms vir ’n NML van R20 per uur onderteken. Dié ooreenkoms tree op 1 Mei 2018 in werking.

’n NML sal veroorsaak dat meer werkgewers twee keer sal dink voordat hulle mense aanstel. Die oorregulering van en deurlopende staatsinmenging in die arbeidsmark sal onvermydelik meer swaarkry en armoede tot gevolg hê, eerder as om dit te verlig.

Hoewel Ramaphosa onlangs gesê het dat die inwerkingstelling van ’n NML 6,6 miljoen mense sal ophef, het sy opmerking nie die toename aangeraak in die aantal jong mense tussen 15 en 24 jaar wat nie werk, studeer of vakmanskapopleiding ondergaan nie.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het in die Quarterly Labour Force Survey vir 2016 aangedui dat jong mense tussen die ouderdom van 15 en 24 wat nie werk, studeer of vakmanskapopleiding ondergaan nie altesaam 30,1% van hul ouderdomsgroep uitmaak – ’n toename van 1% sedert die vorige jaar. Die meer kommerwekkende werklikheid is egter dat jong mense tussen 15 en 34 jaar die grootste gedeelte (19,7 miljoen) van die werksouderdombevolking van 35,8 miljoen uitmaak, aldus ’n verslag wat in 2015 deur SSA uitgereik is – dus meer as 50% van die werksmag.

Hieruit kan afgelei word dat die meerderheid van die 26,4% mense in die werksmag wat werkloos is, tussen 15 en 34 jaar is. Dit is ook die ouderdomsgroep wat waarskynlik veral bereid sal wees om vir ’n NML te werk omdat hulle onlangs met hul loopbane begin het.

Die inwerkingstelling van ’n NML sal slegs ekonomiese ongelykhede vererger dermate dat meer lede van die werksouderdombevolking nie ’n inkomste gaan verdien nie. Werkgewers sal die aantal werknemers en die aantal werksure in heroorweging moet neem, veral in moeilike ekonomiese tye.

“Jy kan nie die armes met wetgewing uit armoede lig nie. Die regering moet eerder meer strategieë instel om te verseker dat meer werksgeleenthede geskep word en meer mense die vrugte van ’n vryemarkstelsel kan pluk. Deur net meer wette te maak om die beginsels van só ’n stelsel te beperk en in te perk, skep die regering bloot ’n meer sosialistiese staat wat die ekonomie en arbeidsmark nadelig sal beïnvloed,” sê Charles Castle, bestuurder van AfriSake se eenheid vir arbeidswetgewingsraad.

Die regering sukkel voortdurend om ’n gesonde ekonomiese omgewing te skep en onderhou. ’n Toename in regeringsinmenging sal armoede net verder vererger.

  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Ons het mos vir Sassa en die liewe minister en haar gretige diensverskaffer en drukperse vir kaarte en rande… en rande en… Dis ‘n lielie-lekker-land die’ moenie ‘n pretbederwer wees nie… voort met die ‘show’. Besoeke aan Suid-Amerika eerder as die noorde sou meer gepas wees, ons beweeg mos sywaarts-afwaarts, om te leer hoe om massas armmanshuisies teen die heuwels so dig teen mekaar te maak staan. En meer sinkplaat en emmers vir waterdra (waar het ons die woord al gehoor?) moet dringend iewers gebedel word vir toekomstige uitbreidings deur die hupse XXXXXL- ANC-brigade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.