Oorsigmagte van die parlement versus die reg op ’n billike verhoor

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Deur Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse genoteerde Steinhoff International NV (Steinhoff) en die bedanking van sy uitvoerende hoof, Markus Jooste (Jooste), het die afgelope paar maande groot opslae in die plaaslike en internasionale media gemaak. Ná die aankondiging van moontlike rekenkundige ongerymdhede in Steinhoff se state, het die val in die prys van Steinhoff-aandele, volgens mediaberigte, meer as R200 miljard in markkapitalisasie uitgewis. Ten tye van die aankondiging, was die Regeringswerknemerspensioenfonds (GEPF) deur die Openbare Beleggingskorporasie Steinhoff se tweede grootste aandeelhouer.

In Nederland, waar Steinhoff Internasionaal gesetel is, is daar reeds sprake van ’n klasaksie teen Steinhoff, sy direkteure en ouditeure. Plaaslik is die Valke en die Finansiële Diensteraad besig met ondersoeke teen Jooste. Daar is onlangs ook aangekondig dat Jooste moontlik gedagvaar gaan word om voor ’n staande komitee van die parlement te verskyn.

Die dagvaardingproses is bekendgemaak nadat Jooste, by monde van sy prokureur, ’n uitnodiging om voor die parlementêre komitee rakende ’n Steinhoff-ondersoek te verskyn, van die hand gewys het.

Jooste se regsadviseurs voer aan dat, indien hy voor die parlementêre komitee onder die voormelde omstandighede sou verskyn, sy grondwetlike reg tot ’n billike verhoor in gedrang sal kom, aangesien hy verplig mag word om selfinkriminerende getuienis af te lê.

Hierdie kwessie bring ‘n interessante vraag, wat betref die bevoegdhede van parlementêre komitees en die regte van landsburgers wat aangesê word om voor parlementêre komitees te verskyn, na vore.

Dit is belangrik om daarop te let dat die grondwetlike reg op ‘n billike verhoor, wat insluit die reg om nie verplig te word om selfinkriminerende getuienis af te lê nie, volgens die Grondwet slegs op ’n beskuldigde – dit wil sê ‘n persoon wat strafregtelik aangekla is – van toepassing is. Daar is wel Suid-Afrikaanse regspraak waar die menings uitgespreek word dat die reg ook na verdagtes wat krimineel ondersoek word, uitgebrei behoort te word.

Jooste is, tot op datum, nog nie aangekla nie en dit blyk dat die Valke nog nie ʼn verklaring van hom aangevra het nie. Hy is dus nie ’n beskuldigde nie; op die beste is hy slegs ’n verdagte rakend moontlike kriminele aangeleenthede tydens sy termyn as uitvoerende hoof by Steinhoff.

Argieffoto: ANA

Die magte van die parlement

Die uitgangspunt is dat die parlement, kragtens die Grondwet, verkies is om die mense van Suid-Afrika te verteenwoordig, en as sodanig moet die parlement toesig hou oor die president, staatsinstellings en regulerende instansies.

Om toerekenbaarheid te verseker, mag die parlement ingevolge artikel 56 van die Grondwet, enige persoon dagvaar om voor ’n parlementêre komitee te verskyn om onder eed getuienis af te lê.

Die Wet op Magte van die Parlement en Provinsiale Wetgewers (wet 4 van 2004) bepaal dat sodanige dagvaarding die doel waarvoor die getuienis van sodanige persoon benodig word, moet aantoon. Sou ‘n persoon versuim om sonder voldoende rede te verskyn, kan hy of sy nie alleen beboet word nie, maar ook ’n gevangenisstraf van tot 12 maande opgelê word.

Die vraag is nou:

  • Mag ‘n getuie wat voor ‘n parlementêre komitee verskyn, weier om ‘n vraag te beantwoord; en
  • is ’n getuie geregtig op regsverteenwoordiging?

Die parlementêre Wet op Magte (soos hierbo genoem) bepaal dat die vrywaring van ‘n getuie in hierdie geval soortgelyk is aan dié van ‘n getuie in die hof. Oor die algemeen is ’n getuie in die hof nie verplig om inligting rakende regsprivilegie te openbaar nie, byvoorbeeld kommunikasie tussen hom en sy prokureur. As ’n getuie boonop eerlik antwoord, sal hy of sy gevrygewaar word van siviele en strafregtelike aanspreeklikheid.

Dié wet maak egter ‘n belangrike uitsondering op hierdie reël: ‘n getuie is verplig om enige vraag wat aan hom of haar gestel word, te beantwoord, selfs al sou die antwoord hom of haar inkrimineer of blootstel aan ’n siviele eis. Die enigste beskerming wat verskaf word, is dat die getuienis wat gegee word, nie later teen daardie persoon gebruik mag word nie – behalwe waar die persoon vir meineed aangekla word.

Samevattend is die posisie dat die getuie nie kan weier om ‘n vraag te beantwoord nie, selfs al kan die antwoord hom of haar inkrimineer. Daardie getuienis kan egter nie teen hom of haar gebruik word nie, behalwe as dit bewys sou kon word dat hy of sy onder eed gelieg het. Die getuie is verder geregtig tot regsbystand, maar sy of haar prokureur mag nie namens hom of haar ’n vraag beantwoord nie.

Uit hoofde van bovermelde kán die parlement Jooste aansê, by wyse van ’n dagvaarding, om voor ’n parlementêre komitee te verskyn. Indien hy sou versuim, loop hy die risiko om beboet te word en gevangenisstraf van tot 12 maande opgelê te word. 

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, getuig voor die parlementêre ondersoekkomitee na Eskom. Foto: Cindy Waxa/ANA

Eskom-ondersoek versus die Steinhoff-inligtingsessie

Behoort die parlement se optrede in die Eskom-ondersoek te verskil van sy optrede in die  Steinhoff-ondersoek? Die Eskom-ondersoek is ’n feite-ondersoek, wat gevolg het nadat die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings besluit het dat dringende ingryping nodig is ten einde onreëlmatighede in staatsondernemings te ondersoek.

Die Eskom-ondersoek het ’n spesifieke raamwerk waarbinne die ondersoek moet plaasvind en daar is ook voorgeskryf dat ’n verslag opgestel moet word en aanbevelings gemaak moet word. Voordat die verslag se bevindinge vir publikasie vrygestel word, sal “geaffekteerde persone”, na wie in die verslag verwys word, die geleentheid gegee word om verdere vertoë aan die komitee te rig.

Die Steinhoff-inligtingsessie is in hierdie stadium slegs ’n vergadering om terugvoering te ontvang. Die verdere doel van die inligtingsessie is blykbaar om die rol van reguleerders te bepaal en om terugvoering van reguleerders te verkry oor voorgestelde stappe wat geneem moet word. By die eerste inligtingsessie in Januarie 2018, het verskeie staande- en portefeuljekomitees gesamentlik met Steinhoff se verteenwoordigers en verskeie regulerende liggame, insluitend die onafhanklike regulerende raad vir ouditeure (Irba), vergader. Elke reguleerder het ‘n voorlopige verslag oor die impak van die korporatiewe skandaal gegee en verskeie ondersoeke is ook bespreek. Met die tweede inligtingsessie in Maart 2018, het die Valke, FSB en die ouditspan PricewaterhouseCoopers inligting rakende hul onderskeie ondersoeke voorgelê en ná die vergadering het die parlementêre komitee die mening uitgespreek dat Jooste gedagvaar moet word om voor hulle te verskyn.

Ter Afsluiting

Die rigting wat die parlementêre komitee met die Steinhoff-saak wil inslaan, is tans onduidelik. Dit blyk nie asof ’n raamwerk vir die wyse hoe die inligtingsessies sal geskied, soos daar onderneem is, al opgestel is nie. Dit is egter belangrik dat die Steinhoff-inligtingsessies, ongeag watter formaat dit aanneem, se doelwit duidelik gestel word – veral waar ‘n verdagte nog nie ’n polisieverklaring afgelê het nie. Indien die parlementêre komitee van voorneme is om ‘n parlementêre ondersoek na Steinhoff in te stel, moet dit so gou doenlik geskied.

Die parlement het die afgelope paar maande ‘n aktiewe rol as toesighouer gespeel, en dit moet verwelkom word. Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat hierdie proses nie daarop gemik is om strafregtelike skuld te bepaal nie. Die parlement moet egter versigtig wees om nie die skoene van die Valke en ander ondersoekende liggame te probeer vul nie en daarom moet die parlement die spesifieke doel om getuies te roep, baie duidelik stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Willem ·

Die volgende is ‘n uittreksel uit die amptelike parlementere dokument:

“PARLIAMENT AND OVERSIGHT

The true test of democracy is the extent to which Parliament can ensure that government remains answerable to the people. This is done by maintaining constant oversight (monitoring) of government’s actions.

Parliament and its Committees have powers to summon any person or institution to give evidence or produce documents, and to report to them.

CONSTITUTIONAL MANDATE

The Constitution states that Parliament has the power to conduct oversight of all organs of state, including those at provincial and local government level.”

Van wat ek dus hier bo verstaan gaan die oorsigrol net oor staatsdepartemente/instellings en entiteite waaroor die parlement jurisdiksie het. Verdermeer word dit daar bevestig dat ‘n instansie of ‘n privaat persoon kan gedagvaar word om voor ‘n parlementere kommitee te verskyn om getuienis betreffende sodanige voormelde staatsinstellings te gee.

Kan iemand dus aub help, waar in die parlementere dokument word dit bevestig dat die oorsigrol ook op privaat instellings van toepassing is?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.