Oos-Kaapse probleme versprei na Wes-Kaap

Betogings in Hermanus in die Wes-Kaap (12 Julie 2018). Foto: Twitter via @REDANTS_CT

“Die land stort in duie” en die Oos-Kaap se mislukking as ’n provinsie is opnuut besig om weerklank in die Wes-Kaap te vind, soos die onlangse padbesettings en die afbrand van geriewe en geboue in veral Botrivier en Hermanus getuig. En veral die inheemse Wes-Kapenaars raak keelvol . . .

Die bruin meerderheid in die Wes-Kaap is besig om hulself teen die “inkommers” te verset, ook fisiek, soos toe die bruin en swart gemeenskappe van Mitchells Plain teenoor mekaar stelling ingeneem het. In ’n straat wat die dorp van Vrygrond skei, het bruin mense gewaarsku: “Bly waar julle is, brand jul eie winkels af, nie ons s’n nie!”. Die polisie het volskaalse bloedgeweld voorkom.

Dit is nie polities korrek vir die gedrukte media om veel aandag aan die onmin tussen bruin en swart te gee nie – dit kom ‘n lang pad aan en kan nie weggewens word nie.

Maar wanneer die Cape Party en die groepie wat hulself die Gatvol Gemeenskapsgroep noem ’n streep in die grond trek, moet ‘n mens kennis neem.

Die groepering beywer hom openlik vir die Wes-Kaapse onafhanklikheid van Suid-Afrika. Bruin mense is sowat 70% van die provinsie se bevolking.

Fadiel Adams, die groep se woordvoerder, sê hy is nie ’n rassis nie, maar dit gaan oor regverdigheid.

“Ons het die mense van die Oos-Kaap verwelkom. Totdat ons ontdek het hulle wil alles tot niet maak en dat ons nie hier welkom is nie.” Die groep wil alle swart mense wat sedert 1994 hier gevestig het, repatrieer.

Die geregistreerde Cape Party gaan verder en beywer hom in sy manifes vir onafhanklikheid van die Wes-Kaap, die Noord-Kaap (minus twee distrikte), ses munisipaliteite in die Oos-Kaap en een in die Vrystaat. Die gebied sluit al die munisipaliteite in genoemde provinsies waar Afrikaans die meerderheidstaal is, in.

Die party – met sy wit en bruin bestuur – is nog in sy kinderskoene, maar het in November 2017 18% van die stemme in die Brackenfell-tussenverkiesing gekry en tweede agter die DA geëindig.

Toe die ANC sy beheer oor die Wes-Kaap in 2009 aan die DA afgestaan het, het hy in die openbaar erken dat “As daar nou ’n referendum is, sal die meerderheid vir ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring stem.”

Die regerende DA sê hy neem die Cape Party nie ernstig op nie, maar hy kan met die regte bemarking en aangehelp deur die huidige swart geweld, dalk meer stemme werf.

Die Grondwetkenner Pierre de Vos sê die Cape Party kan net met ’n revolusie aan bewind kom en dat die bedreiging van die staatseenheid op hoogverraad neerkom.

Redes vir die Oos-Kaapse penarie

Mislukte provinsies is natuurlik nie tot die Oos-Kaap beperk nie en ’n VN-span gaan nou help om die wanbestuur in Noordwes te beredder.

Daar is ’n magdom redes waarom die Oos-Kaap ’n korrupte en mislukte provinsie is, wat sy burgers toenemend ’fn heenkome in die Wes-Kaap laat soek, waar die bevolkingstoename op meer as twee miljoen geskat word.

In die Oos-Kaap het groeperinge bv. hulself gehelp aan R1,6 miljard wat vir paaie, skole en huise bestem was. Die lys van kleiner misdrywe is baie lank:

  • R341 miljoen was vir huise bestem, sonder dat een gebou is;
  • R72 miljoen was begroot vir skole en mobiele klaskamers; en
  • miljoene rande vir paaie by Oos-Londen het geen sigbare resultate gelewer nie. Die lys misdrywe is baie langer, soos die miljoene wat hul pad na persoonlike bankrekeninge gevind het.

Baie van die Oos-Kaapse swart mense wat hul toevlug tot die Wes-Kaap geneem het, is werkloos, hulpeloos en reddeloos. Die redes vir die proteste skuif tussen behuising en eise dat belhamels wat in hegtenis geneem is, vrygelaat moet word. Die proteste word waarskynlik gedryf deur leiers wat die bekende en beproefde ontwrigtingsprosedures van die apartheidsera volg en die DA-regering wat nooit genoeg kan doen nie, haat.

Mense sê ook die owerhede het te lank op hul hande gesit en ydele beloftes gemaak wat nou voor hul koppe gegooi word. Die SAPD het ook laat
wakker geskrik en nou eers begin besef dat beeldmateriaal van saakbeskadiging met selfoonvideo’s wyd versprei word as aanmoediging tot geweld sonder gevolge.

Beloofde Kanaän realiseer nie

Nelson Mandela se beloftes van huise (en werk, en yskaste!) het toe nie gerealiseer nie. Die Wes-Kaap sit met die ekstra probleem dat groot stukke leë grond nie geskik is vir behuising nie: Die watertafel is hier eenvoudig te hoog en selfs matige reën bring oorstromings mee. Die grond word nietemin bewoon, want die regering sal mos die reddingswerk doen.

Dit kom ook algemeen voor – nie net in die Wes-Kaap nie – dat mense met werk deur hul eie mense aangeval word. Petroljoggies kom met privaat klere werk toe. (“Hoekom werk jy nie in die Oos-Kaap nie?” “Ai, meneer, daar is niks werk nie.”) Werkendes word beroof, soos ’n buurman se tuinhulp, wat besteel is en wie se been met ‘n ysterpyp gebreek is. Hy herstel nog ná 14 maande . . .

“Die regering stort in duie”

Die groter prentjie is dat Suid-Afrika se regering besig is om in duie te stort. Almal met insig weet dit, maar dit kry nuwe waarde wanneer pres. Cyril Ramaphosa dit in ‘n openbare toespraak erken.

“Wanneer hospitale te min medisyne het, as huisbouprojekte nie afgehandel word nie en as skole nie boeke het nie, is ons besig om ons mense in die steek te laat. Dit moet end kry.”

Ramaphosa het waarskynlik meer feite tot sy beskikking as die media, maar hy staan in ’n groot mate nog magteloos teen die septerswaaiers in die ANC en in die aanloop tot ’n verkiesing wat hy, ondanks die verdeeldheid, vir die ANC wil wen. Dis wanneer hy stemme moet tel vir elke versigtige treetjie wat hy gee. Daarom kry instansies soos Eskom steeds verhogings bo die inflasiekoers – nie vir puik werklewering nie, maar omdat die NUM se 300 000 en Numsa se 338 000 lede nie vervreem durf word nie.

Die SA Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) is die grootste enkele struikelblok op die weg na behoorlike onderwys omdat hy die monitering van leerkragte teenstaan en ook ongekwalifiseerde en permanent afwesige onderwysers huisves en betaal.

Maar Sadou het 250 000 lede – lees: stemgeregtigdes – en kom steeds met moord weg, hoewel die land se onderwysgehalte aan die onderpunt van wêreldranglyste boer.

Ramaphosa het onlangs beloftes van R266 miljard se buitelandse beleggings gekry, maar dis baie minder as die geraamde R700 miljard wat die afgelope dekade onder Jacob Zuma geplunder is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Weereens n puik, op die man af, beredeneerde artikel uit die skrywer se pen.
“Die groter prentjie is dat Suid Afrika se regering besig is om in die te stort. Almal met insig weet dit, maar dit kry nuwe waarde wanneer pres. Cyril Ramaphosa dit in n openbare toespraak erken.”
Dit toon duidelik dat die behoud van politieke mag sentraal staan in die meerderheidsregering se beleid en letterlik alle ander kwessies sekondêr aan dié doelwit.
Die opoffering van armes se welsyn vir die aftakeling van goeie regering, spel niks goed vir minderhede nie.
Die groot verdrukking lê nog voor. Tussen die stofwolke van openbare verhore, regrukaksies en ander oëverblindery, stoomroller ons voort na die afgrond.
Net die Hoër Hand kan ons verlos van dié plettervat.

Pietman ·

Enige party wat staan vir ‘n onafhanklike staat het my stem.

Heinrich ·

Op die ou einde kom dit neer op kultuurverskille, niks met ras uit te waai nie. Daar is die opbou-kultuur en die afbreek-kultuur. Meeste van die opbou-kultuur word gesien as rassiste omdat hulle die afbreek-kultuur teenstaan. Die meeste van die breek-kultuur word gesien as ‘revolutionists’ en jaag nog steeds een of ander revolution na, alhoewel hulle vryhede om te breek baie meer weeg as die vryhede van die bouers om te beskerm. ANC en EFF het ‘n breek-kultuur. Beskaafde mense kan net so lank kyk hoe alles om hulle gebreek word. Ek sal baie graag eerder saam met met my opbou-kultuur wil leef.

Wilma ·

Afrika is in sy maai en so ook SA. Dommes stem weer vi die korruptes
Sal nooit leer

John ·

Hoekom Zuma vervang is met CR is werklik duister. Niemand word vervolg nie, net verskuif en vervang… en die speletjie gaan aan. Almal doen en ons skreeu steeds. Dit wil voorkom of etiek by die ANC bloot daarop neerkom dat mens net nie uitgevang moet word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.