Oostenryk: 100ste sterfdag van Keiser Frans Josef I

frans-josef-i

Frans Josef I. Foto: Pinterest.com

Op 21 November 1916 het die keiser van Oostenryk-Hongarye (ook bekend as die Habsburg Ryk), Frans Josef I, gesterf. Hy was 86 jaar oud en het 68 jaar lank regeer. Frans Josef I het ʼn hele era verteenwoordig en tye het radikaal verander in sy lang bewind, hoewel hy as konserwatiewe monarg probeer het om die ou orde so lank as moontlik te bewaar. Sy bewind stem ooreen met koningin Victoria van Groot-Brittanje, wat ook die grootste deel van die 19de eeu oor haar ryk regeer het.

Frans Josef I het die uiters diverse veelvolkige staat, Oostenryk-Hongarye, bymekaargehou deur middel van sy aansien en natuurlike outoriteit. Toe hy in 1848 aan bewind gekom het, was dit die tyd van onluste en revolusies en die posisie van die monargie was orals in Europa in die gedrang.

Dit is onderdruk en die glansryke troue met die beeldskone en selfversekerde hertogin van Beiere, Elizabeth, wat as “Sissi” ‘n karakter in talle legendes, boeke en flieks geword het, het vir die monargie die nodige “momentum” gegee om sy aansien te herwin.

Talle tragedies, soos die selfmoord van sy seun, die moord op sy broer en later die moord op sy neef (wat die eerste wêreldoorlog ontketen het) en sy vrou, wat hom verlaat het en later ook vermoor is, asook verskeie militêre neerlae, het Frans Josef se lang bewind gekenmerk en aan die einde van sy bewind van hom ʼn amper tragiese figuur gemaak, wat aangevoel het dat nie net sy einde nie, maar ook die einde van sy geliefde Habsburg Ryk, naby was. Hy was iemand wat gedryf is deur pligsbesef en dissipline en het tot op sy laaste dag hard gewerk.

Sy dood val in die tyd van die Eerste Wêreldoorlog, waar Oostenryk-Hongarye saam met die Duitse Ryk en die Osmaanse Ryk teen die entente uit Frankryk, Rusland, Groot-Brittanje en later die VSA en ander, kleiner magte geveg het.

Die Habsburg monargie het na Frans Josef se dood slegs 2 jaar verder bestaan en met die neerlaag in die Eerste Wêreldoorlog in 1918 tot ʼn val gekom, toe Frans Josef se seun Karl na net twee jaar op die troon moes abdikeer. Eintlik het die Habsburg-monargie reeds met Frans Josef se dood geëindig. Die groot veelvolkige ryk is in klein, etniese state verdeel en slegs die hartland Oostenryk het as internasionaal onbeduidende republiek oorgebly.

  • Sebastiaan Biehl is ‘n navorser en toergids verbonde aan die Orania Beweging. Hy het sy meestersgraad in politieke wetenskap verwerf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Flip ·

Baie interessant! ‘Die Marteltroon van Frans Josef’- is die hoogs toepaslike naam van ‘n biografie oor hom. Nogtans is die Oostenrykers een van die mees besondere volke ter wêreld, met ‘n lang lys wêreldklas presteerders op bykans elke gebied.

Ada ·

Flip ek stem saam. Dankie vir die interessante artikel. Ek het jare gelede die TV reeks oor Sisi gevolg en sal dit nooit vergeet nie. Hierdie artikel het daardie wonderlike herhinneringe weer teruggebring. Baie dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.