Oostenryk: parlementsverkiesing bring swaai na regs

Sebastian Kurz, hoof van die ÖVP in Oostenryk, tydens ʼn politieke byeenkoms in Wene, Oostenryk (13 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Ronald Zak

In Oostenryk het die verkiesing vir die Nationalrat (parlement) en daarmee saam ook vir die bondskanselier verlede Sondag plaasgevind. Oostenryk volg die tendens ná wat ook in Duitsland waarneembaar was met die onlangse verkiesing, naamlik ʼn swaai na regs as reaksie op die instroming van vlugtelinge en immigrante, ʼn kulturele vervreemding en groeiende misdaad. In Oostenryk egter, anders as in Duitsland, het die konserwatiewe Oostenrykse Volksparty (ÖVP) die tema nie oorgelaat aan ʼn party aan die regterkant nie, maar dit self sy hoofverkiesingsboodskap as hoofstroomgroep gemaak.

Die ÖVP met sy leier, Sebastian Kurz, kon 32% van die stemme op sy party verenig, ʼn plus van 7%. Die ÖVP was lankal op ʼn afwaartse trajek as junior koalisievennoot van die sosiaal-demokratiese SPÖ, maar die jong (31), mediabewuste en dinamiese (maar ook egosentriese) leier, Kurz, kon die ÖVP herontwerp en die bekommernisse van die burgery aanspreek.

Anders as in die geval van Duitsland se Christen-Demokrate (CDU), wat onder mev. Merkel na links beweeg het en die vraagstuk van massa-instroming nie as probleem wil erken nie, het Kurz reeds vanuit sy posisie as minister van buitelandse sake in die koalisieregering dit onomwonde aangeraak en ʼn duidelik nasionalistiese koers ingeslaan. In die tweede helfte van 2015, toe derduisende vlugtelinge en ander immigrante deur Oostenryk na Duitsland gestroom het (waarby ʼn hele paar in Oostenryk vasgehaak het), het Kurz die leiding geneem om die Oos-Europese state te oortuig om die vlugtelingeroete deur die Balkan te sluit, tot verleentheid (maar waarskynlik stille verligting) van mev. Merkel.

Hy het eers in Mei vanjaar met amper ʼn soort “staatsgreep” leier van die ÖVP geword. Sy boodskap was: “Gee my al die mag in die party, en ek sal ons tot ʼn oorwinning lei”, iets wat klaarblyklik gewerk het. Kurz het die koalisie met die SPÖ beëindig en heelwat van die meer regsgesinde FPÖ se beleid en slagspreuke oorgeneem, met die voordeel dat sy party as hoofstroomparty meer aanvaarbaar was vir die meeste kiesers. Ook wat die houding teenoor die EU betref, soek Kurz weer meer seggenskap vir die nasionale state en is daarmee in ooreenstemming met sy Oos-Europese buurstate.

Die FPÖ met sy eweneens dinamiese en uitgesproke leier Heinz-Christian Strache het nogtans beter gevaar as die vorige keer en op 27% te staan gekom (+7%). Sonder die ÖVP se swaai na regs en die media-liefling Kurz sou hulle waarskynlik nog beter gevaar het. Strache het hom met groot moeite van Kurz onderskei en onsuksesvol daarop gewys dat die FPÖ die “egte” heimatparty is, terwyl Kurz net ʼn magshonger manteldraaier is. Dit moet vir hom frustrerend wees dat hy 15 jaar as partyleier die FPÖ geleidelik ál sterker gemaak het en al binne bereik van die kanselierskap was, net om deur die tot onlangs toe nog feitlik onbekende uitskieter, Kurz, verbygesteek te word.

Feitlik gelykop met die FPÖ (die briefstemme moet nog getel word om die presiese getalle te kry) is die sosiaal-demokratiese SPÖ met 27%. Die SPÖ was tradisioneel die sterkste party in Oostenryk wat vir die grootste deel van die land se geskiedenis die politiek bepaal het, gewoonlik in ʼn koalisie met die ÖVP. Die SPÖ se leier en huidige kanselier, Christian Kern, het net kort regeer (hy het tydens die termyn by sy voorganger, Werner Faymann, oorgeneem) en kon nog nie eintlik sy stempel afdruk nie. Sy party word as korrup en afgeleef deur groot dele van die burgery beleef en boonop was daar ʼn skandaal rakende vervalste Facebook-bladsye om Kurz te diskrediteer. Nogtans het die SPÖ sy getrouste ondersteuners behou en met amper 27% gevaar soos laas (wat egter reeds ʼn swak resultaat was). Die SPÖ het waarskynlik gebaat deur heelwat stemme van die Groenes af te rokkel, aangesien die verkiesing as ʼn buiteperdresies beskou is. Die Groenparty was dan ook die groot verloorder en het van 12% tot 3% gedaal en sal nie meer in die parlement verteenwoordig wees nie (daar geld ʼn 4%-drempel). Twee kleiner partye, die ekonomies-liberale Neos en ʼn afsplitsing van die Groenes by name Liste Pilz met 5% en 4% onderskeidelik het dit net-net gemaak.

Kurz het nou die opsie van die voortsetting van die koalisie met die SPÖ, met sy party nou die groter een. Dit is egter onwaarskynlik ná die talle struwelinge tussen die twee partye en hulle leiers, asook die mislukte onlangse koalisie. Die FPÖ blyk ideologies die aangewese vennoot te wees, maar sy leier, Strache, weet ook dat die FPÖ die beste vaar as opposisieparty. Toe die party van 2000 tot 2006 in ʼn koalisie met die ÖVP was, het dit die FPÖ baie steun gekos. Of die alfa-mannetjie Strache visekanselier onder ʼn veel jonger kanselier Kurz wil wees, is ook ʼn vraag. Die derde opsie is ʼn minderheidsregering met wisselende meerderhede.

Hoe dit ook al sy, Sebastian Kurz sal die kanselier wees, en daarmee saam die jongste staatsleier ooit in Europa, en Oostenryk gaan beslis na regs swaai. Grensbeheer sal nog strenger toegepas word. Binne die EU sal Kurz ook sy gewig rondgooi om aan te dring op die konsekwente voorkeer en terugstuur van vlugtelingebote, asook om weer meer bevoegdhede van die EU-kommissie terug te gee aan die nasionale state.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mooi man ·

Bly om dit te hoor, die wit liberale in alle lande word nou eenkant toe geskuif. In die USA, in Duitsland en nou ook in Oostenryk. IN SA skreeu hulle nog Amandla saam met die massas terwyl daar reeds targets op hulle rue gemaak word … Te snaaks hoe die wiel gedraai het en die liberales wat destyds probeer gewildheid verwerf het met hulle liberale menings, uitsprake en protesoptredes, is nou die uitgewekenes oral.

JC ·

En die “nuwe verkramptes/bekrompenes”. Konserwatiewes wat veg vir die behoud van hul kultuur en waardesisteme, is nou die nuwe helde, konserwatisme is die nuwe “punk rock”, en “liberaliste” – in die VSA alom bekend as “libtards”- is die mees gehate, yippee!!!

JC ·

Dankie, dankie tog!! Iewers in die wereld (naas die VSA) oorheers rasionele en konserwatiewe denke nog!

Darius Els ·

In VSA het dit gehelp.In Holland en Frankryk het versleg,libtards het gewen.
In Duitsland is tannie Merkel nog steeds in in die muslims se sak.
Oostenryk kan maar vergelyk word met die Weskaap: n babalaas provinsie wat al amper meer premiers gehad het,as Italie eerste ministers.
As die wind nie goed genoeg verander soos in die VSA nie,help dit nie.

Vermeende ·

Ek sal nie hoera skree nie, die regse en konserwatiewes in Europa en die VSA is nog verder links as die DA hier in SA.

Frans C ·

Jy sien as jy soos ons liberale landgenote alles vir almal probeer wees, is jy op die ou einde niks vir iemand nie,want dan neem die ‘almal’ oor en sit jy op die ou einde amper met niks,wat jy nog jou eie kan noem.

Rasioneel ·

Die wereld se oe gaan oop vir die verwoestende liberale agenda. Ons is nie meer bereid om dit wat ons oor generasies opgebou het te laat vernietig deur ander wat net kom om ons goed oor te vat en ons uit te druk nie. Ons het volle reg om ons eie taal en kultuur te bewaar, want dit is kosbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.