Oostenryk: Sege vir linkse presidentskandidaat  

alexander-van-der-bellen

Alexander van der Bellen van die Groenparty. Foto: Greenpartywatch.org

Die Oostenrykse presidentsverkiesing, wat eers nietig verklaar is weens foute en toe weer uitgestel is, het verlede Sondag plaasgevind. Dit was die uitkloprondte tussen twee kandidate aan weerskante van die politieke spektrum: Norbert Hofer van die regsgesinde FPO (Vryheidsparty van Oostenryk) en Alexander van der Bellen van die Groenparty.

Die verkiesing is met groot belangstelling dopgehou, want ʼn oorwinning vir Hofer sou ʼn verdere harde hou vir die links-liberale magselite in Europa beteken het, ná die stemming oor Brexit en die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president.

Hofer is uitgesproke en teen die vlugtelingsinstroming na Europa gekant. Hy is ook skepties teenoor die Europese Unie met sy sentralistiese tendense en wil Oostenryk eerste stel. Ook die moontlikheid van ʼn referendum oor EU-lidmaatskap is deur hom in vooruitsig gestel.

Van der Bellen staan juis vir die teendeel: oop grense vir vlugtelinge en ander migrante, meer EU-sentralisme en minder nasionale belang. Die meningspeilings het ʼn kop-aan-kop stryd voorspel en reeds die vorige, ongeldig verklaarde tweede rondte van 22 Mei het ʼn baie naby uitslag opgelewer. Van der Bellen het Hofer in Sondag se verkiesing met 52% teenoor 48% gewen.

In die eerste rondte van die presidentsverkiesing van 24 April was dit reeds ʼn sensasie dat twee kandidate van die politieke uithoeke die wenner en naaswenner was (35% vir Hofer en 21% vir Van der Bellen). Gewoonlik dring die kandidate van die twee hoofstroompartye, die sentrum-regse OVP (Oostenrykse Volksparty) en die sentraal-linkse SPO (Sosiaal-demokratiese Party van Oostenryk) deur tot die volgende rondte. Die kandidate van die OVP en SPO het egter al twee uiters swak gevaar met slegs 11% vir elk, wat reeds aangedui het dat die kiesers hoogs ontevrede met die bekende politiek en die ewige groot koalisie tussen die twee hoofstroompartye is.

Omdat die verkiesing so lank uitgestel is, kon die gevestigde orde al hulle troepe mobiliseer. Van der Bellen kon hom ook beter bemark as die konsensuskandidaat en het sy lidmaatskap van die Groenparty onderspeel en eerder soos ʼn burgerlike onafhanklike kandidaat opgetree. Behalwe vir die FPO self was eintlik alle politieke partye, van gematig regs tot ver links, aan Van der Bellen se kant. So ook feitlik alle meningsvormers, joernaliste, kunstenaars en ander prominente persone. Die media het ook die vrees vir moontlike internasionale isolasie onder ʼn president Hofer aangeblaas.

Anders as in die eerste rondte was daar geen verrassingselement meer aan Hofer se kant nie. Ook die aanvanklike voordeel vir Hofer, naamlik dat Van der Bellen se oorwinning in die vorige rondte nietig verklaar is weens manipulasie met die uitslag, het deur die lang tydsverloop van sewe maande vergete geraak.

Die president van Oostenryk word direk deur die bevolking gekies vir ʼn termyn van ses jaar en daar is twee rondtes.

Die president is veral seremoniële staatshoof en het min direkte mag. Die meeste mag is gesetel in die kansellier (vergelykbaar met die eerste minister in Suid-Afrika voor 1984). Die president benoem wel die regering ná ʼn verkiesing en speel ʼn belangrike rol as meningsvormer en vir die beeld van sy land. Waarskynlik was die hoofrede dat die meeste kiesers vir Van der Bellen gestem het dat hy die internasionaal meer aanvaarbare kandidaat is. Oostenryk was al in die verlede die muishondstaat van Europa toe die FPO deel was van ʼn koalisieregering met die OVP van 2000 tot 2006 en die EU sanksies teen die land toegepas het om die burgers vir hulle demokratiese besluit te straf. Die woede vir die “establishment” en vir die hoofstroommedia met hulle links-liberale uitkyk is ook in Oostenryk sterk, maar nog nie sterk genoeg vir ʼn duidelike koersverandering nie.

Dié keer het die gunsteling van die establishment gewen, maar met ʼn skraal meerderheid. Die gety draai ook in Oostenryk. Die FPO het ʼn goeie kans om in die volgende parlementsverkiesing die sterkste party te word en die dae van die ewige koalisie uit OVP en SPO is getel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Van der Bellen staan vir “oop grense en minder nasionale belang”, maar wen die verkiesing heel oortuigend. Verstommend. Die veelbesproke “woede vir die establishment” was maar flou.

‘n Mens kan dan aanneem dat Oostenryk soos ons hom ken, nooit weer dieselfde sal wees nie. Maar, as dit is wat Oostenrykers wil hê …

Kan nie help om te wonder hoe “Captain von Trapp” van “Sound of Music”-faam oor die lamsakkigheid van ‘sy volk’ sou voel nie :-(

Geen nie-Westerse land handhaaf oop-grense of val oor hul voete om multi-kulturalisme en diversiteit te omhels nie. Verduidelikings of verklarings hiervoor ontbreek.

JC ·

Geniet dit nog terwyl jul kan, links liberale establishment.
Dit gaan nie lank hou nie…die winde van verandering kom!!

Hendrik ·

Stem saam. S.A. se winde van verander kan die DA of die EFF en altwee ondersteun alle huidge diskrimenerende wetgewing teen die wit mense.

Henry ·

Wil lyk asof Hofer se voortydige aankondiging dat Oostenryk ook die EU moet groet, veroorsaak het dat talle aspirant ondersteuners hul pro-Hofer stemme vir ‘n annerdag ge-bêre het. Die Oostenrykers se Europese gebondenheid/verbondenheid is veel groter as die Britte s’n.
Hofer se kloekmoedigheid wat eerder aan voorbarigheid grens, het hom baie stemme en ondersteunende yodels gekos.

Waarom ·

Waarom stem julle so?? Kyk wat gebeur sodra die kultuurvreemdes eers oorvat, dan is daar net moeilikheid soos hier en vele ander areas waar ander oorvat en net meer en meer demand dat jy jou eie waardes en later aan lewe moet prysgee.

John ·

Koebaai mooie Oostenryk… die statige operahuise sal verval en Strauss en Morzart in vergetelheid verdwyn. Wie wil nog Europa besoek… ? Die Jode is uitgewis en nou omarm die EU met ‘n glimlag hul eie ondergang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.