Op die altaar van ‘politieke korrektheid’

Ernst-Nolte

Ernst Nolte. Foto: Facebook.

Verlede week is die Duitse historikus Ernst Nolte in Berlyn oorlede. Die gemiddelde leser sal sy naam nie ken nie – maar moenie ophou lees nie, want al was dit slegs by implikasie, was sy werk nogal van belang vir Suid-Afrika.

Dit gaan om die vraag hoe die geskiedenis bekyk moet word. Moet die heersende openbare mening – politieke korrektheid, as jy wil – bepalend wees, of kan die historikus ook (uiteraard binne die grense van die akademiese wetenskaplike reëls) daarteen ingaan?

Nolte was bekend vir sy baanbrekende werk Der Faschismus in Seiner Epoche (1963) – “Die Fascisme in sy Tydsgewrig”. Dit was ’n vergelykende studie van die Duitse nasionaal-sosialisme, die Italiaanse fascisme en die Franse vooroorlogse beweging Action Française, wat ’n soortgelyke ideologie gehuldig het. Daarmee het hy die nasionaal-sosialisme bo ’n unieke Duitse karakter uitgelig en as ’n internasionale ideologie, verbonde aan ’n era, vertolk.

Hiermee het Nolte al ’n taamlike debat uitgelok. Dit sou ewenwel tot 1986 duur voordat hy die knuppel in die hoenderhok gegooi het met ’n artikel in die Frankfurter Allgemeine Zeitung, wat verskyn het onder die titel Die Geschichte die nicht vergehen will – “Die geskiedenis wat nie wil verbygaan nie”.

Daarin het hy, sterk vereenvoudig, twee verwante stellings (eintlik meer vrae of teorieë) gemaak.

Een: Adolf Hitler en sy Nazi’s se massamoord op die Jode, ’n geskatte 6 miljoen mense, is nie uniek in die 20ste-eeuse wêreldgeskiedenis nie. Dit kan vergelyk word met die miljoene wat Josef Stalin en sy kommuniste doodgemaak het.

Twee: Die Nazi-misdade was ’n reaksie op wat onder Stalin in die Sowjetunie gebeur het. In sy ingewikkelde Duitse sinskonstruksies het hy dit só gestel: “Dit is ’n opvallende leemte in die literatuur oor die nasionaal-sosialisme dat hulle nie weet of nie wíl weet in welke mate alles wat die Nazi’s later gedoen het, met die enkele uitsondering van die tegniese vooruitgang van die vergassing, reeds in ’n omvangryke literatuur in die vroeë twintigerjare beskryf is nie: Massadeportasies en -beskietings, foltering, doodskampe, uitwissing van ganse groepe volgens bloot objektiewe kriteria, openbare eise vir die vernietiging van onskuldige, maar as ‘vyandelik’ geagte mense.”

Die Goelag-argipel was die “logiese en feitelike voorganger” van die Holocaust en “oorspronkliker” as laasgenoemde, het hy betoog.

Onthou, dit was skaars 30 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog, en die letsels en gepaardgaande skuldgevoel onder die Duitsers was nog ver van genees. En dus het dit ’n enorme storm van verontwaardiging uitgelok.

Die teenaanval is gelei deur die filosoof Jürgen Habermas, gevolg deur die historici Heinz August Winkler, Walter Laqueur en Hans-Ulrich Wehler. Hul aanklag was dat Nolte nie alleen feitelik verkeerd was nie, maar dat hy die Nazi’s se misdade “verontskuldig” het.

Die felle debat, bekend as die Historikerstreit, het nie slegs oor die verlede en die geskiedwetenskap gegaan nie. Onderliggend daaraan was linksgesinde akademici se ongemaklikheid met die konserwatiewe rigting wat die Wes-Duitse regering onder die Christen-demokratiese bondskanselier Helmut Kohl – wat die bewind in 1982 van die gematig-linkse sosiaal-demokrate afgeneem het – ingeslaan het. Die aanklaers teen Nolte was bevrees dat Duitsland weer na ’n Hitler-agtige diktatuur kon afgly, en Nolte se “verontskuldiging” van die volksmoord op die Jode was ’n simptoom daarvan, het hulle gevrees.

Nolte se belangrikste ondersteuner was die historikus Martin Broszat (oorlede in 1989). Broszat het daarvoor gepleit dat die Nazi-tyd “gehistoriseer” word – met ander woorde, dat dit met minder emosie en meer nugterheid benader word, dat dit met dieselfde akademiese objektiwiteit en instrumente as enige ander tyd behandel word.

Meer as 30 jaar later het die emosie van 1986 drasties verswak. Die konsensus onder historici nou is dat Nolte in bepaalde opsigte oordryf het in sy stelling dat die nasionaal-sosialisme ’n reaksie op die kommunisme was.

Hitler het sy idees op sy eie ontwikkel; die Sowjetunie het nie werklik ’n rol daarin gespeel nie. Wat wel die geval is, is dat Nazi’s die Sowjetunie se stelsel van totalitêre diktatuur, die massale verdrukking en konsentrasiekampstelsel, met belangstelling bestudeer, nagevolg en vervolmaak het.

Wat Nolte se tweede stelling betref, dit word deesdae taamlik algemeen aanvaar. Die laaste stuiptrekking van verset hierteen was die teenstand in die jare negentig teen ’n uitdagende stelling van die Franse historikus Stéphane Courtois in sy gerugmakende Livre Noir du Communisme (“Swartboek van die Kommunisme”): “Die hongerdood van ’n Oekraïense kleinboerekind wat willens en wetens uitgehonger is deur die Stalinistiese regime ‘weeg op’ teen die hongerdood van ’n Joodse kind uit die ghetto van Warschau wat uitgehonger is deur die Nazi-regime.”

En inderdaad, in die beskouings wat in die Europese media na aanleiding van Nolte se dood verskyn het, word erken dat die heftige emosie waarmee hy destyds verketter is – iets wat hom diep seergemaak het – oordrewe was. Nolte was nie foutloos nie, maar die beskuldigings dat hy by implikasie een van die gruwelikste misdade van die ganse geskiedenis verskoon het, was hopeloos foutief.

Wat sê dit vir ons in Suid-Afrika?

Reeds sedert die jare sewentig en tagtig het die ANC/SAKP ’n bepaalde narratief oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis begin opstel, waarvan ’n mens die ontwikkeling duidelik in hul publikasies kan volg. Dis ná 1990, toe hulle uit ballingskap teruggekeer het, met krag verder ontwikkel.

Dit kom daarop neer dat apartheid ’n unieke misdadigheid in die wêreldgeskiedenis het, ’n wisselvorm van die nasionaal-sosialisme en ’n misdaad teen die mensdom was, en dat hulle self die toppunt van moraliteit en beginselvastheid was. Dié narratief is in effens verwaterde vorm deur die Waarheids-en-Versoeningskommissie oorgeneem (iets waaroor aartsbiskop Desmond Tutu vandag moontlik enigsins skaam voel).

Wyk ’n mens hiervan af, word jy – net soos Ernst Nolte en Martin Broszat destyds – by wyse van spreke tot die hel verdoem. Selfs ’n senior kollega uit eie kring, wie se naam ek maar nie sal noem nie, het my aan die begin van die eeu in die koerant gerepudieer toe ek gepleit het dat die geskiedenis van apartheid “gehistoriseer” moet word.

Daar is historici wat hulle nie laat intimideer nie. Die belangrikste daarvan is ongetwyfeld Hermann Giliomee, wat in sy monumentale werk oor die Afrikaners en elders ’n nugter vertolking, gelei deur die eise van die historiese wetenskap, handhaaf.

Selfs hy is op die altaar van politieke korrektheid geplaas.

Uiteindelik draai die wiel egter. Dit moet natuurlik nie só ver draai dat apartheid – en die nasionaal-sosialisme – wérklik verskoon word nie. Maar Ernst Nolte het ons, met sy foute en al, geleer dat ’n mens jou nie deur emosie en politieke korrektheid (links én regs!) moet laat lei nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarie

Dinge soos die potloodtoets wat nou weer tydens Solidariteit se besoek aan die VN opgerakel word is vir my vreemd. Nêrens het ek iemand teë gekom wat dit ondergaan het nie. Wat wel snaaks is dat die ANC die bruinmense weer benadeel soos in die saak teen korrektiewe dienste maar daarvan sê hulle niks nie.

Chris Lombard

Woorde het betekenis, en selfs die term “polities korrek”, is polities korrek. Die werklike woord wat ons moet gebruik is sensuur. Nou wel nie altyd deur die staat nie, maar deur die gemeenskap. Sekere idees, woorde word taboo, en n persoon wat hierdie idees of woorde wil gebruik betaal gewoonlik n duur sosiale prys in die vorm van verlies aan sosiale status.

Die rede vir die sensuur is gewoonlik om n ideologie te promulveer sonder dat die teenkant behoorlik argumenteer kan word en daar is altyd bitter min mense wat bereid is om die prys te betaal.

Tiaan

Truth is like poetry and nobody likes poetry.

Theuns

Leopold hier lewer jy ‘n waardevolle stuk kommentaar. Die verlede het nie meer ‘n stem nie en word nie teen die historiese Afrikaner verlede beoordeel nie en word die goeie saam met die skottelgoed water in die riool afvoerpyp gegooi. Soveel leuns word deur die huidige meerderheid aan die werklike historiese verlede geheg dat dat selfs ons eie mense, en om nie eers te praat van ons Jongmense nie, nie weet waar oor alles gegaan het nie en glo hulle wat vir hulle opgedis word! Gelukkig het ons mense soos Hermann Gillomee, Herman Toerien en jy self wat bereid is… Lees meer »

JC

Baie dankie. Julle almal se kommentaar sowel as Leopold se artikel is uitstekend! Hopelik vreet die monster wat “politiese korrektheid”, oftewel sensuur is, homself op. Reeds is daar reeds ‘n kanteling, onder meer agv die einde van “Indiversalisme” of dan die doods- stuiptrekkings daarvan-sien prof Koos Malan se artikel oor “indiversalisme”. Hopelik begin mense nou weer te ontdek ‘n hernieude waardering vir hul unieke taal en kulturele waardes saam met die besef dat dit destyds voldoende was EN STEEDS is vir ‘n moderne en trotse bestaan. Die begin hiervan word reeds waargeneem in die opkoms van “polities onortodokse” partye in… Lees meer »