Op pad na ʼn beter bedeling

Foto bloot ter illustrasie (Foto: LUCA SOLA / AFP)

Ek was bevoorreg om na ʼn geleentheid in Johannesburg genooi te wees waar die Britse joernalis Douglas Murray in gesprek was met Gareth Cliff en JJ Thabane oor die stand van demokrasie in Suid-Afrika en die wêreld.

Wat uit die debat na vore gekom het, is dat mense in Suid-Afrika besonder ontsteld is oor die stand van sake. Ook Thabane het heelwat te sê gehad oor hoe rampspoedig die Suid-Afrikaanse regering geraak het, en het die punt gemaak dat dinge nie kan aangaan soos wat dit tans aangaan nie.

Murray het daarop gereageer deur te sê dat waar hy ook al gaan, hy praatjies hoor oor hoe om dinge tot ʼn val te bring, oor die noodsaak daarvan om dinge tot ʼn einde te bring ensovoorts, maar dat diegene wat daaroor praat om dinge tot ʼn einde te bring, selde daarin belangstel om die deel oor “wat daarna kom” te bespreek. Dit is hoekom revolusies altyd in mislukking eindig. (Daar word dikwels gesê dat die Amerikaanse Revolusie die enigste uitsondering hierop is, maar ek is nie daarvan oortuig dat sesessie as ʼn revolusie geag kan word nie.)

Die Suid-Afrikaanse (ANC-) regering is die perfekte voorbeeld hiervan hoewel dit slegs een van talle sodanige voorbeelde is. Selfs 30 jaar nadat hulle aan bewind gekom het, is die Suid-Afrikaanse regering steeds vasgevang in struggle-modus. Anders as wat algemeen aanvaar word, beteken dit nie dat die probleem opgelos sal word bloot deur die ANC te vervang nie.

Cyril Ramaphosa, Nelson Mandela en Jacob Zuma tydens die Konvensie vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) op 20 Desember 1991. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Ons moet erken dat Suid-Afrika weens verskeie redes misluk. Die struggle-mentaliteit en korrupte aard van diegene wat aan bewind is, is maar net ʼn klein deel van die probleem. As dit die somtotaal van Suid-Afrika se probleme was, sou ons moes glo dat korrupsie, wanbestuur en ʼn onbevoegde regering iets van die verlede sou word bloot as ʼn ander politieke party onder dieselfde stelsel aan bewind sou kom. Dit is nogal verstommend om te sien hoeveel mense dit glo.

Die feit van die saak is dat Suid-Afrika slegs deels as gevolg van die optrede van die magshebbers misluk. Die onuitgesproke deel van die waarheid is dat Suid-Afrika vanweë inherente strukturele gebreke aan die misluk is. Dit is juis as gevolg van daardie strukturele gebreke dat diegene wat aan bewind is oor die vermoë beskik om soveel skade aan die samelewing aan te rig.

Dit is goed om die simptome van ʼn probleem te bespreek, maar dit is van weinige nut as ons nie die onderliggende kwessie in ag neem nie.

Die onderliggende kwessie is dat Suid-Afrika eerstens ʼn besonder groot land is. Soos Flip Buys onlangs daarop gewys het, is Suid-Afrika groter as Duitsland, Italië, Brittanje, Nederland, België, Denemarke, Ierland, Griekeland, Lesotho en Eswatini sáám. Die afstand tussen Kaapstad en Musina is omtrent dieselfde as die afstand tussen Londen en Rome. Suid-Afrika is nie net ʼn groot land nie, dit is ook ʼn uitsonderlik diverse land, met ʼn wye verskeidenheid van tale, kulture en tradisionele gemeenskappe met hul eie perspektiewe oor identiteit en geskiedenis, en hul eie idees oor wat ʼn goeie lewe behels.

Hierdie agt Europese lande pas in Suid-Afrika se grondgebied. (Foto: Verskaf/Solidariteit Beweging)

Om een party toe te laat om oor al hierdie dinge te beskik maak so min sin as om te sê dat die politieke party wat die meeste stemme in Europa kry oor die mag moet beskik om oor die ganse Europa te regeer en om diskriminerende wette op ganse nasies, wat fundamenteel nie met die vertrekpunt saamstem nie, af te dwing. Dit is nogal moeilik om te verstaan hoe ʼn redelike mens so ʼn stelsel as moreel verdedigbaar kan beskou. Nie net is dit moreel nie verdedigbaar nie; dit is ʼn resep vir mislukking.

Deur te erken dat dinge nie werk nie, beteken hoegenaamd nie om ʼn saak uit te maak vir ʼn terugkeer na die verlede toe nie. Dit is ʼn erkenning dat die huidige stelsel nie werk nie, net soos wat die vorige stelsel nie gewerk het nie, hoewel om verskillende redes.

Ons kan, en ons behoort oor die Suid-Afrikaanse regering se mislukkings te praat. Dit sal ons egter baat om onsself te herinner aan Albert Einstein se definisie van waansin, naamlik om verskillende resultate te verwag as dieselfde ding oor en oor gedoen word.

Ons sal daarby baat om te doen wat Murray voorgestel het, naamlik om meer tyd te bestee om die oplossing, eerder as die probleem, te bespreek. Of, om dit meer direk te stel, om meer tyd te wy aan besprekings oor hoe ʼn beter politieke bedeling daar sou uitsien as om die ANC se mislukkings te ontleed.

Werkers maak gereed om die nuwe Suid-Afrikaanse vlag te monteer op 6 Mei 1994 by die Uniegebou ter voorbereiding van die inhuldiging van die aangewese president Nelson Mandela op 10 Mei 1994. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Vergun my om ʼn paar idees in hierdie verband voor te stel oor hoe ʼn beter stelsel moontlik daar kan uitsien:

  1. ʼn Erkenning van die werklikheid

Ek het reeds genoem dat Suid-Afrika ʼn groot land met ʼn wye verskeidenheid van gemeenskappe is. Daar is niks verkeerd daarmee dat verskillende gemeenskappe verskillende lewenswyses en verskillende opinies het oor hoe hulle wil leef nie. Dit sal ons baat as ons ons visie oor ʼn funksionerende Suid-Afrika op die werklikheid baseer voordat ons ons tot ideologiese voorskrifte wend.

  1. Federalisme

Wat ek met federalisme bedoel, is ʼn gedesentraliseerde stelsel waarin die sentrale regering minder mag en plaaslike regerings meer mag het. Desentralisasie van politieke mag bemoontlik gemeenskapsbetrokkenheid, aanspreeklikheid en deursigtigheid. Ja, daar kan steeds korrupsie in ʼn gedesentraliseerde stelsel wees, maar dit sal die grootskaalse gesentraliseerde korrupsieskemas waaraan ons in Suid-Afrika gewoond geraak het, ernstig inkort.

  1. Gemeenskapsoutonomie

Ons benodig meer as ʼn blote gedesentraliseerde stelsel. Gemeenskappe moet oor outonomie oor hul eie sake beskik. Geen gemeenskap het die reg om oor ʼn ander te heers en om aan ʼn ander voor te skryf hoe en wat hulle hul kinders moet leer nie – om maar net een so ʼn voorbeeld te noem. Dit is reeds ʼn feit van die Suid-Afrikaanse lewe. Dit sou tegnies verkeerd wees om te sê dat gemeenskapsoutonomie toegestaan of verleen moet word, aangesien gemeenskapsoutonomie reeds ʼn gegewe van die mens se aard is. In plaas daarvan dat dit toegestaan of verleen word, moet dit erken en gerespekteer word.

  1. Die burgerlike samelewing

Suid-Afrika het ʼn vreemde digotomie bereik waar die politieke samelewing klaaglik misluk, terwyl die burgerlike samelewing floreer. Ons is geneig om die fout te maak om aan die politieke lewe as ʼn blote onderskeid tussen die openbare en private sfeer te dink. Dit is nie verkeerd nie, maar hierdie onderskeid erken nie die sfeer van die burgerlike samelewing nie. As dit nie vir die burgerlike samelewing was nie, sou Suid-Afrika op ʼn veel erger plek gewees het as waarin hy hom tans bevind. Tog ignoreer die Suid-Afrikaanse regering die rol van die burgerlike samelewing soveel as wat hy kan en onderspeel hy dit selfs. ʼn Stelsel waarin die regering nie oor die mag beskik om die burgerlike samelewing te onderdruk of te verwerp nie, sal reeds veel beter wees as dít wat ons tans het.

  1. Vereenvoudiging

Alhoewel die Suid-Afrikaanse politieke stelsel in ʼn sekere sin té vereenvoudig is (omdat dit nie gemeenskappe en die burgerlike samelewing erken nie) is dit in ʼn ander sin heeltemal té kompleks. Hiermee verwys ek na die belastingstelsel en die kommerwekkende vlakke van rompslomp wat feitlik in elke sfeer van die Suid-Afrikaanse samelewing ingebou is. Dit raak al hoe moeiliker vir die gemiddelde persoon om sy belasting self te doen omdat die stelsel met verloop van tyd al hoe meer lae bykry. ʼn Vereenvoudigde stelsel, waar dit makliker is om ʼn onderneming te begin, mense in diens te neem en om beter te verstaan wat met staatsinkomste en -uitgawes gebeur, sou ongetwyfeld ʼn beter stelsel wees.

Ernst Roets Crop

Dr. Ernst Roets (Foto: Twitter)

Nelson Mandela het in die aanloop tot die 1994-verkiesing beloof dat die dae van die soustrein iets van die verlede sou wees en dat daar onder ʼn ANC-regering “geen vet katte” sou wees nie. Die ANC het ons oortuig dat hulle gereed was om te regeer en dat die Nuwe Suid-Afrika een sou wees waarin mense vreedsaam en in wedersydse erkenning en respek met mekaar sou saamleef. Daar bestaan feitlik niemand wat meer aan die huidige politieke bedeling dink as een waarin enigiemand sy of haar volle potensiaal kan bereik nie.

Tog is dit moeilik om die stelsel te kritiseer omdat die regering en sommiges in die media ons oortuig het deur dít te doen, beteken om jou rug op Mandela te draai of om te wens om na die verlede toe terug te keer. Ons kan aanvoer dat die ANC teen daardie tyd al ʼn korrupte en oneerlike beweging was. Maar selfs al verskil ons daaroor, kan ons steeds saamstem dat daardie toekomsvisie nie verwesenlik is nie

Die vraag is dus – wat doen ons nou..?

Ons kan aanhou om hierdie rots met ʼn stok te slaan in die hoop om ʼn wonderwerk te bewerkstellig of, as water dringend nodig is, is dit dalk tyd dat ons erken dat hierdie rots wat die Suid-Afrikaanse politieke stelsel is nie die wonderwerk is wat die wêreld geglo het dit sou wees nie.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Geen ontbondeling? Wat van KZN, Wes-Kaap, Noord-Kaap? Daar word steeds gehammer op gemeenskapsoutonomie. Klink romanties en goed op die oor, maar die diverse gemeenskappe is net té geintegreer daarvoor. Daar is nie meer ekslusiewe woonbuurte waar wittes vir wittes werk nie. Ons skole is ‘n bewys daarvan. Indiërs in KZN en Bruines in die Kaap probeer wel hard om hul buurte en skole ekslusief te hou. Wittes het reeds boedel oorgegee. Dr. Roets, dit wat jy hier bevorder vereis dat jy jou moue moet oprol en werk aan nog Oranias, sommer hordes, én landswyd.

OW ·

Stem 100% saam met Rep in die Wes Kaap.Dr Andries Treurnicht het jare gelede gesê dat een man een stem nie werk in Afrika nie.Die massas stem net eenvoudig die minderhede uit by die stembus, en die minderhede word geklop by die stembus.Hoekom daar nie tydens die onderhandelinge na meer politieke demokratiese opsies gekyk en oorweeg is nie,sal net die partye wat betrokke was seker weet.Eerwaarde Allan Hendrikse was na my mening die enigste persoon wat ‘n konfederasie van state voorgestel het,maar is nie ernstig opgeneem nie.

Kiepie ·

OW is dit nie presies wat demokasie is nie, dat die massa die minderheid klop by die stembus nie?

Hendrik ·

Dit lyk of die oplossings daar is, die tafel is gedek en die volgende moeilike tree moet nou gegee word. Selfbeskikking op gemeenskapvlak. Die gerieflikes praat graag maar wil nie regtig doen wat hulle preek nie. #Kleinfontein

OW ·

@ Kiepie.Ek twyfel nie oor ‘n demokrasie nie,maar oplossings vir die minderhede om tot hulle volle reg te kom in ‘n demokrasie,wat uiters swak pressteer het.

Treurwilger ·

Puik artikel!
Die groot vraag is hóé nou verder?
Waar is al die buitelandse ‘busy bodies’ nou dat die wonderwerk ‘n mislukking is?
Wyle Buthelezi het destyds onsuksesvol probeer om “ federalisme” aan die onderhandelaars te ‘verkoop’.
Dalk is die gesaghebbendes na die verkiesing meer ontvanklik vir iets nuuts.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.