Op soek na deurbraakgerigte evolusie

Soos wat met individue die geval is, kom daar ook tye waar nasies, volkere en state bestekopname van hul huidige situasie moet doen. Dit is normaalweg tye van verandering, soms fundamentele verandering, waarin mense en strukture gedwing word om uitdagings aan te spreek, probleme te konfronteer en oplossings hiervoor te vind. In tye van snelle verandering word hierdie breekpunte meer gereeld bereik en is ʼn konstante bemoeienis met die toekoms ʼn uiterse noodsaaklikheid. Dit is tye soos hierdie wat leierskap vereis en waarin besluite kan bepaal of die uitkoms dit is wat Lazlo noem devolution towards breakdown’ of ‘evolution towards breakthrough’. Soos selde in die verlede (moontlik 1910 met Uniewording of die Kodesa/Veelpartykonferensie 1990’s?) word hierdie eis tans op soveel vlakke van die samelewing, ekonomie en politiek tegelyk geprojekteer op individue, groepe en strukture. Dus, nie net moet individuele uitdagings hanteer word nie, maar ook (veral?) die kollektiwiteit van eise met sy komplekse samehange (lees groepe en strukture) wat op ʼn gereelde basis, soms in ʼn meer fundamentele sin, aangespreek sal moet word.

Die Suid-Afrikaanse samelewing word tans met van sy grootste uitdagings sedert 1994 gekonfronteer wat insluit sake soos eskalerende armoede; rassepolarisasie; toenemende werkloosheid; misdaad wat buite beheer is; immigrasie en xenofobie; groterwordende gapings tussen ryk en arm; onder-presterende onderwys en gesondheidstelsels; en ʼn lewensverwagting wat heelwat laer is as die vlak 60’s van die periode voor 1994. Moeilike besluite sal hier geneem moet word wat myns insiens glad nie polities populêr mag wees nie. As populêre besluite die norm is, het ons werklik tans groot rede tot kommer. Hierdie kommer is wesenlik aangesien demokratiese praktyke soms bloot gereduseer word tot strukture wat uitdrukking gee aan vorme van politieke, ekonomiese en sosiale populisme.

Prof. Heribert Adam

Ekonomies is die sogenaamde ‘golden decade’ verby en worstel die SA ekonomie met groot vraagstukke waarvan ʼn sowat miljoen verlore werksgeleenthede sedert die einde van 2008 slegs een aspek is wat beklemtoon kan word. Die waarheid van die woorde van die Kanadese politieke wetenskaplike Heribert Adam dat stabiliteit in Suid Afrika na 1994 grootliks ekonomies gefasiliteer is deur die regime  se vermoë om die ANC (en ander uitgesluite politieke elites) ekonomies te kon inkoop deur hul goeie poste en voordele te gee moet nie onderskat word nie. Maar is dit vandag moontlik om in ʼn verslegtende ekonomiese omgewing en klimaat die massas of dan die stemvee (van veral die ANC) uit te koop voor elke verkiesing ten einde die elites (soms konflikterende elites) se posisies te help stabiliseer in ʼn politieke sin? Ten opsigte van laasgenoemde twyfel ek baie sterk – ten minste nie op ʼn korter termyn binne die raamwerk van ʼn meer oorwegend  vrye mark ekonomie nie. Vandaar onder meer die toenemende beklemtoning van versnelde grondhervorming, nasionaliseringsaansprake, meer sosiale sekuriteit, beter onderwys en gesondheidsdienste en noem maar op. Dus, meer werk en groter verantwoordelikheid vir ʼn reeds onder-presterende en verswakkende staat waar die behoefte aan beter dienslewering steeds toeneem. Weereens moeilike besluite moet geneem word – besluite wat myns insiens in vele opsigte lynreg indruis met heersende politieke opvattings van die huidige regerende elite.

Met die voorafgaande as vertrekpunt moet groter politieke eise hanteer en aangespreek word in ʼn omgewing waar die staat verswak en waar ook die inploffing van die staat op sekere vlakke (veral plaaslike vlak) ʼn toenemend belangriker kenmerk van ons politieke landskap begin word. Dit het as implikasie dat die burgery toenemend op hulself aangewese is om volhoubare dienslewering te verseker – terwyl die belastingslas in ʼn omgewing van soms eskalerende korrupsie aan die toeneem is. Meer as 300 belastingbetalersverenigings en eskalerende plaaslike regeringsopstande dwarsoor die land is uitkomstes van hierdie verswakkende staat en gepaardgaande ontoereikende dienslewering. Fundamentele grondwetlike wysigings (waarskynlik na die ANC se Mangaung-konferensie in 2012) is meer as net ʼn moontlikheid met die weg wat grondwetlik voorberei gaan word vir versnelde transformasie op alle terreine van die samelewing – al is die uitkoms dikwels die teenoorgestelde van dit wat beleidsmatig bereik wil word. (Sedert 1994 het die gaping tussen ryk en arm toegeneem; die lewensverwagting skerp gedaal; werkloosheid toegeneem; en gewelddadige misdaad toegeneem.) Diegene wat nog twyfel aan die bestaan van die Nasionaal Demokratiese Rewolusie moet maar weer gaan lees en nie verbaas wees as hierdie ideologie vorentoe meer sistematies, outoritêr en gefokus toegepas gaan word nie. Hiervoor moet die vyand duideliker gedefinieer word, aksieplanne goed ontwikkel word en beloftes gemaak word wat die nodige steunbasisse kan verseker. Die vyand is klaar gedefinieer en ʼn blanke herkoms staan hier sentraal soos ook witkapitaal wat deur Malema en andere as instrumenteel tot ekonomiese bevryding gesien word.

Die groot grondverskuiwings in die politiek van die dag veral binne die geledere van die ANC sedert Polokwane het homself nog lank nie uitgewoed nie. Die organisasie se eie leierskap praat deesdae van inploffing. Die eiesoortige transformasie van ʼn bevrydingsbeweging na ʼn politieke party is ʼn moeisame en moeilike proses waarvan die eerste tree maar eers onlangs gegee is met hef aan wat nog voorlê. Die bepalende Mangaung-konferensie wat voor die deur lê en wat moontlik die onttroning van Jacob Zuma (in analogie met sy voorganger Mbeki) kan sien plaasvind veroorsaak tans ongekende spanning in die party.  Hierdie scenario stuur tans skokgolwe deur die sogenaamde Broad Church van die ANC, manifesteer reeds op provinsiale en plaaslike vlakke en ʼn uitkoms kan wees ʼn nuutgedefinieerde alliansie van vennote.

Opposisiepolitiek staan ook in ʼn tyd van rekonfigurasie. Opposisiepartye moet hul strategieë toenemend aanpas om relevant te bly en in sodanige omgewing is koalisiesamewerking toenemend ʼn werklikheid wat vorentoe strategies benut sal moet word. Ook hier moet verandering bestuur word, uitdagings aangepak en oplossings gesoek word. Opposisiepolitiek is myns insiens besig om sy impak op die groter gang van die Suid-Afrikaanse politiek te verloor met ʼn Nasionale Demokratiese Rewolusieraamwerk wat al hoe sterker uit die verf kom en waarvoor opposisiepartye sukkel met antwoorde wat verkoopbaar is aan die meerderheid swart kiesers van die land. Opposisiepolitiek vind dit na my oordeel veral moeilik om die traumatiese oorgang van post-Apartheid na post-Koloniaal te verstaan en hulself hiervolgens strategies te posisioneer. Die volgende vyf jaar gaan bepalend wees vir die konsolidasie van ons nuwe demokrasie en opposisiepolitiek het hier, soos in die res van Afrika, ʼn belangrike rol om te speel. Kortom, deurslaggewende politieke, ekonomiese en sosiale besluite moet geneem word en kan nie juis veel langer uitgestel word nie. Of die denke bestaan om die oplossings te vind, die beleidsraamwerke ontwikkel kan word om die regte sake op die regte wyse te hanteer, die leierskap bestaan om die burgery saam te neem en moeilike besluite te implementeer wag om gesien te word. Sover is daar nie te veel om oor opgewonde te raak nie.

Dit is egter nie op die makro maatskaplike, sosiale, ekonomiese en staatkundige vlakke waar bogenoemde problematiek eindig nie. In hierdie tyd is die Afrikaner grootliks ʼn kleiner kosmos van dit wat hierbo geanaliseer is. Sosiaal/maatskaplike uitdagings is aan die toeneem; individuele ekonomiese oorlewing bevoordeel selde die groter kollektiewe eenheid; en politieke uitsigloosheid is aan die orde van die dag. ʼn Kleinerwordende, ouerwordende minderheidsgroep wat onseker van homself voortploeter is meer die norm as die uitsondering. Wat grootliks ontbreek is ʼn gefundeerde selfbeeld wat kan dien as ʼn grondslag vir ʼn strategiese visie om nie net die Afrikaner nie, maar ook ander groeperinge binne die groter samelewing te rig en te help uitbou om ʼn evolution towards breakthrough te help fasiliteer. Hier is myns insiens groot werk om te doen en die prys te groot om dit te versaak.

Vir die Afrikaner, soos vir die groter Suid-Afrika, moet hier grondliggend gedink en gehandel word. Tye van verandering beteken dikwels dat dit wat in die verlede gewerk het nie meer vandag goed werk nie en môre heeltemal uitgedien kan wees. Hiervan spreek die talle uitdagings ten opsigte van die handhawing minderheidsregte, Afrikaner armoede, die vlug van jong mense na die buiteland, omgekeerde diskriminasie en talle ander sake. Tans is die land op ʼn rassegrondslag waarskynlik meer gepolariseer as tydens die onderhandelinge in die aanloop tot 1994 en maak die ANC se ondersteuning van die lied “Skiet die Boer” ʼn bespotting van die strewe na ʼn nie-rassige, nie-seksistiese en demokratiese samelewing. Die kernstruktuur van die bestaande paradigma van denke waarbinne die Afrikaner funksioneer sal waarskynlik gewysig moet word. Dit hou verband met vrae rakende die wie, wat, waar en waarheen van die Afrikaner. Vir talle wag daar dit wat Alvin Toffler noem future shock. Met al die uitdagings op die onderskeie vlakke is dit die teater van die toekoms waarbinne daar gedink en gehandel moet word. Wie is bereid om hier die leiding te neem, maar ook te volg as die pad vorentoe met sy besondere uitdagings eers uitgespel word? Min twyfel bestaan dat die volgende vyf jaar bepalend gaan wees.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

André Duvenhage

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Anoniem ·

‘n Wekroep soos min.

Beskik Afrikaners oor die vermoë om uit hul waas van onbetrokkendheid te breek?

chris ·

Zuma het toe mangaun nie net oorleef nie maar oorweldigend gesevier. Dus is dit duidelik waarheen die ANC oppad is. Die ANC se verandering van n bevrydings beweging na n politieke party het to nie het toe gerealiseer in n nuwe mafia organisasie wat geen waardes het nie en die land as sy eiendom beskou.
Die DA kan geen groei verwag onder sy huidige ondersteuners nie en het geen keuse as om swart aspirasies voorkeur te gee met die hoop om steun onder die swart bevolking te wen nie. Die DA het reeds duidelik laat bleik dat hy geen vriend van die Afrikaner is nie en dat sake nie veel sal verander indien hy wel daarin slaag om die ANC te ontroon nie. ongelukkig vir die DA en die res van die land , bleik dit duidelik dat die ANC nie demokratiese speletjie gaan speel in dien hy dalk by die stembus bedreig word nie. Dit bleik al hoe duideliker in die taktiek wat tans in die kaap gevolg word met die plaaswerkers en ander geweldadige optredes. Bowendien is die ANC goed bevriend met ZANUPF en sal eerder die land in nog n Zim omskep as om hul greep op die regering te verloor. Hulle het immers niks om te verloor daardeur nie. Tipies Bevrydings Beweging taktiek, niks niks het ten goede verander in die ANC sedert 1994. Die ANC het nooit geveg vir bevryding en Demokrasie nie maar wel vir bewinds oorname. En hulle sal dit behou ten alle koste.
Wat is my punt ?
Ons sal geen vordering maak binne die huidige konstitusionele bestel nie, maak nie saak wie is aan bewind nie..
Soos u self se: ‘Die kernstruktuur van die bestaande paradigma van denke waarbinne die Afrikaner funksioneer sal waarskynlik gewysig moet word. ‘evolution towards breakthrough’. ”
Daardie verskuiwing is groter as wat meeste mense dink.
Dit is tyd dat Selfbeskikking weer op die tafel geplaas word. Dit was op die tafel tydens KODESA maar is gerieflikheidhalwe deur due NP en later die ANC onder die mat in gevee.
Maar Afrikaners sal eers op internasionale vlak moet steun werf vir die konsep want dit sal slegs moontlik wees met internasionale erkening. Dit is tyd om n nuwe model te ontwikkel wat voldoen aan die riglyne van die internasionale gemeenskap en internasionale reg. OASE het reeds die navorsing gedoen en toepaslike model op die tafel geplaas. Afrikaner selfbeskikking kan die ‘Florence’ wees van Suid Afrika en selfs Afrika se Renaisance. maar dit is ook die eenigste hoop wat Afrikaners het om te oorleef as n herkenbare etniese identiteit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.