Op soek na ‘n sondebok

Iemand moet die skuld kry! Die finansiële markte kan tog nie oornag ineenstort en miljoene mense wêreldwyd hul werk en spaargeld kos sonder dat iemand êrens daarvoor verantwoordelik is nie! Iemand moet die skuld kry en daar is ʼn lang lys van potensiële kandidate; afhangende van wie jy vra natuurlik.

Die “redes” vir wat nou bekend geword het as die “groot resessie” kan in drie groepe verdeel word. Soos gewoonlik stook die emosionele redes gemoedere vuurwarm. Die tweede stel “redes” vir die groot resessie is tegniese redes, wat gewoonlik so bietjie meer om die lyf het en laastens is daar die fundamentele redes.

Emosionele redes sluit as eerste keuse die getroue sondaar “gierigheid” (greed) in. Gierigheid is die rede waarom die wêreld in ʼn resessie gedompel is en gierigheid is die rede waarom ons steeds van die een krisis na die ander strompel. Veral die banke was gierig; aandelebeurse was ook gierig en besigheidlui was gierig. Gierigheid is die rede vir die groot resessie. Dis nie al nie, dis ook “kapitalisme” se skuld, of die Illuminati se skuld of, my persoonlike gunsteling, dis die “markte” se skuld! Alles snert natuurlik. Hoe kan die “markte” skuldig wees aan die groot resessie; ons is dan almal deel van “die markte”? Nee, emosionele redes is miskien handig om oningeligtes op te sweep maar bied maar weinig hulp om vas te stel “wie se skuld” dit was.

Tegniese redes is ook te blameer vir die groot resessie. Onvoldoende “beheer” oor finansiële instellings met die gevolg dat oormatige risiko geneem was. Banke se reserwevereistes was onvoldoende, hulle was toegelaat om koelbloedig geld uit te leen aan onskuldiges. Of dit was weens vreemde finansiële produkte, of afgeleide instrumente, of naakte kort verkope. Nie genoeg beheer oor die “gieriges” nie met die gevolg dat die “markte” hand uitgeruk het. Weer alles snert. Nog nooit was daar soveel beheer oor finansiële instellings soos juis nou nie en nog nooit het markte risiko so goed verstaan soos reeds nou nie. Maar wie se skuld was dit dan?

Ek is van mening dat fundamentele redes grootliks aanleiding gegee het tot die groot resessie. Maar voor ek daarby uitkom eers ʼn bietjie agtergrond.

Die afgelope ongeveer twee dekades het die wêreld dramaties gekrimp. Lande het al meer met mekaar handel gedryf en ekonomieë het al meer gesofistikeerd en produktief geword. Veral die opkomende wêreld (lees China) het skielik deel van die res van die wêreld geword en teen toenemende produktiwiteit al meer (veral na die VSA) begin uitvoer. Stygende produktiwiteit het verbruikerspryse laat daal (lae inflasie) wat sentrale bankiers oortuig het dat inflasie glad nie meer ʼn bedreiging ingehou het nie; inteeldeel, deflasie was ʼn potensiële probleem.

Die kuur vir (te) lae inflasie is natuurlik om rentekoerse te verlaag en lank laag te hou. Maar goedkoop geld beteken ook dat mense meer geld leen om selfs nog meer in te voer en om natuurlik huise te koop. Dis natuurlik nie ʼn probleem nie want ons weet almal huispryse kan nooit daal nie! Dus, die eerste fundamentele fout was dat rentekoerse te lank te laag gehou was wat eiendomspryse tot onrealistiese vlakke opgedruk het.

Fundamentele fout nommer twee was regerings wat in sekere lande hulself eenvoudig finansieel te buite gegaan het. Die Grieke is ʼn goeie voorbeeld. Nadat hulle deel van die Euro klub geword het, het hulle gedink hulle is deel van die ryk Weste en het begin lewe asof hulle Duitsers is. Verskil was, byvoorbeeld, dat die Grieke gemiddeld op 52 jaar aftree het terwyl die Duitsers tien jaar langer werk! Die Griekse regering het geleen om sy staatsamptenare “Europese” salarisse te betaal en het eenvoudig gelieg oor die stand van die Griekse fiskale gesondheid. Spandabelrige regerings is fundamentele rede nommer twee.

Fundamentele rede nommer drie het te doen met inmenging van politici in hulle onderskeie ekonomieë; natuurlik met goeie bedoelings. Weer verskaf die Amerikaners ʼn goeie voorbeeld. Polities is dit ʼn goeie idee indien alle Amerikaners hulle eie huise besit. Om die rede is daar, byvoorbeeld, twee organisasies in die VSA gestig met die vreemde name, Freddie Mac en Fannie Mae. Sonder om te tegnies oor hul funksies te raak was die doel van hierdie twee organisasies om huislenings aan “sub-prima” leners te verskaf. Sub-prima leners is leners wat nie êrens anders, weens onder andere swak kredietrekords, met huislenings geholpe kan raak nie. Freddie en Fannie het links en regs geld uitgeleen aan mense wat dit nie kon bekostig nie solank hulle eiendom daarmee gekoop het; ʼn geval van gierige armes! Maar dit was aanvaarbaar want almal weet mos, huispryse kan nooit daal nie!

Probleem was dat Freddie en Fannie se lenings deur die staat gewaarborg word. Indien ʼn lener sou wanbetaal kon Freddie en Fannie eenvoudig hul verlies teen die staat terugeis. Verder het Freddie en Fannie hulle sekuriteit (verbande) saamgevoeg in mandjies (collateralised debt obligations – CDO’s). Hierdie mandjies het ook ʼn groot stempel “Government Guarantee” daarop gekry waarna dit na die kredietgraderings agentskappe geneem is vir gradering. Natuurlik het die agentskappe ʼn AAA gradering daarop geplaas want wat is beter as ʼn staatswaarborg? Daarna was dit maklik om die mandjies aan ander banke te verkoop en so die proses te herhaal. Die banke, op hulle beurt, het weer die mandjies se kapitaal, inkomste en risiko apart verkoop en afgeleide instrument daarop geskryf – goeie AAA bates met ʼn staatswaarborg op huise en almal weet huispryse kan nooit daal nie.

Toe daal huispryse!

Banke wou nie meer aan mekaar geld leen nie want banke was onseker oor die gesondheid van die balansstate van ander banke. Krediet, die lewensbloed van ʼn moderne ekonomie, het ophou vloei en die een bank na die ander het gestruikel en geval. ʼn Aanvanklik finansiële krisis het oorgespoel na die reële ekonomie – dit was die begin van die groot resessie! Dis soos twee ouers, die een het die drank gekoop, die ander het die kinders aangemoedig om te drink; was dit die kinders se skuld?

Die rede vir die groot resessie was dus hoofsaaklik weens die verkeerde makro ekonomiese beleid van die “owerhede” wat tot oormatige skuldvlakke gelei het. Teveel skuld is dus die probleem en dis interessant hoe die verskillende ekonomiese magsblokke die probleem verskillend hanteer.

In die geval van die Amerikaners probeer hulle ʼn trae ekonomie ondersteun deurdat die staat nog meer skuld maak. In die geval van die Europeërs probeer hulle skuld terugbetaal. My vermoede is dat beide ekonomiese magsblokke baie jare, selfs dekades, van swak ekonomiese groei voor hulle het maar dat die Europeërs uiteindelik beter daar gaan uitsien.

Met “opkomende ekonomieë” gaan dit heelwat beter – Suid Afrika ingesluit. Alhoewel monetêre beleid (rentekoerse) ook hopeloos te laag was voor die krisis was ons skuldvlakke nog nie op kritiese vlakke toe die Groot Resessie die Weste getref het nie. Dus behoort ons beter af te wees as die Amerikaners en Europeërs in terme van ekonomiese groei.
Wat wel ʼn groot probleem is internasionaal maar wat veral weerklank vind plaaslik is dat ʼn spul heethoofde die verkeerde redes vir die finansiële krisis uitbasuin. Nasionalisering, byvoorbeeld, is makliker om polities te verkoop indien “gierigheid”, “die markte” en “onvoldoende regulasies” die rede vir ons ekonomiese swaarkry is. Sosialisme moet die antwoord wees nadat “kapitalisme” gefaal het. Comrades en kaders sal sekerlik die ekonomie beter kan bestuur as MD’s en COO’s!

Wee ons!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dawie Roodt

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

paulsolidariteit ·

Lekker artikel hierdie. Dis vir my ook altyd so mooi dat as ‘n finansiële adviseur vir ‘n insolvente persoon sou sê: “Hou net aan om meer skuld te maak totdat alles beter is!” so adviseur waarskynlik voor die hof gedaag sal word. Dit is egter dieselfde raad wat talle regerings volg!

Dis vir my ook baie interessant dat talle van die “Occupy Wall Street”-mense na hulself verwys as “anti-capitalists”. Hulle is teen kapitalisme omdat hulle dit verkeerdelik as die oorsaak van hul probleme sien, maar hulle wil ook nie sosialiste genoem word nie, want hulle besef ook dat dit nie kan werk nie. Hulle staan dan nou maar kapitalisme teen, sonder om enigiets anders voor te stel.

Deon Opperman ·

Hi Dawie,

Deon Opperman hier. Die “bottom line”, tog sekerlik, is dat ‘n land is nes ‘n huishoud…een of ander tyd moet jy jou skuld vereffen. Die 20 triljoen dollar wat oor die laaste paar jaar gedruk is, sal deur die burgers van die we^reld terugbetaal moet word, want soos in die woorde wat Shakespeare in die mond van Koning Lear gele^ het: “Nothing comes from nothing”. Dis hoekom ek vas glo dat daar nog jare se pyn voorle^. Ons moet terugbetaal. As dit nie waar is nie kan elke huishoud maar ‘n drukmasjien aanskaf en geld druk.

Snaaks hoe gewone burgers tronk toe gaan as hulle geld druk, maar nie regerings nie.

Deon

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.