Op soek na Pik Botha

Waarom hy?

Theresa Papenfus en Pik Botha by die bekendstelling van die boek in Pretoria.

Hy is naby tagtig. Oudpolitikus van die apartheidsera. Has-been.
’n Grootbek, oordeel baie. ’n Verraaier, ’n manteldraaier.
’n Diep, sensitiewe mens, glo sy vriende.
’n Raaisel, besluit ander.

“We want Pik! We want Pik!” het die skare buite die Parlementsgebou geëis terwyl die koukus ’n nuwe staatshoof vir die land moes kies.

Vir die Minister van Buitelandse Sake, sê iemand wat vir dié skaretrekker se veiligheid moes sorg, sou hy sy lewe gee. Baie ander sou hom in die rug skiet, sê ’n ander amptenaar.

Pik Botha is die soort figuur waaruit stories gemaak word. Net – hy is komplekser as wat in fiksie sou werk. Ewe gemaklik pas hy in die rolle van held, antiheld of outsider. ’n Goeie duiwelsadvokaat. ’n Onverskrokke profeet.

Dié mininster máák stories, het joernaliste gou uitgevind en op sy hakke gebly. Hy skep nuus. Hy krap om, ontstig, troos, inspireer, trek jou in ’n storie in wat hy self help vorm het. Want Pik Botha se storie is deel van Suid-Afrika s’n, sy verhaal is ook ons s’n.

Dis ’n storie wat ek wou uitgee; ek het geen plan gehad om dit te skryf nie.

Amptelik het die storie agter die biografie seker vroeg in 1996 begin, in die Uniegebou in Pretoria. Of was dit dertig jaar vroeër op Worcester, in die voorportaal van my ouerhuis? Ek het van die skool af gekom, die opskrif “Suid-Afrika wen” op die voorblad van Die Burger gelees, die koerant van die wakis af opgetel en die foto van die Suid-Afrikaanse regspan by die Wêreldhof bekyk. Adv. R.F. Botha, wat links agter gestaan het, het weg van die kamera af getuur, die verte in. Hy het na die jongste in die groep gelyk.

Drie dekades later was R.F. Botha Minister van Mineraal- en Energiesake in die Regering van Nasionale Eenheid. Saam met George Louw, toe hoofbestuurder van J.L. van Schaik Uitgewers, het ek laatmiddag by die Uniegebou opgedaag vir ons afspraak met minister Pik Botha. Tienuur se kant was ons in sy kantoor, oorkant die groot lessenaar. George het ons versoek vir die outobiografie aan Pik Botha voorgelê. Hy moes sy eie storie vir ons skryf.

Af en toe het personeellede ingeloer om iets aan die minister te vra of te rapporteer. Kantoorure geld nie, het mens gesien. Helena Theart is gevra om ’n lêer bring – “daardie een wat net jy weet waar dit is”.’n Oomblik lank het die regop vrou, wat my aan ’n bibliotekaresse herinner het, haar baas strak aangekyk, vlugtig gefrons.’n Rukkie later het sy die lêer met persoonlike foto’s en verse voor hom neergesit.

Ons is skuins voor middernag by die Uniegebou weg, sonder ’n belofte vir die outobiografie. Wat ons wel kon publiseer, was sy tydskrifverhale uit die vyftigerjare – ’n tussentydse troosprys. In 1997 is hierdie stories uit Pik Botha se pen onder die titel Kortverhale gebundel. In afwagting vir die outobiografie het ek Pik gevra om stories vir twee nuwe bundels te skryf. Sy bydraes is in Boereoorlogstories en Kruis en dwars opgeneem. In 2003 het Dit kom van ver af – ’n storieverskeidenheid as eersteling by die nuwe uitgewery, Litera Publikasies, verskyn. Weer was Pik Botha was een van die skrywers.

Intussen het die oudminister aan sy lewensverhaal gewerk. As uitgewer het ek af en toe gebel. En gewag.

Alf Ries, afgetrede politieke redakteur van Die Burger was bereid om onderhoude met Pik te voer om te help om sy outobiografie op skrif te kry. Dit het nie gerealiseer nie.

’n Biografie oor die man sou intussen kon werk, het iemand na ’n ruk voorgestel. Die oudjoernalis Freek Swart het in Desember 2002 ingewillig om een te skryf, maar hy het siek geword en is in Junie 2003 oorlede. Kort hierna het ek vir Alf Ries gevra om die biografie aan te pak. Hy was gewillig, maar moes om persoonlike redes ’n maand later onttrek. Ries het egter sy steun en insette vir die projek belowe. ’n Koerantredakteur was die volgende kandidaat as biograaf. Hy was te besig vir so ’n projek en het wys verklaar hy “sien baie werk”.

Die kortlys van moontlike skrywers was uitgeput, en die beplande boek besig om my te ontglip.Tensy ek dit self sou skryf. Dit sou ’n paar maande neem, wou ek glo. Die maande het meer as sewe jaar geword.

Pik Botha het die biografie nooit gemagtig nie, maar ook nie teengestaan nie.

Terwyl hy min belangstelling in die projek getoon het, het hy ruimhartig saamgewerk wanneer hy genader is. Hy het talle onderhoude toegestaan en waardevolle kontakbesonderhede verstrek. Ek is toegelaat om dae lank onafhanklik in sy argief te werk. Dié bronne daar wat hy as beskikbaar aangedui het, is geraadpleeg. Benewens Helena se knipselplakboeke is enkele gepubliseerde boeke op sy rak gebruik, asook uitgesoekte dokumente, gedigte en dagboekinskrywings. Hy het foto’s beskikbaar gestel. ’n Bepaalde laai in ’n liasseerkabinet waarin ek “interessante goed” sou vind, was ’n boerpot. Die fotostaatmasjien is aangebied vir die maak van duisende afskrifte, totdat die ink vir die bepaalde model (wat nie meer vervaardig word nie) opgeraak het.

Pik het nooit gevra om die manuskrip te lees nie en het dit tot enkele dae voor druktyd nie gesien nie. Hy wou ook nie tot vergoeding vir sy tyd en materiaal toestem nie.

Hoewel die boek grootliks kronologies geskryf is, is dié metode nie slaafs gevolg nie. Belangrike gebeure het dikwels oorvleuel, en agtergrondinligting is verstrek ter inkleding van die hooffiguur, sy optrede en dié van ander rolspelers binne ’n bepaalde verband.

Sonder die medewerking van almal wat in die bronnelys, eindnotas en die teks genoem word, asook dié wat anoniem wil bly, sou ek nêrens kom nie.

Prominente openbare figure op die Suider-Afrikaanse en wêreldtoneel het unieke insette bygedra. Ewe waardevol was die bydraes van akademici, Pik Botha se kollegas, oudpersoneellede, familie, vriende, kennisse, joernaliste en opponente. Boekhandelaars het met bronne gehelp en soms het ’n unieke brokkie uit ’n onverwagte oord opgeduik.

Nie almal wat genader is, wou meewerk nie, en nie alle materiaal is uiteindelik gebruik nie. Party staaltjies het uitgeval, gewoon omdat hulle nie ’n gepaste plek binne in die konteks kon vind nie. Onverifieerbare gerugte, waarvan die bronne nie geïdentifiseer kon word nie, val buite die fokus van die boek. Dit het die status van gerugte behou en is nie opgeneem nie. Tesame het al die inligting bygedra tot die kennismaking met ’n buitengewoon veelkantige persoonlikheid, sy wêreld en sy tyd.

Theresa Papenfus by 'n bekendstelling van die boek in die Kaap.

Om ’n biografie te skryf, is om op ’n ander se spore terug te loop.

Jy raak verstrik in ’n lewe, ’n tyd en kwessies wat bo-oor jou wêreld skuif. Gister is ’n ander land – en hy skyn telkens deur die hede. Om daarheen terug te keer, is om nuut te kyk, anders as toe die gebeure hoofnuus was.

Elke lewensverhaal is ’n wêreld waarin temas en motiewe hulself uitspeel. Om ’n lewe na te speur deur helder oomblikke en troebel tye heen, verinneweer al jou maklike antwoorde. Want onvermydelik beland jyself voor die vraag:

“Wie is ek?”

*’Pik Botha en sy tyd’ is die omvattendste werk wat Theresa Papenfus tot dusver gelewer het. Dit het by Litera verskyn en is ook as ‘Pik Botha and his times’ uitgegee. Albei uitgawes is beskikbaar by alle goeie boekhandelaars. Dit kan ook bestel word by On the Dot: [email protected]; Tel: 021 918 8500; Faks: 021 918 8815.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Theresa Papenfus

Meer oor die skrywer: Theresa Papenfus

Theresa Papenfus se loopbaan het as verslaggewer by Beeld begin, waarna sy haar kinders grootgemaak en sporadies vryskutwerk gedoen het. Sy het baie min tyd aan eie skryfwerk gewy, maar van haar vroeë werk is gebundel en ook in radiovoorlesings en tydskrifte gebruik. Ná sowat tien jaar in die uitgewersbedryf het sy haar eie uitgewery, Litera Publikasies gestig.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.