Op sy 146ste verjaarsdag gee Totius steeds raad

Deur Paul Maritz

Prof. J.D. du Toit (Foto: Morné van Rooyen / Geref Kerk in SA 1859-1959)

Enige volk wat hoop om ʼn volgende generasie op te lewer, moet noodwendig oomblikke van krisis trotseer. Vir die Afrikaner is dit, soos wat ons weet, ook so.

Wanneer hierdie krisisoomblikke aanbreek, is een van die eerste kwessies wat na die oppervlak dobber die skool. In die voortbestaan van ʼn volk sal die skool altyd ʼn sentrale rol speel, nie net omdat dit ʼn sentrum van kennis- en kultuuroordrag is nie, maar ook omdat dit een van die mees belangrike ankerpunte van ʼn gesonde gemeenskap is. Die skool was noodwendig een van die gemeenskapsinstellings wat na afloop van die Tweede Anglo-Boereoorlog deurgeloop het onder die felste pogings om kindertjies te verengels, of dalk beter gestel, om skole te “ont-Afrikaans”.

Mark Twain het eenmaal opgemerk dat geskiedenis homself dalk nie herhaal nie, maar dat dit dikwels rym – vir Afrikaanse skole, en eintlik vir alle Afrikaanse opleidingsinstellings, is hierdie ou gesegde ʼn sigbare en tasbare waarheid. Die probleem van ʼn staat wat in beleid en optrede probeer om Afrikaanse skole te verengels en die invloed van ouers en gemeenskappe se insette alewig probeer afkraak, is immers nie vir ons ʼn nuwe probleem nie. In stede daarvan om die wiel te herontwerp maak dit dan juis sin om die denke en argumente van hulle wat voor ons gekom het te gaan opsoek.

Een van die mees vername denkers op die tema van opleiding na die Tweede Anglo-Boereoorlog was Professor JD du Toit, alombekend as Totius, wat van 1911 tot en met sy dood in 1953 aktief besig was met die ontwikkeling van die Afrikaanse skool en universiteit. Totius se verjaarsdag bied vandag die perfekte verskoning daarvoor om sy werke uit die rak te haal, goed af te stof, en grondig te ondersoek.

Van die Versamelde Werke van Totius, wat in 1977 verskyn het, neem onderwys en opvoeding die ganse agtste band (meer as 500 bladsye) op. Onderwys en opleiding, so blyk dit uit hierdie massiewe volume, was nie ʼn saak wat dié prof. ligtelik opgeneem het nie. Om hierdie kosbare lig op vandag se gebeure te skyn sal gefokus word op twee sake: Die aard van die skool en die rolle van die ouers en die staat wanneer dit by die opvoeding van kinders kom.

Vir Totius is die skool nie ʼn dooie meganistiese “ding” nie, nee, dit is ʼn lewende organisme wat sy “lewenswet en sy kwaliteite in homself dra en met hom saamdra”. Wat in so ʼn beskouing belangrik is, is dat die skool nie van bo af (lees: deur politici) in ʼn rigting gedruk behoort te word asof dit maar net ʼn “ding” is nie. So verloor ʼn skool oombliklik kontak met die gemeenskap waaruit dit gegroei het – die staat sny effektief die skool van sy gemeenskap af, die wortels waaruit die instelling gegroei het word in ʼn fel swaai van die beleids-panga morsaf gekap.

Totius se kritiek is dan dat die skool nie net kontak met die gemeenskap verloor nie, maar ook dat die skool geen vaste anker meer het nie, omdat hierdie anker vanuit die gemeenskap kom, en nie vanuit die staat wat die massas wil dien en die gemeenskap derhalwe moet ontken nie. Vir hom is die anker, wat aan elke skool sy vaste grond gee om op te staan en sy koers bepaal wat dit vandag nog vir baie Afrikaanse skole is: die Christelike geloof.

Die tweede saak wat hier aandag moet kry, wat die boonste gedagte van ʼn geankerde skool saamhang, ondersoek die rol van die ouers teenoor die van die staat. Die rol van die ouers is, in Totius se verstaan, om die rigting en karakter van die skool te bepaal. Die staat, daarenteen, het die taak om “publieke geld effektief te bestuur”, en seker maak dat daar aan tegniese vereistes voldoen word. Veral hierdie gedagte staan vandag weer voorop in ons openbare diskoers, met politici wat dikwels die mag onder hulself wil sentraliseer, en beheerliggame in die proses van hul magte wil stroop. So word die staat nie meer die tesourier en tegniese versorger nie, maar die moeder en vader wat die rigting en karakter van die gemeenskap in sy hande neem.

Vir hulle wat die skool maar net as instrument in die hand van die staat sien, maak so ʼn meganiese en instrumentele benadering sekerlik sin – die propaganda-masjien moet van vroeg af die “regte” idees by die jongmense saai en vertroetel. Totius se ywerige oortuiging dat dit die ouers is wat die karakter en rigting van die skool moet bepaal was ook nie maar net ʼn reaksie op die beleide wat vanuit Londen uitgedink en hierheen verskeep is nie – vir hom is hierdie beginsel onder alle gevalle waar, selfs wanneer die staat skynbaar “vriendelik” is.

Alhoewel dit nie die oogmerk van hierdie meningstuk is nie, kan dalk ter loops opgemerk word dat Totius se strewe na vrye opleidingsinstellings, met ander woorde vry van die staat, eintlik tans ʼn baie relevante punt van bespreking in sy tuisdorp van Potchefstroom is en vir die voorsienbare toekoms sal wees – maar dit is ʼn gesprek vir ʼn ander keer, en ʼn meer belese outeur.

Met die nuwe dink oor Afrikaanse opleiding wat op verskeie fronte plaasvind, eggo Totius se woorde skielik harder en harder om ons heen: Dit is nie die werk van die staat om die rigting en karakter van ʼn instelling te bepaal nie, dit is die werk van die lede wat saam daardie lewende organisme vorm. Ons opdrag is net so duidelik: Ons moet die tuig opneem, en nie van die plig as ouer of lid terugtree of wegdraai nie.

  • Paul Maritz is ‘n onafhanklike navorser en mede-aanbieder van Podlitiek. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Met ‘n bevolkingsamestelling van ±65 milj andersdenkendes/-taliges teenoor ±3 milj Afrikaners (nie Afrikaanses) (met die sg sensussyfers van 2022 missing), moet ons ophou droom en skreeu vir magic dat Afrikaners weer alles kan terugkry wat hul weggegee het vir ‘n ‘plekkie in die hemel’ soos gehoop. Afrikaners wat reken op ‘n Nuwe-Era-Afrikaanse Nasie se Republiek iewers op die Kaapse aarde sal eerder wat oorbly van die Afrikaner die doodslag toedien, maar weet jul ‘hemel’ wag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.