Ope brief aan Beeld: Solidariteit verklaar dispuut

Foto: @adriaanbasson, Twitter

Foto: @adriaanbasson, Twitter

Ope brief aan Tim du Plessis, (Hoof: Afrikaanse Koerante, Media24)

Beste Tim

Dit spyt my om jou mee te deel dat ek na aanleiding van ’n stortvloed versoeke uit die Afrikaanse gemeenskap, ’n dispuut met Beeld verklaar as gevolg van die vertrouensbreuk tussen die koerant en ’n wesenlike deel van sy lesers. Ek doen dit in die vorm van ’n ope brief, omdat Beeld die toekoms van die laaste Afrikaanse Kampus en die laaste Afrikaanse koerant in die noorde in die gedrang gebring het deur die swak oordeel van sy redakteur.
Ek motiveer ons dispuut en redes vir die vertrouensbreuk en stelling oor sy oordeelsfout soos volg:

1. Die leuenagtige Nazi-koppeling van die Potchefstroom-kampus van die NWU

Dit is verregaande om die Potchefstroom-kampus van die NWU aan die Nazisme te koppel soos wat in Beeld van 21 Februarie gedoen word. Daar is nie sprake van Nazi-praktyke, -kultuur of -beïnvloeding van studente nie. Om die kampus aan ’n veragtelike ideologie te koppel, is ’n beswaddering en belastering van die voortreflike rekord van die kampus en die bewese geskiedenis van dr. Theuns Eloff en prof. Herman van Schalkwyk. Die herdoping van studentegroete tot “Sieg Heil” Nazi-salute, is net so verwerplik as die Nazi’s self. Dat die gewraakte en misplaaste “saluut” net ’n sekonde van ’n saamgestelde reeks liedjies uitmaak, word nie genoem nie. ’n Onnadenkende en naïewe halfsekonde, is darem ver van ’n doelbewuste Nazi-saluut. Daar word ook nie voldoende erkenning verleen aan die sterk optrede van die kampus teen ontgroenings-wanpraktyke, en die feit dat die gebare reeds verbied was nie. Die langtermyn gevolge van die swartsmeer van die Puk vir die reputasie en goeie naam van die studente, dosente en bestuurders is ook nie moeilik om te voorspel nie. As ‘n groep mense wat lief is vir Afrikaans en vir die Puk, en Nazisme verafsku, grief Beeld se verdraaiing van die gebeure my juis so.

2. Beeld se anti-Puk veldtog teenoor gewone nuusdekking

Die doel van ’n koerant is om nuus te publiseer en om as openbare waghond op te tree. Dit is gevolglik verstaanbaar dat Beeld nuus rapporteer, maar om jou eie agenda te dryf is totaal iets anders. Wanpraktyke met ontgroening is nie verskoonbaar nie, en Beeld sou reg wees om dit te ontbloot. Baie hang egter daarvan af hoé dit publiseer word. Die probleem is dat Beeld veel verder as dekking gegaan het, en die nuus buite verhouding opgeblaas en oordryf het. Daar het byvoorbeeld net op 21 Februarie agt berigte en ’n spotprent daaroor verskyn, terwyl daar 18 verwysings na Hitler of die Nazi’s geplaas is. Die redakteur het daarby op 20 Februarie die volgende stelling op Twitter aan duisende mense gemaak: “Nazi Germany? No: Potch.” Hy het ook ’n reeks foto’s van eerstejaars op Twitter gepubliseer en met selektiewe halfsekondes van hul “groeterituele” dit as Sieg Heil Nazi-salute beskryf. Honderde studente wat op die foto’s herkenbaar is, word so op ’n lasterlike wyse blootgestel. Die wyse van ondersoek versterk die indruk van ‘n anti-Puk-veldtog, omdat ’n hele span joernaliste die kampus onder die dekmantel van gewone studente besoek het. Daar is klaarblyklik ook saamgespan met enkele gegriefde personeellede. Die deurlopende onthulling van ou nuus en die opdiep van verouderde visuele materiaal bevestig die gevolgtrekking van die fabrisering van nuus en ’n veldtog teen die kampus. Die tydsberekening van Beeld se aanval, nadat dr. Eloff se uittrede bekend gemaak is en voordat sy opvolger oorgeneem het, lyk in die lig van al hierdie gebeure nie toevallig nie.

3. Voorsienbare gevolge van regeringsinmenging vir Afrikaans

Die gevolge van Beeld se hantering van die gebeure kan groot gevolge vir Potchefstroom as die laaste oorblywende Afrikaanse kampus inhou. Die klaarblyklike vervreemding van ’n groot deel van sy leserskorps kan ook groot skade aan Beeld as die laaste Afrikaanse dagblad in die noorde beteken. Die redakteur het nie die nuuswaarde van sy stories behoorlik opgeweeg teen die maklik voorspelbare gevolge daarvan nie. Dit is ’n bekende feit dat die betrokke minister nie ten gunste is van ’n grootliks Afrikaanse kampus nie, en dit is nie verbasend dat hy reeds aangekondig het dat stappe teen die kampus gaan volg nie. Die gevolge van regeringsinmenging vir Afrikaanse hoër onderwys, vir Afrikaans as akademiese taal, en vir die toeganklikheid van hoër onderwys vir Afrikaanse studente is teen hierdie tyd mos welbekend. Die vraag bestaan ook wat die gevolge van hierdie vertrouensbreuk met so groot deel van sy lesers vir Beeld inhou. Hoewel enkele sekondes van die studente se groeterituele die geleentheid vir enkele gegriefdes gebied het om dit te misbruik, veroorsaak Beeld se opblaas van die saak ’n krisis waarvan Afrikaans die gevolge gaan dra, en dat die Puk en Beeld as Afrikaanse instellings daaronder gaan ly. Ons verdedig nie die onverdedigbare nie, maar voel dat die roekelose joernalistiek nie regverdig kan word nie. Die minister se stappe wat gister afgekondig is, is vir die Beeld-redakteur se rekening, maar dit gaan deur die hele Afrikaanse gemeenskap betaal word.

4. Die rol van die Beeld-redakteur se persoonlike agenda

Die Beeld-redakteur het skynbaar ’n weersin in ontgroening. Talle van ons deel daardie siening, en het veral begrip vir die veroordeling van praktyke wat jongmense se menswaardigheid aantas. Ons verwerp ook enige vorm van “boelie” onder die dekmantel van ontgroening. Maar terselfdertyd maak die redakteur homself en sy koerant skuldig aan die ergste vorm van boelie denkbaar, deur ’n hele kampus met duisende studente as Nazi’s uit te kryt! Die gemiddelde leser sal uit die nuusdekking waarskynlik die afleiding maak dat die kampus Nazi-praktyke bedryf, dat die kampusowerhede dit goedkeur en toelaat, en dat dit steeds voortduur, ten minste tot en met die “moedige” publikasie daarvan deur Beeld.

Ons inligting is ook dat die Beeld-redakteur nie sy persoonlike belange in die gebeure verklaar nie, en of waarskynlik selfs daardeur gedryf word. Dit handel oor ’n persoonlike vriendin van hom wat net voor hierdie gebeure op ’n betreklik onsmaaklike wyse gevra is om die kampus se diens te verlaat na ’n skikking. Ons is bekommerd dat dit moontlik kon bydra tot die swak oordeel wat hy in die hele saak aan die dag lê, soos om nog ’n ou huisvriend se brief so prominent in gister se Beeld te publiseer.

5. Simpatie vir Beeld se lesersgemeenskap

NP van Wyk Louw het daarop gewys dat die skerpste kritiek van hom af kom wat wys op “ons” foute, eerder as “hulle” foute. So ’n benadering verg ’n simpatieke kritikus, en nie ’n minagtende en afbrekende benadering onder die vaandel van mediavryheid nie. Die Afrikaanse gemeenskap verwag dat Beeld sy waghondrol moet vervul, en nie die “skoothondjie” van Afrikaanse instellings sal wees nie. Aan die ander kant verwerp ons die hartelose optrede van die redakteur, wat soos ’n verskeurende wolf op die Puk as laaste Afrikaanse kampus toegesak het.

Tim, ek het nog altyd die grootste respek vir jou professionele integriteit, en vertrou dat jy as hoof van Afrikaanse koerante by Media24 begrip daarvoor sal hê dat ons die Afrikaanse gemeenskap gaan versoek om Beeld nie te koop totdat hierdie dispuut opgelos is nie. Afrikaanssprekendes kan tog nie hulle eie benadeling ondersteun nie. Ons sal dit waardeer as jy sal ingryp om Beeld se geloofwaardigheid te herstel.

Flip Buys
Uitvoerende Voorsitter
Solidariteit Beweging
Belangeverklaring: Flip was tot einde 2013 op die Uitvoerende Komitee van die Noordwes Universiteitsraad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Frederick J Smith ·

Geluk met n pragtige,duidelike,onverdoeselde ope brief aan die betrokkenes. Met n eerste oogopslag was dit duidelik dat n moontlike “persoonlike vendetta” agter die Beeld artikel skuil. Dit is so waar wat u in die skrywe noem dat dit net ons Moedertaal is wat uiteindelik die dure prys sal moet betaal.Die aanslag op ons taal woed onbeskaamd voort,ongeag die feit dat dit die 3e mees gesproke taal in die RSA is…en steeds veld wen volgens die laaste sensus opname! Baie dankie vir “waghonde” soos julle,dit laat my moed skep vir ons trots,ons kultuur…ons Moedertaal! XXX

Gerhard Erasmus ·

Ek bly in die Weskaap, maar ek lees nie meer enige van die Afrikaanse dagblaaie nie. Tydskrifte soos Huisgenoot ook nie meer nie. Ek dink dit is UITERS swak dat blankes hulle eie blanke mense op die manier tot niet laat gaan en in die ‘gutters’ uitgooi……….

Slim Daan ·

Dink die menslike ydelheid ( en voortvarenheid vd jeug ) het hier n groot rol te speel. Basson wou ( ala Max du Preez – Vrye Weekblad ) met sy aanstelling vir n ieder en elk rondom hom wys hoe om die sleepwa behoorlik te laat kantel. ( Soos in WOW! – hier is ek. Kyk – ek het gearriveer !!! )
Weldra sal die lewe hom ook louter om, soos Max, later oumens-storietjies op sy stoep te skryf.

Fanie Maritz ·

Ek het na Flip se kommentaar op Radio Pretoria geluister en ook sy ope brief gelees. Welgedaan en baie geluk !!
Persoonlik dink ek dat die woord kommunis (Blade Nzimande) en die wat diesulkes se agendas (verskuilde agendas) dryf reeds sedert 1990 vervang moes word met die frases kommunis-anti-Christ of anti-Christe ?! In die brief Johannes (Nuwe Testament) sê Johannes duidelik dat die anti-Christe vanuit ons uit gegaan het. M.a.w dis ons eie mense wat ontaard het.
Die bedenklikke rol wat Nas-pers die afgelope 30 jaar gespeel het om ons volk met sy instellings oor te lewer aan die anti-Christe/kommuniste spreek vanself soos nou weer met die Puk.

Mila ·

Dis as gevolg van hierdie tipe kleinlike rapportering .. wat gedryf word deur persoonlike en kinderagtige agendas .. wat ten doel het om die afrikaner te verneder & vertrap .. dat ek NOOIT weer ‘n Naspers produk sal koop nie!

Demokraat ·

Dis baie jammer dat Naspers, eens die bakermat van die Afrikaner en sy kultuurgoedere, deur outjies wat nog nat agter die ore is, so in die verleentheid gestel word. Sal die skade wat aangerig is, ooit weer goedgemaak kan word ?

Eugene Brink ·

In 1982 was ons die 1ste eerstejaarsgroep van die nuutgestigte koshuis Patria
op die NWU kampus (daardie tyd nog die PU vir CHO). Ek was inwoner vanaf 1982 tot 1986.
Die senior studente het destyds van 3 verskillende kleiner koshuise
gekom, en ‘n gevoel van kamaraderie moes geskep word. In ons 2de jaar het iemand
met o.a. nog ‘n briljante idee gekom:

Elke 1ste jaar student mag net by die hoofingang van die koshuis inkom. Hulle marsjeer
in gelid van die eetsaal af, stop ‘n tree voor die voorstoep, en bulder die volgende:

“Dulce et decorum est pro patria mori, heil onse Patria!!”

Dit het inderdaad gepaard gegaan met ‘n saluut wat ook deur ‘n siek, nasionaal-sosialistiese
leier vanaf 1933 to 1945 gebruik is. Hulle het die altyd die gebou gesalueer, nie ‘n persoon nie.

Dit het nie een van ons aanhangers van die Nazi ideologie gemaak nie.

Die eerste deel van die kreet is heel moontlik deur ‘n tweedejaar Latynstudent verewig terwyl hy
die Ode van Horace moes instudeer, want dis waar dit vandaan kom.
Dit kan ook gevind word op o. a. die volgende plekke op ons planeet:

1. ‘n Inskrywing op die Franse Monument in Shillong, Indië waar die soldate van die 26ste Khasi Arbeiderskorps hulle lewe gegee het vir die koning en vaderland
gedurende die 1ste wêreldoorlog.
2. Die leuse van die Portugese Weermag se Universiteit – Academia Militar
3. Die leuse van die Royal Grammar School in Newcastle –upon-Tyne, ‘n onafhanklike Britse skool vir leerlinge tussen 7 en 18 jaar oud. Die skool is in 1525 gestig
en geborg deur Koning Elizabeth I.
4. Die Leuse van 103 Verkenners Eskader van die Koninklike Nederlandse Weermag.
5. Die woorde “Pro Patria” verskyn as kenteken op die kraag van die “Royal Canadian Regiment”.
6. Dit verskyn ook op ‘n brons gedenkplaat by die ingang van die Central Memerial High School se hoofingang ter nagedagtenis aan
die Kanadese soldate van Calgary, Alberta wat hul lewe in die 1ste en 2de Wêreldoorlog verloor het.

Ironies het die meeste van die instansies bo genoem die Nazi ideologie hand en tand beveg.

Een van die NWU-Puk dameskoshuise se naam is tans Bellatrix. Dit herinner sterk aan Bellatrix Lestrange,
die “Death Eater” volbloed heks in die Harry Potter verhale, wat vir die eerste moord van ‘n hoofkarakter verantwoordelik is.
Terwyl almal wat tans deel is van daardie koshuis heel onwaarskynlik so geindoktrineer is dat hulle heksery beoefen, doodsvloeke uitspreek
en vars mensbloed drink, is die Beeld/Volksblad nie lus om ‘n helse ophef daarvan OOK te maak nie???

Kom ons breek alle tradisies, word in ons maai in polities-korrek, sodat nie een van ons meer weet waarvandaan ons
kom of, nog erger, weet waarheen ons oppad is nie.

Dank die Hemelse Vader dat nie een van my kinders op die PUK wil gaan studeer nie. Ek word al skaam om te sê ek het ooit daar studeer.

chris ·

Flip, as wat jy hier skryf die waarheid is, o.a. dat die ‘saluut’ slegs n kort deel van n lied was, en dat die voorstelling van die Puk as n Nazi-vesting voorgestel word, dan deel ek jou oproep om Beeld te boikot. In Maandag se Beeld gee Adriaan egter sy kant van die saak: “Beeld joernaliste wat terugkeer van Potch met ‘n klomp fotos waarop studente die “Sieg Heil” saluut gee”. My vraag is: Wie lieg? Briefskrywers en oudstudente vanaf Potch (soos Sinki Miambo) laat my dink Adriaan lieg.Het ons dalk n regterlike ondersoek kommissie nodig om te weet wat is die waarheid? Sal Tim du Plessis die guts he om ten koste van Beeld te erken hier is drooggemaak.Ek sal wag en sien!

Louis Marais ·

Oom Chris, was/is daar nie genoeg kommissies al teen ons gewees nie, ek het gedink die toppies het al ontslae geraak van hulle NP mentaliteit, maar hoe se die engelse, ‘you can’t teach an old dog new tricks’. Gelukkig het ek die indoktronasie van die NP gemis, goddank daarvoor…

Oom Chris die feite is as volg: As hierdie studente sulke monsters is wat “Sieg Heil” orals waar dit leef en beef, dan vertel jy my waar is die doeie Jode, anti-semitisme, faschistiese embleme en faschistiese letterkunde?

Jy kan mos nie “Sieg Heil” sonder die faschistiese letterkunde nie, so wat is nou jou vraag Oom Chris? Jy weet seker wie so ‘n kommissie sal ly? Ja Oom, jy’s reg ‘n ANC kader miskien dalk nog Blade self, so ver ek weet is die oordeel klaar gemaak.

Slim Daan ·

Wel jongeheer,
Wat duidelik blyk uit die ” outoppie “-dae is dat jy die aanwending van keurige en korrekte Afrikaans onder die ou penkoppe, misgeloop het. n Fantastiesche jammerte. Inderdaad.

Willie Jansen van Rensburg ·

Basson het eers die kind van die Boeremag doelbewus afgeknou, daarna die “opsienbare onthullings” oor die Pippiefonds. Toe volg die Bethal verkragtingberig, wat geen ander koerant op daardie stadium gedra het nie, en nou die “Ontwaking van Nasionaal-Sosialisme op die PUK-kampus.

Adriaan het ‘n probleem of is dit die nagevolge van City Press en Sondag ? Hoop daar is behandeling.

J BLOM ·

Baie dankie Mnr Buys dit word opreg waardeer dat u hierdie stap geneem om die ope brief te skryf.
Ek moet ook eerlik wees dat daar so paar weke gelede ‘n onderhoud op KWELA met Beeld se redakteur was en ek het deur dit wat hy gese het die indruk gekry dat hy die geskiedenis en trots van die Afrikaanssprekendes nie verstaan nie en ook dink hy weet alles en almal MOET met hom saamstem.Die ondersteuning wat hy nou nog van regerings kant kry kan hom nog meer ammunisie gee.
My pleit is: BOIKOT MEDIA 24 AS ‘N MAATSKAPPY SE PUBLIKASIES want as mens Die Burger en Volksblad lees gaan jy baie berigte kry wat woord vir woord ooreenstem. PUKKE JULLE LEUSE WAS NOG ALTYD POTCHEFSTROOMSE UNIVERSITEIT VIR CHRISTELIKE HOER ONDERWYS DUS BEELD HOU DIT IN GEDAGTE AS DIE ETOS NOU VERANDER HET IS DIT AGV ALLE RASSE GELOWE ENS WAT NOU DAAR TOEGELAAT WORD ONDER DWANG VAN DIE REGERING

Gert coetzee ·

Baie dankie vir dit goed deurdenkte brief. n Mens kan net hoop om n positiwe reaksie van Beeld te kry. Indien nie, ondersteun jou aksie.

mariaan ·

En so kry Adriaan Basson toe ook sy oomblik van glorie! Kom ons hou duime vas sy droom word verwesenlik dat een van die linkse koerante hom raaksien en hom ‘n pos aanbied.

Theresa Papenfus ·

Ek was self verslaggewer, ‘n verdediger van joernaliste, die media en persvryheid en het elke moontlike petisie teen die muilbandwet onderteken.Mense moet geloofwaardig ingelig word, of die feite strelend is al dan nie. Ek is ook dekades lank al ‘n Beeld-leser met groot respek vir ‘n onverskrokke joernalis soos Tim du Plessis.
Dis m.i. die tragiek rondom die storie oor die sogenaamde Pukke-saluut.
Hoe kon dit dan gebeur dat ou nuus – ‘n gestaakte gebruik, en materiaal uit ‘n ou opname – hoofstorie word, versterk deur bykomende berigte, spotprente en, les bes, redaksionele kommentaar?
Beeld se aanvanklike berigte oor die gewraakte saluut het nie genoem dat die gebruik gestaak is nie. Ook nie dat ou materiaal gebruik is nie. As leser het ek dus gereken dis steeds die gebruik op Potch. Dis verstaanbaar dat dit dalk aanstoot sou kon gee, selfs al was dit onskuldig bedoel.
MAAR: Volgens visekanseier prof. Theuns Eloff, het die universiteitsowerhede studenteleiers laasjaar al (tereg) teen die saluut gemaan, en is dit daarna nie weer gebruik nie! Die materiaal van Beeld se storie kom volgens Eloff uit ‘n opname van vóór die waarskuwing.
Het geeneen van Beeld se verslaggewers uitgevind dat die saluut afgeskaf is, en die opname oud is nie? Dis dan mos ou nuus, vir joernaliste ‘n nie-storie! Tog word dit Beeld se skoep.
Dit lyk nou asof daar teen druktyd geen storie van relevante substansie was nie. Nóú is daar egter een – een wat tragiese vraagtekens hang oor die geloofwaardigheid van die belangrikste Afrikaanse dagblad in die land.

Tom ·

Dit is nie n Nasionaal Sosialistiese saluut nie. Die saluut is van Romeinse afkoms. Musolini het dit eerste ingestel en Hitler het dit by hulle oorgeneem en ingestel. Die nazi leer het ook die gewone weermag saluut gebruik. Moet alle salueering in millitere leërs wereldwyd verbied word? Of engels wereldwyd verbied vir die roekelose roof en volkemoord wat hulle tydens hulle groot “empire” op die wêreld afgedwing het? Dis tog belaglik! Hoekom die histerie? Wie borg so n histerie? En om wat te bereik?

Gert Strydom ·

Ek ondersteun Flip se versoek om ‘n boikot van Beeld 100%. Boikot lankal Huisgenoot en sal nou dieselfde doen met Beeld.
Probleem is dat ons nie Adriaan Basson se standpunt en reaksie kan lees nie.
Wil Afriforum nie asseblief die lesers se reaksie by Beeld, op Maroela of hul eie tuisblad plaas nie.

Peter Louw ·

Ten minste het die Puk-studente nie, soos by minstens een nie-Afrikaanse universiteit in die afgelope tyd, kampusgeboue aan die brand gesteek en rommel gestrooi nie. Tog is die bohaai, ook aan regeringskant, oor die “saluut” veel groter. Maar ons is al gewoond aan dubbele standaarde …

Weliswaar glo ek dat ontgroening, in welke gedaante ook al, ‘n hopeloos verouderde en maklik misbruikbare tradisie is. Op die FAK-webwerf vra iemand juis hoe die Afrikaner se beeld verbeter kan word. Wel, begin met die totale afskaffing van ontgroening, “oriëntering” en ander vorms van kinderagtigheid wat nie op ‘n kampus of koshuise vir volwassenes tuishoort nie. Ontgroeningspraktyke is ‘n teelaarde vir allerlei aktiwiteite wat maklik deur die Afrikaner se vyande ingespan kan word, soos wat nou inderdaad gebeur het. Moenie vir die Adriaan Bassons van die wêreld ammunisie op ‘n skinkbord aandra nie!

Frans Geldenhuys ·

DAAR IS NOG AFRIKANERS WAT FYN BESKAAFD OPTREE

Net twee van ons het na my beskeie oordeel sover fyn beskaafd uitgestyg bo die onsmaaklikheid waarin een van ons eie ons nou weer oor studentelewe gedompel het.

Dr Buys, u brief is ook beskaafd, maar nie so fyn beskaafd as die optrede oor Monitor vroeg in die week van prof. Herman van Schalkwyk en die studenteraadsvoorsitter nie. Omdat ek sy naam nie met sekerheid kan onthou nie, noem ek dit liewer nie.

Is dit nie wyser om eers net aan te maan as sommer ‘n geskil te verklaar nie? Of dan om net ‘n bietjie dieper te gedink het voor die hand op papier te sit nie? Is swak oordeel so ‘n goeie grond vir regstelling as moedswil, waarvoor u ‘n sterker saak uitmaak, ‘n baie sterk saak?

Of moet ons die geskilverklaring nie regtig ernstig opneem nie en net as ‘n wyse om u misnoë ten sterkste uit te druk?

Minder beskaafd, of meer verward, is die reaksie uit u eie groep, waarvan ek nie lid is nie, maar met wie ek my met voorbehoude vereenselwig.

Die taalkaart word eerste gespeel, die raskaart tweede. Dan volg ‘n persoonlike aanval en word ‘n heel onskuldige betrek, word Naspers as bondgenoot vir die kommuniste teen Christus ingespan, ons vernedering en vertrapping bejammer.

‘n Oud-Puk kom totaal verward voor en ‘n beïnvloedbare lê dit aan die deur van die NP vanouds, wat deur die ouere met sarkasme begroet word. Dit word gevolg deur nog ‘n persoonlike aanval, wat herhaal word met die toeëiening van ‘n eenogige oordeel van wie die geskiedenis en trots van die Afrikaansprekendes dan sou verstaan en: BOIKOT!

Één hoop darem die koerant sal sinvol reageer, maar ‘n volgende sê weer: Boikot. En ten laaste volg weer ‘n persoonlike aanval.

‘n Mens kan nalatiglik of moedswilliglik beswadder. Die eerste is in gevalle natuurlik makliker te regverdig as die tweede.

Om van iets wat nie nuus is nie, nuus te maak en dit buite verhouding te oordryf, is moedswillig, dis nie net nalatig nie.

Om as joernalis die gedaante van geheime agent aan te neem om van niets iets te maak, is moedswillig, dis nie net nalatig nie. (Dit is verfoeilik, laakbaar.)

Om sulke moedswilligheid in ‘n fyn berekende tydsgewrig aan die dag te lê, is moedswillig, dis nie net nalatig nie. (Enige geheime agenda is nog verfoeiliker, buitendien strydig met deursigtigheid waaroor so hoog opgegee word.)

Om persoonlike belange by ‘n geheime agenda te hê en ‘n medium waarin jy ‘n magsposisie beklee daarvoor in te span, is moedswillig, dis nie net nalatig nie. (Dit raak al verfoeiliker, laakbaarder.)

Om boonop ‘n huisvriend te betrek om die kwistig gestrooide brandende kole aan te blaas, is moedswillig, dis nie net nalatig nie. (Dis te erg vir woorde.)

Dus dr Buys, indien u die laaste vyf moedswillighede kan bewys, bring ‘n ope brief u nie ver nie. U plig sal wees om by elke moontlike klaagmuur aksie in te stel en klagtes te lê.

Sover het ek Solidariteit se geskilvoering en -beslegting in die openbare belang nog altyd baie nugter, deurdag en geregtig beleef. Ons wag op die kaptein!

Ek is bly ek is nie Tim du Plessis nie. Dis ‘n tameletjie dié en hy moet by sy manne staan. Ons wag vir jou Tim!

Hoekom het die prof en sy student die fyn beskaafdste daarvan afgekom? Omdat hulle die oggend van hulle onderhoud gereed was, omdat hulle in die beskaafdste moontlike stemtoon en nugter hul saak na aanleiding van die vrae gestel het, omdat hulle niks en niemand gejag het nie, omdat hulle niks werklik probeer regverdig het nie, omdat hulle ‘n instelling verteenwoordig het wat besef het, dat al is daar in eie oog niks fout met die gedrag wat nou so gewraak word nie, dit dalk tog iemand aanstoot kon gee, omdat hulle toe duidelik by herhaling reeds regstellende stappe gedoen het, omdat hulle ‘n antwoord vir elke vraag, ‘n beskaafde en juiste antwoord op elke vraag van die omroeper gehad het, tot so ‘n mate dat hy binne ‘n paar vrae nie geweet het wat hy hulle nog kan vra nie.

Nog nooit het ek die bepaalde en ek dink in baie kringe nogal gesiene omroeper tydens ‘n onderhoud so hoor stotter en stamel met sy vrae, gedagtes en uitdrukking daarvan nie.

En erger nog, moet ek die minste punte gee aan die hoogs emosionele eensnarige en eiesienige bydrae van Lynette Francis se seepkisredenaar twee of wat dae later, nou nie juis ‘n toonbeeld van gelykmatigheid nie.

Naskrif: Ek het nog nie sedert verlede naweek koerant gelees nie en mag dalk nie by wees met die debat nie. Dan vra ek om verskoning.

Thys du Preez ·

Viva Amandla! Daardie slagspreuk gaan met ‘n gebaar gepaard, dis nou ‘n toe vuis nou en nou nie nou ‘n plat hand wat dan nou na onder wys nie, maar daar is ook grootliks uitgevaar in onder meer http://www.constitutionallyspeaking.co.za (sien gerus ook een Dan Roodt se kommentaar) dat hierdie gebaar en moontlik ontgroening tot moontlike eenvormigheid kan bydrae, watter eenvormigheid dan nou die vyand is van individuele denke en watter individuele denke dan nou blykbaar onontbeurlik sou wees vir ‘n progresiewe akademiese instansie nou.
Al wat ek se ne, is dat as jy so deur die kommentare lees dan is almal bewus dat eenvormigheid inderdaad bevorder word en mense van ‘n sekere denkskool dan nou selfs ondersteun word in hulle vryheid van assosiasie (en dan nou eenvormigheid), maar die Here weet, as daar nou Afrikaanse wit mense is wat nou dieselfde gedagtes dink dan moet dit hok slaan met Askaris, soos Basson, jou Hensopper, veraaier!

Hannes Deetlefs ·

Ek moet tog glimlag: Julle moet eenvoudig nie reageer nie! Dis die beste manier van aksie, liewer die krag gebruik om eie dinge te verbeter. Die, wat so vinnig met “Nazi” en ander bewerings kom, stuit vir niks nie en is nie ontvanklik vir goeie argumente nie. Daarvan kan die land Switserland nou werklik getuig. Die mees demokratiese land ter wêreld loop keer op keer deur omdat die Switsers eenvoudig nie deel van die Europese Unie wil word nie, en die argumente is maar presies dieselfde soos hier by julle beskrywe. Hoe swakker die argument, hoe groter is die geskreeu. Dit was maar altyd so. Hou koers, dis al wat tel!

Louis Naude ·

Is daar nog ‘n land met wette en praktyke om die meerderheid teen die minderheid te beskerm? Hoekom word ‘n praktyk wat briljant werk afgebreek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.