Prof. Francois Venter se ope brief aan Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Ope brief aan prof Dan Kgwadi, visekanselier NWU
Potchefstroom
5 Januarie 2015

Beste Professor Kgwadi,

HOEKOM POTCHEFSTROOM MARGINALISEER?

Ek skryf aan u weens my besorgdheid oor die toekoms van die Noordwes-Universiteit en ek doen dit in ‘n ope brief omdat u dikwels gesê het dat u robuuste debatvoering verwelkom. Hoewel ek as ‘n individuele lid van die universiteitsgemeenskap en heeltemal uit eie beweging skryf, glo ek dat die meeste van my opmerkings hieronder die denke van heelwat mense weerspieël. Hoewel my kommentaar op die NWU as geheel betrekking het, kom dit onvermydelik uit die perspektief van die Potchefstroomkampus.

Hierdie brief word bedoel, mnr. die Visekanselier, om respekvol aan te toon dat u nog nie daarin geslaag het om die ondersteuning van die Potchefstroomse kampusgemeenskap vir die beleid wat u skynbaar najaag, te verwerf nie. Dit is onder meer aan die vaagheid van u beleidsbedoelings toe te skryf, asook aan die suggestie in u optrede tot dusver as prinsipaal van vyandiggesindheid teenoor die kampus. U optrede sedert u ampsaanvaarding, gee aanleiding tot spekulasie dat u daaraan werk om die Potchefstroomkampus te marginaliseer, wat, indien dit suksesvol sou wees, ook ingrypende ekonomiese en ander gevolge vir Potchefstroom as sodanig sal hê, en dit is onduidelik waarom u dit doen.

Ek plaas graag my waarnemings verder in konteks:

Die geskiedenis getuig van die feit dat die universiteitsgemeenskap van Potchefstroom diep en oortuigend betrokke was by die proses van die omskepping van ons land in ‘n grondwetlike demokrasie – dit is ‘n punt wat onder andere regter Albie Sachs, al dikwels in die openbaar beklemtoon het.

Dit is ‘n statistiese en praktiese gegewe dat die Potchefstroomkampus oor die afgelope dekade ‘n sleutelrol in die konsolidasie van die NWU tot unitêre universiteit vervul het. Ek is daarvan oortuig dat die kampusgemeenskap hiervan bewys gelewer het deur in die eerste dekade van die bestaan van die NWU hard gewerk het om met alle NWU-kollegas wat daartoe geneë was, saam te werk. Die kampusgemeenskap is voorts sonder twyfel daarvan bewus dat die sukses van die NWU ‘n voorvereiste is vir die voortsetting van die opwaartse spiraal van sy eie prestasierekord. Die feit dat die kampus ‘n eie trotse geskiedenis het wat oor meer as 140 jaar terug strek behoort ook erken te word as ‘n waardevolle bate vir die NWU as geheel.

Die opmerkings wat ek hier maak, berus op die dokumentasie wat ek onder oë kon kry wat deur die Universiteit gepubliseer is, wat ek mense op die kampus hoor sê, en my persoonlike ervaring. Verder dra die betreurenswaardige behandeling wat die Potchefstroomkampus in die loop van 2014 van sommige joernaliste ontvang het, asook wat ek verstaan in die verslae van eksterne ondersoekpanele staan, tot my perspektief op die Universiteit se huidige situasie by.

Die aankondiging in November 2013 deur die voorsitter van die Raad dat u as visekanselier en prof. van Schalkwyk as adjunkhoof van die NWU aangestel is, is oor die algemeen verstaan as ‘n kompromie, gegewe die verklaring dat die Raad “voor die keuse te staan gekom het tussen twee uitstekende en bekwame kandidate wie se kampusprestasies die afgelope aantal jare uitstaande was”. Die raadsvoorsitter het destyds verder gesê dat die “Raad glo dat die NWU die uitdagings waarvoor die instelling te staan kom, beter die hoof sal kan bied as die kundigheid en bekwaamheid van beide kandidate op ‘n gebalanseerde en volhoubare manier behou word.” Die formele aanstelling van die adjunkhoof is, sover ek kon vasstel, egter nog nie gedoen nie, wat natuurlik aanleiding gee tot die indruk dat u as prinsipaal tot dusver besig was om te poog om die rektor van die Potchefstroomkampus, en dus die kampus self, op ‘n syspoor te skuif. U ontwykende stilswye oor die saak versterk hierdie indruk.

Tydens u reeks vergaderings op die kampus na u ampsaanvaarding het u die personeel uitgenooi om die bestuur by robuuste gesprekvoering te betrek, maar in die loop van daardie vergadering het u op pertinente vrae oor brandende kwessies rakende toekomstige beleidsrigtings met baie woorde gereageer – sonder egter om betekenisvolle antwoorde op die vrae te gee. Dit moet ongelukkig gesê word dat ontwykendheid en vaagheid rakende kritieke strategiese kwessies wat die belange van die Potchefstroomkampus (wat natuurlik ten nouste verbind is aan die belange van die NWU as geheel) tot dusver u ampstermyn as visekanselier gekenmerk het, soos byvoorbeeld u weiering om spesifiek te wees oor die betekenis en implikasies van “transformasie” en terloopse verwysings na, sonder ‘n eksplisiete verbintenis tot, die bestaande funksionele taalbeleid.

Dit het uit ander optredes wat die Potchefstroomkampus regstreeks raak, duidelik geword dat daar rede vir kommer bestaan oor die uitwerking van u benadering tot transformasie. Dit sluit die koppeling, sonder verdere verduideliking van u kant, van strategie-ontwikkeling met die besnoeiing van die heraanstellingstermyne in (wat byvoorbeeld aanleiding gegee het tot die bedanking van die viserektor van die Potchefstroomkampus), asook pogings in vergaderings van die Institusionele VSR om, met u ondersteuning, die Potchefstroomstem te neutraliseer. Hierdie optredes het die indruk versterk dat u daarmee besig is om die gerespekteerde en buitengewoon goed-presterende kampusbestuur, en die studentegemeenskap in die naam van transformasie te marginaliseer.

Wat taal betref wil dit voorkom of daar ‘n direkte skakel bestaan tussen die minister van hoër onderwys se ongrondwetlike idee dat geen ander taal nie as Engels die onderrigmedium aan alle universiteite moet wees, en u eie betreklik vae beklemtoning van “‘n geïntegreerde kultuur, sosiaal geïntegreerde kampusse en billike toewysing van hulpbronne” (soos gestel in u boodskap in Eish! van 7 Desember 2014). Die ongesproke logika onderliggend aan u stellings oor hierdie aangeleentheid skyn te wees dat die “probleem” van Afrikaans met die verloop van die tyd “opgelos” sal word deur die aantreklikheid vir Afrikaanssprekendes van die NWU as voorkeur leer- en werkomgewing te verminder deur ondersteuners van die huidige reëlings uit bestuursposisies te verwyder.

Daar kan nie gesê word dat die isolasie waarin die “strategieproses” wat in Eish! beskryf word tot dusver plaasgevind het deur die “konsultasieproses” in November beëindig is nie. Die “konsultasie” het tot dusver eintlik bloot die vorm aangeneem van ‘n (“vertroulike”) mededeling aan die personeel van hoe die strategiese planne bewoord word, met die toelating van slegs ‘n paar weke vir terugvoer gedurende ‘n moeilike tyd op die akademiese kalender. Die wyse waarop hierdie proses besig is om te ontvou bring ‘n mens daartoe om te vermoed dat die Institusionele Bestuur hom (grootliks in die afwesigheid van die adjunkhoof), onder u leiding, haas om radikale nuwe beleide te skep om dit aan die universiteitsgemeenskap, die Senaat en die Raad as ‘n voldonge feit voor te lê. Hierdie vermoede word verder versterk deur die vae en kriptiese taal waarin die strategiese dokument bewoord is (die besonderhede waarvan ek nie hier kan lys nie weens die opgelegde vertroulikheid daarvan), maar wat vir enige leser opvallend is, en wat uitdrukkings wat u in Eish! gebruik het, soos “‘n baie meer geïntegreerde universiteit met sosiaal geïntegreerde kampusse” insluit.

Soos u uself sal mag voorstel, het ek deurlopend na enige aanduiding van wat u beskou die wese van transformasie wat relevant is vir die NWU is, gesoek. Die naaste wat ek daaraan kon kom, is die volgende paragraaf in u boodskap in die Alumnitydskrif (Vol 4, no. 2 van 2014):

Transformasie is nodig

’n Internasionale paneel-evaluering van die mate waartoe die universiteit sy samesmeltingsdoelwitte bereik het, het aangedui dat meer gedoen sal moet word om te verseker dat die skeiding tussen ‘n histories swart en histories wit universiteit oorkom word.

Transformasie gaan nie net oor getalle nie. Demografiese transformasie is ‘n nodige maar ontoereikende voorwaarde vir die dieper soort transformasie wat daartoe sal lei dat die universiteit se bydrae tot maatskaplike kohesie en nasiebou selfs groter sal wees.

Na my mening is dit redelik om soos volg op hierdie verklaring te reageer:

Die verslag nóg van die internasionale paneel waarvan u melding maak, nóg die ander twee verslae waarop dit wil voorkom dat u vir die regverdiging van “transformasie” van die universiteit staatmaak, kan objektief beskou word as voldoende billik, akkuraat of oortuigend, hoewel die verslae natuurlik diegene wat ons in Potchefstroom kwaadgesind is, goed pas. Soos u weet is een van hierdie verslae so grondliggend gebrekkig dat die Raad die publikasie daarvan moes verbied.

Objektief gesproke dui die statistiek en die realiteit duidelik daarop dat die Potchefstroomkampus veel minder die karakter van ‘n “historiese wit universiteit” (wat dit ook al mag beteken) dra as die “historiese swart” aard van die Mafikengkampus. Dit bring mee dat hernude pogings tot transformasie tot ‘n sosiaal-geïntegreerde kampus (wat dit ook al mag beteken) primêr in Mafikeng nodig is en nie op die sondebok van die paneelverslae, die Potchefstroomkampus, nie.

Sosiale samehorigheid en nasiebou (wat dit ook al mag beteken) sal nie onder die dekmantel van die skepping van ‘n “baie meer geïntegreerde universiteit” bevorder word deur die eliminering of uitskakeling van goed-presterende bestuurders nie en deur hulle dan te vervang met ‘n gesentraliseerde en potensieel oorgrote institusionele bestuur wat (onmoontlik) getaak word om die belange van personeel wat oor 300 kilometer versprei is, te dien. Dit spreek vir sigself dat die personeel op die drie kampusse onvermydelik onder uiteenlopende omstandighede en omgewings werk. Dit is ook voor-die-hand-liggend dat geen mate van “sosiale integrasie” of aanpassing van akademiese en bestuurstrukture die verskillende omstandighede en omgewings wat op en om die drie kampusse bestaan, sal verwyder nie. Daar moet ook op gelet word dat dit universeel erken word dat ‘n universiteit nie primêr oor bestuur gaan nie, maar oor wetenskapsbeoefening.

Indien u demografiese transformasie vir die NWU as “nodig” beskou, kan ‘n mens maar net wonder wat u beskou as die vereistes vir “dieper transformasie” wat voldoende sal bydra tot “maatskaplike kohesie en nasiebou”. Dit is per slot van rekening onbetwisbaar dat ‘n voldoende hoeveelheid gekwalifiseerde personeel en studente wat vir normale toelating kwalifiseer nie gedurende u ampstermyn (en langer) gevind sal kan word om “demografiese transformasie”, ‘n ooglopende rasse-eufemisme, te bewerkstellig nie.

Hierdie kommentaar word bedoel om aan te toon dat sinvolle en samewerkende strategiese vordering onmoontlik is as dit in vae en onsekere taal verwoord word. Om die waarheid te sê, dit gee aanleiding tot geregverdigde kommer dat die dubbelsinnigheid en wollerigheid bedoel is om verskuilde bedoelings te verberg.

Indien u nie deur die bostaande opmerkings oortuig word nie, hoop ek dat u ten minste een punt ter harte sal neem: u kommunikasie met die universiteitsgemeenskap tot dusver laat ‘n mens met ‘n lugleegte van onsekerheid aangaande die rigting van u strategie en beplanning. ‘n Geldige vertolking van u mededelings tot dusver is dat die ontwikkeling van strategie bedoel is om Potchefstroom te marginaliseer en dat die proses deur eksterne magte gestuur word.

Laat my nou toe om die aard van party van die spekulasies waartoe u openbare handelinge tot dusver aanleiding gegee het en die gepaardgaande implikasies daarvan, uiteen te sit:

Indien u begrip van transformasie dieselfde is as dié van die ANC, sou dit billik wees om te veronderstel dat u van voorneme is om die grootste gedeelte van die huidige hoogs-produktiewe akademiese gemeenskap op die Potchefstroomkampus te vervreem, gegewe die feit dat die hoofinhoud van die ANC se volkome Leninistiese konsep van die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) (soos beskryf in hulle dokumente wat aanlyn gepubliseer is) “remains the liberation of Africans in particular and Blacks in general from political and socio-economic bondage. It means uplifting the quality of life of all South Africans, especially the poor, the majority of whom are African and female.” Die fokus is hier ooglopend rassig en daarom in stryd met die grondwetlike stigtingsbeginsel van nie-rassigheid. Dit verg nouliks regverdiging om te beweer dat hierdie benadering oor die laaste twee dekades volkome misluk het. Sien bv. die opmerking deur Anthea Jefferey in haar onlangse gesaghebbend-nagevorsde en goedgebalanseerde boek (die lees waarvan ek sterk by u kan aanbeveel) BEE – Helping or Hurting? op p.399 aangaande die politieke optrede wat as noodsaaklik beskou word om die NDR te bevorder: “These range from giving the ANC the power to erode university autonomy in the name of ‘transformation’; to deploying party loyalists to the public and private sectors; and so hobbling business that persistent ‘market failures’ can be used to press the case for ever more state control.”

Indien u egter ‘n ander konsep of plan het vir die transformasie van die NWU, het dit dringend geword dat u dit uitspel ten einde die raadpleging van die universiteitsgemeenskap oor ‘n toekomsstrategie sinvol te maak.

Indien dit u strategie is om u doelwitte te bereik deur die marginalisering en uitwerk van die bestuur van die Potchefstroomkampus en deur die vervreemding van die akademiese en administratiewe personeel en studentegemeenskap op die kampus, doen ek aan die hand dat u die vernietigende uitwerking daarvan op die NWU as geheel, op die ekonomie en infrastruktuur van Potchefstroom en op die voortgesette ondersteuning van nasionale versoening onder die groot steungemeenskap en die alumni van die Universiteit sal hê, oorweeg. Die vervreemding van hierdie mense het die ware potensiaal om die NWU op die pad na selfvernietiging as ‘n instelling van uitnemendheid te plaas, soos dit in die verlede en tans nog waargeneem kan word by sommige ander onderwysinstellings wat onder dwang ooreenkomstig die NDR aan “transformasie” onderwerp word.

Indien u egter vir die NWU die bewese deskundigheid, veral van die toppresterende akademiese, administratiewe en bestuurspersoneel (wat ooglopend nasionaal en internasionaal die mees mobiele is) wil behou, is dit dringend dat u die oorsake van die spekulasie rakende u voornemens uit die weg ruim en huidige en toekomstige studente wat graag in Potchefstroom wil studeer, geloofwaardig daarvan oortuig dat hulle redes daarvoor nie besig is om verwyder te word nie.

Indien u van voorneme is om die bestuur, administrasie, akademiese strukture en die studenteliggame van die NWU te sentraliseer ten einde die kritiek van diegene te bevredig wat verkies om die voordele van die huidige model te ignoreer, sou ek sterk aan die hand doen dat u die realiteit oorweeg dat ‘n “plat” struktuur wat oor ‘n groot geografiese area versprei is, langer, nie korter nie, kommunikasielyne, besluitneming en implementering sal meebring. Die eliminering of wesenlike verkleining van kampusstrukture is ‘n besliste resep vir die skepping van ‘n atmosfeer van “ons” (die kampusgemeenskappe) en “hulle” (die sentrale base en burokrate).

Indien u egter hoop om die kreatiwiteit en gesonde groepsgees van die drie kampusgemeenskappe te behou, oorweeg asseblief ander maatreëls om samewerking en gemeenskaplike doelwitnastrewing binne die NWU te verbeter en te stimuleer, as stomp, tipies-sosialistiese sentralisering.

Indien dit u doel is om die NWU ideologies te posisioneer om politieke owerhede te bevredig, wys ek u graag daarop dat politieke ideologie geneig is om gedurig te verskuif en te verander (sien weer Anthea Jefferey se boek waar sy bv. beskryf hoe die ANC se eie idees en doelstellings vir regstellende aksie verander het en dramaties oor die afgelope 20 jaar geradikaliseer het). Tans voorspel politieke kommentators oor die algemeen betekenisvolle politieke verandering vir Suid-Afrika, onder andere weens bv. die veranderende ouderdomsdemografie van die kieserskorps. Universiteite – onder die oudste en mees konstante instelling van ons beskawing – is beslis nie ideologies stagnant nie, maar het beslis die universele kenmerk om lukrake, opportunistiese en vinnig-veranderende politiek te weerstaan. Die enigste uitsondering hierop is waar universiteite tot verlengstukke van staatsideologie gemaak word, soos bv. in kommunistiese state, waardeur hulle sosiale waarde en vermoë om oorspronklike wetenskap te produseer wesenlik verminder of vernietig word.

Indien u egter hoop om die vermoë van die NWU om substantiewe bydraes tot die wetenskap en die akademie te maak, te behou en daardeur ons gemeenskaplike nasionale en ekonomiese belange te dien en ons land se probleme, soos die swak toestand van skoolonderwys, die endemiese armoede en die uitdagings rakende openbare gesondheid en grondwetlike stabiliteit die hoof te bied, sou ek u graag wil aanmoedig om nie te probeer om u of enige ander ideologiese posisie op die NWU-gemeenskap af te dwing nie, maar om verdraagsaam te wees ten opsigte van sienings wat anders, of selfs opponerend tot u sienings is en om die behoud van die talente van personeel en die studentegemeenskap van die Potchefstroomkampus te verseker.

Indien dit u oogmerk is om die NWU se funksionele taalbeleid, in navolging van die minister van hoër onderwys, uit te faseer ten gunste van die skepping van ‘n enkel-taal onderrig-leer omgewing op al die kampusse, sou dit beter wees as u sodanige bedoeling aankondig as om dit aan (veral) die Potchefstroomse kampusgemeenskap oor te laat om daaroor te spekuleer en weens die onsekerheid verlies aan ondersteuning te ly. So ‘n aankondiging sal nie u gewildheid op die kampus verhoog nie, maar mag wel u geloofwaardigheid verhoog.

Indien u egter glo dat die Potchefstroomkampus moet voortgaan om oor die langtermyn tot die sukses van die NWU by te dra, verklaar dan asseblief onomwonde in die openbaar dat u Afrikaans as onderrig- en leertaal van die NWU sal beskerm en verdedig, want dit bly steeds ‘n sleutelelement van die vermoë van die kampus om tot die sukses van die NWU as geheel by te dra.

Ten slotte doen ek sterk aan die hand dat dit belangriker vir die toekoms van die NWU is dat u die vertroue en ondersteuning van al die geledinge van die Potchefstroomkampus en van die Kampus se eksterne steungemeenskap verwerf as dat u ‘n dubbelsinnige beleid van “transformasie” nastreef, wat katastrofale agteruitgang eerder as groei beloof.

‘n Ondersteunende Potchefstroomkampus wat deur openheid en die inboeseming van wedersydse vertroue verkry kan word, sal sonder twyfel van veel groter waarde vir die verdere konsolidasie van die NWU as unitêre en goed-presterende universiteit wees as ‘n kampus wat onderwerp word aan dwang en uitdruklike of geïmpliseerde bedreiging van sy voortbestaan.

Hoogagtend die uwe,
Francois Venter

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Francois Venter

Francois Venter was voorheen die dekaan van die fakulteit regte by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Hy was ook 'n adviseur by die onderhandelingsliggaam Kodesa met die opdrag om die hoofonderhandelaars van die Suid-Afrikaanse regering oor grondwetlike aangeleenthede by te staan.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Willem ·

Jammer, seker maar my fout. Toe ek sien die brief is in Engels, het ek nie verder gelees nie.

Ruiter ·

Die doel hier was nie om iets uit te lok buiten vir ‘n opregte antwoord nie. Om van iemand ‘n weldeurdagte antwoord in te verwag op ‘n dokument wat in sy vyfde taal is is dalk effe onredelik. Afrikaans is ‘n skat, nie ‘n wapen nie.

Willem ·

Afrikaans is nie ‘n wapen nie. Dit is die taal waarmee ek groot geraak het, waarin ek lief het en waarin ek my land eer. Ek veg nie daarin nie, want ek is nie ‘n veglustige mens nie. As dit vir jou ‘n wapen is, laat dit so wees.

Ek glo ook nie die visiekansellier van die NWU sal dit as ‘n wapen ervaar nie.

Piet Snot ·

My persoonlike mening is dat, wanneer ek vir Afrikaans baklei, ek dit in enige taal sal doen. Indien die Afrikaner se saak (beter) bevorder word deurdat die prof ‘n ander taal gebruik, stem ek met hom saam.
Om dit anders te stel, as mens in Engels vir Afrikaans moet baklei, moet jy dit doen: die Saak is groter as my persoonlike voorkeur.
Hierdie brief is in iedergeval so uitstekend, dis onvertaalbaar.

Willem ·

Ongeag, sou ‘n mens graag wou sien dat die brief ook op ander Afrikaanse media webwerwe gepubliseer word, wat te betwyfel is. Ek het dit ook nie op van die Engelse media se webwerwe gesien nie.

Willem ·

Ek sien Dirk Hermann se ope brief gister aan Zuma, ” Ons in kinders van Afrika,” op Netwerk24. Onderaan skryf een persoon ‘n kommentaar wat sê dat dit jammer is die brief is nie in Engels nie, dan kon “hulle” dit ook lees.

As daardie brief in Engels was, het geen van Naspers se Afrikaanse koerante en Netwerk 24 dit geplaas nie. Dan sou dit tien teen een nie eens deur 100 mense gelees word nie. Dieselfde soos die brief hier bo en het dit geen trefkrag nie.

marie vlok ·

Hoef niks by te voeg of weg te laat nie. Dis supergoed geskryf. Die Engels pla my nie. Nie in hierdie geval nie! Ons weet mos almal dit gaan uiteindelik oor politieke gewin, die haat jeens die witmens en “alles is ons s”n, want julle het dit van ons gesteel” Zuma het self Saterdag so in die Kaap gese. Dit kom mos al van Jan v. Riebeeck se tyd af. Hier was niks; so ons kon niks steel nie…….Tatta PUK (e wena Azania kampus…he he)

Willem ·

Dankie prof. Francois vir ‘n weldeurdagte en uitstekende brief.

Fancois ·

Goed geskryf, die Engels pla my nie. Wonder net of die agbare VC die hele brief sal lees en verstaan? Dalk bietjie bokant sy ANC deurspekte gedadagtegang en bevele van die ANC kaders.

André Badenhorst ·

Die ANC-houding is om, soos by die e-tol en Nkandla en ander “gates”, die openbare mening en logika eenvoudig net te negeer ter wille van persoonlike gewin en goedkoop raspolitiek. Ek sien nie hoe prof. Dan, wat lyk asof hy populistiese sentimente het, sal luister na “middeljarige wit mans wat na apartheid verlang” nie.

Deanné Moscos ·

So sy aanstelling was van die begin af strategies!! Prof Herman van Schalkwyk MOES die pos gekry het. Dan was al hierdie nou onnodig. Uitstekende beskrywende brief!!!

Scheuble Bukes ·

Kom ek se vir julle… (Ek was ‘n Regstudent aan die PUK vanaf 1987 tot en met 1992) die PUK het sy gat gesien. Maak nie saak wie wat se nie, as dit (Transformasie) so voortgaan, gaan die PUK nie meer wees soos wat ons hom geken het of dalk nog ken nie, maar sy dae is getel!!! Bewys my verkeerd… ek daag julle uit… kom ons kyk oor tien jaar weer!!!

AS ·

Het nèt die PUK sy gat gesien? Lyk vir my heelwat erger as net dit…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.