Ope brief aan die nuutverkose leier van die ANC

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Die leierskapsverkiesing binne die ANC kom vinnig nader. Kandidate word geïdentifiseer en in provinsies word moeite gedoen om te sorg dat hul keuse voor in die ry staan.

Die uitslag van hierdie geleentheid is belangrik vir al die inwoners van Suid Afrika solank as die ANC die regerende party is. Dat dit binnekort gaan verander, is onwaarskynlik.

Vir ʼn oomblik lyk dit asof daar betekenisvolle verandering kan kom, maar die hoop word verydel deur onderlinge verdeeldheid en toutrekkery.

Mag is ʼn lelike ding!

Laat ons dus vir nou aanvaar dat die status quo vir ʼn tyd lank ons voorland gaan wees.

Hierdie skrywe is ʼn ope brief aan die verkose leier waarin ek vra dat hy/sy eerlik oorweeg of hierdie amp inderdaad op sy/haar weg gelê is.

Geagte verkose leier van die ANC

Hartlik geluk met u verkiesing. Mag u geseënd wees in die weg waarop u uself bevind. Ek is daarvan oortuig dat u die saak met die nodige erns bejeën, maar namens miljoene burgers in Suid Afrika, wil ek dit waag om te vra of u uself bereid verklaar om die volgende in die uitvoering van u amp te integreer:

Is dit u voorneme om by uitstek as dienaar van die mense van Suid Afrika bekend te wees, om die belange van al die inwoners op die hart te dra en uself daarvoor te beywer? Suid Afrika behoort immers aan al die mense wat daarin woon. Sal u uself beywer vir eenheid te midde van diversiteit deur onder meer kwetsende en ontstellende retoriek weg te laat en versoenend en insluitend in voordragte te wees?

Is u bereid om die bydrae wat elke Suid Afrikaner gelewer het om Suid Afrika tot hier te bring te huldig en te respekteer sonder etikettering en verwyt, om – te midde van die ongelykhede in ons samelewing en in ag genome die dringende noodsaak om dit daadwerklik aan te spreek – regverdig te wees in besluite wat in die verband gemaak word? Onderneem u om die aandeel en bydrae van elke Suid Afrikaner te eer en te beskerm, om diskriminerende praktyke aan te spreek en die belange van alle mense te bevorder?

Is dit u voorneme om self ʼn voorbeeld van integriteit te wees, om Suid Afrika in die wêreld te vestig as ʼn geloofwaardige vennoot en ons eer te herstel deur korrupsie, bedrog, nepotisme en bevoordeling wortel en tak uit te roei, kaderontplooiing en omkopery in hul spore te stuit asook dié wat hulself daaraan skuldig gemaak het te laat vervolg en sonder uitsondering of bevoorregting dienooreenkomstig te vonnis?

Is dit u voorneme om die regspraak in Suid Afrika te herstel, howe se gesag te erken en te handhaaf en die grondwet te eerbiedig, om Suid Afrika weer veilig te maak, die korpus van wetstoepassers te suiwer van gure elemente, die parke, inkopiesentra en strate van ons land toeganklik te maak vir almal sonder vrees vir rampokkery? Onderneem u om die weerloses in ons samelewing te beskerm?

Is dit u voorneme om wanbesteding en selfverryking te stuit en die rykdomme wat aan die mense van Suid Afrika behoort te verhaal en terug te ploeg in veral sukkelende gemeenskappe, om natuurlike bronne in ons land te beskerm en alles in die stryd te werp om uitbuiting daarvan stop te sit? Sal u uself daarvoor beywer om die bekommernisse van burgers ernstig op te neem en alle sinistere belange op te skort?

Onderneem u om voedselsekerheid te herstel deur die boerderygemeenskap in sy diversiteit te beveilig en te ondersteun, om die ongekontroleerde invloei van vreemdelinge op ʼn regverdige en simpatieke wyse te reguleer sodat werksekerheid vir plaaslike inwoners prioriteit geniet?

Onderneem u om net bekwame persone in sleutelposisies te ontplooi, die sukkelende ekonomie op dreef te kry deur alle inisiatiewe te beloon, kreatiwiteit aan te moedig en van rompslomp en burokrasie ontslae te raak? Sal u vir eens en altyd die ondoeltreffende staatsondersteunde instellings op dreef kry of privatiseer?

Is dit u voorneme om godsdiensvryheid te laat gedy, in ag genome dat Suid-Afrika inderdaad ʼn land met Christene in die meerderheid is?

Is u bereid om aan God die eer te gee, die ware inhoud en betekenis van “God seën Afrika” te herstel en verrigtinge in die parlement met ʼn oomblik van toewyding te open? Onderneem u om die parlement se eer te herstel sodat ons weer daarop trots kan wees?

Is dit u voorneme om die sukkelende onderwys in Suid Afrika op aanvaarbare standaarde te kry, minderbevoorregte studente finansieel by te staan en beywer u uself daarvoor dat alle mense optimale geleentheid gebied word om volledig na God se bedoeling te ontwikkel?

Sal u dienslewering daadwerklik herstel, sukkelende en ondoeltreffende munisipaliteite se bedenklike leierskap vervang met persone van integriteit, waarheid, geloofwaardigheid en eerlikheid?

Sal u armoede en werkskepping ʼn hoë prioriteit maak, en Suid Afrikaners, veral ons jongmense, se hoop in die toekoms van hierdie land herstel en so die uitvloei van mensekapitaal na die buiteland stuit?

Mnr./me. die aangewese leier van die ANC

Dis ʼn mondvol, maar sal u minstens probeer?

God help u

Herstel asseblief die hoop en vertroue van die mense in ons land.

Ons beloof om u te respekteer en ons samewerking te gee.

Ons bid vir u

Die genade van ons Here Jesus Christus

Die liefde van God die Vader

Die bemagtiging van die Heilige Gees

Bly met u

Amen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dirk01 ·

en die anc sal luister of moeite doen om die geskrewe te lees…….

Theresa ·

Baie dankie, Mnr Pelser! Dis ‘n skrywe wat duisende (dalk miljoene?) mense sou wou voorlê in groot hoop. Hartroerend, wat dit is die crux van die saak vir ‘n ordentlike en ordelike regering en samelewing.
Hierdie land toon egter nie meer een van daardie eienskappe in leierskap nie en daarom is dit hartseer om die waarheid op skrif te sien. Mens kan wel hoopvol bly.

Pietsepan ·

Ek glo dat hulle nie eers die brief gaan lees nie wat nog te sê uitvoer. Waarom het hulle so gekoggeldans toe hulle in 1994 aan bewind kom? Dit was uit blydskap dat hulle die skatkis gaan beheer.

Eish ·

Lukas 9:5
“En almal wat jul nie ontvang nie – as julle van daardie stad weggaan, skud selfs die stof van julle voete af, tot n getuienis teen hulle.”

Dit is nie nodig om vir enige landsleier aan sy pligte te herhinner nie. Behalwe waar die kwade in totaliteit wortel geskied het. Dan, gaan praat nie meer help nie. Ons bid slegs vir ons behoud te midde van n verdraaide en ontaarde geslag, dis al.

jan_alleman ·

n man wat nie kritiek kan vat nie behoort nie artikels te skryf nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.