Ope brief aan hoofregter Mogoeng Mogoeng

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: Flickr/GovernmentZA

Geagte edelagbare,

Ek hoop u kry dié brief te lese. Ek weet nie hoe goed u Afrikaans is nie; desnoods kan u ’n amptenaar vra om dit in Engels vir u te vertaal. En as u wil, kan ek dit ook self doen.

Ek skryf aan u na aanleiding van twee uitsprake van Afrikaanse geleerdes wat my in die naweek heeltemal tot stilstand geruk het. Albei is aangehaal in ’n berig in Rapport na aanleiding van die taalrusie rondom die Hoërskool Overvaal.

Die twee geleerdes is die prokureur Cerneels Lourens en dr. Theuns Eloff, direkteur van die F.W. de Klerk-Stigting en voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Lourens is ’n regsgeleerde, terwyl Eloff van oorsprong ’n teoloog en universiteitsrektor is, maar wat in sy skryfsels diep insig in terreine soos die staatsreg, onderwys en taalsosiologie openbaar.

Albei is diep begaan met die oorlewing van Afrikaans in die algemeen en in die onderwys in die besonder.

Wat het die twee gesê wat my so geruk het?

Luidens die berig in Rapport het Lourens vooruit gekyk na hoe u die Overvaal-kwessie kan beoordeel wanneer die saak eindelik in die konstitusionele hof aanland.

“Solank Mogoeng Mogoeng die hoofregter is, is die kans bitter skraal dat die hof in Overvaal se guns sal beslis,” het Lourens gesê. “Hy is rasbehep en het geen insig in die konsep van taaldiversiteit soos in die Grondwet vervat nie.”

Eloff was eweneens pessimisties. “Maar ek het nie baie vertroue in ons regters om ’n objektiewe aanslag te neem nie,” was sy oordeel. Dit nadat hy u uitspraak in die saak oor Afrikaans as voertaal aan die Universiteit van die Vrystaat – altans na mý mening – kil en klinies uitmekaar geskeur het deur verskeie denk- en feitefoute aan u kant uit te lig.

Dit gebeur nie aldag dat ’n hoofregter in ’n demokrasie só platgetrap word nie. Veral nie wanneer dié hoofregter in verskeie uitsprake teen die staatshoof en regerende party gewys het dat hy geen lafaard en beslis nie sonder professionele integriteit is nie.

Nóg ’n rede hoekom ek aan u skryf, is dat dit een van die dae – op 21 Februarie – Internasionale Moedertaaldag is. Daardie dag is nie sommer ’n regse instrument om verdeeldheid te saai nie; dis oorspronklik in 1999 ingestel deur Unesco, ’n onverdagte VN-organisasie wat hom met onderwys besig hou.

Op sy webwerf verwys Unesco só na die dag: “UNESCO has been celebrating International Mother Language Day for nearly 20 years with the aim of preserving linguistic diversity and promoting mother tongue-based multilingual education. Linguistic diversity is increasingly threatened as more and more languages  disappear. One language disappears on average every two weeks, taking with it an entire cultural and intellectual heritage.”

Maar goed, terug by u uitspraak in die UV-saak.

Ek het die uitspraak goed bestudeer. Ek is geen regsgeleerde nie; my akademiese opleiding is as historikus, maar deel van my studie het wel staatsregtelike onderwerpe ingesluit. Ek is nie hééltemal onkundig oor die saak nie.

Omdat ek passievol oor taaldiversiteit voel, het ek ook ʼn studie van die taalsosiologie gemaak en selfs enkele eweknie-beoordeelde akademiese artikels in geakkrediteerde tydskrifte daaroor gepubliseer. Ook dáároor is ek nie heeltemal onkundig nie.

Teen dié agtergrond wil ek vandag met groot respek, maar baie reguit, sê: Met die meerderheidsuitspraak oor die UV, wat u onderskryf het, het u Suid-Afrika in ʼn grondwetlike krisis gedompel.

Waarom sê ek só?

Aan die een kant bepaal ons regstaatlike stelsel dat u uitspraak die laaste woord oor die saak is. Daardie woord is, as ek bietjie kortpad kan vat, basta.

ʼn Mens sou die saak nog na internasionale tribunale kon verwys, maar selfs al verskil hulle met u uitspraak, bly u sʼn volgens ons stelsel staan.

Maar terselfdertyd was u uitspraak 100% verkeerd.

Die Grondwet is hieroor baie duidelik: Onbillike diskriminasie, onder welke voorwendsel dan ook (en dit sluit taal in) is onwettig. Maar as daar geen onbillike diskriminasie plaasvind nie, mag onderwysinstellings eentalig wees.

U hoof-argument was dat die Grondwet ʼn volledige transformasie van ons samelewing weg van ons apartheidsverlede eis, en dat dit belangriker is as die genuanseerde reg op eentalige (lees: Afrikaanse) onderwys. U is reg dat die Grondwet só ʼn eis stel, maar u het nie eens oorweeg of die twee versoen kan word nie.

As hulle nié versoen kan word nie, soos u impliseer, waarom het die grondwetskrywers dan hoegenaamd die moeite gedoen om art. 29(2), wat dié kwessie hanteer, in die dokument op te neem? U weet mos net so goed soos ek dat die bedóéling van die wetgewer ʼn belangrike element is wat ʼn regter by sy wetsuitleg in ag moet neem!

Nou sit ons met die tameletjie. Ons sit met ʼn regbank wat die regstaat in twee opsigte ʼn harde slag toegedien het.

Die eerste is dat ʼn duidelik foutiewe uitspraak nou deel is van ons konstitusionele jurisprudensie. Nugter weet hoe dié skade herstel moet word.

Die tweede is potensieel dalk nog ernstiger. Dit is dat u ʼn belangrike deel van die bevolking – die Afrikaanssprekendes – van die demokratiese regstaat vervreem.

In u opleiding as regsgeleerde het u ongetwyfeld geleer dat die demokrasie in die verlede wortel geskiet het hoofsaaklik omdat dit algaande wye aanvaarding in die gemeenskap gekry het. Mense het agtergekom dat die regstaat in hul belang was, en dus het dit deel van die openbare politieke kultuur geword.

Dit was juis een van die groot probleme van die apartheidstyd. Vir sover ons destyds ʼn regstaat gehad het, was dit ter beskerming van wit bevoorregting, en dus het dit nie in die harte van die swart mense geleef nie.

Nou trek u die mat uit onder die voete van mense soos ek, wat die koms van die nuwe bedeling in 1994 – al was dit met sekere voorbehoude – gesteun het.

Ek bly daarby dat die Grondwet, ondanks bepaalde gebreke, ʼn goeie dokument is, maar dat die ANC dit nie uitvoer nie. Nou moet ʼn mens ook nog konstateer dat die konstitusionele hof self die Grondwet verdraai.

Wat bly oor van my – en ander – se geloof in ons regstaat?

Ek kan u klaarblyklike bitterheid oor die onreg van die verlede verstaan. Maar in hemelsnaam, edelagbare, moet u onreg met onreg bestry? Moet u nie, soos die Goeie Boek ons leer, die kwaad deur die goeie oorwin nie?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Johan ·

Baie baie dankie Leopold vir hierdie weldeurdagte en goed beredeneerde stuk.

Ek sê al lankal ook dat die Konstitusionele Hof die Grondwet selektief toepas. Spesifiek in die geval van UV oftewel Afrikaans IGNOREER die hoogste hof in hierdie land die Grondwet. Effektief maak die hoogste hof in hierdie land dat die Grondwet nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie.

Dit was die afgelope jaar of twee my opinie en mense het stilgebly daaroor – dit is mos polities korrek om NIE die Grondwet of Konstitusionele Hof sleg te sê nie. Ek het gedink ek is “stupid”. Daarom is ek so bly om hierdie stuk te lees van iemand wat ek dink ‘n nugter denker is. Hopelik begin meer mense nou ook hieroor praat en opstaan. Net soos Zexit – toe een persoon begin fluit toe begin die res te sing.

Ek stem saam dat ek dink die “geagte regter” nie objektief is nie. Of soos Prof Jansen gesê het – sodra die debat “warm raak”, dan val mense terug in die “laer waar hulle vandaan kom”. Weereens dit is “polities korrek” om Mogoeng te loof en te prys, maar my opinie was nog altyd dat hy “diep in sy wese” definitief nie tyd het vir Afrikaans nie en moontlik selfs nie vir blankes nie. Baie jammer om dit te sê.

Hannah ·

Mnr Scholtz doen baie groot asseblief hierdie bevolking ‘n guns en vertaal die skrywe en sien persoonlik toe dat genoemde skrywe op Hoofregter Mogoeng Mogoeng se lessenaar beland. Daar is geen manier wat hy op Maroela Media sal gaan lees nie. Nie met sy houding jeens Afrikaans. Baie dankie vir jou wonderlike insig. Groete van hier!

dejager ·

Ongelukkig lê die fout nie by regter Mogoeng nie.Hy doen maar net wat alle regters in Afrika na bevryding van die kolonialis gedoen het-ignoreer suiwere regpleging ter wille van wat die beste is vir sy eie mense.Dit is twee morele motiewe wat teenoor mekaar staan- en hulle kies altyd laasgenoemde.Emosie spreek harder as feite.
Die fout lê by die Afrikaner.Sedert 1994 hoor mens hoe Afrikaners met soveel deernis van Mandela en kie en ons wonderlike onderhandelde grondwet praat.Siestog.Naief.Selfs BEE word goedgepraat.Te lank het ons goed sleg genoem en sleg goed genoem.
Die goue kalf van demokrasie waarom my mense gedans het is nou tot poeier geslaan en nou eet en op die water gegooi.
Moet nie nou kla dit proe sleg nie!
Kom ons veg eerder van vooraf vir
Vryheid

Boodskapper ·

dejager.
Daar is baie min opregtes met jou denk vermoë.
Ons verlossing kom, maar met diep pyn, baie seer asook bloed wat gaan vloei soos nog nooit in mense geskiedenis nie.
Daarom ssl die klein oorblyfsel in en onder die beskerming van ons hemelse Vader uiteindelik tot hul reg op lewe in oorvloed kom.
Hou maar die huidige gebeure dop.

Theuns ·

More Leopold, Jou skrywe aan die agbare regsgeleerde, of is dit die Haatagtige ongeleerde, is reguit en op die man af en weerspieel my skok dat daar so slinks gediskrimineer kan word teen die Afrikaanse taal. In die uitspraak van Mogoeng Mogoeng wys hy sy naakte haat vir die witman en spesifiek die Afrikaanse Taal. Maar ek was dit te wagte en verwag dat Ramaphosa soortgelyke uitsprake gaan maak deur die 1994 ooreenkoms tussen die ANC en FW (en sy laerskool ondelhandelaar span) te verdraai. Kyk maar na Ramaphosa se onlangse uitsprake oor grondhervorming?
Dankie vir jou Ope Brief. Dit gaan jou goed my vriend.
Theuns

B-man ·

Baie goed, hoop hy kry dit onder oë en as dit vertaal moet word…sterkte aan sy amptenaar.

Let: potensieël (par. 25)

Jerry ·

Leopold, ek is verbaas dat jy verbaas is oor die regter se uitspraak. Dit maak tog sin dat die regter bevooroordeeld staan teenoor Afrikaans inaggenome ons apartheidsverlede en Afri-Forum se huidige strewe na selfbeskikking wat ander rasse uitsluit. Sy uitspraak maak ook sin inaggenome die sosialistiese ideologie wat hy aanhang mbt sy denkwyse van gelykmaking. Of ons nou in n demokratiese bestel met n regstaat is of nie, die regsbank sal nie onafhanklik optree wanneer sake van voortgesette wit bevoorregting ter sprake kom nie, ons weet dit tog! Wat egter nie vir my sin maak nie, is dat die regter se uitspraak jou verbaas!

Clem ·

EK wil graag aansluit by die vorige skrywer, ek dink die feit dat die regsbank heeltemal onpartydig en feitelik moet optree is myns insiens nie tans moontlik nie, die gewigte swaai altyd om die emosies en nie die menswaardigheid of dan nou die morele waardes van die samelewing nie. Konstisioneel is die hof, of dan die regsbank, veronderstel om alle beginsels van die wet voor te hou, ons sien dat Regter Masipa heeltemal gefaal het in haar taak. Is dit moontlik omdat die regsbank nie meer uitsluitlik deur wetsgeleerdes okkupeer word nie? Ek dink dit is besonders moeilik om regsuitsprake te maak as jou agtergrond nie die regsbasis het soos deur regsgeleerdes nie.

lizl ·

Ek het hoegenaamd geen vertroue in ons regstelsel nie, of sal ek sè, in ons regters en by `n regverdige uitvoer van gereg en geregtigheid nie. Noem my net wat jy wil, maar ek vertrou nie een van hulle nie. Almal is korrup, en as nie is nie, het sy ma of ouma of vrou of dogter of iemand erens `n lekker ou kontrakkie wat hulle nie kan bekostig om te verloor of bekend te maak nie…

Waarheid ·

Ons regstelsel is deurtrek met politiek en toon siek simptome van rassehaat, ongelukkig maar waar. So raak dienaars van die gereg BLIND vir die waarheid. Tog so jammer maar waar, wat jy kwyt is, word met GROOT verlies indien weer, TERUGGEVIND. BEHOU met alle MAG wat nog oor is al is dit net SELFRESPEK.

Eish ·

Baie dankie vir n puik stukkie pennevrug. Weereens n bewys dat rasse integrasie n pypkandroom is en dat die land se staatsinstellings gebuk gaan onder ernstige kapasiteitsgestremdheid. Tragies dat Westerse instellings en begrippe soos die regstaat en onafhanklike howe so krities misverstaan word.

Eddie ·

Goeie positiewe en negatiewe kommentaar !
Onthou asb dat Afrikaans nie net deur witmense gebesig word nie ,maar deur ‘n meerdeheid anderskleuriges , nog te meer verdien die Taal goeie erkenning en bestaansreg !

tienie fourie ·

dis hoekom ek nie die doodstraf steun nie: ek vertrou nie ons regstelsel nie!

Gerhard ·

Dit is die rede waarom ek self teen die herinstelling van die doodstraf is.

LR ·

Leopold is veral reg met een ding en dit is die diepgewortelde haat teenoor witmense. En dit het tot n mindere mate te make met apartheid maar met hoofsaaklik n meerdere mate te make met eeue se historiese verskille. Maak jou eie somme.

Eish ·

Jy is heel moontlik korrek. Toe Jan van Riebeeck hier gekom het was hier lank reeds paaie, brûe, skepe wat die wêreld vol vaar, gesofistikeerde wapentuig agv mynbedrywighede, en n kommunikasiestel van ekstra sensoriese persepsie wat kodifisering onnodig gelaat het.
Toe kom en bederf ons oerouers alles.

johan II ·

Linksgesindes kan tog so verbaas wees oor wat hul meesters aanvang….ek verwag enige iets van hulle. Raak nie eers kwaad nie, verwag dit van hulle (ANC en hul politieke trawante).

Flippie ·

Vertaal en publiseer op Politicsweb.

Herinner die regter ook aan sy eensydige en kontroversionele 2017 daarstelling van slegs Engels as hoftaal.

“Those opposing this decision have argued that it unfairly discriminates against accused persons on the grounds of language and that it elevates English to a super official language, contrary to constitutional provisions.”

Gustaf Pienaar ·

Knap geskryf, Leopold. Voorstel: vertaal die stuk en stuur dit vir ál die regters in die konstitusionele hof. Net: “Edelagbare” is die aanspreektitel van ‘n landdros. In die hooggeregshof – ook die konstitusionele hof – word regters ook nie meer as “U edele” (“My lord”) aangespreek nie. Jy sal in die hof die betrokke regter direk aanspreek as “justice XX” of, in die geval van die hoofregter, “chief justice”. (Afrikaans word, sover ek weet, nooit meer in die konstitusionele hof gepraat nie…)-

Leopold Scholtz ·

Beste Gustaf, dankie dat jy, synde ‘n prokureur, my reghelp. Wys jou net watse rampe wag as ‘n dom ou soos ek op so ‘n onderwerp losgelaat word! Gaan jou goed, vriend.

Koos ·

Pragtige stuk werk. Berekend uiteengesit sodat niemand daaroor kan twyfel of mee verskil nie. Slegs een klein flater. Glad nie van toepassing binne die politieke raamwerk waarmee ons vandag mee te doen het nie. Die verraaiers wat hierdie land weggeteken het, het daarmee gesorg dat enige raamwerk betreffende die voortreflike bestuur van enige saak deur verbitterde verontregtes skeef getrek sal word om daarmee hul doel te bereik. Watter doel? Slegs om die voorheen bevoordeeldes te na te kom en daarteenoor die voorheen benadeeldes te bevoordeel. Regsbeginsels ten spyt.

Einherjaer ·

Ek is bevrees die betoog sal maar met minagting hanteer word deur dieselfde hoofregter wat Engels as die enigste aanvaarde hoftaal in Suid Afrika ingestel het en aktief afdwing.

Onlangs is daar ook opdrag gegee dat alle ouerskapsplanne ook in Engels opgestel moet word, ten spyte daarvan dat die ouers albei Afrikaans sprekend is en die inhoud daarvan moet kan verstaan. Dieselfde ouers wat steun op die ouerskapsplan om die toegang tot en besluitneming waar dit hul kinders betrek te reguleer.

Die Gesinsadvokaat weier eenvoudig om enige dokumente in Afrikaans goed te keur.

In die Wes Kaap, waar meer as 50% van die bevolking Afrikaans praat as huistaal en menigte meer die taal magtig is, is hierdie benadering belaglik. Afrikaans is ook die verstek besigheidstaal van die provinsie, sodra mens buite die Engelse enklawe rondom Tafelberg beweeg.

Die gevolg is dat mense, baie keer eenvoudige en arm Afrikaans sprekende mense, Engelse skikkingsdokumente ontvang en dus nie regtig verstaan wat hul ouerskapsplan uitstip nie.

‘n Groot onreg word aan hierdie mense toegedoen deur die eenogige tirannie van ‘n nuwe bedeling wat ‘n taal en sy sprekers wil vernietig.

Die menigte mense wat opspring en verengelsing goedpraat deur te argumenteer dat Engels dan die besigheidstaal is, het defnitief nie die westelike helfte van die land in gedagte nie.

Ek is bevrees ons sit met ‘n situasie wat soortgelyk is aan die omstandighede voor die Groot Trek plaasgevind het destyds. Die vraag is net wat is die oplossing nou?

Hendrik ·

Ek stem saam met alles wat jy sê. Net n groot tragedie en onbewustelike poging tot volksmoord dat jy vir Roelfie gesteun het. Ook die Afrikaan vertrou het in onderhandelinge. Was n ander uitkoms dan moontlik na 94? Waarskuwings is afgemaak as regse propaganda. Ons kou saam aan die bitter pil wat deur FW en kie berei is. Maak jouself reg, hy kan nog bitterder word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.