Ope brief aan hoofregter Mogoeng Mogoeng

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: Flickr/GovernmentZA

Geagte edelagbare,

Ek hoop u kry dié brief te lese. Ek weet nie hoe goed u Afrikaans is nie; desnoods kan u ’n amptenaar vra om dit in Engels vir u te vertaal. En as u wil, kan ek dit ook self doen.

Ek skryf aan u na aanleiding van twee uitsprake van Afrikaanse geleerdes wat my in die naweek heeltemal tot stilstand geruk het. Albei is aangehaal in ’n berig in Rapport na aanleiding van die taalrusie rondom die Hoërskool Overvaal.

Die twee geleerdes is die prokureur Cerneels Lourens en dr. Theuns Eloff, direkteur van die F.W. de Klerk-Stigting en voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Lourens is ’n regsgeleerde, terwyl Eloff van oorsprong ’n teoloog en universiteitsrektor is, maar wat in sy skryfsels diep insig in terreine soos die staatsreg, onderwys en taalsosiologie openbaar.

Albei is diep begaan met die oorlewing van Afrikaans in die algemeen en in die onderwys in die besonder.

Wat het die twee gesê wat my so geruk het?

Luidens die berig in Rapport het Lourens vooruit gekyk na hoe u die Overvaal-kwessie kan beoordeel wanneer die saak eindelik in die konstitusionele hof aanland.

“Solank Mogoeng Mogoeng die hoofregter is, is die kans bitter skraal dat die hof in Overvaal se guns sal beslis,” het Lourens gesê. “Hy is rasbehep en het geen insig in die konsep van taaldiversiteit soos in die Grondwet vervat nie.”

Eloff was eweneens pessimisties. “Maar ek het nie baie vertroue in ons regters om ’n objektiewe aanslag te neem nie,” was sy oordeel. Dit nadat hy u uitspraak in die saak oor Afrikaans as voertaal aan die Universiteit van die Vrystaat – altans na mý mening – kil en klinies uitmekaar geskeur het deur verskeie denk- en feitefoute aan u kant uit te lig.

Dit gebeur nie aldag dat ’n hoofregter in ’n demokrasie só platgetrap word nie. Veral nie wanneer dié hoofregter in verskeie uitsprake teen die staatshoof en regerende party gewys het dat hy geen lafaard en beslis nie sonder professionele integriteit is nie.

Nóg ’n rede hoekom ek aan u skryf, is dat dit een van die dae – op 21 Februarie – Internasionale Moedertaaldag is. Daardie dag is nie sommer ’n regse instrument om verdeeldheid te saai nie; dis oorspronklik in 1999 ingestel deur Unesco, ’n onverdagte VN-organisasie wat hom met onderwys besig hou.

Op sy webwerf verwys Unesco só na die dag: “UNESCO has been celebrating International Mother Language Day for nearly 20 years with the aim of preserving linguistic diversity and promoting mother tongue-based multilingual education. Linguistic diversity is increasingly threatened as more and more languages  disappear. One language disappears on average every two weeks, taking with it an entire cultural and intellectual heritage.”

Maar goed, terug by u uitspraak in die UV-saak.

Ek het die uitspraak goed bestudeer. Ek is geen regsgeleerde nie; my akademiese opleiding is as historikus, maar deel van my studie het wel staatsregtelike onderwerpe ingesluit. Ek is nie hééltemal onkundig oor die saak nie.

Omdat ek passievol oor taaldiversiteit voel, het ek ook ʼn studie van die taalsosiologie gemaak en selfs enkele eweknie-beoordeelde akademiese artikels in geakkrediteerde tydskrifte daaroor gepubliseer. Ook dáároor is ek nie heeltemal onkundig nie.

Teen dié agtergrond wil ek vandag met groot respek, maar baie reguit, sê: Met die meerderheidsuitspraak oor die UV, wat u onderskryf het, het u Suid-Afrika in ʼn grondwetlike krisis gedompel.

Waarom sê ek só?

Aan die een kant bepaal ons regstaatlike stelsel dat u uitspraak die laaste woord oor die saak is. Daardie woord is, as ek bietjie kortpad kan vat, basta.

ʼn Mens sou die saak nog na internasionale tribunale kon verwys, maar selfs al verskil hulle met u uitspraak, bly u sʼn volgens ons stelsel staan.

Maar terselfdertyd was u uitspraak 100% verkeerd.

Die Grondwet is hieroor baie duidelik: Onbillike diskriminasie, onder welke voorwendsel dan ook (en dit sluit taal in) is onwettig. Maar as daar geen onbillike diskriminasie plaasvind nie, mag onderwysinstellings eentalig wees.

U hoof-argument was dat die Grondwet ʼn volledige transformasie van ons samelewing weg van ons apartheidsverlede eis, en dat dit belangriker is as die genuanseerde reg op eentalige (lees: Afrikaanse) onderwys. U is reg dat die Grondwet só ʼn eis stel, maar u het nie eens oorweeg of die twee versoen kan word nie.

As hulle nié versoen kan word nie, soos u impliseer, waarom het die grondwetskrywers dan hoegenaamd die moeite gedoen om art. 29(2), wat dié kwessie hanteer, in die dokument op te neem? U weet mos net so goed soos ek dat die bedóéling van die wetgewer ʼn belangrike element is wat ʼn regter by sy wetsuitleg in ag moet neem!

Nou sit ons met die tameletjie. Ons sit met ʼn regbank wat die regstaat in twee opsigte ʼn harde slag toegedien het.

Die eerste is dat ʼn duidelik foutiewe uitspraak nou deel is van ons konstitusionele jurisprudensie. Nugter weet hoe dié skade herstel moet word.

Die tweede is potensieel dalk nog ernstiger. Dit is dat u ʼn belangrike deel van die bevolking – die Afrikaanssprekendes – van die demokratiese regstaat vervreem.

In u opleiding as regsgeleerde het u ongetwyfeld geleer dat die demokrasie in die verlede wortel geskiet het hoofsaaklik omdat dit algaande wye aanvaarding in die gemeenskap gekry het. Mense het agtergekom dat die regstaat in hul belang was, en dus het dit deel van die openbare politieke kultuur geword.

Dit was juis een van die groot probleme van die apartheidstyd. Vir sover ons destyds ʼn regstaat gehad het, was dit ter beskerming van wit bevoorregting, en dus het dit nie in die harte van die swart mense geleef nie.

Nou trek u die mat uit onder die voete van mense soos ek, wat die koms van die nuwe bedeling in 1994 – al was dit met sekere voorbehoude – gesteun het.

Ek bly daarby dat die Grondwet, ondanks bepaalde gebreke, ʼn goeie dokument is, maar dat die ANC dit nie uitvoer nie. Nou moet ʼn mens ook nog konstateer dat die konstitusionele hof self die Grondwet verdraai.

Wat bly oor van my – en ander – se geloof in ons regstaat?

Ek kan u klaarblyklike bitterheid oor die onreg van die verlede verstaan. Maar in hemelsnaam, edelagbare, moet u onreg met onreg bestry? Moet u nie, soos die Goeie Boek ons leer, die kwaad deur die goeie oorwin nie?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Baie baie dankie Leopold vir hierdie weldeurdagte en goed beredeneerde stuk. Ek sê al lankal ook dat die Konstitusionele Hof die Grondwet selektief toepas. Spesifiek in die geval van UV oftewel Afrikaans IGNOREER die hoogste hof in hierdie land die Grondwet. Effektief maak die hoogste hof in hierdie land dat die Grondwet nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Dit was die afgelope jaar of twee my opinie en mense het stilgebly daaroor – dit is mos polities korrek om NIE die Grondwet of Konstitusionele Hof sleg te sê nie. Ek het gedink ek is “stupid”. Daarom… Lees meer »

Hannah

Mnr Scholtz doen baie groot asseblief hierdie bevolking ‘n guns en vertaal die skrywe en sien persoonlik toe dat genoemde skrywe op Hoofregter Mogoeng Mogoeng se lessenaar beland. Daar is geen manier wat hy op Maroela Media sal gaan lees nie. Nie met sy houding jeens Afrikaans. Baie dankie vir jou wonderlike insig. Groete van hier!

dejager

Ongelukkig lê die fout nie by regter Mogoeng nie.Hy doen maar net wat alle regters in Afrika na bevryding van die kolonialis gedoen het-ignoreer suiwere regpleging ter wille van wat die beste is vir sy eie mense.Dit is twee morele motiewe wat teenoor mekaar staan- en hulle kies altyd laasgenoemde.Emosie spreek harder as feite. Die fout lê by die Afrikaner.Sedert 1994 hoor mens hoe Afrikaners met soveel deernis van Mandela en kie en ons wonderlike onderhandelde grondwet praat.Siestog.Naief.Selfs BEE word goedgepraat.Te lank het ons goed sleg genoem en sleg goed genoem. Die goue kalf van demokrasie waarom my mense gedans… Lees meer »

Theuns

More Leopold, Jou skrywe aan die agbare regsgeleerde, of is dit die Haatagtige ongeleerde, is reguit en op die man af en weerspieel my skok dat daar so slinks gediskrimineer kan word teen die Afrikaanse taal. In die uitspraak van Mogoeng Mogoeng wys hy sy naakte haat vir die witman en spesifiek die Afrikaanse Taal. Maar ek was dit te wagte en verwag dat Ramaphosa soortgelyke uitsprake gaan maak deur die 1994 ooreenkoms tussen die ANC en FW (en sy laerskool ondelhandelaar span) te verdraai. Kyk maar na Ramaphosa se onlangse uitsprake oor grondhervorming? Dankie vir jou Ope Brief. Dit… Lees meer »

B-man

Baie goed, hoop hy kry dit onder oë en as dit vertaal moet word…sterkte aan sy amptenaar.

Let: potensieël (par. 25)