Ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa

Staatsrede 2020: Speel oop kaarte met ons, mnr. die president

President Cyril Ramaphosa (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Geagte Mnr. die President

Die opspraakwekkende gebeure by Nasrec in Desember 2017 wat gelei het tot u verkiesing as president van die ANC, was met hernude hoop deur baie Suid-Afrikaners begroet.

Die vertroue in u is verder bevestig tydens die 2019- algemene verkiesing, toe talle Suid-Afrikaners, wat dit nooit voorheen sou oorweeg om vir die ANC te stem nie, dit juis gedoen het as gevolg van hul hoop dat u die verrotting sou stop en Suid-Afrika op ʼn gesonde ekonomiese pad sou plaas.

Dié van ons wat hierdie vertroue gedeel het, is verkeerd bewys. Of altans, u het ons verkeerd bewys. In tye van onsekerheid gryp die mens dikwels na grashalms, onbewus van die nutteloosheid daarvan. Daar was ʼn tyd toe baie, ek inkluis, werklik geglo het dat u ʼn sakeman is met genoegsame begrip van wat nodig is om nuwe lewe in die ekonomie te blaas. Dit blyk egter ʼn wanindruk te wees. U is nie ʼn ware sakeman nie; u is bloot ʼn opportunistiese politikus wat skouspelagtig bevoordeel is deur politieke mag en -guns.

U sosialistiese oortuigings, gepaardgaande met die feit dat u verwyderd is van besigheidsrealiteite, lei daartoe dat u belaglike idees ondersteun, soos die onteiening van eiendom sonder vergoeding (wat u, onder meer, bestempel het as Suid-Afrika se transformasie na die “Tuin van Eden”), die Nasionale Gesondheidsversekering en (nou dat die staatskoffers deur korrupsie en wanadministrasie onder u toesig as adjunkpresident en president gestroop is), die jongste inisiatief wat staatskapers en onbekwame kaders toegang tot pensioenfondse gee.

Hierdie is slegs die jongste, tog mees radikale, inisiatiewe wat Suid-Afrika oor die spreekwoordelike afgrond sal stuur.

Daar was ʼn tyd toe ek een van diegene was wat u stilswye oor die korrupsie wat voor u oë afgespeel het (tydens u ampstermyn as adjunkpresident) verdedig het. Ek het ook u besluiteloosheid as president verdedig – alles ter wille van ú politieke oorlewing. Ek was verkeerd.

Indien dit vir u onmoontlik was om staatskaping binne die bestek van u bevoorregte kabinetsposisie te verhoed, moes u dit nietemin aan die groot klok gehang het – en sodoende selfs die risiko geloop het om deur die vorige president ontslaan te word. Dit sou aan u integriteit status verleen het, wat daartoe sou lei dat miljoene Suid-Afrikaners u sou ondersteun het. U het egter verkies om te swyg. Dit maak van u ʼn medepligtige tot die korrupsie wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika homself tans in hierdie posisie vind.

Sedert u verkiesing tot president, het u volhard met u besluitelose styl. U is huiwerig met betrekking tot optrede teen staatskaping, u pamperlang grondkapers, populiste en sosialiste; terselfdertyd poog u om sakelui gerus te stel. U praat uit een mond met beleggers en uit ʼn ander met u kiesers. Dit, Mnr. die President, is in alle opsigte teenproduktief. Aangesien hierdie optrede geensins ʼn duidelike rigting of leierskap illustreer nie, versterk dit bloot die EFF- en Zuma-aanhangers en skrik dit terselfdertyd beleggers af, en lei dit gevolglik tot die sosio-ekonomiese probleme wat Suid Afrika tans in die gesig staar.

Dalk was daardie aand by Nasrec – die aand wat u verkies is tot president van die ANC, toe u in David Mabuza se lokval getrap het en uself daartoe verbind het om hom as adjunkpresident aan te stel in ruil vir u verkiesing tot president – nie die glorieryke oorwinning wat sommige gedink het dit was nie. Suid-Afrikaners het geglo dat u beslissend sou optree om die verrotting uit te roei, asook die korrupsie en wanadministrasie – die gevolg van kaderontplooiing. Tot en met daardie oomblik het Suid-Afrikaners, tot ʼn mate, geweet wat op die spel is en waarteen hulle te staan gaan kom. Suid-Afrikaners van alle nasionaliteite het gemobiliseer teen ʼn enorme, dog erkenbare bedreiging wat Suid-Afrika in die gesig gestaar het.

Gerhard Papenfus

Daardie aand, blyk dit nou, het bloot ʼn nuwe era ingelei waarbinne ons, soos die spreekwoordelike padda in die louwarm water, gelok is na ʼn valse sin van sekuriteit. Niksvermoedende Suid-Afrikaners, in besonder besighede, het hul skanse laat val; hulle het Cyril vertrou. Gevolglik bevind Suid-Afrika homself nou in groter gevaar as ooit te vore.

Mnr. die President, in u staatsrede op 13 Februarie 2020, het u weer eens die geleentheid om u visie vir Suid-Afrika te deel. Sou dit werklik u voorneme wees om toe te kyk oor die land se voortgesette ondergang deur middel van onteiening van eiendom sonder vergoeding, die totale uitwissing van ons gesondheidsdienste en die stroping van pensioengelde, stel dit dan onomwonde so. Stel dit duidelik aan Suid-Afrikaanse besighede en buitelandse beleggers en moenie dat Moody’s verder hieroor wonder nie.

Indien u egter ook die mening toegedaan is dat hierdie beleidsrigtings die ondergang van Suid-Afrika gaan bewerkstellig, stel dit dan ook onteenseglik so. Plaas u politieke loopbaan op die spel. Sou dit lei tot u tydelike politieke ondergang, laat dit so wees – ten minste sal u dan as ʼn ware leier erken word en sal miljoene u ondersteun.

U is reeds deur hiënas omsingel, Mnr. die President. U huiwerige, gekweste postuur stem hulle tot dapperheid. Hulle beraam u ondergang. Om nou sagkens op te tree, mag moontlik vir u ʼn paar maande koop, maar dit sal u nalatenskap vernietig en Suid-Afrika verlam vir dekades hierna.

Mag u die krag en moed vind om te doen wat reg is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard Papenfus

Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van NEASA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

henndrik ·

Ek moet se, ek het gehoop dit sal verander toe hy inkom maar my kop het vir my gese dit gaan niks verander nie want as hy wou, sou dit al uitgekom het, hy is net ‘n volgeling, nie ‘n leier nie.

Simon ·

“”Proof that Cyril Ramaphosa is trying to reinstate the apartheid government via the ANC
August 6, 2019

Nicky Hiles and Chris Delport

[Tony Georgiadis; a Greek shipping magnate that #Ramaphosaleaks have identified as one of his CR17 campaign funders is the same man who appears in this dossier as the funder of the apartheid regime. This explains why Terms of Reference to his prevailing Commissions of Inquiry do not go back before Former President Jacob Zuma’s term of office. He is protecting his apartheid handlers to finish off what Thabo Mbeki left hanging after the Polokwane ANC conference…-Ed]…””

Lees maar verder oor “Project Hammer” Google dit die wat belangstel.

Sandra ·

Ek gaan nie lieg nie, ek was ook entoesiasties toe Ramaphosa aangestel is. Sy eenheid met die mense op die grond. Die feit dat hy platvloers met mense op Safair gemeng het. Poseer het vir fotos. Dit het my stilletjies opgewonde gemaak dat die besigheidsman die beste persoon is om die land se ekonomie om te draai en die mense wat vir hom gestem het ‘n baken in ‘n andersins donker tonnel in die land te wees. Maar die teenoorgestelde is bewys. Hy is ook maar ‘n “people pleaser” en toe kies hy die kant van die ANC bo die mense wat hom nodig het om sy voet neer te sit aangaande alles wat verkeerd loop. Ek sal ook lieg as ek se dat ek nie al lankal moed opgegee het oor die land en sy leier. Ek sien nie meer die lig aan die einde van die donker tonnel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.