Ope brief aan Ramaphosa: ‘U poog om Afrikaners se geskiedenis te kriminaliseer’

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ‘n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf na aanleiding van sy Versoeningsdagtoespraak. 

(Nota: ‘n Kort video van ‘n gedeelte van pres. Ramaphosa se toespraak volg onderaan die berig.)

Meneer die president: Vryheidsvegters wat kinders doodmaak, is nie vryheidsvegters nie

solidariteit-teen-discovery-veldtog-dirk-hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Geagte president Ramaphosa

16 Desember 2019, en u lewer ’n toespraak op Versoeningsdag op Bergville in KwaZulu-Natal. U beskryf die Slag van Bloedrivier van 16 Desember 1838 en noem die Voortrekkers indringers en die Zoeloes vryheidsvegters, want hulle het vir die vryheid van grond geveg.

Gerieflikheidshalwe word vergeet dat die geskiedenis en vorming van die Zoeloes ook die geskiedenis van die Mfekane insluit – indringing, inlywing, uitwissing en verdrywing, veral onder koning Shaka.

Die Voortrekkers se trek was ’n klein deel van groot, gedwonge, wrede volksverskuiwings en verhuisings. Die ontwrigting van daardie tyd was veral swart op swart.

Waarvan u ook nie vertel nie, is die gebeure wat aanleiding gegee het tot 16 Desember 1838.

Die Zoeloe-koning Dingaan en die Voortrekkerleier Piet Retief het oor grond onderhandel. Dingaan was gewillig om grond aan die Voortrekkers te gee in ruil vir beeste wat die Tlokwa van Sekonyela by Dingaan gesteel het.

Op 11 Januarie bring Retief die beeste terug. Op 4 Februarie word ’n traktaat geteken waarin Port Natal en die omliggende gebied, van die Tugela tot die Umzimvuburivier en van die see af noordwaarts, aan die Voortrekkers afgestaan is.

Op 6 Februarie word Piet Retief en sy geselskap wreed gemartel en vermoor. Piet Retief moes eers toekyk hoe sy seun, Pieter, vermoor word voordat hy ook gemartel en vermoor is.

Selfs die onderdane van Dingaan het dit as die wreedaardigste optrede ooit van Dingaan beskou en het respek vir hom verloor.

17 Februarie 1838. Die weerlose laers van Voortrekkers word aangeval. Die grootste kindermoord in een nag vind plaas – 185 kinders en 56 vroue word vermoor. Die wreedste denkbare metodes is gebruik om kinders dood te maak. Dit was so wreed, ek kan dit nie eers hier herhaal nie.

Meneer Ramaphosa, ken u vir Johanna van der Merwe? Dit was my oupa van wie ek die trotse naamdraer is, se oumagrootjie. Sy was 12 jaar oud met die Bloukrans- en Boesmansrivier-moord. Sy en ’n maatjie, Catherina, moes vlug. Sy is 21 keer met assegaaie gesteek; Catherina 24 keer.

Die Zoeloes het gedink hulle is dood en het hulle op ’n hoop liggaampies van ander kinders op ’n plat klip onder ’n suikerbosboompie gegooi. Johanna het die liggaampies van die ander kinders oor hulle getrek sodat die Zoeloes nie kon sien hulle leef nie.

Dit was die soort vryheidsvegters wat u in 2019 gedenk. Vryheidsvegters wat kinders en vroue wreed doodmaak, is nie vryheidsvegters nie.

Later het die Suid-Afrikaanse vloot ’n duikboot na my agtergrootjie, Johanna van der Merwe, vernoem. U regering het die duikboot herdoop na Assegaai.

Dit was die aanloop en agtergrond van 16 Desember 1838, wat u gerieflik uitlaat.

Op 16 Desember 1838 het 464 mans en 64 waens te staan gekom teen ’n reusagtige Zoeloe-oormag van 15 000.

Dit is binne hierdie omstandighede wat die Gelofte afgelê is. Die dag is nie deur die apartheidsregering ingestel soos u sê nie; dit is reeds lank voor apartheid herdenk. Ek voel my ook verbind aan die Gelofte.

Die Zoeloes is oorwin. Dingaan het gevlug en sy stad, Umgungundlovu, is afgebrand. Die beendere van Piet Retief en sy manskappe is gevind en daarmee saam Retief se bladsak en die ongeskonde traktaat, ’n wettige transaksie.

Hierdie gebeure het niks met vryheidsvegters se trotste stryd ter verdediging van grond te doen gehad nie.

Dit het alles te doen gehad met ’n Voortrekkerleier wat onderhandel het vir grond, sy voorwaardes nagekom het en ’n ooreenkoms bereik het. Dit het te doen met ’n wrede diktator wat die Voortrekkers misbruik het, sy woord verbreek het, wrede moorde laat pleeg het en wou terugvat wat regmatig bekom is.

Hierdie gebeure is ’n skandvlek op die trotse Zoeloe-nasie se geskiedenis en is in die onderbewuste van Afrikaners ingeprent.

Die Zoeloe-prins Mangosuthu Buthelezi het dit ingesien en het Afrikaners tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie om verskoning gevra vir die moord op Piet Retief. Hy het dit by minstens twee verdere geleenthede herhaal.

Buthelezi skryf oor die besondere band tussen Afrikaners en Zoeloes. Hy skryf hoe generaal Louis Botha sy oupa, Dinuzulu, se vrylating verseker het nadat die Engelse hom opgesluit het. Hy reik ’n hand na Afrikaners en sê die stryd vir vryheid, identiteit en erkenning is iets wat Afrikaners en Zoeloes deel.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Siya Duda

Meneer die President, Afrikaners en Zoeloes het reeds in 1839 vrede gemaak toe Andries Pretorius en Mpande kaSenzangakhona hande geskud en ʼn vredesverbond met mekaar gesluit het. Sedertdien was daar in 180 jaar nooit weer oorlog tussen Afrikaners en Zoeloes nie. Afrikaners en Zoeloes onthou, maar het mekaar lankal vergewe. Daar is selfs ’n brug by Bloedrivier geopen wat dit simboliseer. Voormalige president Zuma, ook ’n Zoeloe, het die opening bygewoon. Vandag is daar deur samewerkingsooreenkomste ’n mooi verhouding tussen die huidige Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, en Afrikaners. Hy deel nie u sentiment nie, en dit is ironies dat hy juis bekommerd oor wat die ANC-regering in 2019 met die Zoeloes se grond gaan doen. Ons kan nie toelaat dat ’n mooi verhouding deur politieke propaganda vertroebel word nie.

Dit is hoe daar versoenend met ’n verdeelde geskiedenis omgegaan word.

U het egter gepoog om ’n onverdedigbare stuk onreg vir politieke kapitaal te regverdig.

U het gekies om die geskiedenis te verdraai en te misbruik vir u politieke ideologie oor grond.

U het die slagoffers van 1838 die indringers en oortreders gemaak, en die oortreders en moordenaars het u vryheidsvegters gemaak.

U poog om Afrikaners se geskiedenis in sy geheel te kriminaliseer.

Ek ken egter die storie van Johanna van der Merwe, Lenie Retief, Anna Steenkamp, Dirkie Uys, en tientalle ander stories, en ek vertel dit vir my kinders. So doen baie ander Afrikaners.

Ons meesterverhale oor die geskiedenis bots en ek gaan my nie in u meesterverhaal laat inboelie nie.

Ons moet eerlik praat oor die geskiedenis, want dit bepaal die toekoms. Die Zoeloe/Afrikaner-verhaal is juis ʼn voorbeeld hoe daar versoenend met ʼn verdeelde geskiedenis omgegaan kan word.

Groete

Dr. Dirk Hermann

Bestuurshoof: Solidariteit Beweging

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

148 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charles

Daar’s nie salf te smeer nie Dr. Hermann; mooitijies moet ons, ons regmaak vir ‘n bloedige geveg in die howe in 2020 om ons reg op ONS grond te verdedig.

B

Nog ‘n Dingane
Ons gaan weer leer – of eerder, ons staan alreeds weer in Dingane se kraal…

Neem ‘n tree weg en sien waar bevind die wit Afrikaners hulle vandag.

Hanno

Cyril Jack Ramaphosa

koos

Dirk, ek dink die stuk moet in Engels en al die ander tale van die land vertaal word en dan net so versprei word soos die halwe waarhede (lees leuns) versprei word.
Ongelukkig is dit ‘n feit dat die regeerders van die dag die geskiedenis sal/kan/wil bepaal.
Geen een is so blind soos die een wat nie wil sien nie!

André André

Goeie genadige vader, wat is daar dan nog oor Cyril Ramaphosa te sê wat as president dit net nie in hom het om ‘n president vir almal in die land te wees nie, het hy dan geen niks positiefs in hom buiten die ANC se idiologie en ‘n verwringing van die land se geskiedenis wat hy as die waarheid loop verkondig nie, en dan toon hy nie ‘n sweempie van skuldig voel nie. Ek ervaar hom as ‘n mens wat nie emosies toon nie.