Ope brief aan Rob van Vuuren: Hoekom sê jy regtig jammer?

Riaan Grobler het ʼn ope brief aan die akteur en komediant Rob van Vuuren geskryf nadat Van Vuuren op Twitter om verskoning gevra het dat sy gesig swart geverf was in ʼn fliek van Leon Schuster.

Rob van Vuuren. Foto: Facebook

Hier volg die ope brief:

Beste Rob van Vuuren,

Ek het besluit om hierdie brief aan jou te skryf nadat ek vanaand baie lank in die bad gelê en dink het oor jou skrywe Sondag via Twitter. Hierdie brief sal jou oë seker nooit bereik nie, Rob, want vir een: dit is in Afrikaans en tweedens: jy ken my van geen kant af nie. Tog voel ek ná opgekropte denke van baie jare dat ek vanaand hier wil skryf. Dit is dalk bietjie soos daardie mense in Londen wat op die kassies kan staan om ’n spreekbeurt te kry.

Sien, Rob, ek skryf hierdie vanuit ’n akteur se oogpunt. Ja, ek het lank drama geswot en my boude deurgesit om ’n kwalifikasie in toneelspel te kry. Nagte om gerepeteer om karakters in te oefen en in die psige van ’n ander mens te probeer kom en dit deur my lyf en emosies lewe te gee. Want jy sien, Rob, dit is wat ’n akteur doen. Hoofsaaklik omdat dit ’n passie is om karakters te vertolk, maar soos baie doen ons dit vir ’n salaristjekkie. Een wat jy in 2013 gekry het vir ’n karakter wat jy vertolk het in een van Leon Schuster se films.

Liewe Rob, ek was stom toe ek die berig lees van jou ongelooflike jammerte. Ek het eers gedink dit is een van jou humoristiese twiets, toe besef ek jy is ernstig. Buiten die feit dat jy jammer sê – wat jou volle reg as mens is as jy dit wil doen – kan ek nie help om te wonder wat jou ware agenda agter die skielike jammerte is nie.

Rob, sover ek kan onthou het jy ’n oudisie gedoen, die rol gekry, onderhandel vir vergoeding en die werk gedoen. Saam met die rol, wat volgens my, ook nou nie ’n vuurwerkvertoning was nie, het jy ongelooflike publisiteit gekry. Mense, wat insluit wit-, bruin-, swart-, Indiërmense (en so kan die rasselys aangaan), het jou tien-teen-een geprys vir jou uitsonderlike vertolking van ’n swart mens. Jy sien, Rob, almal wat daardie fliek gekyk het, het geweet jy vertolk ’n rol, ’n karakter, ’n ander mens. Dit was humoristies. Ons, dit sluit nou alle mense van alle rasse in, het gelag vir die verskillende karakters. Niemand wat ek kan onthou – dis nou alles rasse weer eens ingesluit – het ná die rolprent iets gesê soos “Look at that white man trying to be a black person. I feel offended”, nie. Inteendeel, jou glimlag oor die rol (en jou salaristjek tien-teen-een) was breed.

Rob, ek kan nie begin dink waarvoor jy nog moet om verskoning moet begin vra nie! Het jy al iewers in jou lewe ’n vrouekarakter vertolk? Of ’n dalk ’n gay karakter? Of moontlik ’n ouer karakter? Want sien, Rob, ek as akteur sou nie sê jy het gediskrimineer teen vrouens, gay mense, oumense of so nie. Jy het bloot ’n rol vertolk. Omdat daardie karakter swart was, is nou skielik vir jou ’n vraagteken. Ek kan ook op die wa spring en veg vir oumense se regte wat akteurs dan skend, of gay mense. Of wat van gestremde mense? Het jy vergeet hoe goed Chris Chameleon ʼn verstandelik gestremde seun in Sonkring gespeel het, Rob? Sy vertolking daar was briljant en ons as kykers het die karakter gesien. Het jou karakter die spot gedryf met ’n swart mens in die Schuster-fliek? Ja! Maar dit was humor, Rob. In die konteks waarin ons dit gekyk het, was dit ’n karakter, en dit was humoristies.

Skielik, sewe jaar later laat weet ’n kanaal hulle verwyder die rolprente omdat wie weet aanstoot geneem het. Ná sewe jaar! Rolprente wat miljoene Suid-Afrikaners laat saamkom het in teaters en uit ons mae laat lag het. Ek kan dit onthou, Rob, want ek was heel toevallig verbaas oor die aantal “ander rasse” wat die fliek kom kyk én geniet het. Daarom, Rob, kan ek nie help om te wonder hoekom jy werklik jammer sê nie. Was die publisiteit die laaste ruk om jou bietjie stil? Het jy jou oog op ’n rol in die toekoms en probeer nou om jou naam iewers te laat opduik?

Jy noem jou dogter, Rob. Ek haal my hoed af dat jy ’n kind (of kinders) het en hulle versorg. My klem lê ek op “kind” want Rob, dit is ’n kind, ’n mens. Of sy nou wit, bruin of swart is, dit is ’n mens wat die Here geskape het. Jy sien, Rob, as jy jou kind se vinger vat en jy sny dit met ’n mes kom dieselfde kleur bloed uit haar vinger as wat uit my vinger, ’n witman, se vinger kom. Die bloed is net “verskillend” omdat ek nou klem gelê het op my velkleur.

Nog iets, Rob, het jy al die rolprent White Chicks gekyk? Kom ek som dit gou vir jou op as jy nie het nie: Twee swart mans vertolk die rolle waar hulle wit meisies speel. Briljante toneelspel. Niemand se oë het gerek nie. O ja, kan jy die OUTsurance-advertensies onthou van die akteur wat ‘n swart vrou gespeel het, Rob? Hy was baie goed daarin en daar was baie sulke advertensies. Niemand het ‘n oog geknip nie, want dit was humoristies.

Nog iets, Rob, wat my grensloos irriteer (en ek wil dit graag van my hart afkry), is mense soos jy, wat namens my om verskoning vra. Omdat ek wit is. Rob, daar gaan mense wees wat dié brief lees en my, soos jy, gaan kruisig. Moenie namens my om verskoning vra nie, Rob! Ek het niks verkeerd gedoen nie. Ek gaan ook nie om verskoning vra omdat my vel wit is nie, want net soos jou vel, my buurman se vel, ’n swart vel, ensovoorts het die Here my wit gemaak en hulle swart of bruin. Ek is nie jammer daaroor nie, Rob, en so moet hulle ook nie wees nie.

Wat my voorouers moontlik gedoen het (ek weet nie of hulle het nie), of hulle vriende en familie gedoen het, was verkeerd en dit moes nooit gebeur het nie, maar Rob, as jy nou eendag iets verkeerd doen gaan ek definitief nie namens jou om verskoning vra nie, want ek glo jy sal boet vir jou sondes wanneer jou tyd aanbreek. Soos ek ook maar vir my sondes gaan boet, eendag. Ek gaan ook nou nie jou familie voor stok trek omdat jy daardie ding verkeerd gedoen het nie. Die dag as ek moet om verskoning vra omdat ek ’n reg het om te lewe, dan doen ons iets verkeerd, Rob.

Wat in die apartheidsjare gebeur het, was ontsettend verkeerd. Wat met boere se lewens gebeur, is ontsettend verkeerd. Wat teen gay mense gedoen word, is ontsettend verkeer. Wat teen vrouens gedoen word, is ontsettend verkeerd. Maar Rob, dit is nie my of jou skuld nie. Dit is daardie mense wat die onreg doen se skuld. Ons kan slegs voortgaan as ons die verlede daar los, koeie in die slote los en elke dag iets vir mekaar doen om die wêreld ’n beter plek te maak. Nié om ’n Jannie Jammergat te wees en namens ander om verskoning te vra nie.

Riaan Grobler. Foto: Facebook

Ek kan ook, liewe Rob, op die wa spring en sê alle swart mense is wreed en duiwels omdat daar wit boere vermoor word, maar Rob, ek gaan nie, want nie al die swart mense pleeg moord nie. Net soos nie alle wit mense rassisties is nie. Op die ou end is een lewe deur ’n ander lewe geneem en dit, liewe Rob, is verkeerd. Een lewe kyk op ’n ander neer en dit, liewe Rob, is verkeerd. Ek gaan ook nie jammer sê omdat ek ’n akteur is en verskillende rolle vertolk en daardie mens “word” nie, want dan is ek geen akteur nie. Dis maar wat akteurs doen, Rob. Soms vir ’n lekker salaris, maar meestal net omdat dit ’n passie is.

Om terug te kom by my punt, Rob. Jy was ’n akteur wat ’n werk gedoen waarvoor jy betaling gekry het. Jy wil ons nou kom vertel jy was onseker daardie tyd, maar, Rob, dit is moeilik om te glo. Veral ná sewe jaar en per toeval omdat dit tans in die nuus is. Meestal in die nuus omdat dit die maklike uitweg is om die rassekaart te speel as dinge moeilik raak, soos ek vermoed jy nou probeer met jou jammer-sê. Skenk daardie tjekkie dan nou vir ’n liefdadigheidsorganisasie, want dit is ook die regte ding om dan nou te doen.

Jy verraai die werk van akteurs met jou verskoning, Rob, en jy’t jou naam so pas gat gemaak. Wees lig, probeer die wêreld ’n beter plek maak, vertolk jou rolle en doen waarin jy goed is, Rob. Moenie op ’n wa probeer spring wat verbykom en dink jy gaan op so ’n manier vinniger by jou droom uitkom nie, want daai wa se wiele gaan eendag afval en dan is jy daarop.

Groete,
Riaan Grobler

  • Riaan Grobler is ‘n radio- en TV-aanbieder, akteur en sanger.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Willem ·

Ja so sal die wit man jammer se selfs al is alles verbrand en gebreek selfs al trek die wit man maan toe sal daar ook jammer gese moet word want as mens ‘n PERMANENTE SELFBEELD probleem het omdat jy jouself soos n vark WIL gedra sal alles jou seermaak en almal gedurig vir jou MOET jammer se want jy sal oor alles aanstoot neem. Die wit man RUK HOMSELF aan flarde, gaan gebuk onder baal se hand. Dan is daar DIE wat jammer se, jammer vir wat? Ons betaal die prys van onnoselheid….

Pensionaris Sedgefield ·

Dankie Riaan, ek deel jou sentiment volledig. Dit irriteer my dat so baie blankes deesdae voel dat hulle namens ander blankes verskoning moet vra. Hierdie kruiperige onderdanigheid laat swart mense voel hulle het rede om gegrief te voel. Vir 26 jaar word daar teen wit velle gediskrimineer. Ek het nog nie een blanke hoor vra dar swart mense daarvoor om verskoning moet vra nie. Kan ons nie nou maar wragtig die verlede agter ons sit en ophou om Jan van Riebeeck, Dingaan, en ons voorouers te blameer vir dit wat vandag verkeerd is in ons land nie?

Adele ·

Baie baie goed gesê, Riaan. Kon dit nie beter gestel het myself nie. Kry Rob eintlik baie jammer!

Jack ·

Die tyd van jammer sê is lankal verby. Om die waarheid te sê, dit was nog nooit tyd om jammer te sê nie. Of ons sê almal jammer, want almal – veral die ANC – het skandelik ogetree – of niemand sê jammer nie. Ek voel glad nie skuldig oor wat in die verlede gebeur het nie.

Pine ·

Dankie Riaan. Hierdie een praat jy namens my ook. Tot op die punt. Ai Rob pasop dat daai selde wa wat jy opsring jou nie gaan afgooi nie. Die grond kan baie hard raak. Regtig moeg vir jammer se oor als.

Michael 1 ·

Baie dankie Riaan ,ek het begin dink almal het mal geword maar jy is n bewys dat daar nog regdenkende mense is en nou voel ek nie meer so eensaam nie .Ek wil net vir Rob se deur neer te buig en oorname te pleit gaan jy die teenoorgestelde behandeling kry van jou nuwe meesters as wat jy verwag het.

BEKKIG ·

Nou ja, Rob, (dankie Riaan) ek sê vir niks en niemand jammer “sommer net” nie.
Ek het absoluut niks verkeerd gedoen nie.. Jy weet, dit maak my siek hoe die mens gatkruip. Flip man. Julle is erger as kinders. Word groot. Staan jou man (of vrou).

Maknemuilius ·

Rob van Vuuren………jammer man, lui nie ‘n klokkie nie?

Deon ·

Dankie…. Ek glo daar is baie wat so voel… Weerens, net dankie

Zombie ·

Ek wonder of Robbie so jammer is dat hy die geld, met rente, wat hy uit die film gemaak het aan ń organisasie sal skenk. Hy het baie om van te kies.

Abie ·

Natuurlik sal hy nie sy geld “deel” om aan die arme swart verdruktes reg te laat geskied nie…soos Riaan tereg sê….die Rob wie ook al is net besig om sy paadjie vorentoe te teer met die geld wat hy reeds “verdien” het. Slapgat wat nie bereid is om op te staan teen die verdrukking en minagting, mishandeling en moord op witmense in SA nie. Ek spoeg as witman in Afrika op jou, Rob wie ook al.

antieke antie ·

Riaan… ek stem… ek vra net verskoning as ek iemand te na gekom het…maar ek sorg dat ek niemand te na kom nie…en ja dit was sy keuse … ek is trots op wie ek is en so behoort elke ander persoon te wees….soms is die wat so ‘victim skree juis die perpatrator’…

koos10 ·

Daar is net twee redes hoekom hy die gedoen het:

1. Hy het dit gedoen voordat hy daarin “uitgevang” word en dan verskonings moet maak.
2. Hy probeer sy loopbaan op dreef kry.

Robbie, ou pel, wat het nog altyd gebeur as mense klaar gebruik was???
Sterkte, ek is nie so seker of jy weer in SA ‘n rol in Afrikaans sal kry nie, en ek dink nie jy is goed genoeg om internasionaal te gaan nie. Jou opsies is nou baie beperk!

LANA is ELANè ·

Ja, nes ‘n hele spul ander baie bekende sg AFR rockstars, sangers/akteurs en DSTV kanaal wat skielik ook die #BLM veldtog hul eie gemaak het asof geen ander lewe saakmaak nie.
DIT IS DOODEENVOUDIG VIR BROWNIE POINTS SCORE, net hulle alleen weet by wie en wat!
Gatkruip maak my naar, want in die proses verkoop jy sommer jou siel vir die hoogste bieër!

Lynette ·

Ag dankie tog, nog iemand wat voel soos Ek. Ek is moeg daarvoor dat Ek kastig moet askies vra oor ek wit gebore is. Ek is dik vir “Black lives matter”. Wat gebeur het was ontsettend goor en die polisieman wat hom vergryp het moet verseker boet. “Almal Se lives matter”. Niemand mag homself verhef Nie. Soos jy sê ons bloei almal rooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.