Ope brief: Het jy al ʼn boer en sy werkers sien huil?

’n Ope brief van Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. (Foto: Dept of Tourism/Twitter)

Geagte minister Kubayi-Ngubane

Johan en Sanet Stadler het ʼn klein stukkie grond met die prentjiemooi Swartberge in die agtergrond.

Hy het in die dorp gewerk en met volstruise geboer. Strenger uitvoerregulasies, mededinging in die internasionale mark en sporadiese voëlgriep het Johan gedwing om sy plasie te omskep in ʼn werkende gasteplaas. Hy doen dit nou heeltyds. Bloedsweet is betaal om ʼn karaktervolle klipskuur, ou onbenutte huisies en die ou melkstal te omskep in slaapeenhede. Hy het tien getroue werkers in diens wat afhanklik is van die inkomste om hul gesinne te versorg. Twee vroue help in die kombuis, vyf help om skoon te maak en drie mans hou die plaas in stand. Die onderneming se salarisrekening is R53 000 per maand. Die twee vroue in die kombuis is Sarah en Mildrid. Vir Johan en Sanet se kinders is dié twee vroue soos ’n tweede en derde ma.

Vandeesweek het Johan, die geharde boer van die Klein-Karoo, se gemoed volgeskiet. Hy was bewoë toe hy sien hoe Sanet, Sarah en Mildrid saam huil. Hul besigheid het tot stilstand gekom. Die Maartvakansie, Paastyd en die vakansiedae is hul hoëinkomstetyd. Hul verlies is groot.

Johan het gehuil omdat getroue werkers en ook hy nie meer ʼn inkomste het nie.

So is daar duisende Johan Stadlers wat die afgelope twee maande oor hul besighede en werkers huil. Toerisme gaan dié sektor wees wat laaste gaan herstel ná die Covid-19-krisis. Hulle is hard getref deur die regering se regulasies. Hulle is dood gereguleer. Die regering moet help. R200 miljoen vir die sektor is te min, maar dit sal minstens help.

U departement, minister, het egter besluit dat ras as kriterium gebruik gaan word by die toekenning van hulp aan die bedryf. Noodhulp het rassehulp geword. Covid-19 ken nie kleur nie. Nóg die virus nóg die regering se regulasies het tussen ʼn Joel Musangu en ʼn Johan Stadler onderskei. U onderskei tussen hulle op grond van ras. U sê vir Sarah en Mildred julle gaan nie brood op die tafel hê nie, want Johan en Sanet is wit.

U sluit groot ondernemings, meeste wit mikro-ondernemings en klein ondernemings wat nie vir belasting geregistreer is nie en waarvan die meeste in swart besit is, vir hulp uit. Slegs ondernemings met ʼn omset kleiner as R5 miljoen per jaar en wat vir belasting geregistreer is, kwalifiseer vir hulp. Dit is toevallig in die deel van die sektor waar baie wit gesinne gastehuise begin het omdat hulle reeds deur die transformasie-ideologie uit die formele arbeidsmark geskop is.

ʼn Klein groepie swart eienaars, slegs 7% van die sektor, kwalifiseer vir die leeueaandeel van die hulp. In totaal word 93% van eienaars, asook duisende klein informele swart ondernemings prakties van hulp uitgesluit. Van die 350 000 werknemers in die sektor is twee uit elke drie swart. U fonds sluit die oorweldigende meerderheid van hierdie broodwinners uit. U gee suksesvol vir ʼn klein elite groepie ras gebaseerde hulp, maar misluk met noodhulp vir u sektor.

U straf wit ondernemings omdat hulle volgens u nie vinnig genoeg getransformeer nie. Hulle word skuldig bevind aan wit-wees in die toerismesektor. U departement is so rasbewus dat u bereid is om duisende werkers vir die groter rasse-ideologie te offer. U maak u skuldig aan dubbele diskriminasie in ʼn krisis – eerstens teenoor die wit eienaars van ondernemings en tweedens teenoor alle werkers, wit en swart. Hongerte slaan nie werkers oor wie se werkgewers wit is nie, tog doen u fonds dit.

Die doel van die toerismeverligtingsfonds is om die gevolge van die Covid-19-krisis te verlig. U omskep dit egter in ʼn transformasiefonds. U skryf dat ʼn gesonde toerismesektor gesonde transformasie moet hê. Maar u gebruik dan ʼn hartseer krisis wat duisende mense raak om transformasie te bevorder. U gebruik die krisis om ondernemings aan te kla omdat hulle nie swart genoeg is nie.

Dirk Hermann. (Foto: Reint Dykema)

U voer swart bemagtiging, wat vir ʼn spesifieke doel ontwerp is, as verweer aan. Die doel van swart bemagtiging is om te bevoordeel om die benadeling van die verlede reg te stel. Hierdie fonds gaan nie oor bevoordeling nie; dit gaan oor oorlewing. Selfs vir die swart ontvanger van hulp gaan dit oor basiese oorlewing; vir die wit persoon gaan dit oor ondergang.

Geagte Minister, terwyl ek nou by swart bemagtiging stilstaan: Volgens regulasies vir swart bemagtiging is mikromaatskappye in normale omstandighede vrygestel van swartbemagtigingsvereistes. In die Covid-19-krisis is swart bemagtiging met sy vele administratiewe en finansiële verpligtinge skielik op die maatskappye van toepassing. In die krisis word die hekkie vir wit maatskappye hoër as in normale omstandighede.

Midde-in ʼn krisis, waar ons saam ʼn vyand moet beveg, maak u van ras ʼn vyand en moet ons hof toe gaan. Op 28 April 2020 sien ons u in die hooggeregshof oor mense wat van hulp uitgesluit word, nie op grond van hul nood nie, maar oor hoe hulle lyk.

Week ná week is pres. Cyril Ramaphosa op televisie en vra alle Suid-Afrikaners in die idioom van ʼn staatsman om saam te staan. Hy noem ons sy mede-Suid-Afrikaners. Dit is in ʼn tyd soos dié waarin ons mekaar nodig het. Ons word gekonfronteer met ʼn krisis soos nog nooit tevore nie. Suid-Afrika, ons het jul hulp nodig, hoor ons van die president.

Ons help, mnr. die President. Ons offer ons inkomste op. Help ons ook asseblief. En dan, minister, antwoord u: “Jammer, julle is wit.”

Die wêreld en Suid-Afrika huil oor Covid-19. Johan en Sanet Stadler huil saam met Sarah en Mildred.

Bêre die rasse-ideologie in die krisis, Minister, en kom huil eerder saam met Johan en sy werkers.

Groete,

Dirk Hermann
Bestuurshoof van Solidariteit

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willem ·

Die minister is een van die 30 % slaag syfer modelle . Niks dring deur nie

Boortor ·

Aag…sy voel vere vir Sarah en Mildred. Solank sy kan rondloop en n ” goeie” storie aan haar comrades vertel sal sy nie n oog knip nie. Net jammer die meerderheid Sarah’s en Mildred’s sien of besef dit nie. Sterkte aan julle, maar wen gaan ons nie maklik nie!

david ·

Nog een van die ministers wat die president die trekpas moet gee…..maar President, moenie daar stop nie–Bheki Cele met sy reuse ego en Nkosazana Dlamini Zuma wat reeds met haar kansellasie van die Wyn UITVOERE (lees verlore belasting inkomste en werkerslone) ongeveer R750 milj se skade angerig het…! En ja. daai minister wat nou die verkoop van warm voedsel verbied….en my 80 jarige weduwee buurvrou nou met haar artritis vingers groente moet skil, waar sy voorheen by die Spar ‘n heerlike voedsame maaltyd kon gaan koop…!
Ek wonder some of U ministers altyd weet of dit more, middag of aand is…..!

Michael 1 ·

Die is nog n voorbeeld van die rassistiese beleid van diskriminerende wette teen wit minderhede,wat die hele land negatief beinvloed ek weet die DA sal niks doen maar waaragtig Dr Groenewald ek dink jou party doen heeltemal te min ,jy vergader gereeld met die president het dit nie tyd geword om dit te skrap nie ?

Susanna ·

Wanneer word BEE in die tyd van Corona as ‘n misdaad teen die mensdom erken?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.