Video: Ons het ʼn plig om nee te sê en mekaar te help

Solidariteit bestuurshoof dr. Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Beste vriende en makkers

In elke geslag se leeftyd is daar ʼn plig om nee te sê. Dis nou óns tyd!

NP van Wyk Louw waarsku teen die gevaar as ’n hele geslag sonder protes verbygaan. Anders gestel, die gevaar ontstaan wanneer die plig om nee te sê, versaak word. Dit gaan oor meer as die onmiddellike onreg teenoor die individu omdat die gevolg ’n langtermyneffek het wat selfs oor geslagte kan strek. Dit gaan oor die dieper reg waarvoor ons almal moet stry.

Hoe langer ons uitstel om nee te sê, hoe moeiliker word dit en vervolgens tree daar ’n soort verlamming in.

Solidariteit het saam met AfriForum hofstukke by die konstitusionele hof ingedien om nee te sê vir die departement van toerisme se planne om hulp te gee op grond van ras.

Intussen werk Solidariteit se regspan aan ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie, rakende die regering se besluit om op grond van velkleur hulp te oorweeg.

Solidariteit het by die Lyttelton-polisiestasie ʼn klag teen die minister van kleinsakeontwikkeling wat ’n vals eed afgelê het, aanhangig gemaak. Sy het in hofstukke gesê haar departement gaan nie hulp op grond van ras toeken nie. Ten spyte van haar eed wat sy afgelê het, spring sy toe om – hóé jy lyk, gaan nou wel ʼn maatstaf vir hulpverlening wees.

Ons bring ʼn klag in, want dit is ons plig om nee te sê.

Die hele situasie is, om die minste te sê, bisar. Verlede week lewer ʼn regter uitspraak dat dit reg is dat mense in nood hulp kry op grond van die kleur van hul vel. Waarom skreeu almal nie van die dakke af dat dit gek is nie? Waarom kom die groter gemeenskap nie hul plig na om nee te sê nie?

Die regering voer dit verder en sê die voedselhulp wat ons bymekaar maak en wil versprei, wil hulle ook beheer en oor besluit. Nee, sê ons vir die regering, dit gaan julle nie doen nie. Julle gaan nie hulp aan ons weier en dan die hulp wat ons aan die gemeenskap gee, keer, beheer en reguleer nie.

ʼn Radiostasie vra my waar ons argumente in die hof platgeval het. Nee, dis die stelsel wat op ons platgeval het. ʼn Regter bevind dat hulp in ʼn krisis op grond van die kleur van jou vel gegee mag word en die stelsel meen dis reg so.

Die stelsel het hierdie saak op morele vlak verloor. Om belastingbetalers se geld te vat om hulp te gee op grond van die kleur van jou vel, is moreel siek.

Die regering verwag van ons as wit mense, minderhede en Afrikaners om dit te aanvaar. Die hof het mos nou gespreek, maar die kern bly tog dat reg gespreek moet word. As die reg sê daar is regverdiging om só teen wit mense te diskrimineer, het ons ʼn rassestaat; nie ʼn regstaat nie. Dis ʼn onreg.

Ons as minderhede in die algemeen, en Afrikaners spesifiek, moet dit nie aanvaar nie. Ons het ʼn plig om nee te sê.

Hulp op grond van wie jy is, is op dieselfde immorele vlak as om die verspreiding van kos eensydig te wil beheer. Die antwoord is nee.

Die regering het nie die grondwetlike, morele of selfs godsdienstige reg om ons burgerlike lewe te nasionaliseer nie. Ons gaan ons vryhede verdedig. Ons is niemand se belastingslawe nie. Oor hierdie saak gaan ons die regering beveg, in ʼn strafsaak, in die grondwethof en in die VN.

Dié onreg moet reggestel word.

Ons gaan egter nie plekke afbrand, rommel strooi, vensters breek, klippe gooi en mense aanrand nie. Ons gaan ook nie ons vryhede verwaarloos, neerlê en verskrik raak nie.

Ons wil vry wees en sal self doen.

Op dieselfde dag as wat die rasse-uitspraak kom, het Solidariteit Helpende Hand R2 miljoen se kos versprei. Om honger te keer, is immers die regte en goeie ding om te doen. Miljoene der miljoene rande se fisieke hulp is deur die Solidariteit Beweging se Krisisfonds ingesamel. Die nood is groot en skenkings stroom steeds in.

Die regering skop ons uit en dan help ons onsself. Nee, dít gaan nie van bo af beheer word nie. Dis harde protes. Ons as gemeenskap sê: “Basta, ons sê nee en doen self!”

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Die regering het ons egter nou weer eens laat besef – ons moet ons eie ding meer, en op nuwe maniere doen. Ons moet die krag en waarde van mekaar ontdek. Ons moet mekaar in ons beroepe ondersteun, by mekaar koop, mekaar help, na ons ouer mense en weerloses kyk en mekaar in diens neem. Ons moet ons kinders laat leer en jongmense laat studeer. Ons moet ons beveilig, ons kultuur uitleef en oppas, saam leef, konsentreer en saam bid. Dis die wapens in ons hande – kragtige wapens.

Die wonderlike ding is dat Afrikaners dit al reeds gedoen het: opstaan ná die Anglo-Boereoorlog en Helpmekaar ná die Rebellie van 1914 en die reddingsdaad ná die depressie in die 1930’s. Ons weet hoe om in en ná krisisse terug te bons.

In die middel van die koronakrisis en die nood wat daarmee gepaard gaan, het die regering en die stelsel ʼn ongelooflike onreg teenoor wit mense, minderhede en Afrikaners gepleeg – hulle het in ’n tyd van nood gesê: wit mens, jy is op jou eie.

Ons kan nie op hierdie staat staatmaak nie. Ons kan ons nie laat bind deur onreg deur die staat nie. Ons kan dus ook nie afhanklik van die staat wees nie. Ons kan wel binne en vanuit die gemeenskap in geloof en vertroue optree.

Dit is ʼn ander soort protes, wat ons geslag nie mag verbygaan nie en dit is bevrydend.

Dus, jammer Minister, ons het ʼn plig om nee te sê.

My oproep aan ons almal is dus: sê nee en help mekaar!

Groete,
Dirk Hermann

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kokerboom ·

Dankie Dirk vir ‘n puik artikel. Vir baie Afrikaanssprekers het die politieke werklikhede blykbaar nog nie deurgedring tot hulle. Ons vra niks meer as om net op gelyke voet behandel te word. Dit sal ook ‘n wereldse verskil maak tov wedersydse respek en positiewe gesindhede. Vir baie van ons is die kruip/onderdanige beginsel ook ‘n prioriteit en versaak hul so alle swaar verworwe norme en waardes. Baie van ons handhaaf ook ‘n arrogansie/beter-as-ander benadering wat skrik vir niks…asof die wereld hul iets skuld.
Dankie Dirk dat jul ons reg om te bestaan, werk en leef in hierdie mooi land met alles tot jul beskikking verdedig.

Janc ·

Dirk, jou berig is diep en ek dink nie dat enige iemand anders dit beter kon stel as wat jy hier gedoen het in jou berig nie! Jy is reg, ons het genoeg gehad en dit het tyd geword dat ons NEE sê! Ons is so geneig om die “regte ding” te doen, dat ons, ons menslike waarde verloor het in die proses.

Michael 1 ·

Ek sê ook nee,genoeg is genoeg hulle president ondersteun rassediskriminasie,en dan moet ek belasting betaal om so teen gediskrimineer te word..

NEE.

Francois ·

Ek se ook genoeg is genoeg. Kla hulle aan by die oorsese howe. Dit is al wat gaan werk want ons Suid Afrikaanse howe is net so ras behep. Dit het tyd geword dst ons wittes begin saamstaan en net na wittes omsien ook

Oom Hennie Pennie ·

Dit is nou tyd vir saamstaan en opstaan en onderliggende verskille te vergeet en saam hierdie bedreiging te beveg.

Joggie ·

Wanneer gaan ons dan begin nee sê oor die betaal van belasting? Gee die keiser wat hom toekom, ons regering behoort niks te kry nie!

SomeOne ·

die staat dwing ons as wit suid afrikaaners om weer na voor 1994 terug te keer

Kerneels ·

So mooi beskrywende woord wat jy daar gebruik… belastingslawe.

Thomas Alfred ·

As ons tax gelde wat ons betaal nie vir ons nood doeleindes gekry mag word nie, hoe hou ek wettig op tax betaal aan n rassiste regeering?

Fedup ·

I always say no. Not maybe. Not I’ll think about it. NO. Try it, it’s affective. The government expect us to always help those in need. Why? So they can grind us into the dirt. No means no. So sorry, i only take care of my own. I don’t owe this country anything as this country don’t owe me. We are square.

Leeuwyfie ·

Die belangrikste woord in jou skrywe is belastingslawe. Dis waarvoor ons nou moet veg. Ons moet ophou belasting betaal aan mense wat net ons ondergang wil bewerkstellig. Is PAYE nie ook ongrondwetlik nie? Ek gee jul ‘n idee.

JN ·

Dirk ek wil net vir julle van Solidariteit en so ook Afriforum en die Burgerregte organisasie se baie dankie vir julle wat so te se amper man alleen opstaan vir die blankes se vertrapte regte in Suid Afrika!
Waar die res van die blankes in Suid Afrika is weet ek nie?
Dit is hartseer om te sien hoe swartgallig rassisties die Anc se houding teen die blankes geword het! Sonder vegters van geregtigheid soos julle sal die blankes van Suid Afrika vinnig almal in plakkers kampe opeindig sonder hoop of help..

Dit wil voorkom asof dit die Anc se plan is as ek so na Cyril se woorde in spreekbeurte luister die laaste paar weke, geen hulp vir blankes, alleenlik swart bemagtiging en bystand..
Dit wat ek hoor en sien is kommerwekkend en erg diskriminerend grensend aan misdaad teen die mensdom.
Nerens in die prentjie val blankes onder “ONS” in sy Cyril bewoording nie. “OUR PEOPLE” is slegs nie blankes, blankes uitgesluit op elke liewe vlak..

Mag God jul seën in jul geveg vir geregtigheid.

david ·

Ja ek stem ook..dis nou die tyd vir die groot NEE…!
Ek wil egter ook iets anders uitwys oor die Regter se uitspraak :
Soos ek verstaan kan klein Blanke besighede slegs gehelp indien
so ‘n besigheid aan die BEE vereistes voldoen….
Met ander woorde die Witman moet sorg dat ten minste 51% van
sy besigheid aan ‘n Swart persoon moet behoort, anders sal geen hulp
oorweeg word nie.
Dis nou letterlik ‘n geval van : gee jou besigheid oor of krepeer van ellende.!
Dit klink vir my alteveel na AFPERSING…en afpersing is mos ook ‘n misdaad.
Het die regter nie nou ‘n misdaad gewettig nie.?
Volgens die Reg, word van van mens verwag om hulp te verleen as jy op
‘n motorongeluk afkom.
Maar is Covid 19 nie ook ‘n reuse ongeluk nie….moet die slagoffers daarvan-
ongeag hulle etniese oorsprong gehelp word nie..?

Marius ·

Hoor hoor, Dirk! Ek steun jou en Solidariteit. Baie dankie vir wat julle doen vir reg en geregtigheid in hierdie land.

Jr ·

Solidariteit ek staan bank vas agter julle. Ek sal tot my lewe vir my volk gee en u weet wat beteken dit

Ina ·

Dit klink so mooi op papier, maar ai sal ons ou Afrikaner nasie dit regtig regkry om saam te staan? Geskiedenis het gewys dat ons oor sekere goed so verdeeld was en nog steeds is. Ek bid en hoop regtig dat ons dit nou gaan regkry en ek is 100% oortuig dat ons moet saamstaan, anders gaan ons werklik ons oorlewingstryd in ons pragtige land verloor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.