Ope brief: Oppas, Malema, daai swaard van jou gaan jou eie dood beteken!

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Die oorspronklike ope brief, in Engels, was op 17 April 2018 gepubliseer. Lees dié brief op Neasa se webwerf

Geagte mnr. Malema

Ten einde die toon aan te gee vir die gees waarin hierdie ‘ope brief’ geskryf is, moet jy weet dat ek al daardie kenmerke, wat jy minag, besit: ek is ʼn grondeienaar, ʼn sakeman, ʼn voorstander van die vryemarkstelsel en boonop is ek wit. Verder, net in geval dit nie heeltemal duidelik is nie, is ek ook ʼn Afrikaner. Ek meld hierdie feit, want ek is nie seker of jy ʼn besondere kategorie haat vir wittes reserveer nie; nie dat dit saak maak nie, ek is bloot nuuskierig.

Jou aanhitsing tot moord deur middel van die ‘struggle’-refrein ‘kill the boer, kill the farmer’ en ander dreigemente, is derhalwe ook teen my gemik.

Soos jy dalk mag opmerk, is daar diegene wat van mening is dat jy nie die aandag verdien wat jy kry nie. ʼn Joernalis het onlangs opgemerk dat jy geen ‘goddelike medium’ is nie, en dat jy nie langer soos een behandel moet word nie. Alhoewel ek ten volle met hierdie joernalis saamstem, stem ek nie saam met hom dat jy geïgnoreer moet word nie. Jy ‘verdien’ inderdaad prominente aandag – maar moet dit asseblief nie as ʼn kompliment beskou nie. Ek grond my mening op die feit dat baie demagoë voor jou aanvanklik geïgnoreer is, maar dan tog politieke prominensie verkry het.

Jy maak daarop aanspraak dat jy ʼn vername politieke rolspeler in Suid-Afrika is; tot dié mate dat jy nou ‘in beheer’ is en nie die ANC nie. Daar mag selfs ʼn greintjie waarheid in steek, wat verklaar waarom die adjunkpresident van die ANC smeek dat jy na die party terugkeer. Sy faksie, ten minste, benodig jou. Die feit is dat jy aan ʼn grootheidswaan ly en dienooreenkomstig optree.

Jy het, per slot van rekening, nuwe lewe geblaas in ʼn politieke ‘leerstelling’ wat gedy op rasseskeiding, haat, wraak en nasionalisering. Dié nuwe leerstelling kan met reg die ‘Malema-leerstelling’ genoem word.

Wat die rasgebaseerde aspek van jou ‘leerstelling’ betref, waar jy wittes uitsonder en demoniseer en vra dat ‘boere’ doodgemaak moet word – op so ʼn wyse dat dit net kort duskant die slagting van wittes en volksmoord val – moet jy weet dat jy reeds die ‘grens’ oorskry het. Jy het, en is steeds besig, om die saadjie te saai wat ʼn klimaat vir volksmoord bevorder. Vele mense het reeds as gevolg hiervan gely. ʼn Suid-Afrikaanse hof mag simpatie aan jou betoon; die Internasionale Strafhof waarskynlik nie.

Sou jou ekonomiese beleid in een of ander stadium geld, sal dit Suid-Afrika en sy mense nie alleen verarm nie, maar ook vernietig. Dit voel ietwat belaglik om dit selfs te moet noem, want dit is so ooglopend. Buiten, natuurlik, vir jou volgelinge, die kwesbares wat in jou hul heil sien asook die bevoorregtes wat jou sien as hul geleentheid tot wraak en kitsrykdom. Elkeen van hulle sal uiteindelik teleurgestel word. Die vrug van jou arbeid sal ʼn ramp wees. Jou volgelinge bou op dryfsand. Thuli Madonsela beskryf jou ‘leerstelling’ as ʼn fabel.

Ek weet dat jy jou nie hieraan steur nie. Vir jou gaan dit alles net oor jouself. Wat jy nastreef, is nie die opheffing van mense nie, maar uitsluitlik brute politieke mag. Jy gebruik die kwansuise bevordering van die belange van minderbevoorregtes bloot as ‘n slenter om die kwesbares te mislei en jou eie ambisieuse wraaksugtige agenda te bevorder.

Voorts, jou diepe veragting van wittes is net ’n rookskerm – in werklikheid verag jy alle mense. Geen mens kan haat vir slegs enkeles koester nie; jy kan nie die ‘hart’ in kompartemente verdeel nie; daar kan ‘nie uit dieselfde fontein soet én bitter water kom nie’; so ook ‘kan ’n boom nie tegelyk goeie sowel as slegte vrugte dra nie’. Jy kan nie haat vir ’n spesifieke groep reserveer nie. Die mense wat jou tans vertrou, sal hierdie bittere waarheid ontdek indien jou politieke aspirasies realiseer en Suid-Afrika se ergste scenario bewaarheid word.

Ten spyte van die feit dat jy polities uiters geslepe is, ontbreek goeie oordeel by jou. Ek het nog nooit gehoor dat jy Robert Mugabe se beleide veroordeel nie – klaarblyklik omdat jy vir jouself ’n toekoms in ’n soortgelykte mislukte omgewing sien.

Die Mugabe-scenario is egter nie die enigste voorbeeld van hoe jou oordeel jou in die steek gelaat het nie. Jou rol daarin om Zuma aan bewind te bring sal nooit vergeet word nie. Dit was inderdaad ’n katastrofiese oordeelsfout – selfs gemeet aan jou eie standaarde. Nietemin, indien jou huidige beleidsrigting wat weerwraak en nasionalisering voorstaan op enige wyse seëvier, sal die tragedie van die Zuma-fiasko as gering afgemaak kan word.

Dan is daar jou heldeverering van die afgestorwe Hugo Chavez van Venezuela. Hy het presies aan Venezuela gedoen wat jy aan Suid-Afrika wil doen. Hy is jou afgod; jy moes jou rooi baret-idee van hom gekry het. Net soos jou voorgehoue agenda, het hy die ryk hulpbronne van Venezuela aan ‘die mense’ oorgedra maar, soos dit altyd die geval is waar hulpbronne genasionaliseer word, het geen van hierdie hulpbronne die massas bereik nie. Venezuela, met sy mildelike natuurlike hulpbronne (olie, goud, koper, nikkel, ens.), ondervind nou grootskaalse tekorte. Die land is op die randjie van finansiële ineenstorting as gevolg van ’n verkeerde ekonomiese beleid (sosialisme).

Dít is egter presies wat jy wil bereik, mnr. Malema – daar steek tóg logika in jou aweregse manier van doen. Demagoë floreer mos in anargie en armoede waar mense brandarm, magteloos, honger en afhanklik is van die staat – tot so ’n mate verswak dat hulle nie hul bewindhebbers aanspreeklik kan hou nie. Dit is waarom ’n demagoog altyd begin met die nasionalisering van eiendom – die voor-die-hand-liggende eerste stap van ontmagtiging. Dit verg nie veel om dwarsdeur jou en jou politieke agenda te sien nie.

Die wiel draai egter; dit is hoe die lewensiklus werk. Koninkryke en alle vorme van heerskappy kom tot ’n einde – sonder uitsondering. Sommiges duur net langer as ander. Alhoewel jy dit duidelik ontken, het die geskiedenis lank voor kolonialisme en apartheid begin. Oorloë, maatskaplike onreg, slawerny en uitbuiting bestaan reeds vir so lank as wat die wêreld bestaan.

Jy kan ook nie daarop aanspraak maak dat jy die uitvinder van boosheid is nie. Jy bevorder slegs ’n unieke handelsmerk daarvan – ’n ‘geleentheid’ wat gebore is uit die kwesbare situasie waarin Suid-Afrika hom tans bevind. Demagoë is altyd opportuniste; kortsigtige, stiksienige opportuniste.

Jy het sekerlik kennis geneem van die veranderende lot van jou helde, die Mugabe’s. Onlangs is een van hul plase deur ‘onwettige goudmyners’ binnegeval. Oënskynlik doen die polisie nie veel aan dié situasie nie. Die Mugabe’s, wat gewelddadige grondbeslagnemings aangehits en toegelaat het, word nou aan dieselfde lot onderwerp. As jou huidige beleid seëvier, sal dieselfde lot jou te beurt val.

Dit is deel van die ironie van die lewe dat demagoë soms suksesvol is in hul strewe na mag en gierigheid voordat hulle, sonder uitsondering, verwerp en van alle mag onthef word. Hul laaste dae is altyd, ook sonder uitsondering, afskuwekkend. Die ‘gelukkiges’ onder hulle bring hul laaste dae in isolasie, ballingskap of in die gevangenis deur. Die ‘ongelukkiges’ word tereggestel. In die ergste scenario vir Suid-Afrika, moet jy aanvaar dat die mag waarna jy strewe, jou ’n soortgelyke lot sal toedeel.

Of glo jy dalk vir een oomblik dat, wanneer die wiel draai, die manier waarop jy jou volgelinge leer om ander en die reg te minag, nie eendag jóú lot sal word nie? Die grond wat jy nou ‘vat’, sal later van jou ‘weggeneem’ word. In jou ‘struggle’-refrein vra jy dat die ‘boere’ doodgemaak word; dit is egter nie die ‘boere’ wat van jou sal ‘vat’ nie. Wie jy moet vrees, is jou eie voetsoldate wat uiteindelik deur jou oëverblindery sal sien en teen jou sal opruk wanneer hulle die koste van hul blindelingse navolging ontdek het – ʼn  veel hoër koste as die man met die ‘voete van klei’ wat hulle gevolg het. Onthou: ‘Die man wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom’.

Ondanks jou swak oordeel en alles wat daarmee gepaard gaan, het jy steeds jou string volgelinge. Maar dít maak allermins van jou ’n leier. Die demagoë van die wêreld – Hitler, Mussolini, Mao Tse Tsung, Stalin, Pol Pot, Idi Amin, Nicolae Ceausesco en Robert Mugabe (om maar ’n paar te noem) – het almal volgelinge gehad. Maar helaas, soos jy, was hulle nie leiers nie. Leiers hef mense op, bemagtig hulle en bring die beste in hulle na vore. Jy doen presies die teenoorgestelde. Ja, jy het volgelinge, maar jy is nié ’n leier nie.

Suid-Afrika bevind homself tans in ’n verwoede stryd vir die hart en siel van die land. Daar is diegene wat Suid-Afrika ’n beter plek wil maak, nie slegs om hul eie onthalwe nie, maar ook vir ander – ongeag ras of sosiale klas. Hierdie is die mense wat hul kuratorskap van die land erken en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar tot voordeel van toekomstige generasies. Aan die teenoorgestelde kant, is daar diegene wat slegs in eie belang optree. Ras, ekonomiese- en maatskaplike status bepaal nie die aard van die bydrae in hierdie stryd nie.

Hierdie stryd sal verbete en uitgerek wees. Beide dié wat die positiewe bydrae maak, sowel as dié wat afbreek, is nie altyd bewus van die bydrae wat hulle tot hierdie stryd maak nie. Elke woord en elke daad tel – óf dit breek af, óf dit bou op. Jy, mnr. Malema, het jouself duidelik geskaar aan die kant van die vernielsugtiges en dié wat afbreek. Dié met kwade bedoelings en dié wat mislei word, volg jou. Aan die ander kant, as ’n sterk opposisie, is diegene wat hulle aan die kant van dit wat opbouend is, skaar.

Ek sien daagliks diegene wat die goeie najaag en ek bewonder hul gedrag en optrede om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak. Daagliks ervaar ek welwillendheid onder mense van alle rasse; ek sien hoe hulle na hul werk loop of ry; ek sien hoe hulle werk om hul gesinne te onderhou – dikwels met skrapse middele; ek sien hoe hulle saam skoolgaan, sport teen mekaar en saam met mekaar beoefen; ek sien hoe hulle sportspanne ondersteun en sportsterre van teenoorgestelde rasse toejuig. Ek sien plaasboere wat, nieteenstaande jou tirades, voortgaan om hul plase te ontwikkel, te ploeg, te saai en te oes – want daarsonder sal Suid-Afrika tot niet gaan. Hulle vorm deel van die konstruktiewe magte aan die teenoorgestelde kant van waar jy jouself bevind. Vanuit jou perspektief gesien, ’n formidabele opposisie. Dit verklaar jou buitensporige retoriek en optrede.

Dit is al hierdie goeie dinge wat jy, mnr. Malema, wil vernietig om sodoende jou eie saak te bevorder. In ’n voorspoedige Suid-Afrika sal jou beleide en jou valse propaganda geen aftrek kry nie. Tot die mate wat Suid-Afrika agteruitgaan, tot dié mate sal jou boodskap se effektiwiteit toeneem, en jy is deeglik bewus daarvan. Bygesê, dit is net solank jou ware bedoelinge nog nie aan die kaak gestel is nie.

Hoe dit ook al sy, jou ware bedoelinge sál uiteindelik aan die kaak gestel word.

Die magte teen jou is onteenseglik by verre die meerderheid – ʼn formidabele mag. Jy sien dit egter nie. Wanneer jy en jou ondersteuners bymekaarkom, wanneer hulle na jou opruiende tirades luister, wanneer jy dreig met slagting en rassemoord (‘maar darem nog nie’), is die voorstanders van ‘n stabiele Suid-Afrika nie teenwoordig nie. Hulle sien geen toekoms in jou nie, ondanks die feit dat baie van hulle in uiterste armoede lewe. Selfs met die wete dat hul vooruitsigte skraps en uiters onseker is, weet hulle dat die bestel wat jy voorstaan, hulle nog slegter af sal laat – inderdaad baie slegter af.

Die bestel wat jy voorstaan, herinner Suid-Afrikaners daaraan hoe Suid-Afrika sal lyk as ons nie daarin sou slaag om ʼn manier te vind om die uitdagings wat ons in die gesig staar, die hoof te bied nie. Op dié ironiese wyse speel jy tog ʼn konstruktiewe rol. Jy dra daartoe by dat redelike Suid-Afrikaners wakker skrik en gekonfronteer word met óf ʼn ‘Malema-toekoms’, óf ʼn toekoms met die potensiaal van ʼn beter lewe – iets waarvoor ons almal baie hard sal moet werk.

Daar is so baie wat nog gedoen moet word om Suid-Afrika vir almal ʼn beter plek te maak. Ons moet met mekaar praat; ons moet mekaar leer ken en verstaan. Houdings ten opsigte van vele dinge sal moet verander – en dit geld vir elkeen van ons.

Ons moet daarna streef ‘om aan ander te doen wat ons wil hê dat hulle aan ons moet doen’. Aangesien die verlede in die verlede is, kan dit nie verander word nie. Ons kan egter daaruit leer om nie dieselfde foute te maak nie. Alhoewel ons dit wat sleg is, moet herken en daarop probeer verbeter, en selfs radikaal verander, kan ons nie bekostig om dit wat goed is, waarop ons die toekoms moet bou, te vernietig nie.

‘Hulle wat ’n vuur aansteek … sal wandel in die vlam van hulle vuur en onder die vuurpyle wat hulle aangesteek het!’. Dit is volgens die profeet Jesaja (Jes. 50:11), en hierdie waarheid bly staan. Hierteenoor is die skrille kontras: ‘Die regverdiges sal die land besit en altyd daarin woon’ (Psalm 37:29). Mnr. Malema, deur dit wat jy verkondig en waarvoor jy staan, het jy die eerste opsie gekies. Dit hoef egter nie jou finale keuse te wees nie.

Ek het die beter opsie gekies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard Papenfus

Gerhard Papenfus is die uitvoerende hoof van NEASA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie vir die publikasie van hierdie brief met sy uitstekende perspektiewe en koersaanduiding. Ek salueer hierdie man en sy klare rigtingaanwysers

Troedels ·

Dit is sooo waar.
Dankie vir die plasing van hierdie ope brief, Maroela Media.

Henk ·

Stom geslaan deur hier lieflike stukkie taal kuns wat so flink, kortwerk maak van die brutale dogma van kommunisme.

Bravo vir die denkers!

humor ·

Grootwaarhede saamgesnoer in n neutedop. Maar hoe gaan dit tot die man deurdring.. Dit sal sy hele kultuurkosep vernietig. Hy sal sy rug moet draai op sy lewenslange opvoeding. As dit opvoeding genoem kan word. En hoe kan sy siek psige omgekeer word. Hoe kan n totale lewens en wereldbeskouing vervang word ?

B-man ·

Ons moet vir hom ook bid… al wil mens nie. Wanneer jy wedergebore is, val die oue weg. God is almagtig en kan selfs ‘n omkeer in Malema se denke bewerkstellig. Ons moet op Hom glo en vertrou en aanhou volhard met ‘n lewenswyse wat Jesus se voorbeeld nastreef.

Geluk ·

Pragtige skryfwerk, baie insig en goeie taalgebruik. Dit maak my skoon hartseer want dit is die naaste aan die waarheid wat jy kan kry, heeltemal in teenstelling met die leuens wat van verhoë af verkondig word en die haat en nyd van andere. Goed gedoen.

Kannaland ·

Ek is ook dit wat malema haat, en eks baie trots op ons mense en om deel van my kultuurgroep te wees. Ek sal beslis nie val vir malema nie maar my man staan. Ek is nie bang vir mense wat dof genoeg is om nog in kommunisme te glo nie.

Jongboer ·

Kan jul dit ook in zoeloe vertaal en in hulle koerante sit. Goeie werk Gerhard. Jy gee my hoop

Pieter ·

Vertaal asb die brief in die ander 9 landstale, en publiseer dit iewers vir die massas om te sien.

Iché ·

Vertaal dit asseblief in al die elf landstale ook en sommer ook
In vingertaal (dowes) ook.

Gerhard ·

“n Suid-Afrikaanse hof mag simpatie aan jou betoon…”. Is dit nie die kern van die probleem in SA nie?? Selektiewe optrede deur ‘n regstelsel wat dans na politici se pype en wat geen respek meer afdwing nie.

JV ·

Versoek aan mense wat kan – stuur asb hierdie boodskap aan whatsapp lesers.
Ek sou as ek geweet het hoe!

Buitelandse hulp ·

AfriForum moet fondsinsameling in die buiteland begin om privaatsekuriteit te betaal om ons te beskerm. Die toekoms van selfverdediging lê in privaatsekuriteit en dit kos geld, wat ons van oorsee af kan kry.

Rynhardt ·

In 2016-2018 het ek vir Maroela gese:”Malema sal met n bang uitgaan,n tronksel sal hom nie sien nie”.Die skrywer se woorde:”Die man wat na die swaard gryp,sal deur die swaard omkom”.Dit sluit aan by bogenoemde van my.Mense moenie n obsessie ontwikkel met Malema nie.Hy is n rewolusioner wat omstrede uitlatings maak en hy leef vir publisiteit.Revolusioneres hou nie rekening met die volgende nie.Hulle het nooit n gelukkige einde nie!

Oosie ·

Dit is die beste skrywe wat ek nog gesien het! Puik Gedoen!

Justice ·

Ek sal met die grootste plesier betaal sodat hierdie ope brief van Gerhard Papenfus in al die landstale vertaal word en in al die toepaslike koerante gepubliseer word. Vir die wat nie kan lees nie kan dit oor die verskillende streeks stasies uitgesaai word – uitstekend geskryf.

Elmer Swanepoel ·

Vir diegene wat niks het nie, is daar niks om te verloor nie. Enige belofte van iets is ‘n verbetering, ongeag die gevolge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.