Ope brief: Verklaar plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad, minister

plaasmoord optog 7

’n Protesoptog na die Uniegebou in Pretoria is op 25 November 2017 gehou om die prioritisering van plaasmoorde te eis. Foto: Reint Dykema

Hiermee ʼn ope brief aan die minister van polisie, Fikile Mbalula, wat Sondag aan hom gestuur is. Jan van Niekerk is Vrystaatse boer en leier van die VF Plus in die Vrystaat.

Geagte minister

Ek skryf as ʼn boer. Ek skryf want ek voel vandag verpletter nadat nog ʼn weerlose vrou ernstig beseer is in ʼn plaasaanval in die Vrystaat. Sy het ernstige steekwonde opgedoen. Sy was alleen op die plaas toe vier mans haar op haar plaas buite Bloemfontein aangeval het.

In ʼn ander voorval die naweek is ʼn 74-jarige boer van Reitz met knopkieries geslaan en ernstig beseer.

Die afgelope week is ʼn bejaarde boer van Villiers in die Vrystaat ook ernstig beseer. Om sake erger te maak, het plaaslike media die week berig dat ʼn dossier in ʼn plaasmoord-ondersoek weggeraak het en die beskuldigdes vrygelaat moes word.

Ek hoop u is bewus van die plaasaanvalle en die vlak van geweld wat daarmee gepaardgaan.

Ek weet: Misdaad is misdaad, ongeag wie die slagoffers is.

Miskien is ons almal skuldig daaraan dat ons toelaat dat ons nie meer sensitief is vir elke moord, elke aanranding, elke verkragting en vir elke misdaad wat gepleeg word nie. Miskien het ons nasie so gewoond geraak aan misdaad, dat ons dit aanvaar as ʼn gegewe – as normaal.

Maar min. Mbalula, daar is niks normaal aan die wyse waarop boere aangeval en vermoor word nie. U het in die parlement gehoor hoe wreed plaasaanvalle is.

In Januarie was daar gemiddeld 1.3 plaasaanvalle elke dag in Suid-Afrika. Een boer is in dieselfde tydperk elke sesde dag vermoor. Dit maak my beroep die gevaarlikste in Suid-Afrika.

Die ANC wil grondonteiening versnel. Black First Land First (BLF) sê wit landbouers hoort nie hier nie en hulle wil al die grond afneem. Ons hoor elke dag dat wittes glo grond gesteel het en dit moet teruggegee word aan dié wat dit toekom.

Maar wat dan? Waar gaan dit stop, minister?

Die feit is, ek het nie grond gesteel nie. My pa het nie grond gesteel nie. My voorouers wat destyds die grond bekom het, het dit eerlik gedoen. Titel- en aktedokumente daarvoor is beskikbaar. Die grond waarop ek boer, is histories myne.

Maar ek gebruik dit nie selfsugtig nie. Ek werk saam na ʼn groter doel in Suid-Afrika. Die werkers op my plaas weet dit en ons is saam vroegoggend in die lande om te begin werk. Ons gee terug aan die land wat ons uit die grond neem. Sonder kommersiële boere soos ek, sal miljoene mense sonder werk wees en sal die land nie kos hê om te eet nie.

Ek kan jou vertel wat die buiteland reeds sê oor plaasaanvalle. Maar ek gaan nie, want hierdie is ʼn gesprek wat ek en jy moet hê.

Ek kan syfers gee van hoeveel plaasaanvalle daar verlede jaar was en hoeveel daar reeds in 2018 was. Maar syfers beteken niks as ons nie saamstem oor een ding nie: dat ons almal saamwerk na ʼn beter toekoms.

En minister, hier is dit belangrik dat ons saamstem. Ons kan stry oor die verlede en wie reg of verkeerd was. Maar ons kan dit nie bekostig om nie oor die toekoms saam te stem nie. Ons kan dit nie bekostig om nie saam te stem dat ons, ten spyte van ons verskille, op een of ander manier moet saamwerk nie.

Ek het ʼn verantwoordelikheid teenoor ons land wat voedsel nodig het. Jy het ook ʼn verantwoordelikheid teenoor ons land – om te sorg dat misdaad bekamp word. Die kommandostelsel is destyds afgeskaf en ek weet niks gaan dit verander nie.

Ons gemeenskapspolisiëringforums (GPF’s) werk hard om die veiligheid van ons inwoners te verseker. Ons het burgerregte-organisasies wat saans patrolleer. Maar uiteindelik is dit u werk om ons teen misdadigers te beskerm. Dit kan nie maklik wees nie, maar waar jou departement dalk misluk, kan ons help met idees om dit anders te benader.

Daarom, minister, vra ek dat jy plaasaanvalle as ʼn prioriteitsmisdaad verklaar. Dit het gewerk teen transitorooftogte in die jare negentig. Die mag is in jou hande om dit aan te kondig. Stel spesialiste aan, stig eenhede wat kan spesialiseer in landelike beveiliging en kom ons werk saam om die aanvalle te keer.

Dan stem ons saam oor ʼn toekoms.

Dan begin ons werk aan ʼn toekoms – ‘n toekoms waar daar werkskepping is en waar daar voedselsekerheid is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jerry ·

Jan, net soos jy is baie mede Afrikaners op moedverloor se vlakte met nie net die plaasaanvalle nie, maar met die hele gety wat stadig maar seker teen ons draai. Jou pleidooi klink uiters desperaat, so asof jy selfs jou siel sal verkoop vir hulp, enige hulp, want jou hoop op n toekoms in Suid Afrika beskaam nie, dit ten spyte van mede boere wat steeds uitgemoor word. Ek hoop die minister sal luister en help, alhoewel ek dit sterk betwyfel, want die minister sal net politieke wil wys in ruil vir jou siel. Jan, selfs jy kan nie vir die onthalwe van jou geliefdes, so bly aankarring nie. Wanneer jy jou hoop bou op die toekoms, dan neem jy realistiese verwagtings gebaseer op die realiteite in ag en wanneer jy tot die slotsom kom dat daar nie salf te smeer is nie en dat jou geliefdes se veiligheid in gedrang is en dat hulle nie meer welkom voel in hulle eie land nie, dan maak n boer n plan. Hy verkoop sy grond en al sy besittings en hy emigreer en gaan boer in n land waar hy, sy geliefdes en sy God welkom is. Dit, Jan is my beskeie mening en advies aan jou. Doen dit voordat dit te laat raak en jy jou plaas, besittings en geliefdes verloor in n land waar die Afrikaner nie welkom is nie.

Boerseun ·

Nou Jerry waarnatoe sal ons almal dan gaan. Amerika, Kanada en so te se elke westerse land wil ook nie die wit Afrikaner he nie. Die wat wil hardloop moet maar hardloop maar almal kan en wil nie noodwendig hardloop nie.

Leeutjie ·

Hoe Jerry los jy jou plaas agter wat vir jare deel van jou was, is en gaan wees. Jy moet jou wortels uittrek en jouself gaan oorplant in die vreemde! Miskien kan jy, maar ek kan gewis nie!

Wonder ·

Die kanse dat jy vermoor word in ander lande is ook maar hoog. Kyk wat gebeur by die skole in Amerika. Al wat ons kan doen is om te bid en te glo dat dit nou sal beter gaan.

Jordaan ·

Ag nee wat, die waarskynlikheid van ‘n skoolskietery in Amerika is darem weglaatbaar klein in vergelyking met die risiko wat ‘n Suid-Afrikaans plaasboer loop. 138 mense dood in skoolskeitgevalle in 6 jaar in die VSA, gemiddeld van 23 per jaar – met oor die 48 miljoen skoolgaande kinders is dit 0.00047% as my wiskunde reg is. Vergelyk dit bietjie met ons boere, minstens net so veel moorde per jaar uit 35000 kommersiele boere en dalk ‘n paar honderd duisend plaasbewoners. Is dit nou dieselfde kanse?

Gerhard ·

Die VSA is nie juis een van die plekke waarheen meeste Suid-Afrikaners trek nie, maar selfs daar is dit beter as in SA. Die verskil tussen SA en waarheen meeste Suid-Afrikaners wel trek is hemels breed. Hulle kies reeds veiliger lande.

Johann ·

Hoop jyt die man op die maan, paas haas, tande muis, en ander mitologie karakters ge CC op jou brief… want die kans dat hulle gaan reageer is groter as FIKKLE wat deel is van die ANC ss LEGACY van anargie kweek en saai…

Jerry ·

Boerseun, my boodskap sal diegene tref wat dit moet tref. As die boodskap nie vir jou is nie, is dit reg so. Net soos ons duimafdrukke van mekaar verskil, net so verskil ons van opinie met mekaar en dit is goed so. Dit verdeel die Afrikaner in verskillende groepe wat nie noodwendig n slegte of goeie ding is nie. Wat verdeling wel bereik is dat dit die voortbestaan van die Afrikaner waarborg tot met wanneer die oordeelsdag kom. Die een groep Afrikaners vir wie dit gaan oor die Afrikaner as mens, is besig om hulself bewustelik of onbewustelik vrye teuls te gee en reg oor die wereld te vestig terwyl die ander groep vir wie dit gaan oor die Afrikaner se grond, hulself vas geanker hou in Suid-Afrika. Kom ons hou op om mekaar aan te val en begin om mekaar se sienings te respekteer al toon ons nie altyd werklik begrip daarvoor nie.

Lee ·

Ongelukkig sal Mbalula en ons Regering absoluut niks doen vir ons wit boere nie. Ons sal self plan moet maak vir gesinne se veiligheid. Dalk tyd om ou weermag-ouens op te soek?? Mbalula moet eerder Minister van Social Media word want verder is hy pretty much useless. Stuur hom op special forces training dan kyk ons of hy sal oorleef. LOL

Eddie ·

Bring die Doodstraf terug sodat hierdie en ander ernstige oortredings die regmatige straf sal kry ,want die huidige straf is tans net lewenslange sorg en losies !!

Laxre ·

Positiewe rubriek !!! Net jammer dit val teen klip ore as dit ons minestjie behaag

Anoniem ·

Jan. Ek is ook lief vir hierdie land. Is 60 hierdie jaar en sien geen heenkome vir my en my vrou. Kan glad nie aftree nie maar sal eendag moet dan word ek seker ook n robot/ stop straat hengelaar tensy iemand daar buite omgee en my n joppie gee op sy/haar plaas om te help oppas. Ek glo met my hele hart Jerry praat waar al bloei jou hart vir hierdie grond is jou familie meer werd. Jy kan grond vervang maar nie n lewe nie. Ek is nie n boer nie en weet nie hoe om te boer maar eending is verseker ek weet dat n boer n man is met inbors. As jy moet trek,trek dan want n lewendige boer kan nog boer en lewe gee aan hulle wat dit waardeer. Ek waardeer die boer wat aan ons kos voorsien. Sterkte aan al die boere in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.