Ope brief aan almal wat Afrikaans is

Dirk Hermann by die bekendstelling van sy boek 'Basta: Ons voetspore is in Afrika'

Beste Wieookal,

Ek weet dat jy Afrikaans praat, ek weet ook Afrikaans is nie ʼn witmanstaal nie, ek weet ook van die wonderlike invloed van almal op ons taal. Ek weet van ʼn verskeidenheid taaldialekte, aksente, idiome en sêgoed. Ek weet jy’s bruin, jy weet ek’s wit. Ek weet jy was tóé te swart en nóú te wit, en ek moet glo nou skaam wees oor my ‘witgeit’. Ek weet alle wittes wat Afrikaans praat is ook nie dieselfde. Party is van die Noorde en ander van die Suide en ander sommer net anders. Party het getrek en ander het gebly. Ek skryf sommer vir julle almal.

Ek weet al die goed, maar wie is jy? Ek weet nie waar jy vandaan kom nie, ek weet nie wat jou gebruike is nie.

Kortweg, ek ken nie jou storie nie.

Ons stories het verdrink in taal en rasdebatte. Die debatte is bruin, wit en Afrikaans, maar ons stories is baie dieper as dit. Ek het ʼn noordelike-Afrikanerstorie; Tannie Nora is bruin, maar is ʼn nooi van Graaff Reinet; Hans du Plessis skryf Griekwapsalms; Hendrik-Thys het ʼn Khoi-Sanstorie; Oom Waterboer moet sy Griekwastorie vertel; die Nels het ʼn Richterveldstorie; ander is suidelike-Afrikaners of sendeling-Afrikaners; ander het slawestories; stories met Maleisiese wortels en so kan ek aangaan… Waarskynlik ken ek nie eers jou storie se naam nie.

In hierdie skrywe wil ek jou vra om jou storie vir my te vertel. Vertel vir my, wie is jy?

Ek wil nie hê jy moet ek word of ek moet jy word nie, maar ek wil hê ons moet mekaar verstaan. Daar lê ʼn ‘ons’ in bloot verstaan.

Kom ek vertel vir jou my storie.

Ek is van Afrika.

Ek is deel van, soos president Zuma ons noem, die wit stam van Afrika. Ek het nie twee paspoorte nie.

My taal is Afrikaans en ek is ʼn Afrikaner; my mense het hulle taal en hulleself na Afrika vernoem. My eerste voorvader, Hans, het in 1657 in Suid-Afrika aangekom.

Hans was ʼn jaar later ʼn vryburger en het sy rug op Europa gedraai en sy gesig na Afrika. Hy is deur ʼn leeu doodgebyt, wat wys ons storie is ʼn harde Afrika-storie.

My mense was deel van die Groot Trek – eers na Natal en vandaar oor die Drakensberge na die Transvaal. Ons mense is gedryf deur vryheid.

My voorouers was deel van die eerste volk in Afrika wat ʼn koloniale moondheid in ʼn oorlog verslaan het. My oupagrootjie, Marthinus Nicolaas Ras, het saam met sy mede-Boere die Engelse op Majuba verslaan.

Talle grafte van my mense, die gevolg van gevegte vir ʼn plek in Afrika, lê regdeur Suid-Afrika versprei.

My oupagrootjie was ʼn banneling in Bermuda en my oumagrootjie is as gevolg van die ontberings in ʼn konsentrasiekamp dood. My ouma het as kind die konsentrasiekamp oorleef, maar haar boetie is dood.

My ouma se pa is dood tydens die Groot Griep van 1918 en haar ma was ʼn bediende wat wasgoed gewas het. My ouers is produkte van die Depressie en het ʼn obsessie gehad om uit hulle omstandighede te ontsnap.

My pa is nou nog baie bewus van wat die Engelse aan sy ma, oupa en ouma gedoen het. Republiekwording was die finale oorwinning oor die Engelse. Die swart vraagstuk was baie laer op sy agenda as die stryd teen die Engelse.

My pa was ook ʼn kind van apartheid, maar hy’s geen krimineel nie. Ek is trots op my pa en trots op wat hy bereik het. Ek dink sy en my familie se storie van opstaan is merkwaardig en moenie verswyg word nie.

Ek het begrip vir die apartheidskonteks waarbinne my pa-hulle geleef het en ek is trots op my geskiedenis en erken die goed en die kwaad.

Ek is opreg jammer oor dit wat fout geloop het in my verlede, maar dit trek nie ʼn lyn deur my geskiedenis nie, en veral nie deur my toekoms nie. Ek glo aan berou en vergifnis en vorentoe gaan.

Ek hou van Suid-Afrika. Ek hou van die natuur, die klimaat, die oop omgewing en die vriendelike mense. Ek hou van tipiese Afrikaanse humor en lag vir Suid-Afrikaanse grappe.

Ek hou daarvan om hier te kampeer, te braai, te kuier en vakansie te hou. Ek skreeu graag vir ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspan en is deel van ʼn unieke rugby- en sportkultuur. Ek hou van blatjang, biltong, braaivleis en potjiekos.

Ek hou daarvan om hier kerk toe te gaan en God in my taal te aanbid en te besing. Tussen die mense waar ek leef, is dit nie vreemd om ʼn Christen te wees nie. Ek glo my roeping is hier in Suid-Afrika.

Ek is ʼn Christen en in Christus is ek vry. Ek glo aan hoop in Christus en die sekerheid van sy toekomsbelofte.

Ek kan my taal, Afrikaans – ʼn inheemse Afrika-taal – hier gebruik en uitleef. Ek is mal oor Afrikaanse musiek en is trots op die Afrikaanse letterkundeskatkis. Ek wil hê my kinders en kleinkinders moet in hulle moedertaal onderrig word.

Ek wil nie emigreer nie; ek wil ter wille van my, my familie en my gemeenskap hier in Afrika en, in besonder, in Suid-Afrika bly. My agterdeur is toe; ek gaan nêrens heen nie. Die grootste daad van politieke protes is waarskynlik om te sê: “Weggaan is nie ’n opsie nie. Ek is van Afrika.”

Omdat ek nêrens heen gaan nie, het ek geen alternatief as om vir my ʼn demokratiese ruimte in Suid-Afrika oop te kap nie. Ek steek my hand uit na ander Suid-Afrikaners om ʼn toekoms hier te skep.

Ek is ʼn pa en baie lief vir my dogters en vrou. Dit is vir hulle wat ek my arms sal stomp baklei vir ʼn veilige ruimte in Suid-Afrika.

Dit is ek. Wie is jy?

[Dirk Hermann is skrywer van die boek Basta: Ons voetspore is in Afrika, beskikbaar by Kraal Uitgewers, [email protected]. ~ Red.]

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

louis.dup ·

Skerp Dirk!

Om te sê “Dis ook my land” 
is inderdaad ‘n daad
gebind aan geslagte
met ‘n ysterdraad
‘n protes teen vrees
wat die land wil verlaat

Louis

Johannes Kleinhans ·

Beste Dirk et al,
My voorvader het in 1747 sy voete aan wal van hierdie wonderlike land van ons gesit. Sy nageslagte was deur al die oorloë, peste, siekte en harde tye tot ek gebore was in 1965.  Ek het die voorreg gehad om my gedeelte by te drae om die kommunis uit die suidpunt van Afrika weg te hou – nie die swart man wat saam met ons hier bly nie.  Dit was hulle keuse om die kommunis te kies as vennoot, nie myne nie.
Ek het bykans met my lewe daarvan af gekom.
Ek is en sal ‘n Afrikaner bly en sal bly baklei vir my 3 kinders se voorreg om ook hier te kan bly.
Ek glo dat dit wat ek het wederegtelik bekom was deur my voor ouers.  Hulle het nie gemoor en geplunder daarvoor nie.
Dat daar dalk, soms ongeregtighede was, sal ek erken – net soos dit wêreld deur die gaval onder ander volkere is en selfs ook onder die swart stamme van Afrika.
Ek is ‘n Afrikaner, wat trots is daarop, ‘n verskil tot ‘n beter land wil maak maar nie my reg tot geregtelike burgerskap sommer sal prys gee nie.
Ek is hier om te bly !!
Johannes Kleinhans

Jahni Cowley ·

Dankie Dirk.  Soos jy, het ek ook geen ander heenkome nie.  Suid-Afrika is waar ek wil wees en waar ek my kinders as trotse Afrikaners sal grootmaak.

John Brandow ·

Ek is …….n blanke Afrikaans sprekende Suid Afrikaner. Ek is moeg  om te hoor ons moet jammer se. Ek het in Benoni op n plot groot geword.  Een van 12 kinders onderhou deur my pa wat n myner was. Het eers in standerd 6 begin skoene dra.  Van swaarkry kan niemand my enigiets vertel nie.  Het nie n idee wie ons voorouers voor my pa was nie en ek gee ook nie om nie. Gister is verby, vandag is al wat ons het en die toekoms le voor. Jy kan nie in die verlede in leef nie. Hierdie is my land soos dit enigiemand anders s’n is. Ek trek nerens heen nie. Ek haat rasisme en rasistiese opmekings hoe mooi dit ookal verpak is. Rasisme is ‘n beskrywing wat enigiets wat met ras te doen het omskryf. Hieruit lui ek dus af dat regstellende aksie en BEE rasistiese instellings is. Ons (ek en my vrou) het 3 kinders baie suksesvol groot gemaak en is reeds die groot ouers van 8 kleinkinders. Al ons kinders het goeie werke en nie as gevolg van enige “Bevoordeeldheid” nie want almal het dit die afgelope 12 jaar op ‘n eerlike manier gekry. Ons is deel van n Christelike gemeenskap (nie n tradisionele kerk nie)waar ons ons geloof kan uitleef. Ek glo dat aborsie moord is net soos enige plaasmoord.  Ek stem vir die DA en is Helen Zille vir my die tipe persoon wat vir enig iemand n rolmodel kan wees. Ek hou nie van die regse politiek nie , dit grens vir my aan fanatisme. Ek hou van Steve se musiek maar nie van hom nie. Sy kommentaar is draaglik maar te veel gaan my siek maak.
Dit in kort my vriend Dirk is wie ek is.  As jy meer van my wil weet volg my gerus op my blogs en sosiale media wat ek graag in Engels skryf.  Die hele wereld kan dit lees en verstaan.

André Alkema ·

Hierdie land, is ons land, Dirk. Van Tafelberg tot Waterberg.

En ons skuld niemand niks, behalwe aan onsself, ons kinders en kinders wat nog gebore moet word.

Ons is in verset teen dié wat ons wil beswadder en wil skaam maak vir ons verlede ons geskiedenis.

Ons is in verset terwille van ons selfrespek.

Dankie vir die Groot Debat en die geleentheid om deel te neem.

Danie G van der Walt ·

Elke volk en ras het sy gesiedenis , dele van
die geskiedenis is tragies ander is walglik en sekere dele is fantasties. Dis gesiedenis
, mag die gesiedenis ons help om ‘n beter more te skep. Die rede hoekom sekere
geskiedenis / tradisies en gebruike uitgesterf het was omdat dit nie die toets van
tyd kon slaag nie.

Ek is trots op my prehistoriese voorgeslag wat
opgestaan het en op hulle voete begin loop het. Ek is trots dat hulle as Homo
sapiens alles wat die natuur en evolusie teen hulle gegooi het kon oorleef. Ek
is trots op hulle dat ons vandag een van die minder as 5% van alle spesies is wat
NIE uitgesterf het nie.

Mag ons dieselfde wil hê om die toekom te
oorleef totdat die son sy laaste lewenshoop op aarde uitstraal.

Ek is moeg siek en sat om na grotman stories
oor Volkstate en troppe te luister .  My
voorgeslag het juis gaan kyk wat gaan agter die horison aan. Ek is jammer , ek
kan nie na ‘n verkrampte Volkstaat toe trek nie ,  dit druis in teen die gene van my
voorgeslagte .Ek is ‘n Homo sapiens , danksy die gene wat ek geerf het van my
voorgeslag, nie ‘n god, taal of Volkstaat gaan my nageslag spaar nie, net my
wil om te oorleef .

Propatria ·

Het jou voorgeslagte nie juis kaalvoet oor die Drakensberge gegaan ter wille daarvan dat hulle kinders n vrye volk kon wees nie? 

Johann Carstens ·

Ag great man !!  Eks bly iemand is al oor daai rivier Dirk.  Mooi artikel en goeie uitnodiging, ek dink dit kort net n ander forum (vir meer relevansie).

Ek was 12 jaar in die VSA, gewoon, gewerk.  Nie omdat ek kwaad of bang was vir my Suiderland nie, maar bloot omdat ‘n jong ingenieurtjie eendag wou gaan kyk hoe lyjit anderkant die see.  Nous ek terug, sak en pak met vrou kinders en ‘n skeepvrag vol rykdom wat niks beteken nie.  Beste storie wat ek het na die twaalf jaar as ‘n boer in vreemde beton, is die ouens wat naweke om my vuur sit en huil het.  Huil omdat hulle ooit opgegee het op ons pragtige land, en nou nie meer KAN terug nie.  Die rede vir die kan verskil, geld (meeste kere), kinders (baie kere), vrese (baie kere), maar die feit bly staan.  Maandag skryf hulle weer emaile aan almal in die Suiderland om te regverdig hoekom hulle daar is en hoe goed dit tog gaan …. saterdag aand om die vuur is die storie anders, as Koos in ons ore klink ….

As julle wil trek omdat julle bang is, moet julle julle koppe laat lees (ja, ek was al ge-hijack, ge-gunpoint en als, jy kan my niks vertel nie).  Vat jou lorrie (djeep, toyota, landie watookal) en gaan slaap n nag in die kalaharie en kyk wat praat met jou !

Goeie artikel, meeste ouens hieronder ook great !  Ek waardeer eerlikheid.

Propatria ·

Kleinneef  Dirk

Ons is uit die selfde klip gekap (ons deel die selfde oor oupa grootjie.) As jy deur ons oor-oupagrootjie se memo’s (Belewenisse van die ABO as krygsgevangene) gelees het hoop ek jy respekteer ook sy sienswyses, en ook die van ons oupa grootjie (wat as 5 jarige seutjie die Irene konsentrasie kamp beleef het) – Beide van hulle het geen druppel ‘hensopper’ bloed gehad nie.  (Terloops, ek dink jy mis een geslag – MN Ras moes jou oor oupagrootjie gewees het)

Ek merk dat julle verwys na Afrikaanses gebaseer op taal, oupa Hermanus Nicolaas (Seun van Martinus Nicolaas) sou n stuipe gekry het as jy hom saam met die Kaapse Afrikaners getel het, hy het spesifiek geskryf in sy optekeninge tydens sy krygsgevangeniskap dat die woorde van die Kapenaars so lelik was dat hy dit nie waag neerskryf nie.

Ek sien rooi
ligte reeds aankom, ons Boere word sommer saam met Afrikaners getel en
nou ook saam met die nuwe begrip van Afrikaanses, aan die ander kant is
ons per definisie ook almal Afrikane? Kom ons kyk waarheen is julle op pad?

Hierdie denkrigting is seker gepas indien mens oppad is om n politieke
magsbasis te vorm binne die bestel soos dit huidiglik daar uitsien, maar
vir n volk se voortbestaan is dit gevaarlik.

Ons Boere is maar n klein deeltjie van die Afrikaanses en nog n kleiner deeltjie van die blankes, maar ons onderskei ook nie op grond van ras nie, (Die Britte is ook mos blank) ons onderskei as volk. Ek hoop dat hierdie gerespekteer word.

Jy raak n goeie punt aan, en dit is die verantwoordelikheid ten opsigte van jou dogters en dan verder kan mens seker jou eie ongebore nageslag ook intel? Dit sou begin deur hulle te leer dat hulle Boere, Afrikaners, Afrikaanses, Suid Afrikaners en dan ook Afrikane is?
Baie van ons volksgenote moet nog tot die besef kom dat hy nie vir homself moet dink nie maar juis vir daardie ongebore nageslag en ek vind n aanknopings punt juis op hierdie vlak van redenasie.

Die bloed van ons voorouers le in die Afrika bodem, hulle het reeds die prys betaal vir ons vryheid, wat ons gaan aangee vir ons ongebore nageslag is op hierdie stadium n vraagstuk, my vyf kinders is op hierdie stadium as ballinge op eie bodem gebore, en ek gaan my lewe gee as dit moet om dit te verander.

Ek ondersteun die strewe na n volk ter ere van Sy naam waar dit Hom behaag
Ek ondersteun volkseie arbeid
Ek ondersteun die gedagte dat ons in getalle moet vermeerder (Hoe klink n Solidariteit kraam inrigting?)
Ek ondersteun warm patriotisme.
Ek ondersteun naaste liefde en verwerp die gedagte om onder dwang my verste te moet liefhe
Ek aanvaar verantwoordelikheid vir my eie ongebore nageslag se toekoms

Mag dit dus goed gaan met Afrikaanses, maar beter gaan met Boere

Jorik van Suid-Afrika ·

Beste Dirk – op jou uitnodiging dat ons ons storie sal vertel: ek is (baie kort gestel) ‘n Afrikaner van Europese afkoms; antropologies dus deel van die Indo-Europeërs. In Suid-Afrika word daar dikwels na ons soort as “witmense” verwys, soos jyself ook doen. Nou val dit my nogal vreemd op dat jy by herhaling die stelling maak dat Afrikaans nie ‘n witmanstaal is nie – dus nie wesenlik as van Europese herkoms beskou moet word nie. As mens by die kleurkode wat jy gebruik (nl “witmanstaal”) sou bly, dan kom jou beskouing op dieselfde neer as Breyten Breytenbach se uitspraak dat Afrikaans ‘n bastertaal is. Onlangs is daar ook vanuit Solidariteit-geledere kategories verklaar dat Afrikaners nie noodwendig wit is nie. Goed – ek aanvaar jy staan dan hierdie beskouing van Afrikaans en die Afrikaners voor. In my storie skaar ek my eerder by adv CJ Langenhoven wat Afrikaans uitdruklik ‘n witmanstaal genoem het, die enigste Europese taal wat buite Europa tot stand gekom het. Om dit versigtig en op ‘n nie-konfronterende wyse te stel: ek is oortuig daar is aansienlik meer getuienis vir die oortuiging dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, as vir die siening dat Afrikaans ‘n Swart-taal of Bastertaal sou wees. Weeg maar die wetenskaplike gegewens op en kyk waarmee jy dan sit. Jy maak waarskynlik, en ek is seker dit is onbedoeld, die fout om soos baie mense te dink omdat ander rasse Afrikaans gebruik of gebruik het dit nie meer aangedui kan word as ‘n Europese taal nie. In Nederland is daar selfs taalkundiges wat so sterk voel oor die verwantskap tussen Nederlands en Afrikaans dat hulle dit (a) onbeskroomd insluit onder die Dietse taalfamilie, en (b) selfs beweer dat dit ‘n afgeleide dialek/vertakking van Nederlands is. Ons eie taalhistorici se menings stem daarmee ooreen. Lees gerus prof Edith Raidt se werk, en veral die studies van dr DB Bosman en J du P Scholtz. Met jou stelling dat Afrikaans nie ‘n witmanstaal is nie, het jy miskien eerder ‘n politieke doel, as ‘n taalkundige mening uitgespreek. 

Wie is ek? ·

My storie as volg: Ek het nie ‘n clue waar my voorvaders vandaan kom nie, want my pa is oorlede op ‘n mynongeluk toe ek nog baie jonk was. Daar was niemand wat my kon vertel wie sy oupa was en waar die vandaan gekom het nie. Dit laat my soms wonder, want ek is mal daaroor om na plekke te gaan waar dinge gebeur het en terug te dink hoe dit moes gewees het vir daardie mense wat toe daar was en die dinge gedoen het. Ek sou byvoorbeeld daarvan gehou het om te kon gaan kyk waar my pa skool gegaan het en myself te kon inleef hoe hy daar mos rond hol as kind, waarskynlik kaalvoet soos ek hom kon onthou…

Daar is stories hoe my oupa as 5 jarige met sy sussie aan die hand kaalvoet deur die veld gehol het en in slote we gekruip het vir die Ingelse. Waar het dit gebeur? Ek sou graag daar wil gaan staan op daardie plek waar hy benoud mos lê met hartkloppings. Die beste wat ek kan maak van my afkoms is dus die volgende: Op 2001 het ek tot bekering gekom in London van alle plekke. Ek was daar om “geld” te gaan maak… min wetende.
Na my wedergeboorte het ek ‘n nuwe Pa gekry, en sy storie ken ek goed. Hy sê vir my ek is nie meer van hierdie wêreld nie, maar behoort nou aan sy Koninkryk. ‘n Nuwe aarde wat nog geskep moet word, en dat ons tydelik hier is (waar ookal jou voete op hierdie tydelike aarde staan) totdat Hy terug kom om my te kom haal. Ek is hier om ‘n verskil te maak en vir ander te wys deur my lewe hoe dit eendag gaan wees in die nuwe wêreld, sodat hulle ook daarna kan smag. In 2001 het ek ‘n sterk trek terug gevoel na Suid Afrika. Ek het terug gekom en weet dit is waar ek moet wees. Ek is primer hier as Christen. Ek sal hier doodgaan as Christen.

Frans Geldenhuys ·

Beste Dirk

Jy skrik seker oor ek nou eers skryf. Maar, ek het jou brief eers nou die dag te lese gekry. En nog later eers tyd kon maak om na die kommentare ook te kyk.

Jy is reg, ek is bruinerig, al is dit so liggies dat niemand dit raaksien nie. Maar, ek was nog nooit skaam oor my velkleur nie.

Anders as jy dalk, glo ek nie daar is in Afrika iets soos ‘n wit stam nie, ook nie ‘n enkele bruin stam nie. Ek kan wel stamme uitken wie se velle skakerings van bruin is. Maar hoe suiwer hulle bloed nog is, is ook maar ‘n vraag.

Ek sien Hans het vier jaar voor Albert Gildehaus aangekom. Hans moes ‘n amptenaar gewees het om ‘n “vryburger” te kon word. Albert was uit ‘n vakmangeslag wat boerkneg kom word het. Hy het vir die Cloetes kom werk en ‘n jaar of vyftien gelede het ek in die Alphen Hotel ‘n geraamde sertifikaat gesien waarop hy gelys is as een wat een of ander grondtitel gekry het.

Johannes Kleinhans se mense het weer ‘n honderdjaar later gekom. My mense aan moederskant, die Greyvensteins, ook: In 1750. Dit was klaarblyklik as deel van ‘n vlaag immigrante wat die Kompanjie ingevoer het om sy gewete oor die grenslyding te probeer sus en sy bates te bly beskerm.

Eintlik is Hans afgelê en is dit seker dié dat jy so met die arbeidsversoening omgaan.

Maar die Kompanjie kon mos geen reg gehad het om burgerskap te gee of grondtitel nie, of hoe, al was hulle in vandag se idioom iets soos ‘n “Public-Private-Partnership.” Die mag wat grootsakemanne hulself darem kan toeëien nê?

Hoe ook al, die Duitser Albert is later Holland toe om te gaan vrou haal: Maria Hoefnagels. Maar hulle kinders het hulle hier kom kry. En hul een seun het in 1691 ‘n meisie van die Kaap, of was dit van die Kat, getrou. Nou ja, sy kon Khoi-Khoi of Wes-Afrikaans of Maleis gewees het, inheems of slaaf.

Ek het geen bevestiging dat die Gildehause wat Geldenhuyse geword het, ook Groot getrek het nie. Ek kon wel vasstel dat hulle met Slagtersnek in die Swellendam-distrik gevestig was en het hulle spoor daarna eers weer in Suid-oos Transvaal kon optel, waar my pa later op Volksrust gebore is.

My grootjies moes dus daar gewees het met die oorlog waarvan jy praat. Maar ek kan nie sê dat hulle ‘n volk was nie. Nie in die sin wat jy bedoel nie.

My oupa het daar neffens Majuba met ‘n fiets geval en is later in ‘n hospitaal in Johannesburg dood. My weduwee-ouma het in die depressiejare vir die Zoeloetjies langs die Buffelsrivier Sondagskool gegee. Toe Hertzog die dorp op ‘n dag besoek het, was sy in ‘n vierkleur getooi.

Die Engelse se mishandeling van ons mense het in party gevalle nog langer geduur as wat jy byhaal. Ek en drie Strydomseuns was só net vier teen tientalle rooinekkies op die “merried kôters” en knaend moes ons die gekoggel hoor: “Afrikane’ vrot banana”.

Die eerste Afrikaner wat my blatant bedrieg het, het my van die skoolbanke gehaal om saam met hom stemme aan te ry vir die referendum oor Republiekwording. Maar dis meer as 15 jaar later dat hy my bedrieg het. Republiekwording sou waarskynlik ‘n groter oorwinning gewees het met ruimer en beter gevolge as Dr. Verwoerd nie uit die Statebond gestap het nie.

Dis ná 1994 dat ek besef het dat toe in 1908 om die tafel gaan sit is om die 1909-grondwet te onderhandel, ons leiers maar dieselfde gedoen het aan die mense wat vir die “Boerekrygers” tou gelei het, perde versorg en ander los werk op kommando gedoen het, saam in kontrasiekampe gely het, selfs saam verken en geskiet het, as wat die meerderheid Wes-Kaapse Afrikaners aan die Boererepublieke gedoen het. Nog voor ek gelees het wat in Mandela se biografie staan, of gehoor het wat hy op ‘n keer vir Roelf Meyer en FW de Klerk gevra het, het ek besef ons het hulle verraai het(miskien sal “verloën” beter afgaan). En die Nasionaliste gaan staan en doen dit in 1956 met die meer bruines as ek, wragtag weer.

Johannes Kleinhans moet dalk só dink: As ons hulle nie verraai het nie, sou hulle dalk nie van die kommuniste vennote gemaak het nie. Óf, as dit hulle was wat ons verraai het, sou ons dalk ook enige vennoot vat wat ons kon kry?

Ek dink ook ons moenie so kwistig met “moord”en “plunder”omgaan as Johannes doen nie? Wat van Steve Biko om maar net oor moord te dink? En vlakplaas?

Dit help ook nie om te sê, ja-wel ons het nou ‘n paar ou foutjies gemaak, maar ander het ook nie. Daar is geen regverdigingsgronde vir die immoraliteit van apartheid nie, weet ek nou, net versagtingsgronde van geval tot geval.

My pa het vir die “Stormjaers” in die rooigrond by Delmas gedril, maar toe hy later voor ‘n regbank staan was die OB nie daar om sy hande hoog te hou nie, nie soos die ouens in die Solidariteit-dampkring vandag doen nie. Tog was ek en is ek ook trots op my pa en wat hy bereik het. Ek weet hy was beter as apartheid en ek weet hy kon nooit die begrip gehad het wat ek vandag kan hê van hoe immoreel dit was nie.

Ek weer, had geen idee wat ek as standerd-drietjie doen toe my oupa Greyvenstein een Saterdagmiddag sê-vra dat ek tog vir Ou Madal ‘n “special” moet skryf nie: “Aan wie dit aangaan, ou Madal moes laat werk.”

‘n Mens kan net eenvoudig nie ‘n lyn deur geskiedenis trek nie, al wil jy, netsoos dr Flip Croucamp nie kan sê hy is geen Afrikaner nie. Deur te sê hy “verfoei” van ons Afrikaners, kán hy, al is dit nie so slim nie, maar aan sy eie Afrikanerskap kan hy nie ontkom nie. Dit staan in sy eie betoog.

Om NG Kerk toe te kon gaan sedert my Grootjie my, toe ek ses sou word, na oom Willie Campher en oom Willie Beytel se tak-Sondagskool van die moedergemeente op Brakpan geneem het, was naas gesin wees vir dekades die spil van my steunstelsel. Nou het die Algemene Sinode ook maar verraad gepleeg en veel erger as waaroor ek hierbo skryf. Die nuwe artikel 3 van die Kerkorde staan op ‘n leuen.

Nou aanbid ek en lofsing ek maar waar ek ‘n holte vir die voet vind, waar die Here sy Naam laat gedenk, soms sal dit selfs in ‘n NG-gemeente wees, maar aan die verraad kan ek nie deel hê nie, want sien, my pa kon nie begrip hê vir sekere dinge nie, en ek vroeër ook nie, maar nou kan ek en moet ek daarvan wegdraai.

Man, maar ek en John Brandow sal kopstukke kan gesels. Sodra ek ‘n kansie kry gaan ek sy blog soek. Sy pa was ook ‘n myner, soos myne, totdat die borskwaal hom uit het. Maar, John wil ook vergeet van die verlede.

John is natuurlik heeltemaal reg dat regstellende aksie en “BEE” en gelykheidswetgewing en al daardie goed immorreel is. Dis net so immoreel as apartheid. Gaan lees maar die definisies van mense in hierdie wette en die definisies van mense in die ou groepsgebiede-, gemeenskapsbou- en ander wetgewing. Die stryd hierteen moet dalk ter wysiging van die grondwet gevoer word. Die onderhandelaars het dalk nie besef hulle bed dieselfde immoraliteit in die grondwet in nie.

Ek sien John het dit teen die regse politiek. John, ek dink in die laaste dekade of wat, dat die groot boosheid nie in apartheid gelê het nie, maar in Nasionalisme, met name destyds en steeds Afrikanernasionalisme en ook Afrika-nasionalisme. Wat my hare daarvan nog meer laat rys, is dat die ANC die enigste politiek party is wat nog so sterk nasionalisties is en “National” in sy naam dra en bly dra.

Jahni uit die Engelse voorgeslag Cowley wat Afrikaners geword het soos ons, ek dink nie “heenkome” het enigiets te doen met loop of bly nie.

Ons het vrek baie werk om van Suid-Afrika ‘n volwaardige demokrasie te maak en oopkap is dalk te sagkens gestel. Julle ouens daar by Solidariteit vaar nog die beste.

Maar, as ons van Suid-Afrika ‘n ware demokrasie kán maak, volg dit noodwendig dat daar vir ons ook ‘n ruimte sal wees, in Orania vir diegene wat daarheen wil en in die res van die land vir al die ander, wat natuurlik baie meer ewewigtig sal wees. Wie so ‘n uitdaging vrees, louis.dup, moet weer ‘n bietjie dink oor John Brandow en “Wie is ek?” se geloof.

Propatria verwar my en ek volstaan deur te sê dat die uitsluitingsbeginsels waarmee hy omgaan my nie my Afrikaner-wees, vakman-wees, kneg-wees, boer-wees, Boer-wees, taalstryder-wees of wat ook al my eiesoortiheidswees, sal ontneem nie. Miskien moet ek afsonderlik aan hom skryf?

Jorik, ek is mal oor Opperman en Langenhoven, maar nie eintlik oor Breytenbach nie. In 1925 sou ek dalk saam met Langenhoven gestem het, maar nou gooi ek my hoed by Breytenbach in. Ons is basters en ons taal is ‘n bastertaal.

Oor “Wie is ek?” is ek baie bly maar wil ek vir hom sê dat ek aanhou probeer om primêr soos die Seun te lewe, maar sekondêr, is hy Afrikaner nes ek, nes hy Jood was wat hoofsaaklik Aramees gepraat het.

Dis wie my tak van die Geldenhuyse is: Afrikaners van die oomblik dat Albert en Maria na hul troue hier met gesinsplanting kom begin het, hy eers as boerkneg, hulle toe as boere. Afrikaners wat voor die geldmag moes bly wyk deur land-in te boer, totdat die Engelse hulle kwansuise koloniale burgers kom maak het, uit die Weste en die Xhosas uit die Ooste, baie van hulle Noord gedwing het. Toe, Boere, taalstryders, amptenare en mynwerkers, wat eindelik hier en daar ‘n gegradueerde en praktisyn opgelewer het.

Baie mag dit maar ‘n kru storie vind, baie ‘n vaal storie, dis verseker nie romanties nie, maar dis vir my mooi, mooi soos groete stuur aan Mannetjies Roux en Faan se Trein, soos Joernaal van Jorik en Die Pluimsaad Waai Ver.

Groetnis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.