Open Stellenbosch se propaganda

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Geagte Stellenbosch-student

Die onlangse video genaamd Luister wat deur die groep Open Stellenbosch op sosiale media gelaai is, is niks anders as goedkoop propaganda nie. Ek weet sekere lede van die publiek en veral lede van Open Stellenbosch, gaan nie met my stelling saamstem nie, maar gee my die geleentheid om dit te verduidelik.

Propaganda word deur kenners beskryf as die proses waardeur die kommunikeerder ʼn reeks feite buite konteks voorhou as die algehele werklikheid en hierdeur die nasionale agenda bepaal. Uit dié beskrywing is dit duidelik dat die klein groepie ekstremistiese studente aan die Universiteit van Stellenbosch die rol en implementering van goedkoop propaganda tog alte goed verstaan.

Eerstens moet elke kyker van die video in ag neem dat dit saamgestel is deur 32 studente en een dosent. Dit is baie gevaarlik en maklik om die aanname te maak dat die video die gevoel van al die studente en personeel aan die Universiteit van Stellenbosch weerspieël.

Net 33 lede van ʼn studentegemeenskap van oor die 15 000 is sekerlik nie die stem van die studente nie. Op die video word daar na talle voorbeelde van diskriminasie verwys. Dit is tog vreemd dat hierdie bewerings deur geen feitelike basis in die vorm van saaknommers, videomateriaal of foto’s gestaaf word nie. Die inligting wat in die video gegee word, is so vaag dat bykans niks daarvan opgevolg kan word om die korrektheid daarvan te bevestig nie.

Die slagoffers voer onder meer aan dat kampussekuriteit opdaag as die studentegroep ʼn optog hou en dat die kampussekuriteit dus rassisties is. Tog gerieflik om die feit oor te sien dat Open Stellenbosch tot nou toe nog nooit toestemming verkry het om ʼn wettige optog te hou nie.

Optogte deur Open Stellenbosch is gekenmerk deur ontwrigting van klasse en loopbaandae. Enige billike, gematigde persoon sal tog sekerlik verwag dat kampussekuriteit die groep se gedrag moet dophou. Dit is standaardpraktyk dat kampussekuriteit toesig hou wanneer ʼn groep studente betoog, ongeag wie dit is of wat die rede vir die byeenkoms is. Die rede vir die uitsoek van feite deur Open Stellenbosch is dus duidelik.

“Open Stellenbosch stel nie belang in samesprekings nie,” is die boodskap wat duidelik deur die groep se leiers oorgedra word. Die bestuur van die Universiteit van Stellenbosch het die groep se leierskap telkemale na samesprekings genooi om die probleem te probeer oplos. Die uitnodigings is egter elke keer van die hand gewys.

Die groep beweer dat die universiteit nie aan hul eise wil voldoen nie, maar uit hul optrede is dit duidelik dat Open Stellenbosch nie belangstel in samesprekings om ʼn goue middeweg te vind nie. Hoewel Open Stellenbosch herhaaldelik duidelik laat blyk het dat hulle nie daarin belangstel om oor oplossings te praat nie, word die indruk egter in die video geskep dat Open Stellenbosch graag wil praat, maar dat niemand met hulle wil praat nie. Dit is blatant oneerlik.

Aanvanklik het Open Stellenbosch hul veldtog verdoesel as ongelukkigheid oor taalkwessies. Uit die videomateriaal is dit egter duidelik dat taal nie die groep se werklike probleem is nie, maar wel ras. Die eensydige video met sy hoogs dramatiese agtergrondmusiek bevat geen onderhoud met enigiemand wat nie ʼn lid van Open Stellenbosch is nie; geen ander stem verleen balans aan die video nie.

Dit is jammer dat geen poging aangewend is om ʼn meer gebalanseerde benadering te volg nie. Geen onderhoude is met die rektor, die bestuur van die Universiteit van Stellenbosch, die Studenteraad of enige ander rolspeler gevoer nie. Die enigste mense wat toegelaat is om aan die vervaardiging van die video deel te neem, is mense wat Open Stellenbosch se ideologie van radikale, rasgedrewe transformasie ondersteun.

Hierdie brief wil geensins die studente se verhale verkleineer nie. Die bewerings wat in die video gemaak word, is ernstig en verdien om verder ondersoek te word. Ek kan glo dat dit wat sommige studente vertel, werklik gebeur het, maar om ʼn paar studente se hartseer verhale buite konteks te gebruik om ʼn groep se agenda te bevorder, is ʼn goedkoop poging om simpatie vir ʼn rasgedrewe veldtog te bekom.

Open Stellenbosch is geensins die bevryders wat hulle voorgee om te wees nie. Ek doen ʼn beroep op alle studente/lesers van hierdie brief om in die vervolg krities na soortgelyke video’s te kyk en die eenvoudige vraag te vra: “Is dit feitelik korrek of is dit slegs uitgesoekte feite, buite konteks, wat geprojekteer word as die algehele werklikheid in ʼn poging om die nasionale agenda te bepaal?”

  • Deur Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Lees die berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Retha ·

Ek wil ook vra of daar nou regtig geen ander plek is waar hulle kan gaan swot wat hul taal keuse is nie?

Hendrik ·

US, die liberale universiteit , skarrel nou verskriklik rond. Dit is lekker om liberaal te wees totdat dit ‘n werklikheid begin word. Deesdae kla die liberale klomp so dat jy nie kan onderskei tussen die liberale en regses nie. Maar die regses het hulle al 21 jaar gelede gewaarsku….

Sarie ·

Nou spring die DA ook nog op die wa. Se baie van hulle oordeel ook.

Bruno Stef ·

Die DA is nog vis nog vlees ek hoop van harte dat die Afrikaner gemeenskap n Eye Opener sal kry en die sieklike Liberalisme onder sy Jis skop.Ek wil voorspel dat die DA deur die ANC vorentoe ingesluk gaan word met geld en posisies in die regering soos die NP omdat die DA nie die meerderheid op sy eie die pyp sal kan rook nie.Na volgende jaar se skok vir die ANC en die DA sal hulle moet kragte saamgooi om die sterk opposisie van die EFF te probeer stop.

Hugo Vermeulen ·

Ek stem 100% saam met die berig. As Oud – Matie is ek geskok om te sien hoe ver hierdie uiters klein aktivistiese groep dinge uit verband kan ruk en daarmee wegkom. Dit is tyd dat iemand met ruggraat hierdie klomp bogkinders vasvat. Hulle is beslis nie daar om te studeer nie en ek verkwalik die media wat hulle so baie blootstelling gee en die vuur van rassisme aanblaas. Die stille meerderheid Maties se stem is nog nie gehoor nie.

Bruno Stef ·

Ek het sopas n SMS boodskap van my kleindogter by PUKKE gekry dat ANC betogers met busvragte na die Universiteit aangery is en besig is met n betoging.As my kleinkind beseer word sal alle hel op julle losbars dit waarborg ek julle morone.

Dup du plessis ·

……en hoekom het dit by Puk begin……kon dit iets met die onlangse aanstelling uit te waai hê?…..as Afrikaanssprekendes (ongeag kleur) nie aandring op ‘n Afrikaanse kampus van NWU nie is daar nie meer veel oor vir ons nie…….. daar is genoeg Afrikaanssprekendes om ‘n paar (1,2,3) universiteite te vul. Ons is daarop geregtig volgens die grondwet en twee derdes van NWU is reeds gereserveer vir Engelse studente.

André Badenhorst ·

Die video is gemaak deur ‘n organisasie bestaande uit vier studente van die Ikeys. Die leier van Open Stellenbosch is ‘n student van die Universiteit van Johannesburg. Die Weskaap is in die ANC se visier vir die volgende verkiesing en ons ken nou al die patroon dat rasse-aanhitsing hul agenda pas á la Mugabe. Nou wonder ek of die aanslag nie haarfyn in Luthuli-huis beplan is nie. Terloops, gaan kyk ‘n bietjie op http://www.sun.ac.za vir die rektor se reaksie op Luister. Rede seëvier daarin, maar rede gaan nie help teen ‘n vuil politiek nie.

surina pienaar ·

Open Stellebbosch is n rassistiese groep waarvan meer as 60% nie ingeskrewe studente van US is nie.
Wat n skande dat hul enigsins toegang tot die kampus kry. Res van studente daar om te swot en nie om barbaarse politiek te bedryf!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.